Ratels. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.on>
Leon van Nierop
[no image in epub file]
Human & Rousseau
KAAPSTAD
Opgedra aan die deurloop-spelers wat stemme
aan hierdie karakters gee:
Jan-Lourens van der Merwe, Merlin Balie,
Estel Terblanche, Luan Jacobs, Mari Molefe van Heerden,
Marina Coetzee en François van Rensburg.
En aan Karen Gravett.
IN MY RUGSAK
Die ratel
Ratels is oorwegend alleenlopers en, nou ja, rateltaai. Het jy geweet daar is geen ooglopende verskil tussen mannetjies en wyfies nie? Hulle grawe agter spinnekoppe, skerpioene, bye en reptiele aan. Heuningwysers lei die ratel gewoonlik na ’n byenes toe. Hulle velle is geweldig dik en dit beskerm hulle teen selfs die mees gedugte aanvaller, veral wanneer hulle teen ’n groep bye te staan kom. Hulle is baie aggressief en selfs onverskrokke. G’n wonder nie, want hulle voorkloue lyk soos lang, krom messe. Hulle anale kliere skei ’n stank af as hulle skrik, en party mense sê hulle bedwelm bye daarmee wanneer hulle heuning uithaal. Hulle vreet ook graag klein voëltjies en slange.
Neem saam as jy ratels soek
Jou verkyker, ’n kamera, spinnekoppe (in ’n bottel!) en heuning. En Bon Iver-musiek vir terwyl jy moet wag.
Jy sê net vir ’n girl sy is regtig stunning as sy die remote control vashou en jy wil eintlik Glee kyk.
Hoofstuk 1
✲
Het jy geweet daar is twee honderd twee-en-sestig sleng-woorde vir boobs? En dat die mensdom op aarde met vyf-en-negentig siele toegeneem het vandat jy hierdie sin begin lees het?
As ek so na die klomp hier om my in die supermark kyk, staan al vyf-en-negentig van hulle in die tou wat wag om bedien te word. En elkeen lyk of hulle nou net gehoor het Bella in die Twilight-movies is dood of Justin Bieber het vir die eerste keer geskeer.
Julle wonder seker hoekom ek kruideniersware in sakke pak. “Plastic” soos die vrouens agter die tills dit noem. Ek is een van die min laaities wat toegelaat word om “kruideniersware” in sakke te pak. (My ma het contacts!) Dis hoe ek ekstra geld verdien om eendag ’n iPad te koop.
Amper al my pelle het iPads, dan speel hulle Call of Modern Warfare Part 3 en selfs Die Heuwels Fantasties se nuwe musiekvideo’s op ’n groter skerm as my arme selfoon s’n.
Maar goorgatte wat die virus in my laptop sit, is dié wat glase koop. Dan moet jy die glase sagter hanteer as wat jy aan ’n meisie se hand sou vat, saggies in koerantpapier toedraai en dit mooi versigtig tussen die ander goeters inpas. As een van daai glase kraak, moet ék please explain teenoor tannies wat na babapoeier en laventel ruik en oor hulle bifocals na my staar.
Ek sien mos hoe die kwaai tannie my kyk terwyl ek een van die goedkoop koeldrankglase wat sy gekoop het in koerantpapier toedraai. “Sorgvuldig, seun!” dreun haar stem. Ek het die woord “sorgvuldig” laas in die graadelf-eksamen gekry toe ons ’n sin daarmee moes maak, en toe dadelik vergeet wat dit beteken. Nou onthou ek weer en dis regtig so agter die bult!
Ek sit die glas “sorgvuldig” in sy papierbedjie en begin dit toedraai terwyl haar oë soos Angry Birds na my toe pop.
En toe sien ek dit op die stuk koerant in sulke mooi letters wat nes die Ar Blanca-skrif op my rekenaar lyk:
RATELS
Somerskool naby Hoedspruit
Ek het nie ’n cooking clue hoekom nie, maar die naam trek my aandag soos ’n skoolbank vol kougom waarin ek nou net gaan sit het. Miskien omdat ek prentjies van diere versamel, en die jongste een in my diereboek is dié van ’n ratel.
Ek steier onder die aanval van die tannie se Angry Birds-ogies én die woorde in die advertensie.
Gelukkig is daar iets met haar kredietkaart verkeerd. “Card declined!” sê Mavis, die vrou agter die till, en almal kyk op. Dit gee my kans om die koerantbladsy oop te vou en ordentlik te lees:
Ses leerders word elke jaar gekies om by die natuurskool Ratels naby Hoedspruit in Mpumalanga meer van die natuur te leer en hulle voor te berei op die toekoms. Die kursus duur vanaf middel-Desember tot middel-Januarie. Die skool help ook slagoffers wat deur boelies geteister word en bied rehabilitasieprogramme aan om slagoffers se selfbeeld te verbeter en vir boelies te wys dat dit nie cool is om ander leerders af te knou nie.
Skakel Stefan Ahlers by 013-555-2902.
Ek vries soos wanneer ’n onnie jou met ’n geskiedenisdatum op jou hand in ’n toets vang. “Cowabanga!” skree ek. Dis uit voor ek kan keer.
Die kwaai tannie kyk vir die soveelste keer na my (dit raak nou regtig boring!) terwyl sy in haar handsak soek na ’n ander kredietkaart. Toe gooi sy van frustrasie sommer ’n klomp note op die toonbank.
Ek ruil die koerantbladsy vinnig met ’n ander een waarop toiletpapier geadverteer word en steek die Ratels-bladsy in my rugsak. Dit klink vir my na ’n wenner!
En die beste is: My ma sal val hiervoor. ’n Somerskool in die bosveld – dan hoef ek nie meer “kruideniersware” in sakke te pak nie.
Ek het eendag gekla oor “groceries vir kwaai ou anties”, toe preek my ma oor ek my tale so meng. Van toe af is ek baie versigtig wat ek voor haar sê. En ek leer ook sommer ’n paar nuwe Afrikaanse woorde. Ek probeer baie hard om my taal suiwer te hou, maar party Engelse woorde is net soveel makliker. En dis anyway hoe almal by die skool praat.
Die aand by die huis wag ek tot een van my ma se simpel sepies begin (waar niks elke halfuur gebeur), toe druk ek die advertensie onder haar neus. Sy kyk so met haar linkeroog daarna. “H’m.” Ek herinner haar aan al die boeke wat sy oor wildtuine en diere vir my koop met die hoop dat ek eendag ’n veearts sal word.
Dis eers toe ek die aand in my bed lê en vinnig die FHM onder my kussing indruk, dat sy langs my kom sit met die einste advertensie. En voor jy kan sê “Karen Zoid ruk!” het sy ingestem.
Daarom sit ek nou op ’n bus Hoedspruit toe, op pad na die somerskool Ratels, en ek het nog nie eens een dier gesien nie! Net snaakse name van lodges wat klink na iets uit ’n mopaniewurmresep of ’n padkaart van die diep-bosveld duskant Help-my-of-ek-help-myself en Frieken-duskant-die-doringdraad. En bome. Moewiese baie bome by plekke wat cheetahs rehabiliteer en mampoer maak en safari’s “in die wildernis” aanbied.
Rehabiliteer. Gross woord. Dis die einste woord wat Skellie, ons aaklige geskiedenisonnie, altyd gebruik. “Fanie Ferreira! Jy het rehabilitasie nodig. As daar nog lyfstraf in skole was, het jy nou ses van die bestes gekry.”
Hoekom noem hulle dit “die bestes”? Daar’s mos niks lekkers aan seerkry nie. Of dalk verstaan ek nie die kuns van rottangswaai nie. Dank die hemel ons word nie meer geslaan nie, want ek is maar kleinserig. En my oë raak vol water vinniger as ’n sepie-actress s’n.
Ek eye die chick ernstig wat twee rye voor my in die bus sit. Flippen hel, maar sy’t mooi bene! Party ouens is boob-dudes. Ander hou van oë. Maar ek is ’n bene-dude, lock stock en two smoking barrels. En daai girl mag maar.
Veral met my. En, o ja! Ek mag nou vir vyf beeldskone weke my hare laat groei. Cool bananas! My mission is dat my kuif nog my ken moet raak – dan het ek die jackpot geslaan!
Elke kort-kort skuif die girl in haar bank, dan lig sy haar been so effens en stoot hom ’n katspoegie verder