Ratels. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.het dit help bou. Julle kan daar uithang as julle wil. Dis baie veilig,” sê Stefan.
Ons ry verby die boom op pad na die hoofkamp toe.
“Rekspring jy?” vra Stefan. Ek voel aan my onderbroek se rek. Wat praat hy nou van rekke? Ek frons.
“Bunjee jy?” lag Stefan toe hy my gesig sien. Wow. Hierdie ou gooi omtrent die taal.
“Ek sê mos ek het hoogtevrees!” verdedig ek myself.
“Het jy geweet die oudste rekspringer is drie-en-tagtig?” vra Stefan terwyl hy om ’n draai gaan waar bome geel in die blom staan. Ek sien hulle het moewiese dorings en ek wonder wat sal gebeur as ’n mens in een van hulle beland.
“Jip. En ek is pas agtien, en ek gee nie om of daai ou van sy IK na sy ego kan bunjee nie. Ek bly plat op die grond!”
Toe sien ek die kamp. Wow. Wat ’n stunning plek! Dit is so ontwerp dat ’n mens die geboue nie met die eerste kyk kan sien nie. Dis om bome en rotse gebou sodat niks in die natuur versteur word nie (of so lyk dit vir my). Oral hang sulke takke met pers en rooi blomme.
Dit lyk amazing, amper soos op ’n Valentine’s kaartjie. Daar loop ’n rivier ’n ent onder die kamp verby en iets snork daar. Of ek dink dis snork. Ek hoop nie dis krokodille nie. Maar krokodille snork mos nie? Dalk is dit seekoeie.
Ek flippen hoop so! Maar hulle is ook mos gevaarlik …
En om langs die rivier te stap is mos baie manroties! Of “romanties” soos my ma sê.
Daar is ’n lang ry kamers links van my met net sulke moewiese stoepe. Dit kyk af op die rivier. Lekker baie vryplek as jy die regte girl kan kry!
As ek na die klomp takke en goeters daar onder kyk, lyk dit of die rivier tot net onder die stoepe gevloei het. Stefan het mos iets gesê van die groot vloed. Ek onthou ons moes op skool skryf oor die krag van water en ek het toevallig die disaster in Mpumalanga gekies én daar was die mees amazing video’s op YouTube – daarom weet ek.
Dan is daar ’n hoofgebou met ’n grasdak. Ook maar goed my ma is nie nou hier nie. Sy sou haar weer in ’n koma genies het, dan moes ek weer anti-whatever-se-naam by die apteek gaan koop het. En hier is hoeka nie ’n apteek nie.
Wow. En daar is ook ’n ontvangs met groot deure met olifante daarop uitgekerf. En daar staan Ontvangs/Reception. Nie net “Reception” soos op ander plekke nie. So ou Stefan gooi die taal! Ek vat my videocam en laat gly dit oor ’n gebou met tafels en stoele tussen ’n klomp doringbome waar dieselfde pers blomme uit bome hang. Flippen cool!
Dit is seker die restaurant. Die heel belangrikste plek in enige kamp.
Ek is een van daai gelukkige ouens wat kan eet net wat hulle wil. Om die waarheid te sê, ek moet vreet dat my are frieken pop om gewig op te tel! My onderwysers sê ek verbrand energie en kalorieë so vinnig soos die spoed van klank. Maar wat kan ek nou daaraan doen? Behalwe om net al hoe meer te eet en te sien hoe jaloers is die girls wat gedurig op diets is.
Met die uitklim rammel Stefan die reëls af – anders as ons skoolhoof wat altyd met so ’n Darth Vader-stem afkondigings maak asof hy ons meedeel ’n planeet is op pad om met die aarde te bots en ons almal gaan oor vyf minute uitgewis word.
“Luister. Dié plek is nie omhein nie, so julle mag net in die gebiede rondom die kamp tot by die rivier loop en …” Net daar steek Stefan vas en ek voel hoe my hart met dieselfde ritme as een van Die Antwoord se hits klop, so Kadoef! Kadoef! Kadwaa-aa-aa! Want hier kort by my voete staan ’n ratel! ’n Regte, egte ratel.
My oë pop omtrent uit my kop, want dit is een van die mooiste goed wat ek nog vandag gesien het, behalwe natuurlik die girl op die bus se bene. Die ratel het ’n wit en swart pels en hy lyk so mooi, ’n mens wil hom sommer optel en daardie wit aflek soos ’n roomyslollie. Wat seker nie ’n goeie idee is nie, want sy vel is glo so taai dat hy nie eens ’n by se steek voel nie, behalwe op sy snoet. En hy is glo ook nie baie lief vir mense nie, nes ek.
“Ek skakel die kragopwekker tussen tienuur in die aand en vyfuur in die oggend af. So dis ligte uit tussen tien en vyf,” onderbreek Stefan my ratel-gedagtes.
“En wat gebeur as die ligte vyfuur aankom?” Ek weet sommer hier’s iewers ’n catch.
“LO!”
Dit klink na iets wat jy nog op ’n outydse floppy disc gedoen het.
“En dan gaan draf ons tot by die kremetartboom tot Lavinia ontbyt maak.”
“Oe, Blommie,” sê ek deur my neus, “ry sy op ’n besem?”
“Sy bestuur die kamp saam met my en sy behartig die kombuis. Maar Lavinia is moeilikheid op bene. Ek sou geen kanse met haar waag nie! So Velskoen, jou bungalow is nommer ses. Daar is vier beddens. Jy slaap saam met Jan-Lourens en Vincent. En aangesien Vincent al hier is, kan jy solank gaan bladskud sodat julle mekaar kan leer ken. Ons gesels later vanmiddag weer. En laat weet jou ma jy is veilig!”
Ek tel my sak en videokamera op en wals na die bungalow met die grasdak en die gaas voor die vensters. Ek skakel die kamera aan en capture hierdie oomblik. Ek swaai die kamera na die bome en die impalalelies en dan terug na die bungalows. Dan draai ek in die rondte met so ’n vinnige swiep-movement om alles nog cooler te laat lyk.
Wow. Dit lyk nes ’n NatGeo-dokkie gekruis met ’n Black Eyed Peas-musiekvideo!
In die bungalow is daar muskietnette oor die bed, nes my ma gehoop het.
Ek soek met ’n stink spoed na die badkamers, want ek het ’n klomp Coke op die bus gedrink en daar was so baie mense dat ek gehoop het ek kan knyp tot hier.
Ek bestorm die badkamers vinniger as wanneer ek my laptop afsit as my ma onverwags by die kamer inkom. En kan ek vir enigeen van julle sê wat al moes knyp – as jy dit uiteindelik release, is dit awesome. Die verligting spoel sommer so deur jou.
Ek luister na al die geluide – hier voor my en om my en agter my. ’n Voël skreeu nes in daai ad waar die dude iets in ’n boom probeer sien en nie sy bril op het nie. Ek dink dis ’n visarend. En dan daai aaklige goed wat by ons in Joburg ook so skree. My ma sê hadidas skree so, want hulle het hoogtevrees.
Grappie. Van my ma. Lame deluxe.
Ek is net klaar, toe voel ek iemand kyk vir my. En daar staan hy in die deur. So ’n groot blonde ou in ’n tenktop met muscles en ’n kom-moer-my-gesig. Ek kan sommer sien: Hier kom weer ’n HPH-oomblik.
Hy staan in die deur soos Jason Statham voor hy ’n criminal se kakebeen afslaan. Ek kan sien hy is op steroids, want hy’t so ’n kyk in sy oë wat waarsku dat hy iemand seermaak voor iemand hóm seermaak.
Hy move vinnig.
“Ha-ha-hallo. Ek is Velskoen en ek …”
“Ek gee nie ’n hel om of jou naam Chad le Clos is nie. Ek is Vincent de Wahl. Deal with it.”
Die volgende oomblik gryp hy my en druk my gesig in die krip. Nou moet julle weet, daar’s sulke pienk steentjies in wat nogal lekker ruik. Die reuk hang die hele badkamer vol. Maar dis nie lekker as jou mond daarin gedruk word nie.
Ek skree, maar Vincent-frieken-criminal-van-die-century het nie ’n saak met my nie. Ek voel die steentjies teen my gesig skuur en my mond word nat en skielik ruk al die chips wat ek geëet het deur my lyf en kleur die pienk steentjies geel.
“Nie op my flippen skoene nie, bliksem!”
En terwyl die spasmas deur my lyf ruk, fluister hy: “Ek is die nek van die plek, het jy my?”
Ek probeer antwoord, maar die smaak in my mond is te sleg.
“Het jy my?” skreeu hy weer.
“Ja,” kreun ek dit uit.
“Nou flippen hou my. Urk.”
En ek wonder skielik. Wat is ’n urk?
Toe weet ek: Hy