Ratels. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.het die coolste tatoe net hier waar haar rokkie en haar been die tydelike met die ewige verwissel – juis daar waar ek al een keer aan Mientjie se been gevat het en toe nie uit die skoolbank kon opstaan nie.
Ek probeer sien wat dit is. Lyk vir my na iets met ’n stert. Dalk ’n draak. Of ’n likkewaan. Maar watter girl sal nou ’n likkewaan op haar been tatoeëer? Hoe ook al, sy blend ernstig met my verbeelding.
Sy lyk na die soort waarteen jou ma jou altyd waarsku. En is hulle nie die coolste nie? Nes daai Angelina Jolie-movies wat die ouens so gereeld pause of die Sharon Stone-stukkie uit Basic Instinct wat ek nou al uit my kop en onderstebo-agterstevoor-en-vorentoe ken.
Die ouens op skool dink ek’s ’n bietjie van ’n freak. Wag, net voor jou ma-hulle die boek sien en dit wegvat omdat hulle dink dit gaan ’n siek paartie wees dié: Ek’s bietjie van ’n freak, want ek is anders. Oukei? Nie agter die tyd nie. Net anders.
Nee, man. Jissie! Nie só anders nie. Ek speel nie vir die ander span nie. Ek bedoel anders soos in slimmer. Intelligenter as ’n MXit profile en slimmer as een van daai ape in Rise of the Planet of the Apes.
Oukei. Ek gaan dit sê. Ek’s ’n amperse genius. Met ’n IK hoër as die Burj Khalifa in Dubai. Darem nie so slim soos Dustin Hoffman in Rain Man nie (frieken cool movie, tien uit tien), want ek kan darem nog volsinne praat. Daai dude kon nie. Maar ek sien die lewe anders, nes hy.
Ek rook ook nie skelm nie, ek rol nie zolle nie, ek doen nie recreational drugs nie, ek was nog nie op E nie, en ek het nog nooit verder as ’n stywe-lip-smooch gekom nie.
Die girls wat ek probeer soen, hou hulle lippe styf nes my tannie as sy my groet. Dan trek sy haar lippe saam soos ’n posbus waardeur jy nie eens ’n love letter kan glip nie. Jig. Dit voel of jy ’n iPad soen.
Anyway. Vir my is die lewe iets wat nog ontdek moet word. Ek fake die lewe, nie die dood nie. Want teen my muur is awesome aanhalings soos: Die lewe gaan nie net oor die goeie kaarte wat jy kry nie, maar ook die slegtes waarmee jy partykeer wen. Of: Life is not a problem, but a mystery to be lived.
Ek dink iemand met die naam van Thomas Merton het dit gesê, geseënd is die dude, sy hele familie, sy koelboks en sy grassnyer.
Die hele palawer het begin toe my ma op my dagboek afkom waarin ek persoonlike confessions skryf. Goeters en katoeters wat ’n mens nie met oumense deel nie. Ek het die boek net betyds uit haar hande gegryp voordat sy by bladsy vyf kon kom, want ek het dit geskryf nadat ek en Ansie van graadelf ’n bietjie emotional baggage uitgeruil het. Wow, selfs my pen se ink het gesmelt terwyl ek dit geskryf het.
Gewoonlik noem my ma my Velskoen, want dis my bynaam. Nie “Veldskoen” soos in die Voortrekkers se tyd saam met die dinosourusse nie, maar sonder die d. Want my pa en ma het by die Velskoen-Inry in Randburg ontmoet. En elke anniversary piekel ons in gelid, koelboks en kredietkaarte Velskoen-Inry toe, dan eet ons hardgekookte eiers en kerriefrikadelle en sulke aaklige aanmaakkoeldrank wat soos piepie lyk. Jig. Oumense kan darem gross wees!
My tande het nog nie eens behoorlik gewissel nie, toe’t ek al ’n hond uit ’n bos in die motor gepraat. My ma-hulle het na een of ander simpel movie gaan kyk waar sy my oë en ore die hele tyd toegedruk het (ek het die movie later op DVD uitgeneem en dis kick-ass cool!). Toe hoor ek my ma en pa praat van Velskoen.
Dit was die eerste ordentlike woord wat ek gesê het: Velskoen sonder die d. Toe word ek Velskoen. Klink baie beter as Fanie Ferreira – só verkeerde kant van die spoor duskant Spanner Valley.
Hang aan ’n tak, ouens. Nie dat ek bedoel jy is af as jou naam Fanie Ferreira is nie. Regtig! Ek bedoel maar net, as my ma sê: “Fanie Ferreira! Kom ’n bietjie hier!” dan vries my bloed soos ’n Slush Puppie in ’n fliek se yskas en my neus se punt begin jeuk. My neus jeuk altyd as my gatvelle knyp.
Dan prewel ek so by myself terwyl ek na my ma toe loop: “’Seblief, moenie dat dit ’n HPH-oomblik wees nie.”
HPH staan vir Hou, poephol, hou! Iets wat my oupa gesê het toe ek klein was op die plaas en hy soos ’n asteroïed op pad aarde toe weggehol het vir een van sy bulle wat hom geskraap het.
So, die hele relaas is om te verduidelik waar Velskoen vandaan kom. En ek is flippen trots op die naam. Want dis ’n befonkte cool naam. Die woord befonk bestaan. Dis ’n program op RSG waarna ons altyd luister.
O ja. Nog iets wat julle moet weet. My pa is dood toe ek agt jaar oud was. Dit was omtrent ’n gatslag. Hy’t ’n hartaanval gehad. My ma sê: “Dit loop in die familie, en Velskoen, jy moet jou nooit onnodig ontstel of dinge so aantrek nie, Boet.”
Ek het eers gedink sy bedoel klere aantrek, want ek wou sê: “Maar ek dra mos my tekkies en my Calvin Kleins.” Toe besef ek sy bedoel upset. Ek moet my nie so upset nie.
Terwyl ek die girl met die bene hier in die bus uitkyk, check ek gou ’n paar songs op my iPod se playlist. Ek’s in die mood vir Adele, veral nadat sy so baie Grammies gewen het. Maar Die Antwoord kook ook. (Hulle het vir Lady Gaga nee gesê, kan jy dit oorvertel!) Ek freak natuurlik uit oor Jack Parow en Kings of Leon. Daar’s so baie songs op my playlist, my vingers raak gestres soos ek afscroll.
Oeps. My selfoon lui.
Die girl daar voor trek haar b-b-beautiful been terug om te sien wie se selfoon lui so hard met Lady Gaga se “Poker Face”. (Ek het dit gelaai net ná ek Lady Gaga se show in Suid-Afrika gesien het. Dit was bevange!) Ek weet my pelle sê “Poker Face” is dated, maar ek dink dis funky.
Het julle geweet Lady Gaga is the most searched female on Google? En sy het twintig miljoen Twitter fans. Wys jou net! Cool ouens het smaak.
Wa-wa-wag ’n bietjie. Die girl kyk om! Imagine sy is my soul mate! Ek skiem sy hou ook van Lady Gaga en Rihanna en Madonna, nes ek. Dan weet ek vir seker ons sal saam mooi musiek maak.
Nou kan ek haar eers behoorlik eye, want sy gee my so ’n diep kyk wat die donkerste geheime uit my sal trek en wat my bloed op ’n lekker manier laat kook en my knie sommer so laat klop. So asof sy weet ek dink sy’s die Flake in my roomys.
Flippen hel, ouens. Ek sien nou eers daar is meer aan hierdie girl as net bene. Sy het blonde hare wat so oor haar voorkop val, nes Angelina Jolie s’n, met net sulke mooi lippe wat ek sweer my in ’n koma sal soen. En hierdie girl met haar stywe toppie waardeur jy haar boobs kan sien, kyk my heeltemal uit my Tommy Hilfigers.
My foon hou aan met lui. Iemand voor in die bus begin “Poker Face” saamsing. Ek check my foon uit en sien my ma se gesig op die skermpie.
O, sherbet. Net nie nou nie! ’n Oproep van my ma sal omtrent nou so cool wees soos ’n massage in ’n ouetehuis.
My ma vra altyd eers hoe dit gaan, maak nie saak hoe haastig sy is of hoeveel emotional baggage sy op my wil afgooi nie. Die rede hoekom sy bel, kom altyd nadat sy gevra het: “Hoe gaan dit?”
Ek druk die groen katoetertjie en haar gesig verdwyn van die skerm af. “Hallo, Ma.”
“Middag, Velskoen. Hoe gaan dit?”
Eew!
“Lekker dankie, en met Ma?”
“Nee, ook goed, dankie.”
Hoekom begin my ma altyd ’n sin met nee? Dit maak mos nie sin nie! Sy moet eintlik sê: “Já, ook goed dankie.” Maar dis mos hoe oumense is – altyd opgetense oor niks. “Is julle al in Hoedspruit?”
Ek kyk na die bosse om my waar elke boom dieselfde lyk en waar elke slaggat in die pad dieper is as my verlede. “Nee, Ma.”
“Fanie.”
O, vrek. Dis dieselfde stemtoon as wanneer sy my vra hoekom dit so stil is in my kamer. Dan ruk ek die laken oor my. Ek het darem by daai opening scene in American Pie geleer hoe om my pose te hou.
“Ja, Ma?”
Sy kan nou enigiets sê soos “Dis sommer nonsens dat pampoen jou hare laat krul.” Maar my ma sê dit nie, want dan kan ek lag asof ek met