Wenkbrou. Deborah Steinmair
Читать онлайн книгу.getrou en op sy familieplaas naby Standerton gaan bly. Die kliniek daar gevestig. Daar was ’n tyd toe sy probeer uitreik het na haar mense, en op ’n manier verdra is. En toe weer: geen kontak nie.”
Aga knik. “Die patologie van families. Rageltjie was dapper. Kan jy dink hoe sy aan die begin uitgestaan het op die kampus, in haar lang rokke en velskoenstewels?
“Jesse, ek gaan die kar haal. Ek glo nie ons word teen ons sin aangehou nie, maar ’n mens wil darem weet jy kan wegkom wanneer jy wil. Die Volgelinge is miskien nie sinister nie, net koddig; ouwêrelds en geheimsinnig. Maar ek weet nie so lekker van die Ongeskonde Susters nie. Dit voel my hulle het ’n eie agenda. ’n Verskuilde een. En dis nie noodwendig die hiernamaals nie. Dis iets meer prakties. Dis iets soos mag, hier en nou.”
“Jy’s reg. Hulle HET mag, en baie geld, al lyk dit nie so nie. Ek het my ma eenkeer hoor sê die Sêsi besit meer grond as die Volgelinge, en dis nie bietjie nie, hoor. Waar sal jy die kar parkeer, jy het gesê daar’s nie ’n pad op kliphuis toe nie?”
“Darem net ’n bietjie nader aan die huis, waar die trappies begin of so. Hoekom het die Susters nie voertuie nie, Jess?”
“Goeie vraag. Ek sal vir Suster Rut vra. Daar is ’n hele paar dingetjies wat ek haar wil vra.”
“Weet jy, Jess, my gevoel is: jy moet so gou as moontlik by jou ouma uitkom. Sy is die swak skakel, of eerder, die een wat gereed is om te praat, wat bitter graag kontak met jou wil maak. Suster Rut en Kie. is sfinkse – zeir lips are sealed.”
Soos dikwels word haar intuïsie amper op die plek as juis bewys. Daar is ’n klop aan die deur. ’n Jong suster, Rebekka reken Aga is haar naam, staan op die drumpel met ’n blou koevert in haar hand. Sy lyk senuagtig, kyk oor haar skouer. “Dese skrywe kom van Katdoornvlei. Geadresseer aan Johanna. Suster Rut het dit in die herd gegooi. Ek het dit gou uitgeraap toe sy duskant toe kyk. Keneuoe.” Sy maak ’n ligte kniebuiging.
Aga skeur die koevert, swart aan die een hoekie, oop en haal die enkele velletjie blou skryfpapier uit. Die skrif is waardig, lieflik, soos geskrifte van twee eeue gelede. Effens bewerig, in vulpen:
Mij dierbare Johanna
Ik heb de behoefte om van aangezig tot aangezig met jouw te spreken. Mij voortreflike kind die kind van my Ragel ik ween oor die verlore jare. Ik ben moeg soos mijn dierbare suster wat nu ga rus het. Ik had ganog van toesmeerdery de waarheid sal ons vrijmaak. De naam van de HEER is een sterke toren, de rechtvaardige snelt erheen, en is veilig.
Kom sien mij spoedig alsjeblief.
Jouw Oumie
— Soos ’n leeu in sy lêplek —
Aga en Jesse staan in die ingangsportaal voor Suster Rut. Soos skuldige skoliere voor ’n skoolhoof, hangskouer maar met ’n onuitgesproke uitdaging in die houding van die heup. Hulle dra hul gewone klere, intussen gewas, en Jesse het haar rugsak op die rug. Hulle is omgord en paraat.
“Aga en ek gaan die motor by die werkershuisies haal, Suster Rut,” sê Jesse beslis. “Dis seker ’n goeie entjie se stap, maar die reën het darem opgehou.”
Suster Rut lyk glad nie ingenome met die plan nie. “Dis ’n dagreis te voet. En sou julle die spoor byster raak, Keneuoe? In meer as een opsig. Jy is die aangewesene; die gekose een. Ek durf julle nie alleen laat vortgaan nie. Ek stuur ’n gids en rigtinggewer saam.”
Haar streng oë gly oor die jonger nonne wat nuuskierig staan en toekyk. “Laat sy Rebekka kies, laat sy Rebekka kies,” prewel Aga woordeloos. Jesse, ’n meester van omgekeerde sielkunde, lig haar wysvinger. “Wat van Suster Maria, Suster Rut?”
Suster Maria is ’n gatkruiper, Suster Rut se ywerige regterhand, vroom en emosieloos, kort en dik soos ’n petrolblik. Suster Rut oorweeg dit vir ’n oomblik. “Nee, ek kan haar nie spaar in die huishouding nie. Ons lê groente in vandag en sy is ’n vlytige werker. Rebekka, maak jou gereed en ryg toe jou stapstewels. En Kaïn gaan met julle mee.”
Hulle stryk aan met ’n tuisgebakte brood in ’n vadoek en ’n kruik water, soos reisigers in sprokies. Suster Rebekka, die waterdraer, lyk steeds senuagtig. Aga dink sy vermoed die uitstappie gaan om meer as die motor. Kaïn is ’n opgeskote bobbejaan met agterdogtige ogies, na aan mekaar. Hy vorm die agterhoede, min beïndruk. Hy is die soort bobbejaan wat, as hy ’n mens was, ’n grasspriet in sy kies sou gehad het, of ’n sigaret agter die oor. Doodluiters. Hy straal terloopse minagting uit, soos ’n jeugmisdadiger. So begin hul ontdekkingsreis, met nie alle bemanningslede bo verdenking nie.
— Want my gebeente is verskrik —
Hulle stryk aan, hulle stryk aan. Rebekka is ’n absolute GPS, sy weet presies watter voetpaadjie om te kies. Sy is klein en rats, met nie ’n ons oortollige vet aan haar vietse skelet nie. Haar oë is groot en wyd, vol ontsag en ontsetting. Sy lag maklik. Sy het ’n goeie begrip wat minder as ’n halwe woord benodig. “Julle wil allereers Katdoorn toe, om jou oumatjie te raadpleeg, nie waar nie, Keneuoe?”
Met die son in die middel van die hemel gaan hulle sit. Hulle knoop die vadoek oop en breek die brood. Kaïn het ’n paar skerpioene onder ’n klip verras en kou sappig en met groot smaak daaraan, terwyl hy hulle op en af kyk met ’n uitdrukking van: “Wat’s jou probleem?” Hy herinner Aga aan die voormalige Jeugligaleier Julius Malema; iets in die vanselfsprekende toe-eiening, as daar wel so ’n woord bestaan. Tortelduiwe koer oorverdowend. Hoe ver moet hulle nog gaan?
Dis namiddag. Aga herken die landskap. Hulle is weer op Katdoornvlei, die erfplaas. Die werf lyk verlate en effens verwaarloos. Hulle vermy die hoofopstal met sy versonke rondawel waarmee hulle heeltemal te goed vertroud is. Agter, onder die bloekoms, is ’n kleiner opstal, netjies afgewit. Die skaduwees is al lank. Rebekka klop nie, maar uiter ’n skril fluit. Na ’n hele paar minute verskyn Oumie se kappiekop bo die onderdeur. Sy leun op die deur, krom soos ’n vraagteken, amper deursigtig in die agtermiddagson. “My kinders. Kom terstond binne. Julle is seer welkom. Soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te aanskou. Net die abjater betree nie my drumpel nie. Die Skrif sê die honde en towenaars sal buite bly.”
“Die wagbobbejaan bly altoos buite, Oumatjie,” verduidelik Rebekka geduldig.
Oumie se voorkamer dateer uit die vorige eeu, nee, die een daarvóór. Wakis, houtvloer, kerse, riempiesmeubels. Ontdaan van versiering, geen gehekelde tafellappie of armleuningdoilie in sig nie, geen geraamde tapisserieë of uitgeborduurde Bybelverse teen die wit mure nie. Dienlike gordyne sonder motief of kleur, soos Oumie se kleredrag. Onder haar kappie hang ’n lang silwer vlegsel uit, tot op die heup. Sy loop moeisaam, met ’n kierie. Sy het wel hulp: “Consolashooooeeeen!” gil sy oor haar skouer. “Kom skenk vir ons tee-hee.”
Consolation, in wit kappie en voorskoot, die ene glimlag, kom groet en bring tee. Bossiestee. Koffie is boos, onthou Aga; ’n gevaarlike stimulant. Suiker ook. Daar is darem vars room. Hulle sluk dorstig aan die warm bruin vloeistof.
Oumie lyk bleek en uitgeput. Sy val met die deur in die huis, soos iemand wat min tyd het: “Ek wis van jul soektog. Julle moet julle haas om die seun se ma op te spoor, die verloopte Fumane. Haar wat heen is se grootmaakkind. Om lig te werp op die duister saak.”
Oumie benodig weer die dienste van ’n groot wit sakdoek. “Ek is reg om te gaan, na my suster. Oor hom, Herder, die eerste, het ek geen enkele traan gestort nie. Oor die laaste Herder, haar seun, wel ’n paar trane. Ons het saam grootgemaak aan hom, tot sy vort is na die Ongeskonde Susters.
“Sy het nou heengegaan om vir my ’n plek te berei, die roos van my hart. Soos ’n narsing van Saron, ’n lelie van die dale, goud van Ofir, topaas van Kus. Vort na ’n stad met fondamente, waarvan Hy die boumeester en oprigter is. In hierdie dal der doodskadu het daar vir my weinig oorgebly. Alles tevergeefs, ’n gejaag na wind, seg die Prediker.
“Maar dit was ’n blye dag om jou weer te aanskou, my Rageltjie se kind. Hoewel liederlik verniel deur die wêreld, ’n geknakte riet, my stomme kind.”
’n