Kobra. Deon Meyer

Читать онлайн книгу.

Kobra - Deon Meyer


Скачать книгу
skouers, swart pakke en wit hemde as die slagoffers. Hul gesigte is stroef.

      “Ek is jammer oor julle kollegas,” sê Griessel.

      Hulle knik.

      Daar is ’n ongemaklike stilte, wat kaptein Willem Liebenberg eindelik verbreek terwyl hy na sy aantekeninge in ’n sakboekie verwys: “Hulle het elke oggend om sewe-dertig die nagskof kom aflos, en vir twaalf ure gewerk, tot negentien-dertig. Die prosedure vir oorhandiging was ’n selfoonoproep van buite, met ‘groen’ en ‘rooi’ as kodewoorde vir veilig of onveilig. Dan is die voordeur van binne oop- en toegesluit. Hulle sê die Britse ou … Morris was vriendelik, maar nie baie praterig nie …”

      “Julle moet verstaan, ons moedig nie ’n geselsery aan nie,” sê Barnes met ’n ligte Engelse aksent.

      “Dit trek net jou aandag van die werk af,” sê Conradie.

      “So hulle weet eintlik min van die ou,” sê Liebenberg. “Hy is so tussen een-komma-agt en een-komma-nege meter lank, min of meer negentig kilogram, swart hare, bruin oë. Hy praat met ’n swaar Engelse aksent. Hy het elke oggend na ontbyt en elke middag na vieruur vir ’n bewaakte wandeling hier op die plaas gegaan vir omtrent veertig minute, en elke …”

      “Het hy daarvoor gevra? Vir die wandeling?” vra Griessel.

      Conradie antwoord: “Ons gee die kliënte ’n portefeulje van keuses. Dit was een wat hy gekies het.”

      ’n Portefeulje van keuses. As Cupido hier was, sou hy sekerlik daaroor aangegaan het: Oud-polisieman wat so fancy praat.

      “En dis veilig?”

      “Veilig is relatief,” sê Barnes. “Tensy die kliënt die nature of the threat met ons deel. Wat meneer Morris nie gedoen het nie.”

      Radebe skud sy kop. “Het julle hom gevra?”

      “Mejuffrou Louw doen dit. Die agtergrondnavorsing. Sy’t gesê die kliënt het verkies om niks te verskaf nie. Ons verantwoordelikheid is om aan die kliënt die portefeulje van keuses oor te dra, en dit te akkommodeer. As hy meen die bedreiging is van só ’n aard dat dit veilig is om te gaan stap, moet ons dit aanvaar,” sê Conradie.

      “Hy het vir ons gevra of ons seker is niemand het hulle van die lughawe af agtervolg nie,” sê Barnes.

      “Was julle?”

      “As daar enige teken was, sou Fikter en Minnaar dit gerapporteer het.”

      “O.K.,” sê Griessel.

      7

      Die lyfwagte sê Morris het bedags meestal in die eetkamer met sy rekenaar en iPad gesit, en saans voor die vuur met ’n boek wat hy in die sitkamer se boekrakke gekry het. Soms het hy net by die venster in die eetkamer gestaan, die een wat uitkyk oor die Franschhoek-vallei. “I never knew this country was so beautiful,” het hy een keer gesê.

      Griessel vra hulle waar hy die rekenaar en iPad gebêre het.

      “Hy het nie. Elke keer wat ons daar weg is, het dit nog op die eetkamertafel gestaan,” sê Conradie.

      “En as julle eet?”

      “Morris het in die eetkamer geëet; ons eet in die kombuis.”

      Conradie sien Griessel se frons. “Dis protokol,” sê hy.

      “Het hy ’n selfoon gehad?”

      “Seker. Ons het hom nooit daarmee gesien nie,” sê Conradie.

      “Maar hy kon in die nag sy selfoon in sy kamer gebruik het as julle nie by was nie.”

      “Dis moontlik.”

      “Hy het julle nooit gevra om iemand te bel nie?”

      “Nee.”

      “Is daar wifi in die guesthouse?” vra Radebe.

      “Ja.”

      Radebe maak ’n aantekening.

      “Hierdie plek …” Griessel beduie na die wynplaas. “Ek verstaan nog nie mooi hoekom julle hom hiernatoe gebring het nie. Dis nie moeilik om hier in te kom nie, as jy regtig wil.”

      Barnes frons, sug sag en sê: “Persoonlike sekuriteit is so goed soos die kliënt se briefing. Ons het safe houses en safe apartments waar jy nie met ’n full SWAT team kan inkom nie, as daar genoeg PSO’s is wat weet wat hulle …”

      “PSO’s?”

      “Personal Security Operatives.”

      “O.K.”

      “Maar hierdie ou het niks gesê oor die nature of the threat nie. Ons kan hom nie dwing nie. Die protocol is, as hulle nie specifics gee nie, vertel die baas vir hom van al die options, en dan moet hy self besluit.”

      “Hierdie plek is goed as niemand weet jy is hier nie,” sê Conradie.

      “Maar iemand hét geweet hy is hier,” sê Griessel.

      Die lyfwagte knik met vae ongemak.

      “Hoe? Wat is die moontlikhede?”

      “Hy kon vir iemand gesê het,” sê Barnes.

      “Voor hy gekom het,” sê Conradie. “Of terwyl hy hier was. Hy kon vir iemand e-pos gestuur het …”

      “Geen ander moontlikhede nie? Die ouens wat hom ontvoer het, is professioneel.”

      Die stilte rek, voor Conradie sê: “As die pro’s jou agtervolg … Dis nie altyd moontlik om dit raak te sien nie. As hulle baie goed is. As hulle twee of drie karre gebruik. As hulle ’n GPS tracker aan jou kar sit.”

      “That’s it,” sê Barnes. “The only possibilities.”

      Griessel knik. “En hy het nooit bang of bekommerd gelyk nie?

      “Nee. Hy was rustig. En ’n nice ou. Een van die makliker kliënte wat ons die afgelope jaar gehad het.”

      “Enigiets anders?” vra Radebe. “Iets wat hy wou gehad het?”

      “Morris het gister gevra vir Suid-Afrikaanse finansiële tydskrifte en koerante. Ek het dit gisteraand by die CNA in die Waterfront gaan koop, en vanoggend saamgebring.”

      Hulle neem die lyfwagte se kontakbesonderhede, en laat hulle gaan.

      “Ek sal die wifi opvolg, Bennie,” sê Radebe. “Uitvind wie dié plek se service provider is. Philip-hulle kan die logs kry.”

      Griessel het in die afgelope maande hard gewerk aan sy gebrekkige tegnologiekennis. Cupido en kaptein Philip van Wyk van IMC, die Valke se Inligtingsbestuursentrum, oftewel Information Management Centre, was geesdriftige en goeie leermeesters. Hy ken steeds net ten dele, maar weet dit is moontlik om iemand se internetspore op só ’n manier te volg.

      “Dankie, Ulinda. IMC sal na selfoonoproepe ook moet kyk. Morris moes een gehad het. Enige buitelandse nommers … En as ons sy foon geïdentifiseer kan kry …”

      “… kan ons hom trace. Hierdie bodyguards sou bel om by die deur in te kom; as ons die twee victims se nommers ook kan kry, gaan dit makliker wees om vir Morris te track. ’Selfde cellular tower, if you get my drift.”

      Griessel knik. Hy moes daaraan gedink het. “Vaughn is in die stad – ek sal hom vra om dit by Body Armour te kry. Dankie, Ulinda.”

      “No problem.”

      * * *

      Die sagte reën is ’n fluistering op die dak.

      Griessel en Liebenberg deursoek die groot gastehuis van hoek tot kant. Griessel is in Morris se slaapkamer besig om alles weer noukeurig na te gaan toe Fillander en Ndabeni terugkom van die plaaswerker-ondervraging. Hulle kom staan in die deur, hul koppe en skouers blinknat.

      “Niks,” sê Fillander. “Dié wat hier was, het niks ongewoon gehoor


Скачать книгу