Die derde graf. Calvyn van Niekerk

Читать онлайн книгу.

Die derde graf - Calvyn van Niekerk


Скачать книгу
hurk en raak doenig met die blomme. Dit word versigtig in ’n pot aan die kop van die grafsteen gerangskik en die water bygevoeg sonder dat ’n druppel stort. Sy praat met haar rug na hom.

      “Ek het gehoor hoe die ding aan jou vreet, Tromp. Ek en oom Gawie het destyds lelike goed vir jou gesê en ek wil hê jy moet verstaan hoekom. Ons was nog leliker met mekaar. Ek het gesê dis hy wat Magnus graf toe gedryf het en hy wou weet watse soort ma is ek dan wat nie kan sien haar kind is op pad afgrond toe nie. Dis hoe ons uitmekaar is. Ná so ’n mooi huwelik van twee en twintig jaar.” Sy sak vooroor op haar knieë, asof sy nie omgee wat die rooi grond aan haar rok doen nie. “Soveel dwaashede . . .” prewel sy.

      Tromp weet nie hoe om te reageer nie. Hy wag maar vir haar, en uiteindelik draai sy haar kop en kyk op na hom.

      “Een daarvan kan reggemaak word: ek en Gawie. Ons kan en móét mekaar vergewe voor ons ook hiernatoe gedra word. Ek wou hom lankal kontak, maar ek sou dit agter my man se rug moes doen en dit . . .” Sy skud haar kop. “My tweede huwelik was miskien ’n bietjie oorhaastig, maar ’n mens kan so verlate voel, en Arnold was hierdie gawe wewenaar met die seunskind wat ’n ma nodig gehad het. Hy was ’n goeie man. Dominerend, maar goed vir my. Ek kon nie met Gawie regmaak en dalk met Arnold stry kry nie. Agt maande terug is Arnold toe dood, verongeluk met sy motorfiets. Toe dink ek weer as ek Gawie nou dadelik bel, lyk dit mos sleg, asof ek net gewag het dat Arnold onder die kluite moet kom. Ek was ook bang. Gawie was só kwaad toe hy hier weg is, en hy is nie een wat vergewe nie.”

      As hy homself jare gelede reggeruk en haar genader het, kon hy dalk die skakel tussen haar en oom Gawie gewees het. Dit het nooit eens by hom opgekom nie. Hy was te jammer vir homself.

      “Het jy kinders?” vra sy.

      “Nee.”

      “Probeer dan net verstaan.”

      Sy kom orent, soek na die regte woorde. “Daar is net een ding op Gods aarde erger as om jou kind, jou enigste, aan die dood af te staan, en dis om boonop aandadig te wees daaraan. Ons het geweet ons het Magnus te ver gedryf en dis hoekom hy hier lê. So ’n skuldlas is te swaar vir een paar skouers. Jy wil ten minste ’n deel daarvan afskud op iemand anders. Toe probeer ons dit op mekaar afpak, en jy was ook byderhand. Maar daardie soort skuld kan ’n mens nie aflaai nie. Jy dra dit saam tot in jou laaste dae. Jy kom hiernatoe met blomme en jy vra vergifnis en jy hoop as jy self eendag anderkant kom . . .”

      Sy kyk weg oor die grafstene. Hy wonder of hy sy arm om haar moet sit. Hy bly liewer staan.

      “Ek is maar te bewus van my skuld,” erken hy. “Ek moes nie die polisie ingesleep het nie.”

      Hy sien hoe sy diep asemhaal. Sy was altyd ’n sterk vrou. In sy jeug kon hy sulke selfbeheersing nie herken en waardeer nie, maar nou onthou hy dit. Hy het haar nooit kwaad gesien nie, al het hy en Magnus wát aangevang.

      “Jy móés, Tromp, wat anders? Jy het nie geweet Magnus gaan daar wees die aand met die skietery nie en jy het pligte gehad. Dat hy juis daar was . . . dit was ’n wrede bestiering.”

      Haar woorde bring net ’n bietjie verligting. Sy weet nie waar­oor hy homself die meeste verwyt nie. Dit was geen toeval dat hy Magnus daardie keer met die daggazol betrap het nie. Magnus het gebel en gepleit dat hy net vir ’n paar minute moet kom inloer, maar hy was haastig om by ’n mooi donkerkoppie uit te kom. Toe hy suurderig daar aankom en Magnus openlik op die stoep sit en dagga rook, was dit ’n skok. Hy het kwaad geword, en sy eerste reaksie was: “Is jy van jou kop af, jou blerrie gek!” Op Magnus se: “Raai wat? Ek het vandag wiskunde gedop. Wiskunde se moer.” moes hy gevra het hoekom. Maar die donkerkoppie het gewag, en as toegewyde polisieman het hy geen geduld met daggarokers gehad nie. Uit die hoogte van sy eie selfgenoegsaamheid het hy ’n vermanende preek afgesteek, omgedraai en geloop.

      Eers ’n ent weg het hy gesnap dat Magnus hom opsetlik in ’n daggawalm ingewag het. Hy wou bieg. Hy wou wys in watter ge­mors sy lewe was. Hy was desperaat en hy het hulp gesoek. Soos kleintyd het hy gehoop op die sterker skouer van sy maat wat soos ’n broer was, maar daardie aand was dit nie beskikbaar nie.

      Tromp het teruggedraai, maar Magnus het hom gesien kom, die huis binnegegaan en die deur toegemaak.

      Jare daarna het Magnus se hartseer glimlaggie daar op die stoep, die verslaentheid van verwerping, in Tromp se nagmer­ries bly op­duik. En die beskuldigende stilte toe Magnus geweier het om die voordeur weer oop te maak. ’n Week of wat later het Tromp gaan verskoning vra en dis lughartig aanvaar. Maar die skade was ge­doen. Magnus wou nie meer oor sy probleme praat nie.

      Tant Mattie streel oor die marmer. “Ek het gehoor hulle het jou besope op straat gekry en Heilsleër toe gevat.”

      “Ja.”

      “Is jy ’n alkoholis?”

      “Nee. Ek was nooit. Net ’n suiplap.”

      “Het dit gehelp?”

      “Nee.”

      “En nou?”

      “Ek is daar verby.”

      “Ek is bly.”

      Sy haal ’n stoflap uit haar handsak, hurk en begin stof van die marmer vee. Sy werk stadig en hy dink eers dis omdat sy nie haastig wil wees met ’n liefdestaak nie, maar dan hoor hy ’n kreuntjie. Hy gaan hurk langs haar en vat die lap.

      “Dankie,” sê sy. “Ek het ’n bietjie artritis in die skouer. Ek sal probeer om oom Gawie in die hande te kry. Ek laat jou weet as ek iets hoor. Maar moenie te veel verwag nie. Jy het destyds net die kant van oom Gawie geken wat hy vir die wêreld wou wys. Hy was rêrig die liewe, sagte mens wat jy gesien het, maar ek kan ook vir jou sê dat hy ’n harde kol in hom het. Dit het gekom van die ou storie van die diamante. Hy was so bitter daaroor, en dis hoekom hy so moeilik vergewe. So, ek weet nie, maar ek vermoed hy het ons twee nog nie vergewe nie.”

      “Ek verstaan, tant Mattie.”

      Sy leun op die grafsteen om orent te kom.

      “Dankie dat jy teruggebel het,” sê sy weer. “Nou gaan ek Fred se arm draai vir die nommer.”

      “Ek moes lankal kom praat het. Ek is jammer ek het nie.”

      Sy vat haar waterkan en hulle loop in stilte na die pers Volksie toe. Daar reik sy onverwags op, trek sy kop af en soen hom teen die wang. Hy voel dit nog toe sy in die motor gaan klim, sonder om terug te kyk.

      Hy staan daar tot die pers karretjie buite sig verdwyn voor hy na die Hilux toe loop. Dit voel soos twintig jaar gelede, die aand voor Kersfees, toe hy na die pakkies onder die Kersboom gaan loer en gesien het syne is so groot soos die boks met die Meccano-stel wat hy heeljaar begeer het. Vergifnis van daardie vrou is kosbaar. Hy kan haar nie weer teleurstel nie.

      Net toe hy die bakkie wil aanskakel, lui sy selfoon.

      “Hoe lank moet ek nugter wees voor jy kom kuier?” vra Hester Coetzee.

      “Hallo, Hester.”

      “Weet jy nie dis onbehoorlik vir ’n meisie om agter ’n man aan te loop nie?”

      “Jy hoef agter niemand aan te . . .”

      “Ek dink aan bobotie en geelrys vir Vrydagaand. My ma het my geleer en sy ken van bobotie. Kan jy halfagt hier wees?”

      “Hester, ek het mos gesê jy’s te mooi vir my.”

      “Die Kaap se beste pinotage, perfek saam met bobotie, en brood­poeding. Jy kan vroeër kom en help. Dis so romanties as ’n man help kosmaak.”

      “Hoor jy my nie?”

      “Ek het jou hoor nonsens praat. Moenie bang wees nie. Ek be­lowe, ek sal klere aanhê dié keer.”

      Hy lag voor hy kan keer.

      “Halfagt,” sê hy, en verwens onmiddellik sy impulsiewe ant­woord.

      “Kan nie wag nie. Soentjie!”

      Weg is sy. Hoekom, vra hy homself,


Скачать книгу