Dubbelspel. Wilna Adriaanse
Читать онлайн книгу.dringend. Allegretti gee sy girlfriend ’n harde tyd omdat sy nie by hom intrek nie, en sy is op haar oom se case. En as ons te lank draai, kry Williams dalk iemand anders. Ek het hom intussen laat weet ek dink ek het net die regte persoon vir hom.”
“Dit klink my julle twee is meer as net kennisse.”
Albert trek sy skouers op. “Ek het selfs so ver gegaan om vir Zondi van ’n kantoor in Darlingstraat te sê. Die huurders moes dringend uit. Dis beskikbaar, met meubels en al. Sodra jy up and running is, is die kantoor eintlik nie nodig nie, maar dis altyd ’n goeie front.”
“Wat as Williams wil weet waar die ander personeel is?”
“Dis maklik. ’n Paar polisiebeamptes word gemerk om as security te double as dit moet. Ons sorg dat ’n paar ouens met security uniforms nou en dan ’n draai daar maak, maar dis nie werklik nodig nie. Moenie jou kop oor daai detail breek nie. Dis maklik om uit te werk. Jy het tog al gesien hoe dit gedoen word.”
“En as ek nie kans sien nie?
“Ek is seker Zondi gaan nie hierdie kans laat verbygaan nie. Sy het dringend iets nodig om julle bietjie beter te laat lyk. As jy nie kans sien nie, gaan sy net iemand anders soek. En soos ek gesê het, dit sal jammer wees om so ’n break vir iemand anders op ’n skinkbord aan te bied.”
Sy vra hom nie waarom hy haar nog nie vantevore vertel het dat hy al so diep by Williams betrokke is nie. Albei het van die begin af geweet daar gaan dinge wees waaroor hulle nie kan praat nie.
“Wat dink Williams gaan Allegretti met die meisie doen?”
“Dis nie soseer wat Allegretti gaan doen nie. Aan die een kant vermoed ek hy wil net Allegretti se gat krap. Aan die ander kant dink ek hy is genuine bekommerd. Dalk nie soseer oor wat Allegretti aan haar kan doen nie, maar dat sy collateral damage kan word tussen Allegretti en van sy vyande.”
“Nou wil hy iemand van sy keuse saamstuur om haar op te pas.”
“Ja, en haar motor te bestuur. Hy sê sy kan nie bestuur om haar lewe te red nie. En om hom te laat weet as daar dalk moeilikheid is.”
“Waarom sal Allegretti dit toelaat?”
Albert glimlag en sit agteroor op die stoel, sy arms wyd gestrek. “Allegretti soek daai girl met ’n seer hart en hy weet as Williams wil, kan hy haar laat wegraak, en hy sien haar nie weer nie.”
“Sal hy haar doodmaak?”
“Ek praat nie van doodmaak nie. Hy kan haar eenvoudig vir ’n tyd laat verdwyn.”
“Ek wil alles hê wat jy van Williams en Allegretti weet. En ek bedoel, álles.” Sy staan op en hy volg haar voordeur toe. Toe hy haar by die motor wil soen, tree sy agtertoe. “Jy weet hoe sukkel ek en Clive om inligting oor daardie klomp in die hande te kry, waarom het jy ons nie gehelp nie?”
“Ek het nie hiervoor gaan soek nie, en dis nie inligting wat ’n mens met ’n hele kantoor deel nie. Ons sal die een of ander tyd die drade bymekaar trek, maar vir eers is dit nie vir almal se ore en oë nie. En dit help dat vars oë na ’n ding kyk.”
Hy druk haar met sy lyf teen die motor vas, sit sy hande op haar heupe en soen haar. “Kom terug bed toe.”
“ ’n Ander aand. Jy het my nou te veel gegee om oor te dink.”
Sy kyk in haar truspieëltjie toe sy wegtrek. Dis nie die eerste keer dat sy só na hom kyk wanneer sy van hom af wegry nie. Ook nie die eerste keer dat sy oor hulle twee wonder nie. Soos met die vorige kere is dit egter vanaand ook net te veel moeite om lank te wonder. Die keer of twee wat hulle oor hulle verhouding gepraat het, was sy opmerking elke keer iets soos “moenie krap waar dit nie jeuk nie”.
Die N1 is stil en toe sy die stad inry, is selfs die laatnag-bedelaars nêrens te sien nie. Hierdie tyd van die nag is hulle die hopies onder die kartonne, en koerante. Op winkelstoepe, in inhamme, onder brûe.
Sy haal diep asem toe sy haar huisie se deur oopstoot. Haar pa het haar gehelp om die klein huisie so skuins tussen Tafelberg en Duiwelspiek te koop toe sy by die kliniek in die stad begin werk het. Hy het haar nooit gevra waarom sy nie nader aan die huis wou woon nie. Selfs nadat sy by die kliniek weg is, en elke dag Bellville toe moes ry, het hy nie gevra nie.
Aan die begin het die verkeer van die groot verbypad net bo die huis haar gepla, maar nou hoor sy dit skaars.
Die plan was om eendag die plek mooi in te rig, niks luuks nie, net hier en daar darem iets wat lyk asof sy ’n bietjie moeite gedoen het. Maar nou, op haar polisiesalaris, sal die mooigoed eers moet wag. In die grootste slaapkamer het sy darem ’n nuwe dubbelbed, twee onpas bedkassies, en ’n laaikas wat sy by ’n tweedehandse meubelwinkel opgespoor het. Die kleiner slaapkamer het ’n enkelbed en ’n lessenaar in. Die lessenaar is netjies, al lê daar gewoonlik ’n hele klomp lêers en dokumente waaraan sy werk.
In die sitkamer is ’n groot rusbank, ook afkomstig van ’n tweedehandse meubelwinkel, en twee gemakstoele wat sy by ’n kollega gekoop het toe sy vrou dit wou uitgooi. Die mure is kaal behalwe vir twee geraamde plakkate. Die een was ’n geskenk van haar kollegas by die kliniek toe sy daar weg is.
We are what we pretend to be, so we must be careful about what we pretend to be. Kurt Vonnegut.
Sy skop haar skoene uit, laat val haar klere sommer op die vloer en trek haar warm slaapklere aan. ’n Paar minute later trek sy die duvet ook oor haar. Sy draai op haar sy en krul haarself in ’n bondel. Die gesuis van die snelweg bo die huis is stil. Net nou en dan hoor sy ’n voertuig verbydreun. Sy luister na die geluid tot dit wegraak. En dan spits sy haar ore vir ’n volgende een. Dis een manier om haar gedagtes hok te slaan en die stemme in haar kop uit te doof.
“Jy is nie meer hier om vir my te sê wat ek moet of nié moet doen nie,” praat sy na ’n ruk die donkerte in. En dan trek sy die duvet tot teen haar ken, terwyl sy probeer om verby die benoudheid asem te haal.
Haar ma het haar nooit vergewe omdat sy ook by die polisie aangesluit het nie, al het sy van kleins af gesê dis wat sy eendag wil word. Haar pa het aande lank met haar daaroor gepraat, seker gemaak sy doen dit om die regte redes. In haar keuring is sy gevra waarom sy wou aansluit. Sy moes al die regte redes en antwoorde gegee het, want sy is gekeur.
Die eintlike rede is egter baie eenvoudiger as wat sy op enige vorm ingevul het, of in enige onderhoud verklaar het. As kind het sy geglo as sy net eendag ook by die polisie kan werk, sal sy kan help keer dat haar pa iets oorkom. Oor sommige spoke kry jy beheer soos jy ouer word, die res leer jy om weg te steek omdat jy bang is die wêreld verstaan nie.
Hoofstuk 9
Dis al na elf toe Nick Donderdagoggend by die klub wegkom. Dit was ’n lang vergadering met al die sekuriteitsbeamptes. Hy het die hele Woensdag met ’n fynkam Enzio en Gabriella se bewegings nagegaan, gekyk hoe hulle veiligheidstelsels werk.
Hy is moerig toe hy by Allegretti se huis kom, en toe hy uit die hyser stap en sien hoe Enzio by die kroegtoonbank kokaïen snuif, is hy sommer lus en slaan die man.
“Jissis, Enzio, as jy nie stadig nie, maak jou brein een van die dae net een moerse kortsluiting.”
“As jy vir my wil preek, kan jy fokof.”
“Jy kan doen wat jy wil, solank jy jou gewoontes en plesiere onder beheer hou. As jy nou rêrig met jou ou man wil kak optel, moet jy ’n junkie word.”
“Ek is nie ’n kind nie.”
“Moet jou dan nie soos een gedra nie. Ons het ’n klomp goed om oor te praat, en ek soek jou helder en skerp.”
Toe Allegretti opkyk, blink sy oë en hy glimlag. “Wat dink jy gebruik ek? Vim?” Hy vryf die laaste bietjie poeier aan sy tandvleis. “Hierdie is die heel beste, and I am as sharp as a razor blade. Try my.” Hy hou die sakkie omhoog. “Jy kan gerus probeer. Ek het ’n kakhuis vol geld hiervoor betaal.”
Nick kyk hoe sy kake beweeg. Altyd ’n duidelike verklikker. Die vreemde koubewegings. Hy skud