Kopskoot. Rudie van Rensburg

Читать онлайн книгу.

Kopskoot - Rudie van Rensburg


Скачать книгу
bome gloei met ligkaatsings in die dam se vaalblou water. In die voorgrond sit twee naakte vrouefigure tussen geel waaigras. Die een se kop is boontoe gekeer, haar oë gesluit asof sy die strepe helderwit wolke in die lug aanbid. Maar die ligstrale en golwings van die landskap rig die aandag eintlik op die ander vrou, haar kop na onder gedraai, haar uitdrukking weemoedig, haar oë gerig op haar hand wat ’n bos kleurvolle veldblomme omklem. Die een se steel is geknak, die groot blom verwelk.

      Hy moet soek na die regte woorde. “Dit … dis briljant, Katrien. Absoluut briljant! Selfs Irma Stern sou trots gewees het hierop!” Hy skud sy kop. “Ek het nie genoeg woorde in my woordeskat om dit te beskryf nie. Dit slaan my asem weg.”

      Sy glimlag breed, haar gesig vol genoegdoening.

      Hy staan nader, laat gly sy vingertoppe liggies oor die kontoere van die verf. “Hoe het jy dit reggekry om die skildery so oud te laat lyk, asof dit regtig in 1937 geskilder is?”

      Sy lag. “Dis jou Myatt-vervalser wat my daardie raad gegee het. Ek het sy tegnieke fyn bestudeer op die internet. Koffie.”

      “Kóffie?”

      “Ek het ’n koppie swart koffie op die doek uitgegooi toe die verf droog was, dit met ’n spons ingewerk en gewag dat dit droog word voordat ek die skildery vernis het. Dit het soos ’n bom gewerk. Myatt het dit met baie van sy vervalsings gedoen.”

      Hy skud sy kop verwonderd. “Ek het nie besef olieverf raak só gou droog dat ’n mens koffie daarop kan uitgooi nie.”

      “Ek het nie met olieverf gewerk nie. Dis akriel.”

      Haar woorde tref hom soos ’n opstopper in die gesig. Ná al die moeite wat hy gedoen het om ’n outentieke skildery te verseker! Die rol ou doek wat hy by ’n veiling in Houtbaai gekoop het, die antieke raam in Langstraat, die 1938-skildery van ’n onbekende kunstenaar wat hy op ’n motorhuisverkoping bekom het sodat hy die houtspalke daarvan kon gebruik om die doek oor te span. Die ou, geroeste spykertjies wat hy met groot sorg bewaar het om die doek teen die hout vas te slaan. Niks moes aan die toeval oorgelaat word nie. Geen moeite was vir hom te groot om geloofwaardigheid te verseker nie.

      En nou is die skildery geverf in ’n medium wat nog nie eers in 1937 bestaan het nie, en iets wat Stern nooit in haar later jare gebruik het nie.

      Sy moes sy gedagtes op sy gesig gelees het, want sy keer vinnig: “Ek kan jou verseker niemand gaan die verskil agterkom nie.”

      Hy probeer die woede uit sy stem weer, maar weet hy slaag nie. “Jirre, Katrien, ons is nie hier besig met ’n skoolprojek nie! Dis nie ’n klomp laerskoolonderwysers wat ons moet oortuig dis ’n egte Stern nie, dis kunskenners wat elke dag met haar werk te doen kry. Selfs ek weet daar’s ’n helse verskil tussen olie en akriel. Hulle sal dit onmiddellik raaksien!”

      Hy gooi sy hande in die lug. “Ek kan nie begryp dat jy my nie eers geraadpleeg het nie! Ek weet dalk nie veel van kuns nie, maar tot ék besef ons kan nie so ’n elementêre fout bekostig nie.”

      Sy kry trane in haar blou oë. “Wel, ek sal dié een vernietig en dit oordoen in olie. Dit sal my ten minste drie maande neem. Dan sal ons vir nog ses maande moet wag vir die verf om droog te word voordat dit vernis kan word. Nege maande van nou af, Rocco. Nege láng maande!”

      Hy wil haar in die rede val en verskoning vra oor sy uitbarsting, want dis eintlik hy wat op die knap spertyd aangedring het. Toe hy sy mond oopmaak, beduie sy met haar hand sy het nog nie klaar gepraat nie.

      “En as jy vir een oomblik dink ek ken nie die verskil tussen olie en akriel nie, is dit seker omdat jy oortuig is ek is ’n dumb blonde! Ek skilder al die afgelope twaalf jaar en ek weet hoe om akriel soos olie te laat lyk. Daar’s tegnieke, Rocco, ek weet wat ek doen. Geen kunskenner of versamelaar sal die verskil agterkom nie.”

      Sy draai om, ’n ergerlike blos op haar wange, en stap vinnig na die deur. Toe draai sy terug na hom. “En vir jou inligting, Meneer Slimgat: weet jy met watse verf jou held John Myatt sy tweehonderd skilderye vervals het en toe met sukses opgeveil het?”

      Hy haal sy skouers op. “Ek … ek weet nie meer nie.”

      “Met huisverf. Gewone huisverf waarmee jy jou mure verf.” Sy klap die deur hard agter haar toe.

      Rocco weet hy het fouteer. Dis nie in sy aard om sy humeur te verloor nie, dis broer Bill se spesialiteit. Volgens hul oom James het Rocco sy ma se gematigde persoonlikheid geërf. Hy het vroue nog altyd soos porselein hanteer. Teenoor Katrien, wat emosionele letsels oorgehou het van haar varksige eertydse man se fisieke en geestelike teistering, moes hy juis nie soos ’n bullebak opgetree het nie. Hy wou nooit iets doen om haar te herinner aan haar rugbyspeler-eks nie, maar hy het dit pas reggekry.

      Hy soek haar in die huis, maar kry haar nêrens. Deur die sitkamervenster sien hy sy staan in die tuin onder die akkerboom, haar rug na die huis gekeer.

      Hy stap haastig soontoe. ’n Eekhorinkie skarrel voor sy voete uit. Hy sit sy hande op haar skouers en draai haar na hom. Haar oë is nat van die trane. Sy laat sak haar kop, maar hy lig haar ken, buk vooroor en soen haar sag op die lippe.

      “Ek is jammer, Trientjie. Nie net omdat ek my humeur verloor het nie, maar omdat ek jou oordeel en kundigheid bevraagteken het. Dit was verkeerd en onnosel van my.”

      Sy takseer hom vir ’n oomblik. Dan versag haar oë.

      “Ek is lief vir jou, Rocco,” sê sy skaars hoorbaar en gooi haar arms om sy nek.

      Hy hou haar styf teen sy bors vas. Hy is liewer vir haar as vir enige van die vrouens wat al sy pad gekruis het. Sy is te kosbaar om te stry oor ’n fokken skildery.

      Hy druk sy gesig in haar hare. “Kom ons gaan vier daardie asemrowende skildery. Met sjampanje en die mees eksotiese viskos waarvan jy kan droom. Ek gaan nou vir ons plek bespreek by ’n restaurant wat jou asem gaan wegslaan.”

      Sy lei hom na die slaapkamer toe hulle die huis binnestap. Sy stroop haar klere dringend van haar lyf af, staan dan kaal voor hom. Hy sukkel om homself vinnig genoeg uit sy klere te kry. Sy help hom met ’n giggellaggie om sy gordel los te kry. Hulle maak liefde met ’n hartstog wat hy nog nie voorheen ervaar het nie, sy vir die eerste keer die pasaangeër bo-op hom, haar orgasme perfek gesinchroniseer met sy eie.

      Ná die tyd lê sy knus in die waai van sy arm terwyl sy haar vingers deur sy borshare trek.

      Sy lyf voel nou volkome ontspanne, maar hy sukkel om die onrustigheid uit sy gemoed te verdryf.

      11

      Dis nie meer blote toeval nie, dink Kassie, want dit kom klokslag in sy lewe voor. Elke keer wanneer iets met hom gebeur wat hom opgewonde maak, word hy met ’n bekhou terug aarde toe gebring. Hy skud sy kop. Nie eers geringe roem sal hom ooit beskore wees nie.

      Toe hy in standerd ses gekies is as lid van die WP se junior veerpyltjiespan vir die SA toernooi, het die bure se hond hom die aand voor die tyd gebyt. Aan sy gooihand. Hy moes onttrek. En net voor hy sy skool in die wiskunde-olimpiade in Oos-Londen moes gaan verteenwoordig, het hy pampoentjies gekry.

      Só spring daar altyd ’n hindernis in sy pad. Net nadat hy gister gehoor het hy is aangewys as die gasuitstaller by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Seëlfees in Benoni, het Daniels hom vanoggend ingelig hy moet nou ook die moordsaak van Giel Lourens hanteer. Alles dui daarop dat Lourens en Mostert deur dieselfde man geskiet is. Buitendien is Kraaifontein dun aan mannekrag en speurervaring, het Daniels saaklik bygevoeg. Dis ook in ooreenstemming met die SAPD se nuwe strategie om sake doeltreffender te hanteer. Net omdat die moorde in verskillende gebiede plaasgevind het, beteken dit nie twee speurtakke hoef hul energie daaraan te bestee nie.

      As dit nie daarvoor was nie, sou Daniels sy verlof van twee weke goedgekeur het. En “Die Keur uit die Kassie Kasselman-seëlversameling” (die indrukwekkende titel is deur die organiseerders voorgestel) sou ’n belewenis wees vir elke besoeker aan die fees. Nou sal hy die uitnodiging nie kan aanvaar nie en sy verlof moet kanselleer.

      Alles omdat ’n ou met ’n pet, donkerbril en blou oorpak besluit het om


Скачать книгу