Kopskoot. Rudie van Rensburg

Читать онлайн книгу.

Kopskoot - Rudie van Rensburg


Скачать книгу
In Mostert se kantoor het dit nie gelyk of die moordenaar belanggestel het om iets te steel nie. Daar is nie in die laaie gekrap nie. Die Rolex aan Mostert se arm is net so gelos.

      “Dalk kan jy my met nog een vragie help,” sê hy vir Van den Heever. “Meneer Mostert … het hy enige vyande gehad? ’n Prokureur kom mos maar … hoe sal ek dit stel, met allerhande vreemde elemente in aanraking. Dalk was ’n kliënt kwaad oor die manier wat hy hom in die hof verdedig het … of ’n egskeidingsaak waar een van die partye dalk ’n wrok teen hom kon koester?”

      Van den Heever skud sy kop. “Dit was beslis nie ’n kliënt nie. Riaan is … was ons akteprokureur. Hy het gespesialiseer in eiendomsoordragte. Hy het nooit met kriminele elemente in aanraking gekom nie. Ook nie met verontregtes in skeisake nie.”

      Kassie kom orent uit sy stoel. “Dankie, julle het beslis gehelp.” Hy leun oor na Martie. “En drink maar ’n ou slaappilletjie vanaand.” Hy beduie na die deur. “Laat ek weer na die moordtoneel gaan,” sê hy verskonend.

      In Mostert se kantoor is Da Silva besig om met ’n poeierkwassie vir vingerafdrukke te soek. Daniels sit agter Mostert se lessenaar op sy selfoon en praat. Die fotograaf neem nabyfoto’s van die vermoorde se gesig. Die videospan wat intussen opgedaag het, staan geduldig en wag.

      Els en die konstabels kom dadelik nader toe hulle Kassie sien.

      “Hy moes toegang deur die voordeur gekry het,” sê Els. “Daar’s nêrens binne ’n teken van iemand wat ingebreek het nie. Dit lyk ook nie of iets gesteel is nie, geen oop laaie nie. In die konferensiekamer lê tot ’n iPhone.” Hy wys na die lyk. “En die man se Rolex is nog aan sy arm.”

      “Ek het twee patroondoppies gekry,” sê Da Silva. “.45.”

      Kassie knik. “Goed so … goed so. Lyk nie of ons met ’n rower te doen het nie.”

      Hy stap nader aan die lyk en beskou die kopwonde vlugtig. “Hy’t geskiet om dood te skiet.”

      Hy is opgewonde oor die beskrywing wat Martie Brink gegee het. Hy is amper seker dit klop met die beskrywing van ’n moord waarvan hy verlede week gelees het in ’n misdaadverslag van die noordelike voorstede. As hy reg onthou, het daardie moord plaasgevind in Kraaifontein en is daar verwys na ’n verdagte met ’n pet, donkerbril en blou oorpak. Hulle het ook twee patroondoppies op die toneel gekry. Hy kan sweer dit was .45, maar hy is nie doodseker nie.

      Daniels is nog ernstig aan die praat op sy selfoon. Kassie draai na Els. “Ek kom later weer. Ek gaan gou stasie toe. Ek wil net gaan seker maak van iets.”

      Hy wag nie op ’n reaksie nie, stap net haastig uit.

      Da Silva kyk verbaas na Els. “Kan jy dit fokken glo! Hy’s die hoofondersoekbeampte en hy loop net!”

      Els lag. “Relax! Jy vergeet dis onse Kassie. Hy sal sy redes hê, glo my.”

      8

      Toe die dreigende oorlogswolke in die laat 1930’s oor Europa begin saampak, het Marcus al geweet wat hy wil doen. Sy drang na avontuur het geroep. Sy pa was aanvanklik nie te vinde vir sy planne nie.

      “Vir wat wil jy die verdomde Engelse gaan help baklei? Ek het jou broodnodig hier op die plaas!”

      Maar Marcus wou dolgraag vlieg. Sy droom om ’n vegvlieënier in die Tweede Wêreldoorlog te wees, het ’n brandende begeerte geword. In 1939 het hy saam met ’n klomp Suid-Afrikaners op ’n skip na Brittanje geklim. Hy het met sy aankoms aansoek gedoen by die Royal Air Force, en hoewel hy maar net twintig was en hulle eintlik gegradueerdes verkies het, het die instrukteurs by die vliegskool onmiddellik sy potensiaal raakgesien. Hy was intelligent en onverskrokke, en as ’n Suid-Afrikaanse plaasseun wat van kleintyd ’n geweer hanteer het, het hy beskik oor ’n uitsonderlike skerpskuttersvermoë.

      Ná sy vliegopleiding het hy sy toelatingseksamen met vlieënde vaandels in ’n Spitfire geslaag. Dié formidabele moordwapen het soos ’n droom hanteer in die lug en Marcus kon nie wag om deel te word van die aksie nie.

      Hy is ingedeel by Eskader 72 en die Duitse Luftwaffe se volgehoue aanvalle op die Britse Eilande het hom gou in luggevegte laat beland. Hy het deelgeneem aan talle spanningsvolle gevegte, en met die ontruiming van Dunkirk in 1940 het hy vyf Duitse vliegtuie afgeskiet. Daarvoor het hy die gesogte DFC (Distinguised Flying Cross) ontvang. Op skaars een en twintig is hy in bevel geplaas van die A-vlug van Eskader 72. Hy het vinnig ’n reputasie opgebou as ’n vaardige en onverskrokke loods met uitsonderlike leierseienskappe.

      Maar die noodlot is ’n onwelkome en wrede indringer. Op ’n aandvlug tydens die Slag van Brittanje het Marcus hom misreken met ’n Duitse Heinkel-bomwerper. Hy het met sy Spitfire te naby aan die bomwerper gekom. Die lugbotsing was gering, maar genoeg om die Spitfire aarde toe te laat tol. Hy het betyds met sy valskerm uitgespring, maar sy been is erg vermink met die val. In ’n noodoperasie is sy linkerbeen geamputeer.

      Marcus se drome was verpletter. Hy het teruggekeer na Suid-Afrika, darem met ’n dekorasie as oorlogsheld – nie dat die boeregemeenskap in die omgewing van hul Noord-Vrystaatse plaas hom as ’n held beskou het nie. Die kruitdampe van die Anglo-Boereoorlog het al veertig jaar gelede gaan lê, maar die Britte se vernietiging van die Boere se plase en hul wandade in die konsentrasiekampe was nog vlak in die Afrikanergeheue. Met die Tweede Wêreldoorlog het hul simpatie hoofsaaklik by die Duitsers gelê. Die Britte was steeds die “vyand” en Marcus en sy medelandgenote wat in die oorlog baklei het, is neerhalend gebrandmerk as “rooilussies”.

      Marcus was bitter. Sy Britse heldestatus het niks onder sy eie mense beteken nie, en hy sou vir die res van sy lewe met krukke oor die weg moes kom. Hy wou ook nie boer nie. Sy pa se baasspelerigheid het hom nie aangestaan nie en hy het uitgewyk Bloemfontein toe. Weens die sukkelende boerdery was daar nie geld dat hy universiteit of kollege toe kon gaan nie. Boonop het hy die spaargeld vir sy opleiding vroeër gebruik om na Brittanje te gaan.

      As gevolg van sy gebrek was sy werkopsies beperk, maar danksy ’n pos as klerk by die spoorweë kon hy darem agt ure per dag agter ’n lessenaar sit. Terwyl hy die hope administrasie van bestellings van masjiniste en stokers se oorpakke en skoene en die tydroosters vir hul skofte moes hanteer, het hy oor die oorlog gedroom. In sy gedagtes het hy luggevegte geskep waarin hy tientalle Duitse vliegtuie afgeskiet het. Sy lessenaar het ’n Spitfire geword en die ander klerke die Duitsers. Sy dapperheid is vereer met elke oorlogsmedalje onder die son; hy was die grootste held wat die Tweede Wêreldoorlog opgelewer het. Hierdie dagdrome was al wat hom deur sy sieldodende werksdae gedra het.

      In 1945 het hy Elizabeth Jones ontmoet. Sy was ook ’n loseerder by die Andries Pretoriusstraat-kamers waar hy gebly het. Synde ’n Engelse onderwyseres was sy die eerste mens wat beïndruk was met sy oorlogsdekorasie. Sy het aan sy lippe gehang wanneer hy haar vertel het van sy noue ontkomings in die oorlog. Hulle is twee jaar later getroud en het in ’n beskeie spoorweghuisie gaan woon.

      In 1950 is hul eersteling gebore. Roderick, vernoem na Elizabeth se pa, was ’n fris knapie met dieselfde pikswart haredos as Marcus. Hy was geweldig trots op sy seun en het besluit om hom met ’n plan groot te maak. Roderick sou ontwikkel tot ’n onverskrokke en rateltaai man. Hy sou eendag die grootste soldaat wees wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Sy naam sou in die land se militêre annale sowel as in die wêreld s’n verewig word.

      Marcus se drome het nou nie meer oor homself gegaan nie, maar was toegespits op sy seun. Die toekomstige oorlogsheld Roderick.

      9

      Mike kyk op na sy seun en gee die boek terug. “Onthou net, vir enige x-waarde groter as drie sal die y-waardes van f kleiner wees as dié van g. Jy moet dalk meer hersiening doen, dan sal alles makliker raak.”

      “Thanks, Pa.” Bertus skud sy kop. “Ek weet nie hoe Pa dit regkry om probleme altyd so maklik uit te figure nie.”

      Mike lag. “Ek is ’n aktuaris, Bertus, as jy vergeet het. Daardie goed waarmee jy besig is, is basiese matriekwiskunde.”

      Hy hou sy laatlam dop toe dié by die TV-kamer


Скачать книгу