Ballade vir ’n enkeling. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.
LEON VAN NIEROP
BALLADE VIR ’N ENKELING
Tafelberg
Vir Jan du Plessis
1
SATERDAG 5 APRIL 2014, 15:45
Newtown. Kaal bome. Vetterige papiere warrel oor die straat. Dis herfs.
’n Trompie iewers. Die gezoem van ’n tatoeëermasjien. ’n Kortaf treinfluit. ’n Ruit wat breek.
Die val van blare op die sement klink soos verdwaalde note op ’n klavier op soek na ’n melodie. Sommige swaar, ander skaars hoorbaar met die meeste blare verfrommel, roesbruin soos ou tabak, vol oumensspikkels.
Naby ’n hond wat sy been teen ’n graffiti-besmeerde muur lig. Gebruikte kondome. Verrinneweerde plastieksakkies met die spoor van kokaïen nog daarin.
’n Metrotrein dreun verby op pad Park-stasie toe. Vanuit sy woonstel in Newtown sien Fineas Guliwe hoe ’n seun op een van die waens se dak skaats, dan koes vir die elektriese drade en skielik soos ’n akrobaat afswaai tot hy langs die trein hang, sy mond oopgesper in ekstase.
“I will live forever!” gil hy.
In die woonstel langs Fineas s’n is dit stil. Nie die tikmasjien se gewone tik-tik-tik nie. Dit herinner hom aan koeëls uit ’n masjiengeweer. Wel ’n geskuifel. En iets wat klink na ’n getik, maar dis sag en beslis nie ’n tikmasjien nie.
Die tatoeëermasjien zoem nou weer hard, dan weer in kort sarsies – stippels en dan lyne, helder en duidelik – die prentjie kry nou vorm.
Fineas skakel dit af.
Hy hoor sirenes. Twee polisiemotors jaag op die M1 verby. Iewers, veraf, ’n ambulanssirene. ’n Bloulig-brigade. ’n Swart ampsmotor met donkergetinte vensters word begelei deur sekuriteitsmotors. Die Metropolisie vleg aggressief deur die verkeer wat gedweë vir hulle pad maak. Vragmotors met kalfies vol stene swaai uit, so ook afleweringswaens.
Motorfietse met blou ligte skiet met die spoed van opslagkoeëls tussen hulle deur, voetgangers peul oor brûe om die skouspel beter te besigtig, alles sigbaar hier vanuit Fineas se woonstel. Nog ’n skatryk minister wat op sy selfoon besig is, snel na ’n nuttelose vergadering. En Fineas skakel weer sy masjien aan en kleur in tussen die buitelyne van ’n padda op ’n kliënt se enkel.
Sy ateljeewoonstel is groot met ’n hoë plafon, elke muur ’n ander kleur geverf. Pype slang oor die plafon asof die gebou tevore ’n fabriek was, en ’n geiser steun wankelrig op ’n stellasie, die oppervlak blink. Teen die oorkantste muur is verfspatsels langs die rits tatoeëervorme en -spreuke, sommige geraam: I love ya, Mom! Hot Stuff craves a line! Eternally randy! I am infinite! I only look illegal! En kriptiese prentjies van ’n pyl deur ’n hart; of twee reëls uit ’n gedig; ’n naam; ’n hamer-en-sekel; ’n datum; ’n vlaggie; ’n kopbeen met ’n grynslag daarop; ’n kraanvoël.
Zoem-zoem. Nog net een of twee strepe, dan is die padda voltooi. Hoekom die vent ’n tatoe van ’n padda wil hê, gaan sy verstand te bowe, maar Fineas het al gewoond geraak aan rare versoeke. Hierdie padda se tong skiet uit om die man se enkel asof dit na ’n vlieg soek.
Of ’n liddoring.
Zoem. Zoem. Elke sweetgaatjie, elke haartjie bokant die enkel nou pertinent sigbaar.
Straatkinders wat buite ’n liedjie sing. En die akrobaat met die witgekleurde gesig wat by ’n verkeerslig sy stokke rondswaai vir aalmoese, skel op ’n motoris.
Uiteindelik is Fineas klaar.
“Angeke ngigeze amalanga amabili!” ’n Opdrag aan die kliënt om vir twee dae nie die tatoe te was nie. Die man knik, besigtig die tatoeëermerk in ’n spieël. Bring sy enkel nader aan sy gesig en beskou dit krities.
“Yowza! Cool, bru!”
“Ciao!” Geld op die tafel. Hy vra altyd kontant.
Oomblikke later verlaat die kliënt die ateljee.
Fineas belowe elke week sy vrou om haar na die muurskilderye toe te neem, net hier anderkant waar Fordsburg sy vervalle huisies teen Newtown aanstoot in die pad waar hy so dikwels rondgehang het toe hy nog werkloos was – ’n grys-en-bruin straat vol omgevalle asblikke en waentjies met wit sakke waarop die aasvoëls hul ware pak. Dit het ’n skrootwerf van Newtown geword, tot iemand begin muurskilderye maak het. Toe verander die straat in ’n kwilt van Afrikakleure.
Reënboognasie! Fineas grinnik. Hier is die reënboog net grys en swart. Tot die muurskilderye skielik gekom het. Tekeninge van byderwetse mans met koel haarstyle; winkels waar jy lugtyd kan koop. En ’n uitbeelding van tablette van verskillende kleure wat uit ’n hand stort om aandag na die apteek te trek.
’n Kunstenaar het ’n Afrika-krabbel naby die silo’s gemaak. Die lomp sout- en peperpotte spog nou met gekleurde wooneenhede wat soos speelblokkies bo-op dit balanseer. En langsaan, Maruwani’s Traditional Medicine. Die kunstenaar het in swierige letters daaronder geskryf: Treating all diseases. Penis enlargement. Power for the prostate. Relationship problems. Medicine against the tokoloshe. Cleaning the soul. Come in!
Hy het altyd gewonder wie die kunstenaar is, maar het nooit vrae gevra nie. Was maar net te bly dat Newtown ’n nuwe kombers oor sy skouers getrek het – en dit so naby die nuwe boetiekhotel waaraan nog gebou word naby die Markteater, en die turbinesaal wat opgetert word.
En dan natuurlik die splinternuwe mall. ’n Monstrositeit, wat hom betref. Want nou het Sandton Newtown toe gekom. En die twee meng nie.
Naby sy woonstel hier digby Carrstraat is ’n Nigeriese restaurant waarvan elke letter op die bordjie ’n ander kleur het: Nigerian Food ready to eat. En op ’n ander plek teen ’n muur: Change must happen every day or you die. En langsaan ’n maer straatbrak, ribbebene bloedrooi ingekleur, aan ’n ketting vasgemaak.
Dit is waar Fineas inspirasie vir sy tatoeëerkuns kry – in die strate van Newtown waar die M1 op psigedeliese stutte rus. Hierdie betonblokke het die palet van graffiti-kunstenaars geword wat die stad met guerrillakuns terugneem. Godsdienstige motiewe, wapens op mure wat eis dat die inwoners die strate van misdadigers moet terugvat, en koeie met vuurspuwende kake is maar enkele van die tekeninge wat so helder is, dit bons terug teen sy oë.
En nou weer stilte, hier, terug in sy ateljeewoonstel in Newtown.
Fineas luister weer, sy oor teen die muur. Jacques Rynhard het die woonstel vinnig verlaat nadat Fineas hom oudergewoonte negeuur vanoggend gegroet het. Dit het nie gelyk of hy veel geslaap het nie. Sy oë was dik en opgeswel asof hy baklei het.
En daar was ’n bloedstreep teen sy ken.
Hy het eers drie uur later teruggekom. Fineas het hom hoor inkom.
Fineas Guliwe ken die woonstel hier langsaan goed, veral die stokou lessenaar voor die venster, vol krappe nadat dit beskadig is toe dit van ’n solder afgekarwei is. En die ringe van koppies se bodems en inkvlekke wat diep in die hout ingetrek het.
’n Vergeelde datum is iewers aangebring. 1916? Of is dit 1926?
Hy dink aan die tikmasjien: altyd gereed vir die volgende woordaanval, die letters kordaat regop soos bliksoldaatjies wat wag op ’n bevel.
Toe Fineas vanoggend sy buurman se deur oopgemaak het, het Jacques Rynhard se kop op die tikmasjien gerus. Dit het gelyk asof hy slaap, sy hande daarom gevou asof hy ’n meisie vertroetel. Jacques het net ’n slaapbroekie gedra en hy was nie so vriendelik soos gewoonlik nie.
Fineas het nadergestap. Langs Jacques was papiere vol letters en simbole, aantekeninge, name, vraagtekens, inligting in ’n onnet handskrif, koerantberigte, penne, tikmasjienlinte en ’n miniatuur-stoomlokomotief. Dan weer stapels papiere, netjies getik, presies in formasie gerangskik – sekuur, georden, in ’n ry op die groot lessenaar met die lokomotief as papiergewig.
En Jacques se resiesfiets langs die deur, die saal al blink gery.
Op ’n tafel ’n lamp soos kinders destyds langs hul beddens gehad het, met ’n trein wat om en om ry soos wat die wiel