Ballade vir ’n enkeling. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.feitlik nooit gebruik nie, behalwe om te google of om die internet te besoek. Of soms e-posse te stuur.
Op die kennisgewingbord ’n pikswart stoomlokomotief wat pluime rook soos ’n wit vlegsel agternasleep. En kennisgewings, e-posadresse, sperdatums, afsprake en ’n gim se lidmaatskapskaartjie. ’n Poskaart van New York, ’n foto van die Punda Maria ruskamp, ook van Jacques se beste vriend, Jan-Paul, wat hand om die nek saam met Jacques kamera toe kyk.
Langsaan ’n foto van Lena Aucamp wat haar kaal skouer uitstal en haar borste net-net bedek, haar uitdrukking uitlokkend, onhebbelik.
“Haai!” het Jacques om negeuur vanoggend met ’n dik stem gesê. Was hy dalk dronk? Maar Jacques drink nie eintlik nie. Hy jaag wel vinniger op sy resiesfiets deur Newtown se strate as wat enige ministeriële konvooi kan beweeg, maar het tot dusver geen ernstige ongeluk gehad nie.
Ander tye sou hy vir Fineas tee aangebied het. Dan praat hulle ure lank oor alles en niks – dit wat die lewe lekker maak en anders maak as die sleurbestaan in die moderne voorstede. Hulle praat dan sommer oor Jacques se fiets, wat hy Chase noem, en sy lewe en Newtown wat nou te kommersieel raak. Dit het Jacques begin vervreem.
“Newtown is nie meer ’n slet nie,” het hy gesê. “Hy buig nou voor die kapitaliste. Word ’n toeristetert. ’n Hoer wat die hale oor haar rug toeverf met blink geboue en malls. Die ou kaias word nou lêplekke vir al wat koel is. Die donnerse spoke van die ou myners sal hulle nog daaruit kataza.”
En dan begin Jacques oor sy stories praat. Avonture, wense, drome, vroue en stories.
Stories. Altyd stories.
Jacques sluit nooit sy deur wanneer hy stories skryf nie. En wanneer hy die woonstel verlaat, plaas hy die sleutel onder die gangvensterbank in ’n gleufie waarvan net sy vriende en Fineas weet. Vriende is altyd welkom in sy woonstel as hy uit is om soos ’n meteoor deur Fordsburg se strate te skiet. Asof hy alles wat hy in sy lewe verloor het op sy weerligfiets probeer inhaal.
“Eendag sal ek jou lyk in ’n sloot moet gaan uitken met stukkies fiets in jou hare,” het Lena eendag gesê toe hy weer so gejaag het.
Maar vanoggend was anders. Jacques met sy kop op die tikmasjien soos iemand uit wie die inspirasie getap is soos ’n oorwerkte kraan in ’n township. Fineas wou vra of hy gehuil het, maar iets in sy vriend se oë het hom verhinder. En vir die eerste keer wat hy Jacques ken, was hy onversorg en sliertig: “Sorry, Fien. Sorry, bra. Kan nie vanoggend …”
Fineas het nie langer vertoef nie, want Jacques het sy verslete jeans en ’n T-hemp begin aantrek en teruggestap na sy lessenaar toe. Hy het aan sy tikmasjien gevat soos hý, Fineas, aan meisies gevat het voor sy troue. Toets-toets, proe-proe, onseker, saggies, sensueel, asof sy vingerpunte vir die eerste keer kennis maak met die holgetikte letters – glad en verweer van verslag doen oor die lewe. Jacques se soort lewe. Jacques se soort stories.
Toe het Fineas uitgestap na sy eie ateljeewoonstel toe, want sy eerste kliënt vir die dag het hard aan sy deur geklop.
Hy het Jacques nie intussen weer gesien nie.
Nou is dit vieruur.
Met sy werk voltooi, stap Fineas na die venster om dit toe te maak. Hy leun uit. Onder langsaan se venster bondel straatkinders saam, bedremmeld onder komberse, oë dik van gom snuif en bloutrein ry en Cat en take-away-seks met ou mans in wit motors. Slym drup uit neuse, ’n hoes skeur uit ’n bors, moontlik van te veel zolle rooi-oog laat gloei, dalk longontsteking, miskien vigs. En altyd die skeefgetrapte skoene wat te groot is vir die voetjies. Stukke afgesnyde motorbande wat met lappe of toue aan voete vasgebind is.
’n Verweerde skoen sonder veters lê eenkant, nes die papiere wat Jacques altyd in sy oorvol snippermandjie gooi.
Eergister weer: “Ek kry swaar, Fien. Ek’s soos ’n ou paraffienblik waarin jy nog net die paraffien kan ruik maar wat niks meer sal kan aansteek nie. Elke dag is uitgebrand. Hoe leef ’n mens as elke dag jou verwurg?” Kortaf, asof dit Fineas se skuld was.
Iets wat vroeër ’n draadkar was, staan nou windskeef hier onder in die straat, die een wiel geknak, die kar verlate. Langsaan ’n waspoeierkarton in gebleikte groen. ’n Stukkende motorband, dalk deel van ’n necklacing – in dieselfde stegie waar Jacques en Lena destyds gedans het.
Iemand ontlas op die sypaadjie hier onder hom.
Fineas pak die tatoeëermasjien weg.
Een van die straatkinders hoor die bewegings hier bo, tel ’n klippie op en gooi dit teen Fineas se ruit. “Ukudla!” roep die kind om kos.
Nog een kom nader en sit ’n gekla op soos ’n kat wat ’n maat roep. Ander skop hom.
“Suka wena!” roep Fineas. Die kinders storm nou na die balkon by Jacques se woonstel.
“Ukudla Djak!” roep hulle. Die kinders kon nog nooit sy naam ordentlik uitspreek nie. Maar hy, Fineas, wat vir Jacques isiZulu leer praat het, het uit dankbaarheid geoefen om die moeilike naam reg te sê. “Zhjaaaak.”
’n Stoel skuif langsaan. Stemme. Fineas luister, maar dis gedemp. Hy kan nie uitmaak wie pas by Jacques ingestap het nie. ’n Taxi hou onder voor Fineas se venster stil. Klipharde kletsrym-musiek peul uit die luidsprekers soos maalvleis uit ’n meul. Hard, oorverdowend.
Fineas sluit die laai met die tatoeëermasjien in toe.
Nog blare fladder voor die venster af. ’n Geel siviele taxi jaag onder verby met die drywer se hand wat byna op die teer sleep.
Nog musiek, hierdie slag kwaito uit ’n lamlendige transistorradio waarmee iemand verbyloop. Dit veroorsaak nog ’n groter lawaai.
Fineas kyk af. ’n Skewe stuk karton is verfrommel in die straat: From Zim. No wêhk, 3 kids, no prêsidênt waai oor die sypaadjie. Die taxibestuurder roep na iemand, sy stem bulderend bo die kakofonie. Fineas wil vir hom skreeu om die musiek sagter te sit, maar dis futiel. Verder af merk hy ’n skewe supermarkwaentjie waaronder ’n lywige vrou ’n gasstofie aansteek. Sy haal bloederige wors uit ’n plastieksak en begin dit braai. Die verflenterdes kyk optimisties in haar rigting.
Twee mans met rooi berets en EFF-T-hemde koop by haar.
Sisssss! Draadtange teen ’n omgedraaide trollie as rooster. Sisssss! Sy sny brode in dik snye op – smiley-faces wat wag op ’n grynslag.
Die kinders begin sing. Hulle dreunsing altyd vir die worsverkoper, hulle stemme pleitend, want hulle sing vir hul pense: “Ngicela ukudla sengilambile!” Maar die worsbraaier is gewoond aan die vals hallelujas vir kos.
Hy wag dat Jacques die lawaai stilmaak, maar niks gebeur nie.
Fineas verbeel hom hy hoor harde stemme langsaan, maar die taxi raas te veel.
’n Ruk later bondel passasiers in die taxi in en die deur skuif toe. Dit hoes-gorrel terwyl dit wegtrek. Doef-doef-kakwaa-kedoef tot dit in Breëstraat af verdwyn.
Fineas stap na die deur toe.
Nou net die geluid van die straatkinders wat hul klaagliedjie voltooi, ’n trein wat verbyry en nog ’n gorrelende taxi.
Die worsbraaier gooi oorskietbrood na die kinders toe. Hulle storm oor die pad, gryp, eet gulsig, sluk, snuit, poep, kou, blaas slym uit. “Gggg! Spoeg! Tjoef!” En dan die bakleiery om die oorblywende korsies – die stemmetjies hard en skel. Hulle hou op met sing en hol nou na die oop parkeerterrein waar taxi’s gewas word.
Dit is skielik stil langsaan. Die hyskrane hier oorkant wat aan die nuwe Newtown-winkelsentrum bou waarvan Jacques so min hou, kom tot ruste. Die voorstad trek voorlopig sy retroaktiewe baadjie uit. ’n Kerkhorlosie slaan vieruur. Nog ’n elektriese trein dreun verby.
Fineas maak die venster toe wanneer sy selfoon lui. Hy antwoord. Dis sy vrou wat vra wat hy nog dié tyd van ’n Saterdag by die werk maak. Hulle het mense vanaand. Waar is hy?
Die kinders hier onder hardloop nou agter die worsbraaier aan wat koerante gaan weggooi.
Sy vrou, erg ongeduldig oor