Ballade vir ’n enkeling. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.Sy het presies beskryf hoe Jacques Rynhard lyk. Dis nie die gewone beskrywings wat almal gee wat hom van foto’s af ken nie.” Hy kyk op asof hy wonder of hy tog nie maar die inligting moet verswyg nie.
Carina lig haar wenkbroue om hom aan te moedig.
“Dalk vind julle dít interessant.”
Mysi blaai saam met Carina deur Lena se beskrywings.
Carina steek vas by: Merke, geboortevlekke of tatoeëermerke: Sy lees: Daar is ’n tatoeëermerk – DB.”
Carina onthou dat sy dit op een van die weinige kaalbolyffoto’s van hom gesien het en skryf dit in haar notaboekie. Sy kyk na die lys vrae wat aan Lena gestel is.
Die vermiste se gewoontes: Jacques het gereeld in Newtown se strate rondgeloop of die middestad besoek. Dit was sy geliefkoosde kuierplekke. Onder meer Café Hu! in Newtown en Daleahs in Braamfontein. Ook die Arts On Main-kompleks in Fox- en Mainstraat. Hy het gereeld in restaurante daar op sy tikmasjien gesit en werk of saam met vriende gekuier. Dit was egter nie vriende uit die bedryf nie. Hy het altyd genoem dat ’n mens nie eintlik vriende in die bedryf kan maak nie. Hy het met doodgewone mense uitgehang. Hy het saans saam met sy vriend Jan-Paul gegim en dikwels ver ente deur die stad gehardloop om fiks te bly, of met sy fiets gery.
“Watse doodgewone mense?” vra Carina.
“Volgens juffrou Aucamp …” Die luitenant blaai weer tussen sy dokumente rond. “Gimvriende, kunsstudente, bedelaars. Hy het straatkinders glo gevoer en een of twee leer lees en skryf. Ook liefdadigheidswerk gedoen en by ’n sopkombuis gewerk.”
Carina maak weer ’n aantekening in haar oorvol boekie.
“Hy bly vir my net te goed om waar te wees,” sê Mysi. “Dis onmoontlik dat iemand net,” Carina skop haar onder die tafel, maar Mysi gaan volstoom voort, “nice kan wees. In elk geval. Nie in die joernalistieke wêreld of die vermaaklikheidsbedryf nie. My ma het altyd gesê oppas vir mense wat te … wat’s die Afrikaans vir nice?”
“Seker maar ‘goed’. Hoe ook al. Dis die voorlopige inligting wat ons oor Jacques Rynhard gekry het. Intussen …” Die luitenant beduie na ander sake oor vermiste kinders en nuwe gevalle. Die stapel dreig om van sy lessenaar af te skuif, so hoog is dit.
Alberts staan op en neem sy baadjie.
Carina kyk weer na die wyse waarop Lena Jacques Rynhard se gemoedstoestand beskryf het. Veral die woorde reg aan die einde tref haar amper as ’n nagedagte: Jacques was verskriklik romanties.
Interessant dat sy die verledetydsvorm gebruik het.
Vermoedes van vyande? Individue wat sy lewe sou bedreig? het Lena geskryf. Carina blaai om. Daar is baie mense wat jaloers is op hom en wat sy loopbaan gedurig probeer verongeluk of saboteer. Maar in sy onmiddellike vriendekring is ek van niemand bewus nie.
Verhoudings: staan daar en Carina trek haar oë op skrefies, want Lena het hier duidelik vinnig geskryf, asof sy moeg geraak het om inligting te gee. Ek en Jacques is reeds sedert skooldae in ’n verhouding en hy het my verseker dat hy my nooit verkul het nie. Ons is Vrydagaand doodgewoon uitmekaar sonder ’n rusie. Ek het by vriende gaan bly. Kort en kragtig. Niks verder nie.
Ander vroeëre verhoudings/vriendskappe: staan op die vorm.
Carina merk dat die volgende twee sinne hard en byna met aggressie geskryf is. Die letters is dikker gevorm as hoër op die bladsy. Alicia Francke, die uitgewer, was vies omdat hy sy jongste roman, wat uiteindelik Die enkeling geword het, nie na haar uitgewery geneem het nie. En hy het ’n jaar lange verhouding gehad met Cynthia Olive in New York terwyl ons nie saam was nie, toe ek by Wits gestudeer het en hy buiteland toe is.”
En by Ouers: kom haar pen tot stilstand. Liebet en Klaus Rynhard. Jacques is nie besonder na aan sy ma, Elizabeth, nie. Sy pa is oorlede toe hy 16 was. Húlle was destyds baie na aan mekaar.
Carina en Mysi staan op. “Ek skuld jou, luitenant.” En met ’n glimlaggie: “Soon.”
’n Kwartier later hou hulle voor Jacques se woonstelgebou stil. Carina sê vir die hekwag dat sy met Fineas Guliwe wil praat, en hy laat weet vir Fineas. Hulle word deurgelaat.
Carina voel vreemd tuis in hierdie boheemse omgewing. Newtown het beslis ’n gedaanteverwisseling ondergaan sedert sy twee jaar laas by die Markteater was. Sy het die nuwe winkelsentrum wat in aanbou is al dikwels gesien, en sy verkyk haar aan die straatkuns. Naby Jacques se woonstel is ’n klomp trappe en langs elke trap, op ’n wit muur, is ’n mansfiguur geteken wat met die trap opklim of wat val met die stappery.
Die mure reg oorkant Jacques se woonstel is vol kleurvolle graffiti geverf. Nie aggressiewe bende-graffiti nie, maar mooi tekeninge van Newtown – straatkinders, taxi’s, alles baie kleurryk.
Carina en Mysi loop teen die trappe uit waar Jacques en Lena seker honderde kere geloop het. Waar hulle haastig met hul fietse af is om die stad te deurkruis.
Hierdie is Jacques se wêreld. Sy gemaksone, ver verwyderd van die kitsch rykmanslewe van Alicia Francke. Om die waarheid te sê, laat hierdie omgewing haar nogal aan New York dink. Sy was daar op haar negentiende verjaarsdag gedurende haar oorgangsjaar tussen matriek en universiteit.
Dié omgewing en gebou het dieselfde gevoel. Dit is dalk hoekom hy nog steeds hier bly. Omdat dit vir hom ’n klein New York is. Die stad waar hy leer skryf het. Waar hy onder Cynthia Olive ’n paar intieme skryfgeheime op die lyf geloop het. Letterlik.
Hulle loop verby Jacques se woonstel. Mysi neem foto’s vir ’n vale, maar Carina stap verby en klop aan die buurman se deur.
“Môre. Ek is Fineas Guliwe.”
“Aangename kennis,” sê Carina. “Kan ek inkom?”
Hy knik, wag dat Mysi klaar foto’s neem (ook onder meer van hom) en laat hulle in.
Carina merk al die sketse teen die mure van tatoes – sommige boheems, ander sober, en dan die aggressiewes en die vulgêres.
“Ek was goeie vriende met hom, ja,” sê Fineas later, maar sy oë is behoedsaam, asof hy nie eintlik wil praat nie. “Maar ek weet niks verder van hom nie.”
Hier gaan hulle nie maklik regkom nie.
“Die polisie sê hy het skynbaar nie weer deur die sekuriteitshekke hier onder uitgegaan nie. Hy het wel Saterdag ingekom, maar is nie weer gesien nie.”
“Ek het hom Saterdagoggend laas gesien. Ons het soms gaan fietsry Saterdagoggende, en hy het soos die hel gery. Ek het Saterdagoggend aan sy deur geklop. Hy het negeuur oopgemaak en gesê hy wil heeldag werk,” sê Fineas.
“Hoe het hy gelyk?”
Fineas lig sy skouers. “Soos altyd. Slaapbroekie, hare deurmekaar, oë dik van die slaap.”
“Enige wonde?”
Fineas kyk op. “Wel, sy gesig was bietjie geswel.”
Indien daar dus ’n bakleiery was, weet Fineas nie daarvan nie of wil nie daaroor uitwei nie.
“Weet jy wat ‘Punda’ beteken?”
Fineas huiwer en skud toe sy kop.
“Het jy hom daardie tatoe op sy boarm gegee? ‘DB’?” vra Carina.
“Nee.”
“Wat beteken ‘DB’?”
“Ek weet nie.”
“Tot wanneer was jy hier Saterdagmiddag?”
“Ek is net na vieruur weg. Ek het hom tot ’n rukkie voor dit hoor rondbeweeg. Verder weet ek niks.”
“Die polisie sê daar is ’n bloedstreep teen die muur. Was dit tevore daar?”
Sy sien hoe Fineas momenteel skrik, maar hom weer regruk. “Ek weet niks daarvan nie.”
“Dankie, Fineas.”
“Hoor hier, hoeveel vra