Ballade vir ’n enkeling. Leon van Nierop

Читать онлайн книгу.

Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop


Скачать книгу
uithang en skreeu, dink hy: Jacques sal vir altyd sy vriend wees. Hy smee hier ’n bondgenootskap met hom wat hy nog met geen ander vriend gedoen het nie.

      En net daar staan Jan-Paul op en trek die fluit ’n paar keer. Dis die gelukkigste oomblik in sy lewe dié.

      Die volgende Donderdagoggend sit Jan-Paul en Jacques weer en toebroodjies eet op die muurtjie waar hulle ontmoet het. Dié slag bied Jacques vir Jan-Paul sy toebroodjie aan.

      “Wow. Dis great, pella,” sê Jan-Paul. “Nie geweet jou ma kan so goed bak nie.”

      Dit is asof daar ’n skaduwee oor Jacques se gesig val. “Dis Chivas se toebroodjie. Een van dié wat sy altyd in haar restaurant bedien.”

      Dus is die stories waar oor sy ma wat nie van kosmaak hou nie. Hulle eet ’n rukkie in stilte.

      “Ek het vir Karlientjie gevra of ek haar môreaand vir raspberry milkshake kan uitneem,” sê Jacques. Jan-Paul wag dat hy hom saam moet uitnooi, maar hy doen dit nie. Hy voel effens jaloers en trek sy skouers op.

      “Oukei.”

      “Maar ek het nog nie genoeg geld nie.”

      Jan-Paul verwag dat Jacques geld by hom gaan probeer leen, maar hy lag net. “Ek sal ’n plan maak. Jy ken die dorp se enigste robot hier anderkant die hotel?”

      Jan-Paul knik.

      “Watch my vanmiddag.”

      Toe die skool uitkom, en Jacques 100% vir ’n opstel gekry het, stap hy na sy fiets toe. Jan-Paul se ma het hom nog nie met die motor kom oplaai nie. Jacques klim op sy fiets. “Oukei, pella. Check jou môre uit.”

      “Waarnatoe gaan jy?” vra Jan-Paul, gedagtig aan Jacques se aanmerking oor die verkeerslig vroeër.

      Jacques maak sy boeksak oop. Dis ’n ou leertas, groter as die ander s’n.

      “Waar kry jy die ding?” vra Jan-Paul.

      “Van my pa af. Hy’t skool toe gegaan daarmee.”

      Hy wys vir Jan-Paul die strepies aan die boeksak se binnekant. “Vir die kere wat Oosthuizen my geneuk het, of Skellie Steenkamp. Of juffrou Matthee. Sy slaan nogal seer.”

      Hulle lag.

      Jacques haal nou ’n karton uit wat hy oopvou. Daarop staan geskryf: Wil meisie uitvat. Kort geld. Help seblief.

      Jan-Paul lag. Jacques beduie dat Jan-Paul agterop die fiets moet sit. Hy kyk vinnig na die plek waar sy ma hom altyd oplaai, maar sy is nog nie daar nie.

      Hulle ry tot by die verkeerslig. Orals sien Jan-Paul plakkate van politieke partye. ANC. AWB. NASIONALE PARTY. HERSTIGTE NASIONALE PARTY. Dit is volgende jaar verkiesing en daar is groot spanning op die dorp hieroor. Sy pa sê dat daar ’n burgeroorlog kom. Maar op die oomblik is dit die minste van sy bekommernisse. Jan-Paul merk ook meer swart mense in die straat op as gewoonlik.

      “Sal jy my fiets oppas?” vra Jacques.

      “Sure.”

      Jacques hang die karton om sy nek en gaan staan sonder skroom by die verkeerslig. Hy glimlag vir elke motoris wat verbyry. En voor Jan-Paul se oë gebeur ’n wonderwerk. Feitlik elke motoris stop vir Jacques iets in die hand. Dit is veral die boere in bakkies wat mildelik gee.

      “Dankie, oom!”

      Van die tantes gee hom ook geld. “Dankie, tannie!”

      Jacques bedank elkeen, skud sommige boere se hande, lag as sy skoolmaats se ouers verbykom en vir hom geld gee. Dans rond van skone baldadigheid as iemand hom ’n tienrandnoot gee.

      Binne vyftien minute is hy terug by Jan-Paul. “Nege en veertig rand en sestig sent,” spog Jacques, natgesweet van die son en die rondspring.

      “Jy verdien Karlientjie.” Jan-Paul kan nie glo wat hy sê nie, maar hy glimlag vir Jacques.

      “Ek het gedink én gedoen,” grinnik Jacques.

      Daardie middag speel hulle langs die treinspoor, stoei, jaag mekaar oor die spoorstawe, klim bome en gil van plesier, tot Jacques se ma hom roep.

      “Jy moet kom stort, Jacques. Ons gaan vanaand by jou pa se baas eet.”

      “Maar Ma, ek en Karlientjie …”

      “Moenie teëpraat nie! Wil jy ’n pak slae hê?”

      “Nee, Ma.”

      “Nou kom dan.”

      Jacques sit sy arm om Jan-Paul se nek en stap na sy ma toe. Jan-Paul wil nog anderkant toe hardloop, want hy is bang vir die onvriendelike tannie, maar Jacques stel hom trots voor. Hy klap Jan-Paul trots op die rug. “Ma, dis my pel, Jan-Paul,” en hy sit weer sy arm om sy beste vriend se skouers.

      “Moenie so aan ander mense vat nie, Jacques.”

      Jacques verwyder sy arm.

      “Jan-Paul. My ma.”

      Liebet Rynhard se mond is strak, onvriendelik, sonder ’n sweem van ’n glimlag. En Jan-Paul dink hy het lanklaas so ’n onvergenoegde mens gesien. Miskien net Steenkamp, die skoolhoof – behalwe as hy oor rugby praat, wat hy dikwels met die seuns doen. Hy rig ook rugby af. Dalk het die twee dieselfde frustrasies.

      “Jan-Paul wie?”

      “Jan-Paul Otto.”

      Daar kom herkenning in haar oë. “O, van die ryk Otto’s wat hier bo teen die kop bly? Skuldbult?”

      Jan-Paul kan sien dat dit Jacques in die verleentheid stel. “Maaa!”

      “Netnou sê hulle jy het ’n slegte invloed op die mannetjie,” waarsku Liebet vir Jacques. “Ek dink nie julle moet verder speel nie.”

      “Ma. Hy’s my vriend. Ek belowe ek sal nie ’n slegte invloed op hom hê nie.” Daar is ’n soebatklank in Jacques se stem.

      “Toe, Jacques. Gaan stort.”

      Aan die gebiedende klank in haar stem is dit duidelik dat Liebet nie teëstribbeling sal duld nie. Jacques sug en draai na Jan-Paul.

      “Pella. Sal jy haar mooi oppas vanaand?”

      “Jy bedoel ek en Karlientjie …?” vra Jan-Paul verbaas.

      Jacques druk die geld wat hy by die verkeerslig verdien het in sy hand. “Happy times, dude.”

      Jan-Paul skud sy kop en gee die geld terug. “Ek het geld.”

      “Geniet,” sê Jacques toe hy die geld neem.

      “Sal dit nie help as ék met jou ma praat nie?”

      “Jacques, as ek jou wéér moet roep!” waarsku Liebet nou van die spoorweghuisie se stoep af in antwoord op Jan-Paul se vraag.

      Jacques hardloop terug na sy ma toe. Maar op die stoep draai hy een keer terug. Jan-Paul hou sy duim in die lug. Jacques doen dieselfde.

      Die aand is ’n volslae mislukking. Karlientjie is duidelik vies dat Jan-Paul haar nou skielik uitvat en nie Jacques nie. Hy het nog nie eers sy bruismelk klaar gedrink nie, toe wil Karlientjie al huis toe gaan.

      “Ek het gehoor ou Skellie het Jacques stukkend geslaan. Hy moes jou eintlik geslaan het, want jý het die fight begin,” sê sy toe hulle by haar ouers se huis se voordeur kom.

      Jan-Paul antwoord nie. Voel net hoe sy gesig bloedrooi word. Hy groet Karlientjie nie eers nie.

      Daardie aand baie laat, toe Jacques saam met sy ouers van die ete af terugkom, sluip hy uit die huis na Jan-Paul s’n toe. Sy ouers slaap al en Jan-Paul moet die voordeur saggies oopmaak. Hy kan sien hoe Jacques na die duur meubels kyk, die oudhede wat sy ma versamel, die groot vertrekke, die Persiese tapyte. En skielik voel hy skaam oor al die luuksheid. Sou hy veel eerder in ’n eenvoudige huis soos Jacques s’n wou gebly het. Saam met Jacques. Wil hy elke dag trein ry en bome klim en die sinjaal uitklim om te raai hoeveel waens daar is. En Jan-Paul besef: vriendskap


Скачать книгу