Lobola vir die lewe. André P. Brink
Читать онлайн книгу.die glas, sit die glas neer. “Dis wat ek sê, ja.” Hy sien sy hand op die toonbank ontliggaam aankruip soos ’n groot wit wurm, vingerig na die ouer man se arm, vertroulik en vol kameraadskap. “Dis wat ek sê, my goeie vriend. Ons drink,” sê hy. “Ons drink,” sê hy. “Laat ons weer vólmaak.”
Goeie, goeie vriende. Goeie liewe dierbare vriende. Vólmaak, mooi goed volmaak, goeie vriende, almal volmaak. Gesondheid dan. Vanaand drink ons die nagmaalsbekers leeg. Avondmaal, liewe goeie vriende, saam met my, almal saam, want môre kom die brullende leeu en die aarde vergaan in vuur en swael. Lank lewe Rusland. Langer die Weste. En God behoede die koningin. So het Sokrates sy gifbeker gedrink, en die minnaars van Lucrezia. Drink—! en moenie vrees om môre te sterwe nie, want ons is al lankal dood, die dood is saam met ons gebore en ons het gesterf kort voor die Adamsappel. Daar gaan my laaste pennings, versamel tot hul vadere, maar dit kan my so min skeel, so verskriklik min.
Ag lig, ag liewe lig, jy wat jou so verskerwe in my glas
—hoe skitterblink die lig op hierdie silwer ding
en kaats die dag in duisend stukke uit.
“Unquote.”
“Nee, vriend, nee. Nee, dis my eie versie daardie een. Die groot skeppende gees wat deur sy disintegrasie homself genees. Siedaar.”
’n Ander stoot hom met ’n elmboog aan en hy tuimel effens vooroor maar red sy glas.
“Oppas,” maan hy. “Oppas, mense. Laat ons in liefde en vrede saamlewe.”
“Hou dan jou snater.”
“Hoe later hoe kwater,” kwink hy en koes dan met ’n ruime glimlag wat algaande verdwyn. “Jy kon my vreeslik seergemaak het nou. Dit was ’n bitter gevaarlike ding om so aan my te stamp. Bitter, bitter gevaarlik. Jy kon my lewe gekos het, vriend, en dan’t hulle jou nou-nou uitgedra lykhuis toe en my gaan ophang aan ’n paal. Of my. Of jou. Of iets. Iets word altyd eindelik opgehang.”
Ag, groot skoppelmaai van die aarde, laat my saamry deur die ruim, skoppelmaai van die kamer,
groot skoppelmaai, skoppelmaai
laat jou hare gou-gou waai—
’n Halfduim oor. En dan? En dan—? Maar dan kan wag vir dan. (Nou’t ek jou darem gesê, jong.) Dié halfduim is nog daar. Hy tas daarna en trane loop slakkig oor sy wange en breek die rooklig op en hy mik met die oop kant van die glas, versigtig, bewoë, en sluk dit weg.
Stamp teen sy skouer.
“Wat stamp jy weer aan my?” vra hy boos.
“Jy’t ’n vlieg ingesluk.”
“Ek het wat?”
“Vlieg ingesluk.”
“Hoe?”
“So.” Groot gebaar van die glas, en rook roep herinneringe van Hiroshima om hulle op, walmend, verstikkend, verdoemend.
“Jy lieg.”
“Ek het dit dan self gesien!”
“Nou wag. Wag—” Hy leun vooroor op sy maer elmboë, wankelig op die toonbank. “Wag.” Bring sy kop tot teen die ander man s’n. “Laat ons nou die saak mooi bespreek. Van ’n kant af, sonder haas. Reg?”
“As jy wil, ja.”
“Goed. Jy sê ek het ’n vlieg ingesluk.”
“Ja.”
“En ek sê ek het nie.”
“Maar jy’s verkeerd.”
“Hoekom?”
“Omdat ek jou gesien het.”
“Maar het jy die vlieg gesien?” Triomfantelik, wankelig, oë gekeep teen die rook, swaar rook.
“Natuurlik het ek die vlieg gesien.”
“Wáár was die vlieg?”
“In jou glas.”
“Wag, wag, wag.” Moeisaam ’n nuwe ewewig. Draai, salige ou wêreld, draai in jou malle maai. “Hier is die glas. Hier. Leeg. Tot die droesem geledig. En jy sê die vlieg was daarin?”
“Daarin, ja.”
“Wáár daarin? Bo, middel, onder?”
“Dit het gedryf.”
“Waarin?”
“In wat jy ook al gehad het. Vodka. Rum—”
“Vodka. Rum. Om mane padme hum—!”
“Kyk, as jy my nie wil glo nie—!”
“Moenie opgewonde raak nie. Dis ’n saak wat ons baie nugter moet benader.” Lang hand beduiend, skolasties vooruitgesteek. “Baie baie nugter. Bo alles nugter.”
“Dis nie ék wat opgewonde raak nie!”
“Nee, dis nie jy nie. Maar dis ook nie ek nie. Sal ek jou ’n geheim vertel?”
“Wat?”
“Nee kom nader, kom nader.”
Twee koppe teen mekaar, ’n dier uit Daniël.
“Dis die heelal wat opgewonde raak. Die universum is absurd. Sal jy dit onthou?”
“Ek sal.”
KLEIN BEDESNOER
Eerste Kraal
(“Cross your heart and don’t say”)
“Goed. Waar was ons?”
“Waar—?”
“O waar is die sneeu van voorverlede jaar?”
“Die sneeu?”
“Waar was die vlieg?”
“In die glas.”
“Was hy dood?”
“Die glas?”
“Die vlieg.”
“Ja, die vlieg was dood.”
“Het jy hom sien inval?”
“Nee.”
“Nou wáár dan vriend—wáár, in alle opregtheid, dink jy het hy vandaan gekom? Het hy uit hierdie dik lug geval?—gevlug?”
“Hoe de hel moet ék weet?”
“Ek het aangehaal, my liewe vriend. Maar die saak bly nog net so ernstig. Net so ernstig. Jy kan my glo dat dit in der waarheid ’n saak van lewe en dood is.”
“Moenie nou begin aanstoot neem nie.”
“Hoor nou daar. Ek moet nou nie aanstoot neem nie! En wie, wil ek graag weet, het begin met die vlieg?”
“Ek het net gesê—”
“Maar besef jy dat my hele toekoms van daardie vlieg kan afhang?—van die een Absolute Ja of Absolute Nee daarvan?”
“Jy is gek.”
“Gek. Ek is gek! Goed, ek is gek. Maar as ek vannag in my slaap moet sterwe van daardie vlieg, wat dan? Wáár dan? Wat van die mensdom?”
“Wat van die mensdom?”
“Die mensdom sal een minder wees—en dit op ’n onnatuurlike manier, mind you. Sy samestelling sal anders wees. Wat ook al hierna gebeur, atoomoorlog of rugbytoets, die mensdom sal nooit weer dieselfde wees nie.” Woedend, buitensporig woedend, en half orent, bleek, skreeuend: “BESEF JY DIT?” Stiller agterna: “En dit deur jou en jou verdomde vlieg.”
“Asseblief,” sê die man versigtig. “Ek wou jou nie kom kwaad maak nie. Jy’s jonger as ons almal hier, en jy kom aand vir aand hier in, en jy praat min en niemand sien jou iets doen nie. Wát makeer dan tog? Ek wou jou nie kom opneuk nie.”