Sondebok. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Sondebok - Irma Venter


Скачать книгу
dra ’n laat middagete aan en sit dit op die tafel neer. Naomi gaan onwillig saam kombuis toe; dis duidelik dat Adriana nie in haar teenwoordigheid gaan praat nie.

      Ek eet die geroosterde eend haastig en honger. Adriana proe aan ’n Waldorf-slaai asof sy geen aptyt het nie, maar weet sy moet kos in haar lyf kry.

      “Ek luister,” moedig ek haar aan toe ek klaar geëet het.

      Adriana bly stil. Krap die slaai op die bord deurmekaar.

      Ek leun oor na haar. “Hoe kan ek dit makliker maak? Ek weet jy’s nie juis die tipe wat jou hart uitstort nie.”

      Sy sit haar mes en vurk neer. “Jy’s reg. En net dat jy weet: jy’s nie veel beter as dit by praat kom nie.”

      “Aikôna. Mense lees my soos ’n boek. Met jou is alles ’n onderhandeling. Elke dag. Heeldag.”

      “Ek stem nie saam nie. Ek is seker Alex ook nie.”

      “Hoe sal jy weet? Het jy onlangs met hom gesels? Nie moeilikheid gesoek nie, gesels?”

      Sy antwoord nie. Ek besluit om dit net daar te los. Ander dinge is nou belangriker.

      “Kom ons begin by ’n punt. Aan wie behoort die huis in Valhalla?”

      “Aan Zenani.”

      “Wie bly daar?”

      “Vrouens wat ons oppas. Veilig hou.”

      Nes ek begin vermoed het.

      “Is dit hoekom jy my destyds gehelp het? Daai eerste keer ná Tom se dood.”

      “Miskien.” Sy kyk betekenisvol na my, asof sy wil sê dié vrae het niks met Naomi uit te waai nie.

      “Hoekom het hierdie vrouens beskerming nodig?” verander ek gehoorsaam van rigting.

      “Hulle ken al die verkeerde mense. Koppelaars, dwelmhandelaars, politici. Bendebase.”

      “Weet die polisie van die huis?”

      “Nie regtig nie.”

      “Wat beteken dit? Adriana, help my, asseblief.”

      Sy tel haar servet op, druk dit teen haar lippe. “Ons maak soms seker dat getuies in hofsake ’n veilige plek het om te bly. Maar net in uitsonderlike gevalle, vir uitsonderlike mense – die polisie meestal. Dit beteken ook nie dat hulle weet waar die vroue bly nie. Baie keer is hierdie vroue getuies in sake teen polisielede.”

      “Weet hierdie polisielede van jou … ander aktiwiteite?”

      “Nee. Hulle vermoed dalk iets, maar niks meer as dit nie. Dink ek. En ek het ook my standaarde. Ek help net in uitgesoekte gevalle met nuwe paspoorte. Gevalle waar dit my op ’n sekere manier baat.”

      “Hoe kan hulle niks vermoed nie?”

      Sy begin weer aan die slaai pik. “Lank gelede het ek in Sofia gebly, in Bulgarye. Ek het ’n handvol mense gehelp wat daar in exile was van die apartheidsregering. Ons was almal ver van die huis af. Dit kan nogal eensaam raak. En finansieel moeilik.”

      My wenkbroue lig. “Mense?”

      “Een is nou ’n kabinetsminister.”

      “O.” Iets vertel my sy gaan niks meer oor die onderwerp sê nie, maar ek vra in elk geval. “Ek verstaan hoekom hulle daar was, maar jy? Sarah het iets oor ’n sirkus gesê.”

      “Sofia is ’n mooi stad. Jy moet eendag soontoe gaan wanneer jy tyd het.” Sy sit haar eetgerei netjies neer, asof sy nou finaal klaar is met middagete. En die onderwerp.

      Goed dan.

      “Waar pas Naomi in? Is sy ’n getuie, of kruip sy weg vir iemand?”

      Zenani verskyn by die tafel. Sy neem die borde en beduie iets vir Adriana.

      “Asseblief,” sê Adriana.

      Zenani verdwyn stilweg.

      “Naomi het so ’n week gelede hier opgedaag,” begin Adriana. “Iris het haar van ons vertel. Dis al Iris se derde besoek aan ons. Sy het ’n voorliefde vir gewelddadige mans en kokaïen. Sy kan net in die huis bly as sy skoon is, of wil skoon kom.”

      “Beteken dit Naomi was wel op vlug? Weet jy wie op haar spoor was?”

      “Ongelukkig nie. Ons vra nie te veel vrae in die eerste week nie. Ons maak eers seker die vroue soek regtig hulp voor ons begin gesels. Baie van hulle verdwyn binne die eerste paar dae. Vir hulle is ons ’n gerieflike wegkruipplek en niks meer nie. Mens leer uiteindelik dat jy net kan help as iemand die wil het om hulle omstandighede te verander.”

      “Werk al julle gaste by Crow’s?”

      “Nee. Naomi was die tweede keer dat ek dit toegelaat het. Sy’t daarop aangedring om te werk. Sy’t gesê sy sal mal word as sy by die huis moet sit en niks doen. Ek moes van beter geweet het. Die sekuriteit hier is duidelik nie wat dit moet wees nie. Help ook nie ons moet die hek ooplos om gaste en personeel in te laat nie.”

      Ons. Sy en Zenani. Ek het nog altyd aan Adriana gedink as ’n alleenloper wat niemand vertrou of naby haar toelaat nie.

      Zenani kom uitgeloop. Sy sit twee koppies swart koffie voor ons neer.

      “Is sy een van die vrouens wat jy gehelp het?” vra ek toe Zenani weg is. “Nog steeds help?”

      “Aannames is die moeder van alle flaters.” Adriana drink van die koffie. “Zenani is eintlik die een wat almal help, nes sy my gehelp het. Lank, lank gelede.”

      ALEX

      1

      “Ruan Delport.” Ek beduie na die identiteitsnommer. “Hy’s vyf-en-twintig. Nee, ses-en-twintig.”

      Sarah bekyk die foto op die bestuurderslisensie. “Hy lyk heel gewoon, behalwe vir sy nek. Dis baie ure in die gim daai. Ranna was reg, hy moet ’n bouncer wees. Ken jy hom?”

      “Jy klink nou nes sy. Twee stories oor dwelms by nagklubs beteken nie ek ken elke sterkman in Johannesburg nie.”

      Ek soek verder deur die swart toevoubeursie. Daar is nie veel in nie, wat dalk meer verklap as wat wel daar is. Geen geld, mediesefondskaart, foto’s van iemand spesiaal, OTM-strokies of winkelkaarte nie. Niks wat getuig van ’n vaste werk met byvoordele, ’n goeie finansiële rekord of ’n familie nie. Die beursie self is van goedkoop nagemaakte leer. Daar is egter ’n fotokaart vir ’n gimnasium – Peter’s Gym – en ’n strokie van Rumble, ’n nagklub in Midrand. Die notas agterop gee aanwysings na Crow’s toe.

      Ek wys die kaart en strokie vir Sarah.

      “Dink jy dis waar hy werk … gewerk het?” vra sy.

      “Die nagklub of die gim?”

      “Die nagklub. Dalk albei. Hy kon nie baie geld gemaak het by enige van die twee nie.” Sy neem die bestuurderslisensie by my. “Ek sal kyk wat in sy rekeninge aangaan.”

      Terwyl sy op die rekenaar tik, kyk ek op die skerm langs haar na die foto’s wat Ranna met haar selfoon geneem het. Ruan is groot, maar nie Springbokstut-groot nie. Nie 2 meter en 120 kilogram nie. Dis eerder asof hy aan die spiere gewerk het wat hom groter kon laat lyk. Dié wat hom bakarm kon laat rondloop sodat mense kon skrik. Sy boarms en borskas is massief, maar sy bene lyk maar dun in die jeans. Die voete verbasend klein vir iemand wat seker so 1,85 meter lank is.

      Hy het ’n slegte vel, meer soos dié van ’n tienerseun as ’n volwasse man. En sy pinkie en ringvinger aan sy linkerhand is met twee pienk pleisters aanmekaar geplak. Meer nog, die kant van sy hand is blou en geswel. Dit lyk asof die besering tot in sy baadjiemou loop, tot op sy voorarm. Hoe kry mens so ’n besering? Kan nie Adriana wees nie. Die bloukol is ’n hele paar dae oud.

      Ek oorweeg verskillende scenario’s. Hy kon sy vingers in die gim verstuit het; miskien het hy ’n gewig onverskillig neergesit. Of dalk het hy geskerm vir iets


Скачать книгу