Vermis op Allesverloren. Anchien Troskie
Читать онлайн книгу.on>
Anchien Troskie
Vermis
op
Allesverloren
Kwela Boeke
Vir Wilna Pietersen –
vriendin extraordinaire
Of all religions, the Christian should of course inspire
the most tolerance, but until now Christians have been the
most intolerant of all men.
– Voltaire
In hours of weariness, sensations sweet,
Felt in the blood, and felt along the heart;
And passing even into my purer mind,
With tranquil restoration: – feelings, too,
Of unremembered pleasure: such, perhaps,
As have no slight or trivial influence
On that best portion of a good man’s life,
His little, nameless, unremembered acts
Of kindness and of love …
– William Wordsworth, 1798
Kind hearts are the gardens,
Kind thoughts are the roots,
Kind words are the blossoms,
Kind deeds are the fruits.
– Negentiende-eeuse vers wat in laerskole gebruik is
ERTA
Vrydagoggend
Ek weet wie die vrou is wat die deur agter haar toeslaan. En die feit dat ek weet, is tegelyk ’n verligting en ’n verrassing. Melinda Visser, my susterskind. Sy is natgesweet, asof sy ver geloop het, dalk gedraf het. En dit in haar nagklere.
Sy stap na die naaste stoel, sak daarin neer en verberg haar gesig in haar hande. Sy maak geen geluid nie. Die trane wat deur haar vingers glip en op haar skoot drup, is die enigste bewys van haar hartseer. Ek wil so graag aan haar raak, haar vertroos.
Sy staan skielik op en loop kombuis toe. Daar gaan staan sy in die deur, haar blik op die tafel waarop ’n klomp goed lê: botteltjies met blinkers, gom, skêr, kryte, verf, karton. Van die botteltjies het omgeval, die inhoud lê verstrooi oor die tafel. Sy draai om en stap doelgerig na die telefoon. Ná ’n kort gesprek plaas sy die handstuk terug op die mikkie. Stil staan sy daar, haar hand steeds op die telefoon, ’n hartseer trek om haar mond, haar oë waterig, haar skouers krom.
Dit neem konstabel Janneman Verwey tien minute om aan die deur te klop. Melinda skrik merkbaar vir die geluid. Trek dan haar skouers agteroor en maak die deur oop.
Hy skuur verby haar met die instap. Sy sit haar hand beskermend op haar hals toe sy bewus word van sy oë wat waarderend op haar borsgleufie rus.
Klein blikskottel! Sy’s oud genoeg om sy ma te wees.
“Wat’s die probleem, antie?” vra hy, sy oë wragtig steeds dáár.
“Janneman …” Die klank kom hees uit en sy maak keel skoon. “Tannie Erta is nie hier nie.”
Hy frons, skud sy kop. “Jirre, antie, sy loop seker in die veld?”
“Sy’s nie in die veld nie! Sy is weg. Verstaan jy? Wég.” Melinda kyk vinnig op haar polshorlosie. “Dis net voor ses, die son is nog nie eens behoorlik uit nie. Sy loop nie meer alleen in die veld nie, veral nie snags nie, almal weet dit tog.”
“Het antie haar selfoon gebel?”
“Sy het nie ’n selfoon nie. Ek het hoe lank op en af in die strate geloop en roep. Sy is weg!”
Hy sug. “Dan sal antie stasie toe moet kom en ’n SAPS 55 (a) moet kom invul.”
“Vir wat?”
“Om haar amptelik as vermis aan te gee, antie. Eers dán kan ons iets doen.”
“Hemel, Janneman, dink jy wragtig ek het nou lus om in die polisiestasie te gaan staan en vorms invul?”
“Ek sal dan maar die vorms vir antie …”
Sy val hom ongeduldig in die rede. “Die kombuis,” sy draai om, wys dat hy haar moet volg. “Sy sou die plek nooit só los nie!” Beduie na die tafel. “Jy kan mos sien sy was nog besig. Ek dink sy is hier oorval! Ek dink daar het iets met haar gebeur … hiér.”
“Ek dink antie oorreageer nou. Sulke goed gebeur mos nie hier in onse dorp nie. Sy’s seker innie veld.” Hy praat rustig, ’n windlose somerdag teenoor haar woedende tornado.
“Sy’s nie in die veld nie! Hoor jy my nie?”
“Antie …” Hy bly ’n oomblik stil, kyk na Melinda se verwese, ontstelde gesig. “Sy loop mos maar rond, al is dit deesdae nie meer so gereeld nie. Antie moet kalmeer, sy sál huis toe kom. Intussen bring ek die SAPS 55 (a) en vra solank ’n paar mense om na haar te soek.” Hy stap deur toe. “Dalk is sy beseer,” sê hy nadenkend, “maar ons sal haar kry. Daar is ook net soveel plekke waar sy kan wees.”
Melinda skud haar kop, sluk hard aan haar frustrasie. “Sy’s nie iewers in die veld nie, Janneman, sy is ontvoer! Gaan praat met Oudominee!”
“Oudominee?” Hy draai terug na haar. “Ontvoer? Nee, hel, nou jaag antie wragtig spoke op.”
“Janneman!” Sy staan daar, haar arms teen haar sye, haar hande in vuiste gebal. “Sê nou sy is dóód?” fluister sy.
Uiteindelik registreer skok op Janneman se gesig. “Ek organise ’n soekgeselskap, antie. Nou dadelik. Antie moet net kalmeer.”
“Wat van Oudominee?” vra sy, haar stemtoon nou meer normaal.
Hy skud sy kop. “Oudominee is baie dinge, antie, maar hy sal nie so iets doen nie.”
Hy maak die voordeur oop, en met ’n laaste blik oor sy skouer na haar draf hy die tuinpaadjie af na die vangwa wat skeef op die sypaadjie geparkeer staan.
Sy druk die deur agter hom toe, laat rus ’n oomblik haar kop daarteen, voordat sy omdraai en uit frustrasie na die naaste tafeltjie skop. Haar voet vang dit skrams, net genoeg om dit ’n oomblik te laat wankel voordat dit omval. Die pot met die mooi pers viooltjies val af en die rooibruin grond val saam met die blomme tot voor haar voete.
“Fok!” skreeu sy en skop wild na die pot.
Dan sak sy op haar hurke neer en druk die plant hardhandig terug in die pot. Sy skep hande vol grond en druk dit langs die plant in.
Ek is geskok oor haar krasheid, haar aggressie. In al die jare het ek haar nog nooit só hoor praat, só sien optree nie.
Dan was dominee Du Toit tog reg. Hy het altoos loop en verkondig dat ons gebruik van Die Taal in ons gene vasgelê is en dat dit ook ons stand in die gemeenskap weerspieël. Altyd daarna verwys asof dit ’n entiteit is: Die Taal.
“Jou gebruik van en omgang met Die Taal moet te alle tye suiwer wees,” het hy my ma en soms ook vir ons aangespreek, die min kere dat hy daar was vir huisbesoek. Hy’t ’n manier gehad om so bo-oor sy halfmaanbril te loer, elke woord uit sy mond geaksentueer deur sy vlesige, drillende wange. “As jy nie respek betoon aan Die Taal, of Die Kerk, of Die Gemeenskap nie, hoe kan jy respek vir jou en jou gesin van hierdie gemeenskap verwag?”
Ek sien hoe Melinda haar hande, rooibruin van die grond, weer oor haar gesig sit. Die trane vloei nou vryliker, dié keer seker van frustrasie. Dan neem sy haar hande met ’n besliste gebaar van haar gesig weg en die hartseer trek om haar mond word verbete.
Sy staan op en stap na die sideboard. Daar is ’n ligte bewing in haar hande toe sy die boonste laaitjie ooptrek. Die laaitjie wat ons die “kakkieslaai” gedoop het, omdat alles waarvoor ons nie ’n spesifieke plek het nie, in dié laai beland.
Sy krap daarin rond totdat sy die koerant van twee maande gelede raak vat. Blaai daardeur totdat sy eindelik