Vermis op Allesverloren. Anchien Troskie

Читать онлайн книгу.

Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie


Скачать книгу
haar groen vingers gedy. En die hande met daardie groen vingers was oop vir haar gemeenskap, die onderdorp. Wanneer haar groenteoes goed was, het sy mildelik uitgedeel. Al het my pa gebrom dat hulle nie ’n blaar uit haar tuin verdien nie.

      Tien gesinne in die onderdorp, en net ou ant Saar van oorkant het ooit by ons aan huis gekom. Dan het sy Ma se hare styf in krullers gedraai, sigaret wat slap in haar mond hang, en sonder ophou gekla. Oor haar sleg man, haar ondankbare kinders, die goewerment, min geld, die pyn op haar bors. Sy het twee seuns gehad. Die oudste het met ’n slap nek en spoegmond gesit – met geboorte die groot skrik gekry. Die jongste het eers by die Handelshuis gewerk, tot hy moes buk om ’n boks op te tel en sy rug seergemaak het. Toe ry hy die nagkar met ’n stywe rug.

      Ou ant Saar het die groente namens Ma by die ander huise gaan afgee. En elke keer het sy gesê: “Heidene, die hele spul. Ek weet nie vir wat jy nog uitdeel nie. Steur jou nie, Maria, jy doen wat jy kan. As ek jou lyf gehad het, sou ek ook. Húlle sou ook.”

      Daar was baie kinders in ons straat. Maar hulle mog nie met ons speel nie, al het Ma die leste een in die wêreld gebring. Vroedvrou van die omgewing. Hoeveel babas sou sy in die lewe gehelp het? Ek ys as ek daaraan dink dat hulle eerste blik op hierdie wêreld die streng gesig van Maria Visser was.

      Pa het gesê dis goed dat ons nie met hulle meng nie. Hy wil nie hê sý kinders moet met semels meng nie. Asof ons beter as hulle was.

      Ma het na grond en son en Sunlightseep en groente geruik. Soms het ’n ander reuk aan haar gekleef. ’n Skerp, warm reuk. Wanneer daar vreemde ooms opgedaag en sy ons na buite gejaag het. Wanneer die ooms eindelik weg was en ons by die kombuis mog instap. Wanneer daar ’n paar note of ’n kardoes met ’n vleisie, suiker, meel of koffie (enigiets behalwe groente) op die tafel gelê het.

      Maria Visser – los soos Tastic-rys.

      BARRIE

      Vrydagoggend

      Barrie skakel die motorradio aan en luister na die negeuurnuus. Skakel die radio weer af. Hy is honger, ’n uur na ontbyt. Hy is deesdae altyd honger, asof hy sy frustrasies en vrese kan weg éét.

      Hy krap in die plastiekbak wat sy vrou vinnig gepak het terwyl hy onder die stort was. Sy hand vat ’n pak tjips raak en hy skeur dit oop. Druk afgetrokke ’n hand vol in sy mond. Kou hard. Vryf oor die stoppels op sy ken, oor sy snor. Hy is moeg vir hierdie soort lewe, dink hy. Hy is moeg daarvoor om op die pad te wees. Moeg van vreemde beddens en ongemaklike kussings. Sou dit nie lekker gewees het as hy nee kon sê vir sake wat nie in die stad is nie?

      Dit het hom voorheen nooit gehinder nie, die weggaan van die huis. Dit was ’n geldige rede om die verveling van die dag tot dag se huislike opset vry te spring. En as hy eerlik moet wees, het die weggaan sy huwelik nogal goed gedoen. Die tuiskoms was lekkerder. Sy vrou wat hom met ope arms verwelkom, sy gunstelingkos op die stoof. Selfs die hond se stert het verwelkomend gewaai. Het. Verlede tyd. Deesdae vermoed hy dat sy vrou, en selfs die hond, meer opgewonde raak oor sy weggaan as oor sy tuiskoms.

      Hy is moeg daarvoor om met die donker kant van die lewe en die donkerder mense daarin te doen te kry. Moeg daarvoor om die mens agter die masker te soek. En op die einde, wanneer hy ’n saak suksesvol afgehandel het, bly die vraag: maak dit hoegenaamd ’n verskil?

      Op goeie dae wil hy dit bitter graag glo. Wanneer hy die verligting of die verslaentheid op die gesigte van sy kliënte sien, weet hy dat hy tog ’n positiewe bydrae gemaak het. Al beïnvloed sy ondersoek – sy positiewe bydrae – die kliënt negatief. Afsluiting is uiteindelik al waarna hulle op soek is. Maar op dae soos vandag, wanneer hy eerder met ’n koue bier voor die televisie wil sit en die Proteas se wedstryd teen Pakistan wil volg, wanneer hy weet dat hy eerder ’n besluit oor die toekoms moet neem, sukkel hy om positief te wees.

      Hy frommel die leë tjipspakkie op en druk dit terug in die bak. Skud ’n sigaret uit die pakkie wat in die vakkie tussen die twee sitplekke lê, maak dit brand en trek die rook diep in terwyl hy die venster ’n fraksie oopmaak.

      Twee jaar gelede, toe hy nog in die Suid-Afrikaanse Polisiediens was, het hy geglo dat hy ’n verskil in die samelewing kan maak. Dat hy manalleen die wêreld kan red van bedrog en moord en ander menslike vergrype. Daardie naïwiteit het hy lankal afgeskud. Hy weet dit sal nooit tot ’n einde kom nie. En tog probeer hy steeds die wêreld red. Is daar steeds iets in hom wat wil glo dat hy wel ’n verskil kan maak, hoe klein ook al.

      En dis die rede hoekom hy nou op pad is na ’n onbenullige dorpie om ’n vermiste persoon te gaan opspoor. Het iemand al daaraan gedink dat die vermiste persoon dalk nie opgespoor wíl word nie?

      Twee jaar gelede is hy gedwing om die werklikheid in die oë te kyk: die SAPD kon sonder sy dienste aangaan. Hy het ’n pakket aanvaar. Vervroegde pensioen, het hy dit genoem. Dit was sy keuse, en soos altyd het hy sy vrou bloot daaroor ingelig, nooit haar mening gevra nie.

      Hy was reg vir sy sogenaamde aftrede. Of so het hy geglo. Hy sou meer tyd saam met sy vrou kon deurbring, vir ’n verandering haar lewe voorop stel. Hy sou die takies in en om die huis wat hy al die jare so verwaarloos het, aanpak. Maar wragtig, niks kon hom voorberei op die eentonigheid van so ’n bestaan nie. Hy het werkaanbiedinge van sy oudkollegas gekry. Godweet, daar was genoeg poeliesmanne wat skielik sonder werk gesit en ’n eie besigheid begin het.

      ’n Tyd lank het hy dit ernstig oorweeg, dit selfs aan sy vrou genoem. Uiteindelik het hy daarteen besluit. In sy vrou se oë, waarvan die sluier in onbewaakte oomblikke gelig het, het hy die waarheid gelees: Hy is te trots om vir iemand anders te werk.

      ERTA

      Skool. Ek het gedink dat ek daardie sewe jaar lankal vergeet het. Nog ’n prentjie wat ek weer moet inkleur.

      “Nou toe,” Ma knik goedkeurend haar kop, sodat haar kort, krullerige hare op en af wip, “die jim lyk goed.”

      Ek kyk af na waar my knieë moet wees. Die skooljim hang ver verby, tot amper op my enkels. Nogal mooi, dink ek, my ander rokke is maar meestal so neffens die knieg. En die jim is nuut. Daaroor is ek die blyste.

      Ek is die enigste dogter, wat beteken dat die meeste van my klere darem redelik nuut is. Ma koop al mevrou Taljaard van Goedeverwachting se dogter Ruth se klere oor. Mooi goed tussenin. Rokke en rompe. Nie broeke nie. Broeke kry ek sommer van my broers; dis beter vir huis skoonmaak en vuur uitkrap en so. Om ’n rok te hê wat nog nooit aan ’n ander lyf gehang het nie, al is dit nou ook ’n swart skooljim, is ’n groot lekkerte.

      Ek vryf weer oor die pleats aan die onderkant, maak seker dat hulle reg lê. Trek die belt reg sodat die knoop presies op my linkerheup is. Die das wurg so ’n bietjie en ek rem aan die wit hemp se kraag. Kyk dan weer af na die pleats. Onder die soom van die rok steek my bene bleek en maer uit, die linkermaermerrie blou waar Stefaans my gister met ’n stok bygekom het.

      Ma sien ek kyk na my kaal voete. “Die skoene en kouse koop ons volgende keer,” sê sy.

      Ek glimlag op na haar. Nuwe skoene!

      “Kom, eet jou pap.”

      Ek gaan sit tussen Johannes en Stefaans en begin weglê aan die soet krummelpap. Johannes is dertien, Stefaans tien. Dis Johannes se laaste jaar in die skool. Ek is so opgewonde om skool toe te gaan dat ek te vinnig eet en van die pap en melk op my bors mors.

      “A nee a, Erta!” Ma gee my sommer ’n oorveeg teen die kop met die lap in haar hand. “Jy moet die jim nog die hele week dra!”

      Toe sy my trane sien, versag haar stem. “Toe nou, ons vee dit sommer skoon. Vrydag se agtermiddag was ons dit uit en Saterdag stryk ek dit vir jou mooi vir die volgende week se skool.”

      Stefaans stoot sy leë bakkie terug en breek hard ’n wind op. “Kom, Erta-Kepêrta, laat ons hierdie dag aan die gang kry.”

      Ek lag. “Jy klink nes Pa!”

      Johannes skud net sy kop en hou sy hand uit na ons bakkies, draai daarmee om na die opwasskottel.

      “Los,” sê Ma, “julle moet loop. Erta gaan julle terughou,


Скачать книгу