Gerugte van reën. André P. Brink
Читать онлайн книгу.vir “Meneer”). Niks hiervan het ek verniet gekry nie. Niks het toevallig gebeur nie. Alles was vooruitbeplan. En dié konferensie sou my die volgende stoot gegee het, as Calitz dit nie met sy kriminele onnoselheid verongeluk het nie. (En dis nie net ek wat daardeur gekortwiek word nie: dit is die land wat ly.)
Maar goed: in die openbaar is mens “lojaal”. Ons Afrikaners het ons formules. En voor die oë van die wêreld het ons almal by hom gestaan. Net ná die perskonferensie is die ander lede van die sending saam met Sy Edele terug Suid-Afrika toe.
En ek het verskuif na hierdie hotel. Nie dat ek veel teen die vorige in fashionable Mayfair gehad het nie: behalwe moontlik dat hulle, teen £25 per dag (plus VAT), nie eens ’n koppie oggendtee gratis voorsien het nie (net die kakkerlakke was kosteloos). Maar met wat ek in my vroeë romantiese fase ’n “verblindende helderheid” sou genoem het, het ek eenvoudig besluit dat ek nou alleen en incognito wou wees tot ek na Tokio moet verskuif.
Met ’n ongewone gevoel van opwinding oor onverwagte vryheid het ek ’n kabel aan my sekretaresse gestuur om te laat weet dat ek adresloos op ’n kort vakansie gaan en eers ná Tokio sou rapporteer. En toe my vrou geskakel om te sê dat ek vir ’n paar dae na die Lake District vertrek. Sy was nie heeltemal so inskiklik as wat ek verwag het nie.
“Hoekom kom jy nie liewer huis toe nie, Martin?”
“Dis te naby die kantoor. Hulle sal my nooit met rus laat nie. Jy weet mos.”
“Maar ons kan vir ’n paar dae weggaan.” Met ’n ongewone klank van aandrif in haar stem. “Dis so lank laas dat ons –”
“Wees nou redelik, Elise, man. Die end van volgende week moet ek in Tokio wees.”
“As jy vanaand se vliegtuig haal, is jy môreoggend hier.”
Ek het gesug. “Ek sien eenvoudig nie kans vir nog reis nie, Elise. Ek is moeg. Ek word ook nie jonger nie.”
“Ag, nonsens, Martin. Jy’s vyf-en-veertig. Wat is dit nou?”
“Jy weet wat die dokter gesê het.”
“Asof jy jou al ooit aan dokters gesteur het.” En, onverwags: “Of aan enigiemand anders.”
“Dis ’n unkind cut,” het ek stroef geantwoord.
“Ek is jammer, ek het dit nie so bedoel nie. Maar ek raak óók partykeer vasgekeer hier.”
Ek het geraai wat sy bedoel. “Is Ma weer moeilik?”
“Soos jy kan verwag. Sy bedoel daar niks by nie. Maar sy wil net alles uit my hande neem en ek kan dit nie verdra nie. Ek dink nog dit was die verkeerdste ding gewees om haar van die plaas af te gebring het. Sy’s te selfstandig om in iemand anders se huis te aard.”
“Dít het ons tog lankal uitgepraat, Elise.”
“Het ons? Jy het gesê wat jou mening oor die saak is en ons het daarby ingeval.” ’n Kort pouse. “Ag, Martin, moet tog nie dat ons nou weer oor die foon oor alles praat nie. Dit help nie. Ek is maar net oorstuur oor ek gehoop het jy sou –”
“En Ilse?” het ek doelbewus gevra.
“Met ’n klomp maats in die swembad aan die jakker. Luister vir niemand. Sy weet mos jy sal niks verkeerds van haar glo as jy terugkom nie.”
Ek aarsel voor ek vra: “Daar is seker nog nie nuus van Louis nie?”
“Natuurlik nie.” Haar stem klink gesmoord. “Ek wonder of ons ooit weer van hom sal hoor. Tensy iets … Maar jy mors nou jou geld, ons moet aflui.” Met nuwe dog beheerste gevoel: “Pas jou tog op, Martin.”
“Ek sal.” Ek het getalm en toe met skielike berou – maar waaroor? – gesê: “Elise …”
“Ja?”
“Nee, sommer niks. Moet jou nie bekommer nie. Voor jy jou kom kry, is ek weer terug.”
“Ek weet. Tot siens, Martin.”
Met ’n eienaardige gevoel van onbevredigdheid het ek na die telefoon bly sit en kyk en my voorgestel hoe sy tuis die gehoorbuis terugplaas – maar waar was sy nou: in die slaapkamer? in die studeerkamer? – en haar deur die huis gevolg. Die skoon klipkoelte wat nou in die somermaande rustig om mens lê en in die winter onmerkbaar deur ondervloerse verhitting warm word. Die volvloermatte in die slaapgedeelte en teëls van terracotta en keramiek elders. Die boogdeure van Kaapse geelhout; die paar antieke meubelstukke wat met Elise se netjiese aanvoeling aanpas by die gemaklike moderne modulestukke. ’n Paar van haar potte op rakke of in alkowe; haar grof geweefde wolgordyne voor die vensters. Teen die mure Maggie Laubser en Domsaitis en Irma Stern, die twee vroeë Pierneefs en die Wenning, ’n lito van Picasso en die Klee-waterverf wat ek in Stockholm raakgeloop het. Slasto om die kaggel, ingeboude boekrakke weerskant.
Van buite die “vloeiende lyne” wat die meeste van my broer Theo se ontwerpe kenmerk, funksioneel en bevredigend, waarskynlik Marokkaans van inspirasie. En dan die tuin rondom met struike en terrasse en sierbome eenkant (strelitzia, ’n klompie proteas, bloureën oor die pergola, die drie kosbare broodbome wat ons jare gelede stilletjies op Pa se bakkie van die plaas af ingesmokkel het: toe hy nog gelewe het, vóór die kanker en die begrafnis, toe ons nog die plaas gehad het, vóór daardie naweek). Die tennisbaan agter die ry populiere, die akwamaryn kurwes van die swembad. Waar Ilse en haar maters nou joel en spat.
Die koddige oomblik op haar vorige verjaardag, haar veertiende, toe sy en die dosyn meisiekindertjies in en om die swembad te kere gaan in hul onhebbelike klein tangatjies (Ma: “Dis ook net ’n koeklappie en twee doilies deesdae”), terwyl ek patriargaal in my lêstoel met die Sondagkoerante lê en die donsdosies beloer. Toe ek skielik opkyk en sien hoe Louis hulle ook dophou. (Dit was vóór Angola, vóór alles.) Ons oë momenteel in mekaar s’n, hy wat onverwags bloos en tog nie kan help om te glimlag nie. Die eerste keer dat ek besef: Liewe Here, my seun is agtien, ons kyk al saam. En eienaardig dat dit iets gewek het wat ek byna ’n skuldgevoel kan noem, asof ek iets van myself aan hom verklap het.
Daar was ’n minder aangename afloop. Want terwyl ek en Louis bly sit, hy met sy Coke en ek met my bier, en maak of nie een van ons regtig van mekaar of die gladde kinders bewus is nie, het ek aan die oorkant van die swembad agter struike en bome iets sien roer en die tuinier herken. Wat óók staan en kyk, sy graaf vergete in die grond, ’n Brutale jong. Ons het hom net ’n week tevore gehuur ná ons vorige weggeloop het. As ek hom beter geken het, sou ek hom graag nog ’n kans gegee het, maar deesdae kan ’n mens nie risiko’s loop met ’n opgeskote dogter in jou huis nie. Daarom moes ek hom ontslaan. In elk geval, ek het hom twee maande vooruitbetaal, dus kon hy nie klae nie.
Dit was wel nie maklik om ’n plaasvervanger te kry nie, hulle vra deesdae sulke onbehoorlike lone en doen ook niks in ruil nie. Vroeër kon mens nog bandiete huur. Dis hoe ons die tuin oorspronklik kon uitlê en aan die gang kry. So ’n span van twaalf een maal ’n week werk dat jy ’n tuin sienderoë uit niks uit sien vorm kry. In my kinderdae ook, toe was dit net een maal ’n maand: in daardie dorre Griekwaland-Wes was daar nie eintlik méér aan ’n tuin te doen nie. Alles verdor tot stof en gruis en klippers as die reën wegbly. Veertien duim ’n jaar, as dit ’n goeie jaar is. Baie jare drie. En net die doringbome hou. In dié skadetjie het die bandiete dan smiddae hul halfuurtjie uit die son uit probeer rus as hulle hulle snye bruinbrood sit en eet. Partykeer, onder die wag se oë uit, het hulle by ons kinders kom bedel: gewoonlik ’n sigaret of twee wat ons uit Pa se dosie C to C moes gaan steel. En brandspiritus vir die een. Hy het die bottel net so in sy keel omgekeer en dit afgeklok. Daarna, het hy gesê, bang hy niks. Dan kan hulle maar kom: wat hy ook al daarmee bedoel het. Tot die dag dat hy probeer weghol het. Wie het nou ooit gedink een sou probeer ontsnap in daardie dorpie met sy breë stofstrate en sy peperbome, en die vlaktes van klip en withaak rondom? Maar hy het, waaragtig. En net toe hy oor die slap heining klim, kom die wag terug uit die kleinhuisie, nog besig om sy lyfband vas te knoop. Ek was in die agterdeur met ’n sny brood en stroop; Theo was nog binne in die kombuis besig om syne te smeer. Die bandiet het omgekyk en begin hol. Die wag agterna. Rumoer op die werf. Ma se rooi en swart hoenders wat aan die kekkel gaan waar hulle oopvlerk onder