Gerugte van reën. André P. Brink

Читать онлайн книгу.

Gerugte van reën - André P. Brink


Скачать книгу
dag by die swembad, toe ons mekaar daarop betrap het dat ons saam na die meisietjies kyk, toe al was hy vir my vreemd gewees. Nie “my seun” nie, nie die kind wat voor my grootgeword het nie, maar iemand wat ek nie kan peil of aanraak nie: ’n teenstander, ’n ander. Nou het daar maande en droogte en dooies tussenin gekom. En tog was ons ook eensklaps eenders, in gelyke mate aangeraak, gebrandmerk deur wat ons saam aanskou het. Ek het met ’n vorm van hartstog wat ek nie meer in my verwag het nie, gewens dat hy nié daar moes wees nie, dat hy dit nié moes gesien het nie. (Wat tog heeltemal onsinnig was: hy het ’n oorlog deurleef.) Of as hy dit moes sien, dat hy dit dan nie saam met my gesien het nie. Dat ek dalk, met onredelike outydse sentimentaliteit, kon glo dat één van ons nog onskuldig was, één van ons nie besmet deur ons teenwoordigheid in daardie skare nie.

      “Kom ons gaan eet,” het ek kortaf gesê, sonder om weer na hom te kyk: asof ek hóm verkwalik. “Ons moet in die pad val. Dis ver plaas toe.”

      Na die kwessie van onskuld moet ek nog later weer terugkom. Ook in Bernard het mens dit herken. Dit is nie maklik om te formuleer nie. Wat ek probeer sê, is dat Bernard, in weerwil van die skerpte van sy intellek, sy kompromislose denke wat jou van loopgraaf tot loopgraaf teruggedryf het, in weerwil van wat ek sy “beskawing” sou noem, eintlik primêr die indruk gemaak het van, nou ja, van iets so natuurlik en elementeel as wind of water. (Noem dit weer ’n regressie na die terminologie van my vroeë romantiese fase. Dit wil my voorkom asof die skrywery my teen wil en dank soontoe terugneem. Goed dan. Enigiets wat wil uitkom, moet uitkom. Selfs al voer dit my ’n bietjie mee: ek wil mos nou skrywer speel.)

      In sy liggrys klere en blou das was hy die verfynde wêreldburger, tuis in die geledere van internasionale diplomate; in sy advokatetoga het hy, seker ook danksy die bos blonde krulhare, ’n waardigheid vertoon wat mens laat dink het aan die howe van ’n ouer wêreld, Franse galanterie en spieëlsale, die Florence van die Medici, of so iets. Maar selfs dan had hy iets van die natuurmens. Iets wat opvallend geword het wanneer hy aan sport deelneem of ontspan: daardie kanovaart wat soveel vir ons beklink het; op die tennisbaan of in die swembad, maak nie saak nie. Een van die boys. Dié boy.

      En vir vroue het dit seksueel aangespreek. Bea self, wat haar so min aan die liggaamlike gesteur het, het gesê: “Ek weet nie wat dit is nie. Maar as hy na mens kyk, is dit of iets in jou maag omkeer, of jou bene water word.” O, Bernard kon kus en keur. En hy hét ook. Nie dat hy ooit die lastige indruk gemaak het van vrouejagter, ’n Don Juan op soek na sekuriteit in bed na bed nie. Hy het ook nooit daarmee te koop geloop nie. Mens het maar net soms, toevallig, agtergekom, as ’n vrou ter sprake kom, dat hy al, by wyse van spreke, “kennis geneem” het. Daarvoor sou sy indruk van hoflikheid, van konsiderasie, ten dele verantwoordelik wees: Bernard het die vermoë gehad om elke mens, man of vrou, met wie hy te doene kry, te laat glo dat hy volledig in jou belangstel, dat jy vir hom belangrik is, dat jy ’n avontuur met hom meemaak.

      Dit, en dan ook seker die eienaardige indruk – miskien is dít op stuk van sake wat ek wou sê? – dat hy eintlik seun gebly het. Niks kinderagtigs nie. Net dat hy iets van die onbelemmerdheid, die kaalvoetheid van ’n seun behou het. Dat hy selfs middeljarig nog iets van die enfant terrible gebly het. Dat hy dit werklik bedoel het as hy sê: “Leipoldt moet maar sy somer en sy son en sy saffier en goed vat as hy wil. Al wat ék wil hê, is dat ek nooit te oud moet word om ’n heilige koei in die balls te skop nie.”

      Was daar ook wensdinkery by toe ek negentien jaar gelede, by Louis se geboorte, vir Bernard gevra het om sy peetvader te wees? Want van my eerste LLB-jaar af, toe ek nog na hom opgesien het as dosent in Romeins-Hollandse Reg, was Bernard my “held”. Dit was ook hy wat my aangemoedig het, toe hy agterkom van my belangstelling, om te skrywe. En na hóm, eerder as na die literatuurdosente soos professor Pienaar, het ek my eerste romantiese pogings geneem vir kommentaar. Waarmee hy tegelyk vernietigend eerlik en simpatiek kon wees. Een keer het hy selfs my enigste kopie van ’n kortverhaal in die latrine afgespoel.

      Wesenlik was sy houding (ek kan nie nou dialoog vind daarvoor nie): As jy ’n ding wil aanpak, dan doen jy hom óf goed óf glad nie. Op die oomblik is jy nog besig om jou ambag te leer ken en om jousélf te leer ken. Maar as jy ernstig genoeg is, sal jy nog eendag jou roman skryf, moenie worry nie. Daaroor kan net jy besluit.

      Ek het toe nooit. Die naaste wat ek daaraan gekom het (afgesien van ’n klompie kortverhale), was toe ek stapels en stapels aantekeninge gemaak het ná ons kanovaart. Dáárin het ek iets aangevoel wat ek wou beetkry, iets omtrent hom en my, iets omtrent die romantiese konsep van “menswees”. Maar iets het my ook bly ontglip. Ek het dertig bladsye getik en weggegooi; ’n jaar later weer begin en tot iets in die vyftig gevorder. Toe sat geword vir die hele spul en besluit om te wag tot eendag. En sakeman geword. Ensovoorts. (En nou skielik!)

      Ek weet nog steeds nie of ek daardie onderneming met die kano heeltemal begryp nie. Dis ook so lank gelede en ’n mens groei weg van jou vorige selwe. Miskien is dit beter om dit met rus te laat. En was dit nie vir dié nege dae en die kans, of die nood, om te sorteer en te organiseer en te rangskik nie, sou dit bly lê het. Maar sedert daardie naweek is niks meer vanselfsprekend of maklik nie. Ek het dit ook al gesê. (Dis baie laat; ek is moeg; selfs die hande van die Thailandse meisietjie weinig meer as herinnering.)

      Ons het op universiteit al gepraat oor so ’n kanovaart, maar dit het nie gebeur nie. Toe is hy weg om aan die Kaapse balie te praktiseer en ek self is ná my LLB oorsee. Nie een van ons was ’n danige korrespondent nie. Ek het die eerste jaar nog min of meer literêre briewe aan hom geskrywe (en deurslagkopieë gehou “vir eendag”). Toe nog net met Kersfees of verjaardae.

      ’n Paar maande ná ek uit Londen terug was, het hy sonder waarskuwing by my opgedaag. Deur die jare sou dié skielike verskyning (gewoonlik wanneer hy vir sake Transvaal toe moes kom) kenmerkend van hom word. En die besondere was altyd dat ons by elke herontmoeting eenvoudig kon voortgaan asof ons mekaar nog die vorige aand gesien het. Inderdaad die enigste blywende vriendskap van my lewe.

      Ek en Elise was pas gevestig toe hy daardie eerste keer so kom kuier het, en dit was nie maklik om by haar verby te kom nie. Sy was swanger (die kind het sy verloor; en toe was dit meer as ’n jaar voor Louis gebore is) en wou my by haar hê. En wat Bernard voorgestel het, wás eintlik buitensporig. Ek kan dit só rekonstrueer: “Daardie kanostorie waaroor ons altyd gepraat het: stel jy nog belang?”

      “Natuurlik!” het ek, seker uit gewoonte en bygelowigheid, geantwoord. “Ons moet regtig nog eendag …”

      “Nee. Nie ‘eendag’ nie. Ek het jou kom haal. Jy vat twee weke vakansie en ons ry môre Aliwal toe.”

      “Maar jy’s mal in jou kop, Bernard.”

      “Goed, dan is ek mal in my kop. En jy? Of het jy al te respektabel geword?”

      “Natuurlik nie. Maar mens kan tog nie sommer so …”

      “Hoekom kan mens nie sommer so nie? Dis die enigste manier om iets gedoen te kry. Jy besluit; en jy doen dit. Want as jy eers begin wik en weeg en pas en meet …”

      “Ek moet darem eers met Elise …”

      “Ek wil weet wat jý wil doen.”

      “As dit van mý afhang …”

      “Nou goed, dan’s dit nie ’n kwessie nie. Ons gaan.”

      “Maar Bernard …”

      “Wag nou.” Hy het sy blonde hare geskud om hulle van sy voorkop weg te kry. Sy oë was vol van die laggende erns wat ek al die jare geken het. “Dink nou bietjie, Martin: ek is oor ’n jaar dertig. Jy is besig om ’n huisdier te word. Een van die dae is dit net eenvoudig te laat. Dis nou, of anders is dit nooit.”

      Ek het geweet dat hy gelyk het. Ons het diep in die nag in gepraat; toe moes ek dit nog met Elise regmaak. En sy wou ons nie groet toe ek en hy die volgende middag ry nie. Ek het, eerlik, amper weer omgedraai. Waarom het ek nie? As ek moet probeer rasionaliseer, sou ek sê: Nóg Bernard nóg ek het ooit iets buitengewoons beleef. Goed, hy het die vermoë gehad om uit alles avontuur te maak, maar objektief beskou was ook sy lewe betreklik voorspelbaar en gewoon. Nie een van ons het ’n oorlog deurgemaak nie. Vir ons was die Wêreldoorlog


Скачать книгу