Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.sien hoekom die polisie so traag is,” sê Antie. “Hierdie ondersoek lyk na baie werk.”
“Ja,” beaam Boela, “en vir wat sal die polisie hulleself moeg maak vir ’n sukkelaar uit die Dip? Dis mos white trash …”
“Kalmeer, Boela,” sê Elie.
“Ek sê jou, as Basie uit ’n ryk huis was, het hulle onmiddellik die donnerse Valke op die jop gesit. En die polisiebaas sou elke dag ’n verslag wou hê: Hoe vorder die ondersoek, is ’n verdagte al gearresteer, is hy ondervra, het hy skuld beken, is hy al aangekla? Dis wat sou gebeur het.”
“Ja,” sê Lottie, “hulle dink mos ons is flentergatte.”
“Hulle dink flentergatte het nie gevoelens nie,” praat Sampie vir die eerste keer van sy spesiale stoel met die hoë pote. Hy dring daarop aan dat hy ’n “kortmens” genoem word, sê hy’s g’n dwerg nie. Sy held is ’n mede-kortmens, ’n Amerikaanse rofstoeier met die naam Dylan Postl, eens in die kryt bekend as Little Bastard. “Dís waar ons die antwoord gaan kry, by die Ruff Riders,” sê Sampie. “En by daai Sultans-restaurant.”
“Ek dink Sampie is reg,” sê Antie. “Ek het een Sondagaand duur parfuum aan Basie geruik toe hy terugkom. Kon nie ’n naam uit hom kry nie, hy’t net gesê hy kuier Sondae by haar op Harties. En dat sy ook Sondagoggende op die brekfisrit saamry, dis hoe hy haar ontmoet het. Sy slaap glo daar oor in ’n naweekhuis. Hy’t ook van ’n boot gepraat.”
“Leo sal weet wie almal op die brekfisrit saamry en met wie Basie vryerig geraak het,” sê Lottie. “Al probleem: Leo is weg. Ek het al hoeveel boodskappe gelos. En toe skielik sê ’n stem die nommer bestaan nie meer nie.”
“Gee die nommer vir my,” sê Elie. Hy kyk na Antie. “Liesbeth van Graan is mos een van Antie se vrywilligers. Is haar man nie ’n speurder nie, kaptein …?”
“Kaptein Bees, ja. Maar hy’t pakket gevat, Liesbeth sê hy doen nou konsultasiewerk … vir enigeen wat bereid is om te betaal. Jy kan hom glo niks van ’n selfoon vertel nie.”
Elie voel ’n roering van hoop. “Dalk kan hy help met Leo se ou selnommer. Dit behoort interessant te wees om te sien wie Leo almal die naweek voor Basie se dood gebel het.”
Teen skemer kom die loodgieter en sy honde van hulle wandeling terug. Hy geniet dit om saans met hulle te gaan stap, al is dit hel op sy knie. Hy voer die honde in die sinkskuur langs die huis, skakel die kragopwekker aan en gaan maak vir hom iets te ete.
Hy soek ’n ou langspeelplaat uit, gaan sit met sy kos op die stoep en luister na ’n kompilasie van Big Jay McNeely se blues-ballades op sy majestueuse tenoorsaks. Hy geniet Big Jay, een van saksjazz se eerste groot toeters, die herhalende lae note soos die diep brulsteune van ’n leeu. Die ritme is aansteeklik en die loodgieter se vingers jeuk vir die saks se kleppe en sy mondspiere doen hulle onwillekeurige oefeninge vir die mondstuk. Hy gaan was die skottelgoed en pak alles weg en dink aan die Duitse joernalis wat Big Jay ná sy konsert op 9 November 1989 buite Berlyn se Quasimodo-klub “die moderne Joshua” genoem het – oor hy daardie aand glo gehelp het om die Berlynse Muur met sy saks om te blaas.
In die portaal haal hy sy fedora van die kapstok af en in sy slaapkamer, voor die spieël van die hangkas, verstel hy dit windmakerig laag oor sy regterwenkbrou. Uit die kas haal hy sy saksofoonkis, knip dit oop en lig die instrument liefdevol uit – sy kosbare Selmer in geplateerde silwer met delikate blomgraverings om die beker, teen R52 000 ’n winskoop. Hy hang die draband om sy nek, druk die mondstuk in en haak die saks aan die draband.
Die bonkige honde met die klein oortjies spring en dans met gesmoorde blaffies toe hy met die instrument op die stoep uitkom. Hy lig die mondstuk na sy sterk, geoefende lippe. Vandat hy op agt begin speel het, het hy geleer om die drie groepe gesigspiere te oefen en te ontwikkel wat nodig is vir korrekte embouchure, die tuit van die lippe aan die mondstuk.
Die belangrikste van dié is die orbicularis oris, die sogenaamde soenspier wat eintlik ’n groep spiere is wat die mond omring. Die tuit van die lippe is goed vir soen, maar vir die loodgieter – wat nie sedert sy tiende verjaardag gesoen het nie – is dit ’n vereiste om asem kragtig oor die mondstuk se tongetjie te kan blaas.
Die gepaarde mentalisspiere is in die ken en manipuleer die onderlip; nukkerige kleuters gebruik dit graag vir ’n lang lip. Vir die saksspeler is die mentalisspiere noodsaaklik om die onderste tande akoesties met die onderlip teen die mondstuk te bedek.
Die derde groep gesigspiere is die wangspiere, of glimlagspiere, wat die lug in die mond beheer. Die jazz-saksspeler blaas hoofsaaklik koue lug deur sy mondstuk, die klassiese saksspeler warm lug van agter uit sy mondholte. Die loodgieter is van jongs af geleer die klankverskil tussen jazz- en klassieke saks lê in die mond, en daar was by hom nooit twyfel oor watter een van die twee dissiplines hy wil beoefen nie. Jazz-saks vereis groter beweging van die kakebeen en gesigspiere vir wisselende toon; klassieke saksspelers gebruik min of geen beweging van die kakebeen nie, want hulle soek juis konsekwente toonkleur.
Met sy kragtig ontwikkelde lip- en wangspiere het die loodgieter se mond die eienskap van ’n rubbersuigbak ontwikkel, die soort wat gebruik word om swaar glaspanele te dra vir installasie; hy het selfs al aan ’n rolbal vasgesuig en dit met sy lippe opgelig. Die geheim is om eers ’n vakuum te skep soos ’n stofsuier doen, want ’n stofsuier suig nie sonder ’n vakuum nie, dit weet hy uit basiese meganika.
Maar byna vyf dekades op die saksofoon, en al die oefeninge van die mondspiere, het aan sy mondhoek stres begin plaas op die orbicularis oris.
Met sy spoggerige hoed speel die loodgieter vir sy waarderende gehoor van vyf groot waghonde. Hy wieg vorentoe en agtertoe, heen en weer, sy kieste bol en op die ou rooi waksvloer klap sy skoensool ritmies saam met die saks se hees buigings en hygings en ryk steune en diep kreune, die aansteeklike energie van “Temptation” en “Night Train” en “Boppin’ At The Hop” … en uiteindelik, met sy gesig nat van sweet en met bloed aan sy lippe, as encore vir sy honde, Lee Allen se “Slippin and Slidin’”.
Met die inkom vir middagete by die klub die volgende dag vra die loodgieter vir die kroegman: “Is Leo hier?”
Die kroegman skud net sy kop en tap bier vir twee klante met valhelms langs hulle op die toonbank.
Die loodgieter beduie na agter, waar ’n paar ander gaste by tafels eet, ook in motorfietsklere. “As Leo kom, ek sit by daardie hoektafel. Ek soek die bredie en rooibostee, g’n suiker, g’n melk.”
Een van die bierdrinkers vra: “Het julle ’n afspraak?”
Van onder die rand van sy hoed bekyk die loodgieter hom stilswyend, die groot hangpens, die blou paisley-bandana om sy lang hare, yl en grys.
“Hoop so,” sê sy maat. “Anders gaan jy lank wag. Leo het verdwyn.”
Die loodgieter draai sy rug op hulle en gaan sit by sy tafel, maak sy koerant oop en steek ’n Lucky aan. Hy blaai, soek, kry niks oor die koplose motorfietsryer nie, dié se plek ingeneem deur nuwe moord en doodslag:
Die polisie is nog in die duister oor ’n motief vir die raaiselagtige moord op meneer Valentyn Basha, ook bekend as die Pandjieskoning. Dit lyk nie of enigiets uit sy winkel vermis word nie. Hy kyk na die laaste paragraaf: Enigiemand met inligting word gevra om die polisie te bel by …
Die polisie het g’n idee wat regtig daar in die pandjieswinkel gebeur het nie, het geen leidrade nie, dink die loodgieter tevrede. Nes hulle steeds maande al raai oor die liggaam op die oewer van die Emmarentiadam, die een langs die spoorlyn by Jeppe-stasie, die geraamte onder bosse langs die Bullfrog-dam naby die hasiepark in Benoni, meer onlangs oor die M5 se koplose motorfietsryer. Hy kry nie die Kaap en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal se koerante te lees nie, maar hy kyk getrou die TV-nuus, en weke, maande al word in alle tale geswyg oor die moordondersoeke na ’n lyk aan ’n duin by Wolfgat in Mitchells Plein, na een tussen die rotse by Schoenmakerskop by PE, een in ’n suikerrietplantasie by Tongaat …
Geen