Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.lessenaar en staan op. “Dankie, luitenant. Ek sal jou nie langer pla nie.”
“Kan ek dit net wéér beklemtoon, meneer Hartslief: Alles wat ek hier vir jou vertel en gelees het, is vertroulik. En die rede is eenvoudig – nie omdat ek iets vir jou probeer wegsteek nie, maar omdat ons nooit alle feite openbaar maak nie. Ons verswyg altyd sekere dinge waarvan net die speurders en oortreders weet, dis ons troewe om op die ou end seker te maak ons kry die regte verdagte.”
Elie knik net ’n groet, stap uit en dink: Ja, daar is sekere goed wat die polisie ook nie hoef te weet nie. Hy klim in sy rooi Jeep Wrangler. Die luitenant se bewondering vir Sherlock Holmes het hom nuuskierig gemaak en hy het bietjie op die internet gaan swerf. In “Die avontuur van Charles Augustus Milverton” het hy op ’n gepaste Sherlock-aanhaling afgekom:
Ek dink daar is sekere misdade waaraan die wet nie kan raak nie, en wat daarom, in sekere mate, private vergelding regverdig.
Van Krugersdorp ry hy na Hartslief’s Engine & Transmission Specialists in Brixton.
Bogdan Petrescu is gewoond aan sy eksentrieke, kruppel loodgieter. Nee, nie regtig kruppel nie, eintlik net hinkend, miskien van jig in die heup. Maar Bogdan vra hom nie oor sy welstand en gesondheid uit nie, maak nie praatjies oor die weer nie. Lood – dis hoe hy hom noem – is nie ’n kletser nie, veral nie oor homself nie. Hy is wel ’n geduldige luisteraar. Dit lyk nie of hy omgee as Bogdan soms ’n storie te vertel het nie, solank dit nie vir hom nodig is om te antwoord nie.
Die man werk al byna twaalf jaar vir hom, en hy weet steeds net so min van Lood as die dag toe hy hom die eerste keer ontmoet het; ken nie eens sy regte naam nie. Hy het iemand gesoek vir “spesiale opdragte”, en een van die uitsmyters by die klub bring toe die man hier aan, stel hom bloot voor as die loodgieter.
Dié is steeds net so verslons in sy verbleikte jeans en vuil skoene. Hy’t darem die laaste paar jaar ’n ou bruin leerbaadjie gekry in die plek van die blou windjekker wat hy altyd gedra het, winter en somer. Nou dra hy die leerbaadjie winter en somer. Sy hare raak al hoe yler, óf van brandsiek óf van sy hoede; hy’s destyds met so ’n regte Al Capone-homburg op sy kop hier aangebring. ’n Paar jaar gelede was die swart rampokkerhoed skielik weg en kom hy hier aan met ’n nuwe hoed. Wat hy nou afhaal, in wat vir Bogdan altyd lyk na ’n byna religieuse ritueel: met ’n vuil voorvinger in die bol se gleuf betrag hy dit eers voor sy bors, vee-vee delikaat oor die viltrand, pik stoffies van die bol af. Dan plaas hy dit sagkens op die hoek van die lessenaar asof dit broos soos ’n eier is.
Bogdan wens die man wil die hoed op sy skoot hou. Wie weet wat alles in daai fokken hoed uitbroei en nesmaak … myte, nete, vlooie.
Hy sluk sy ergerlikheid weg, lig die koerant op en wapper dit voor die loodgieter. “Goeie werk, Lood. Ek sien jy’t weer vrye teuels aan jou verbeelding gegee. Gots, sny sy kop af! Was dit nou nodig, hè?”
Lood antwoord nie, lig net vlugtig sy leë oë na hom, haal lipsalf uit en smeer dit aan sy droë lippe.
Wat óók met verloop van tyd verander het, dink Bogdan, is dat daai trekking aan sy mondhoek vererger het. Die skurwe lippe is seker van al die Luckies wat hy rook, so sonder filter. Wat die trekkings veroorsaak, weet hy nie, maar dis beslis nie van senuwees nie, want hy dink nie Lood hét senuwees nie. Hy het beslis geen gewete nie; hy lyk nie in staat om oor enigiets of enigiemand hoegenaamd te wroeg nie. Bogdan ken boosheid en hy ken ongure karakters, hy het sélf al ’n paar dade gepleeg wat hom soms diep in die nag laat wakker skrik. Nie dat dit hom lank uit die slaap hou nie. Maar só iemand, so koud en byna demonies, het hy nog nooit teengekom nie. Stella se katoolse katelknaap moes ’n les geleer word, maar goeie moer, om hom te onthoof! En net negentien jaar oud, hier staan dit in die koerant by sy foto. Skaars ouer as sy eie twee seuns.
“Ek’t ’n nuwe werkie vir jou, Lood. Die man skuld my geld. Gou om te leen, traag om te betaal. Jy’t met dié een ook vrye teuels, kry net eers my geld uit hom uit. Dis …” Hy kyk op die rekenaarskerm, “… twee en veertig duisend. Maak dit ’n ronde getal, kry vyftig duisend. Sê die res is vir rente en administratiewe fooie, en vir opspoorkoste.”
Maggie kom met die skinkbord in en Bogdan wag; hy en Lood bespreek net besigheid as hulle alleen is. Maar Maggie se binnekoms gee hom elke keer kans om Lood dop te hou. Maggie is ’n soort Turing-toets om te sien of die loodgieter mens of masjien of reptiel is. Enige man sal opkyk, en jy kan by sommige selfs die onfatsoenlike gedagtes op sy gesig sien by die aanskoue van Maggie se oordadighede – haar nommer 16-lyf ingewurm in ’n nommer 10-rok. Bogdan ken die tekens: ’n veraf blik in die oë, ’n lek oor die lippe, ’n wip van die adamsappel … dit alles wys ’n man se bloed is warm, die man is mens. Nie Lood die reptiel nie. Nee, hy kyk nie eens na haar nie, stel meer in die tee belang, leun effe vooroor en snuif-snuif aan die stoom uit die pot se tuit asof hy wil seker maak sy’t onthou hy drink net rooibos. En sterk, goed getrek. Op die skinkbord is ook geen melk of suiker nie, Maggie ken al sy smaak.
Nou is die dooie oë op die boekrak agter hom gerig, skynbaar totaal onbewus van Maggie wat haar gat swaai en tiete wip om by die kroegtoonbank drie vingers Macallan op ys te gaan skink. Sy sit die kristalglas op ’n glashouer langs Stella se foto neer en wals uit. Lood is besig om die porseleinkoppie met duim en wysvinger aan delikate oor na sy mond te lig, en Bogdan is opnuut verbaas oor die man se groot, sterk hande, buite verhouding tot sy skraal postuur, maer bors, krom skouers, seningrige nek en ingevalle grys stoppelwange.
Bogdan skuif ’n foto oor die lessenaar. “Hy noem homself die Pawn King en dink hy kan in my klub kom dobbel sonder om te betaal. Hy dink as ek hom voorskiet, hoef hy my nie terug te betaal as hy verloor nie. Hy kom speel baccarat en blackjack, suip my whisky, knyp my kelnerinne aan die gat en maak of die plek syne is. En as ek hom vra wanneer hy ’n slag betaal, het hy honderd en tien fokken verskonings. Ek soek my geld en ek wil hom nie weer sien nie. Verstaan jy?”
Lood knik.
Bogdan swaai sy groot draaistoel om na die boekrak agter hom. In die hoek langs die rak is ’n kas van dieselfde imbuia met vernis soos ’n spieël. Hy maak ’n deur oop, pons die elektroniese kluis se kode in en haal vier pakke note uit, skiet dit een vir een oor die blad na Lood toe.
Dié laat sak sy teekoppie en druk die foto en pakke note in sy sakke. Dit laat Bogdan goed voel: Lood wat wys dat hy hom vertrou deur die geld te vat sonder om dit eers te tel. Dis wat die band tussen hulle twee so heg maak, sulke tekens van respek en vertroue, soos Lood wat sy hoed vir hom afhaal.
Terwyl Lood vir hom nog ’n koppie tee skink, sê hy deur die stoom: “Nie weer die Saab nie.”
“Sê vir Maggie wat jy soek. Hoekom vat jy altyd die ou karre?”
“Ek hou van ou karre.”
“Luister, Lood, ek wil nie my lang neus in jou sake steek nie, maar wat doen jy met al die geld wat ek jou betaal? Ek bedoel, jy kan daarmee doen wat jy wil, dis nie my saak nie. Maar belê jy darem vir jou oudag? Ek meen, die een of ander tyd word ons almal oud, tree ons af, en dan wil ons nie sit en krepeer nie, nè? Ek’t ’n goeie plek, Morkel Wealth, ek kan ’n woordjie vir jou by hulle doen. Hulle vra nie uit oor die bron van inkomste nie, anders was ek nie by hulle nie. En hulle sal nóóit jou naam uitlap nie, nie eens aan my nie. Net een ding: Morkel vat nie minder as vyf miljoen nie, en dis vas vir ten minste drie jaar. Moet ek ’n woordjie vir jou doen? Dis nie maklik om by hom in te kom nie.”
Lood sluk sy tee en skud sy kop. “Dis oukei, dankie, Mister P.”
“Wat bedoel jy dis oukei? Jy sit tog sekerlik nie jou geld onder jou katel of in ’n bank nie.”
Bogdan sluk eers aan sy whisky. Soms wanneer hy in ’n goeie bui is, geniet hy dit om so met sy loodgieter te sit en ginnegaap, al is daar nooit veel reaksie nie. Buitendien, waar sal die man vyf miljoen in die hande kry, arme skepsel?
“Ek’t hierdie goeie … h’m … kreatiéwe boekhouer, maar selfs hý weet nie hoe Morkel dit regkry nie. In die globale krisis van 2007, 2008 het moerse banke oor die wêreld heen bankrot gespeel,