Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten


Скачать книгу
is nou duideliker, beslis meer as 10 000 r.p.m., hy skat die spoed van die fiets op so 130, 140 km/h.

      Hy draai die slinger tot die lap teen die dakrak se raam is, knip die briekgrendel stewig vas en toets die draad met sy hand. Dis styf gespan soos ’n snaar en die vibrasie maak ’n sagte pieng, skaars hoorbaar bo die gehuil van die motorfiets.

      Hy klim agter die stuurwiel in en staar stip na die aankomende lig.

      Toe die fiets oor die brug kom, word hy vir ’n oomblik verblind deur die skerp koplig, maar hy kan hom die swart figuur gebuig oor die handvatsels voorstel, die dun draad oor die pad onsigbaar teen só ’n snelheid.

      Die motorfiets dawer verby, SWOESJ! deur die oop ruit.

      En die loodgieter is verbaas dat niks meer dramaties gebeur nie, dat hy niks erger hoor of voel nie, net asof ’n sterk windvlaag skielik aan die kar pluk, en weer los. Maar in die truspieël sien hy nou die ligstreep van vonke oor die teerpad soos die stert van ’n komeet, en hy hoor die aaklige geskeur en geskuur van metaal en die hoë gekerm van die enjin.

      Die helse kakofonie duur net enkele sekondes.

      Dan, asof niks gebeur het nie, is die nag weer stil, maar ’n dieper stilte.

      Hy klim uit en snuif-snuif in die naglug. Steeds met die handskoene aan stap hy tot by die windpomp en draai die klembout los. Hy gaan wen die katrol agter in die bak op en maak die leer op die dakrak vas.

      Hy gaan lig met die flits op die teerpad waar die draad gespan was. Geen bloed nie. Hy klap die bak toe, maak ’n U-draai en bly in eerste rat op die skouer van die pad.

      So twintig, dertig meter verder val die flou kopligte op die eerste teken van iets wat gebeur het: ’n valhelm in die middel van die pad.

      Hy stop, klim uit en gaan staan by die helm, bestudeer dit in die skerp lig van sy flits. Hier is wel ’n poel bloed. Hy buk en haak sy vingers om die kenband van die helm, lig dit bakarm op sodat die bloed nie op hom drup nie. Dis verbasend swaar. Hy stap hinkend terug, maak die luikrug oop en sit die helm in die bak op ou olielappe neer. Hy stut dit met sy gereedskapkis sodat dit nie kan rondrol nie.

      Hy kruie aan tot sy ligte op ’n figuur soos ’n winkelpop in swart klere op die teerpad val, die arms en bene in onnatuurlike posisies verbuig. En koploos. Dié slag sien hy baie bloed, seker van die hart wat nog gepomp het nadat die nekare reeds afgesny was.

      Hy kry ’n stewel beet en sleep die liggaam van die pad af tot in ’n sloot. Hurk met ’n sagte kreun en rits die motorfietsbaadjie oop, vroetel in die binnesakke en kry ’n beursie. Met die flitslig in sy mond geklem beskou hy die inhoud. Hy sit die beursie terug en haal ’n selfoon uit, druk dit in sy eie sak en rits die baadjie toe. Hy druk met ’n palm op ’n knie om hom orent te stoot en kreun weer toe sy kniegewrig klap. Dit voel asof ’n gloeiende vuuryster in sy knie ingedruk word.

      Hy kruie aan en kry die eerste wrakstukke waar die slingerende fiets finaal momentum verloor en oor die teer geskuur en toe ’n voor deur die padskouer die veld in geploeg het.

      Die loodgieter staan in die ligte van sy kar en adem die reuke van petrol en uitlaatgasse en warm metaal en rubber en bloed en dood in.

      Dan klim hy terug in die Saab, steek ’n sigaret aan en ry Johannesburg toe. By die BP-vulstasie op die N1 draai hy van Beyers Naudé af en koop by ’n wegneemkosplek tee in ’n kartonkoppie. Hy sit in die kar, drink sy tee en bestudeer die adreslys op die motorfietsryer se selfoon. Sy skurwe lippe vorm die name terwyl hy lees: Antie, Bakkies, Boela, Elie, Hester, Leo, Lottie, Moks, Pauline, Poppie, Rasmus, Sampie …

      Hy blaai terug na Leo en druk die nommer. Die foon lui lank voor ’n slaperige stem sê: “Hallo …” Hy hoor iets val, ’n gemompel en die stem sê weer: “Hallo? Basie? Wat de moer bel jy dié tyd van die nag?”

      Die loodgieter beëindig die oproep, sluk aan sy tee en haal die selfoon se battery en SIM-kaart uit. Hy gaan gooi die battery en leë koppie in ’n vullisdrom. Die kaart sal hy by sy huis gaan opsny.

      Net voor een die oggend draai hy agter die Brixtontoring links uit Vygie in Pypiedraai in en hou stil. Hy klim uit, soek ’n hamer agter in die bak, kap die selfoon flenters en smyt die stukke tussen die lang gras en onkruid in. Hy sit die hamer terug en stap met die valhelm en ’n boutknipper na ’n huis agter ’n ogiesdraadheining. Die lendelam hek is met ’n ketting en slot vas. Die buurt se ou huisies lyk omtrent almal dieselfde: sierstene, skoorstene, stoepe met rooi waksvloere, tuine vol onkruid. Net die heinings verskil, en hier en daar is nog die oorspronklike kniehoogte muurtjies. In die skynsel van ’n straatlig sien hy die motorfiets langs die stoep staan, deur die voorwiel se speke aan ’n pilaar vasgeketting. Hy knip die hek se ketting af en gaan haak die valhelm aan die kenband oor een van die Honda se handvatsels.

      Dan ry hy na die Helen Joseph-hospitaal in Perth, skaars tien minute weg, vir sy laaste afspraak van die nag. Sy kontak, ’n nagverpleër by ongevalle, voorsien hom van ropivakaïen, handelsnaam Naropin, in ruil vir kontant. Pynstillers oor die toonbank het aan die begin die pyn in sy knie verlig, nie meer nie. Kortisoon help, maar het erge newe-effekte. Die nagverpleër het die kortisoon vir hom gegee, toe bupivakaïen. Dié het goed gewerk, totdat die loodgieter op ’n mediese webwerf gelees het dat bupivakaïen “kardiotoksies” kan wees vir sekere pasiënte. Met sy rokery wou hy nie so ’n kans waag nie.

      Die nagverpleër wou weet hoekom hy nie dokter toe gaan? Hy het gesê hy betaal die verpleër baie geld vir sterk medisyne, hy het nie ’n dokter ook nodig nie. Die verpleër sê hy dink die probleem is geskeurde kruisligamente, miskien selfs ontsteking in die kop van die femur. En dit gaan erger word.

      Die Naropin spuit hy direk onder die knieskyf in die ligamente in. Net lokale verdowing soos ropivakaïen verlig die ergste pyn. Daarvoor is hy bereid om die verpleër mildelik te vergoed, veral omdat dié ook suksinielcholien aan hom verkoop – suks, noem die vent dit.

      Die loodgieter gebruik nie die suks vir sy knie nie, dis vir ander mense bedoel. Dis ’n hoogs effektiewe spierverslapper; binneaars toegedien sal net 120 mg binne twintig sekondes elke spier in die liggaam verlam. Jy’s volkome by jou positiewe, maar totaal hulpeloos, het die verpleër gesê, jy kan letterlik nie jou oë knip of selfs asemhaal nie. Wat beteken sonder kunsmatige asemhaling is jy kapoet, sê die verpleër. En die verlamming kan tot vyf minute duur voor jy van die effek begin herstel.

      Om iemand vir daardie lewensbelangrike vyf minute te help asemhaal, sê die verpleër, gaan koop ’n klein CPR Pocket Mask, sommer by enige apteek. Plaas dit oor die mond en neus van die pasiënt en blaas lug deur die pypie met eenrigtingklep by die longe in. Dis baie meer effektief as mond-tot-mond om iemand te help asemhaal.

      Wat die loodgieter veral interesseer, naas die vinnige en potensieel dodelike werking van suks, is dat dit glo byna onmoontlik is om suks agterna in die liggaam op te spoor. Want dit metaboliseer tot molekules wat natuurlik in lewende selle voorkom, soos suksiensuur. En dis nie wat die verpleër sê nie, dis wat hy self op mediese webwerwe nagevors het.

400068_2.tif

      Maandagoggend teen dagbreek kom ’n padloper ’n paar honderd meter van die brug oor die Krokodilrivier op die eerste wrakstukke af. Dan, in die gras in ’n sloot langs die pad, sien hy ’n liggaam sonder kop. Hy gil en storm terug pad toe en kry die eerste taxi van die oggend gestop, van Kromdraai af op pad stad toe. Die taxibestuurder bel die polisie op Muldersdrift. Hulle stuur twee konstabels met ’n vangwa. Die padloper wys die lyk aan die konstabels en hulle bel die moordspeurders op Krugersdorp.

      Die verkeerspolisie sluit die M5 vir twee kilometer weerskante van die ongelukstoneel. ’n String polisievoertuie daag op: speurders, forensies, misdaadtoneelbestuur, honde-eenheid, video- en stilfotograaf, polisielykswa, forensiese patoloog.

      Die toneel word met geel polisielint afgesper, ’n omvattende toneel van byna ’n kilometer ver, van die plek waar die eerste bloedkol op die teer gekry is tot by ’n stuk van ’n truspieël, die laaste wrakstuk in die veld. Tussenin word elke stukkie van die motorfiets, hoe klein ook al, en elke spatseltjie bloed, skuurmerk, sleepmerk op


Скачать книгу