Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.loodgieter gaan sit oorkant die lessenaar, haal sy hoed af en skuif ’n geheuestokkie oor die gepoetste blad na sy werkgewer. Hy leun terug in sy stoel en hou Mister P dop: dié druk die geheuestokkie by sy rekenaar in, tik iets, frons, staar stilswyend na die skerm, knik ’n slag vir homself. Dan stoot ’n blos van sy nek en kiewe in sy wange op, tot hy rooi in die gesig en opgeblase soos ’n brulpadda daar sit.
Hy noem Mister P sy werkgewer, maar hy is op geen betaalstaat nie. Hy doen kontrakwerk en word kontant betaal; dis soos albei dit verkies. No names, no pack drill, sê Mister P.
Die loodgieter vee oor sy yl hare en kyk nou na sy hoed. ’n Mooi hoed, netjies op die hoek van die lessenaarblad, uit almal se pad uit. Wanneer hy sy werkgewer besoek, dra hy nie die vuil Van’s Plumbing-pet nie, dis onfatsoenlik. Sy fedora, liggrys vilt sonder stoffie of rafel, is nie Made in China nie. Die etiket binne aan die sweetband sê Made in Italy, glo met die hand gemaak, glo konynpels. In die swart hoedband is die grys spikkelveer. Dís nie Made in Italy nie, dis van een van die tarentale in die populierbos op sy plasie, daar by Koorsboom, noordwes van Johannesburg, Muldersdrift se koers toe.
Die loodgieter kyk op toe Mister P kug en iets brom. Maar dis blykbaar nie aan hom gerig nie, en hy laat sak weer sy blik, nou na die geraamde foto langs die leë whiskyglas en vol glasasbak waarin die vet sigaar lê en smoor. Uit die raam van delikate piouterfiligraan glimlag ’n jong vrou met skitterwit tande en klam bruin oë. Lang swart hare omraam haar gesig. Onder die vol rooi onderlip gee ’n klein moesie ’n eksotiese trek aan haar soel gelaat. Mister P se Stella.
Die loodgieter het hom eers verbeel hy sien sigeunerbloed in haar, dalk uit Mister P se ou geweste. Agterna gehoor nee, sy kom nie uit Roemenië, Hongarye of enige ander Oos-Europese plek nie, kom uit die Vrystaat, en dis sý wat hom Afrikaans leer praat het.
Teen die muur agter Mister P, langs sy kroegtoonbank, is rakke met ’n paar boeke en tydskrifte, ornamente, en nóg ’n foto, groter en in ’n silwerraam, van ’n ouer blonde vrou en twee seuns. Die loodgieter weet die foto is al ’n hele paar jaar terug geneem, want die seuns is nie meer só jonk nie. Mister P spog graag oor sy seuns, veral oor die oudste een, in matriek en ’n goeie rugbyspeler, soos sy pa glo eens was. Maar sou hulle weet van Stella in die piouterraam in die ereplek op hulle pa se lessenaar? Nee, dié verdwyn sekerlik in ’n laai as hulle hul pa hier in sy kantoor kom besoek, met of sonder hulle ma.
Mister P is veilig, niemand kan hom onverhoeds hier betrap nie, daarvoor word hy té goed beskerm. Sy eerste linie is sy lyfwagte, groot javels met dik nekke en boarms, kaal koppe, tatoes. Dan sy formidabele PA langsaan, Maggie, net ’n alarmknop ver van sy vingers af.
Hy skat Mister P al in die vyftig, skoon geskeer en silwer hare, of grys, afhangend van hoe die lig daarop val. Sy hemp is vandag dofpienk, met BOSS op die sak geborduur, boonste knope oop om sy goue nekketting te vertoon, knus tussen die grys borshare, of silwer, afhangend van die lig. Aan sy regterpinkie is ’n goue ring met ’n swart steen, aan sy ringvinger ’n eenvoudige troupand.
Die loodgieter dink aan die foto’s wat Mister P so aandagtig bestudeer. Hy het die wyehoekfoto’s self op die geheuestokkie gelaai: ’n kaal paartjie in verskeie intieme posisies op en tussen die wanordelike lakens van die groot dubbelbed. Die man lyk skaars twintig, met kort hare die kleur van hawermout, fris liggaam beswete, aan sy bors ’n klein tatoe wat lyk na ’n vlieënde voël. Ook die vrou se vel is bedek deur ’n sweetglans.
Die loodgieter het nie na ál die foto’s gekyk nie, dit interesseer hom nie. Hy wou net seker maak die gesigte is herkenbaar, die fokus skerp genoeg. Dit is. Op een soen sy die voël met pruillippe, op ’n ander lê ’n duidelike soenafdruk soos ’n rooi tatoe op sy maag. Sy lyk ouer as hy, miskien al vlak in die dertig, haar swart hare erg konfoes.
Mister P draai uiteindelik van die rekenaar weg en begin praat, stadig en sag en afgemete, dan al hoe harder, al hoe vinniger, werk homself op tot tierende waansin, slaan met sy vuis op die blad, klap die foto in die piouterraam om sodat die glas in skerwe oor die lessenaar spat, skreeu in tale.
Sy PA loer ’n slag besorg by die deur in. Hy jaag haar met woedende handgebaar terug asof sy die oorsaak van alles is.
Dan bedaar hy, vee met ’n sakdoek oor sy gesig, klad die spoeg van sy lippe en mondhoeke, haal diep asem, skink nog whisky, suig verwoed aan sy dooie sigaar, steek dit aan. En begin weer praat met blou wolke om sy kop, maar rustiger.
Die loodgieter luister, vra net enkele vrae. Hy verstaan sy opdragte.
’n Paar dae later, in ’n toonlokaal in Rosebank, bekyk die loodgieter die uitgestalde motorfietse een vir een: Honda, Ducati, Aprilia, Yamaha, BMW, Kawasaki … By die Kawasaki Ninja 250R steek hy vas.
Hy leun nader, druk sy pet agtertoe, bestudeer die prysetiket met spesifikasies. Dit registreer net vlugtig by hom dat die fiets binne ses sekondes van nul tot 60 km/h kan versnel, met ’n topsnelheid van 160 km/h. Hy stel veel meer belang in die sitplekhoogte, wat aangegee word as 785 mm. Hy haal ’n maatband uit sy ou leerbaadjie se sak, hurk langs die fiets en meet self die hoogte: ja, 785 mm.
Hy kyk om na die jong verkoopsman met geringde oor en gejelde hare. Hy sien dié het hom uiteindelik verwerdig om sy maer gat van sy stoel op te lig en kom oor die blink teëlvloer aangedrentel, selfoon in die hand.
Die loodgieter wag hom in. “Klim op,” beveel hy. “Sit op die saal.”
Die verkoopsman wil protesteer. Die loodgieter kry hom aan sy arm beet en druk hom na die fiets toe. “Klim op!”
Die verkoopsman klim op.
“Vat die handvatsels. Maak of jy ry.”
Die loodgieter meet die hoogte van die vloer tot by die ryer se skouers en laat rol sy maatband terug. Hy maak ’n aantekening in ’n klein notaboek en stap sonder groet uit na die ou Saab, die leer steeds op die dakrak.
* * *
Antie
Vroeg een Sondagoggend ná hy die fiets gekry het, skaars lig buite, verras Basie haar in die kombuis. “En as jy so vroeg uit die kooi is? Waarheen is jy op pad?”
“Brekfisrit, Antie. Saam met die Ruff Riders.”
Sy beskou hom. Hy staan trots voor haar in sy nuwe leerklere, sy houding uitdagend. Sy glimlag. Ai, my sagmoedige ou Basie, probeer tog so hard om ook rof en onbeskof te lyk.
“Is jy nou ’n Ruff Rider, Basie?”
“Nog nie, Antie, maar ek ken een. Hy’t my genooi om saam te ry, gesê ek moet kyk of ek dit like.”
Sy is effe onrustig. Sy weet sy kan hom nie bly oppiep nie, maar vir haar is hy nog pure kind. Herder, hy kan mos nie op negentien al ’n ding soos ’n Ruff Rider word nie!
“Is hulle soos die Hell’s Angels? Ek wil nie dat jy met sulke …”
“Nee, Antie, relax. Dis net ’n social club. Ry bietjie rond, chill op die bikes, geniet die buitelewe, voel die wind deur jou hare.”
“Nou ja toe, maar wees versigtig.”
Sy kyk hom agterna toe hy wegry. Nie een van Ester se kinders is eintlik van die breker-soort nie. Vat vir Elie. In die kleuterskool al met sy neus in boeke gesit. Ken van swaarkry, maar niks van ’n rowwe lewe nie.
Ná Elie is dit Rasmus, maar hulle verskil soos dag en nag. Gee hom ’n tang, nie ’n boek nie. Hy hou daarvan dat sy hande vuil word, veral in die binnegoed van ’n kar. Kom nie uit sy werkswinkel of dop uit nie. En erg broeis oor Basie.
Dan Poppie, die laatlam van sestien. Eintlik ook Ester gedoop na haar oorlede ma, maar almal noem haar van kleins af Poppie oor sy so mooi is. Vir Poppie sal die drie broers deur die hel loop en terug, weet Antie. Sy ook.
* * *
Die loodgieter
Buite is dit al diep skemer; binne by ’n hoektafel in die klubhuis in Fourways sit die loodgieter saam met ’n jong man, ring deur ’n neusvleuel, hare agteroor in ’n poniestert. Teen ’n muur is die klub se geraamde embleem: die naam Ruff Riders gesuperponeer op