Infanta. Deon Meyer

Читать онлайн книгу.

Infanta - Deon Meyer


Скачать книгу
daarvoor het sy ’n storie ontwikkel wat by hul verwagtinge pas. Sy wil dit nou weer vertel – dit lê op haar tong, geoefen, gereed.

      Sy trek haar asem in om tot verhaal te kom. “Ek kan vir jou sê ek was nog altyd ’n sex addict, ’n nimfomaan,” sê sy met ’n doelbewuste stemtoon.

      “Maar dis nie die waarheid nie,” sê hy.

      “Nee, dominee, dis nie die waarheid nie.”

      Hy knik asof haar antwoord sy goedkeuring wegdra. “Dit raak donker,” sê hy en staan op, skakel die staanlamp in die hoek aan. “Kan ek vir jou iets aanbied om te drink? Koffie? Tee?”

      “Tee sal lekker wees, dankie.” Wil hy tot verhaal kom? wonder sy.

      “Verskoon my dan,” sê hy en maak die deur skuins agter haar oop.

      Sy bly alleen agter en wonder wat die ergste ding is wat hy al gehoor het in dié studeerkamer. Watter kleindorpie-sondes? Tienerswangerskappe? Affairs? Vrydagaand-huismoles?

      Wat laat iemand soos hy hier bly? Miskien hou hy van die posisie, want dominees en dokters is somebody op die platteland, weet sy. Of vlug hy, soos sy? Soos hy nou net gevlug het, asof daar ’n sekere vlak van werklikheid is wat vir hom te veel raak.

      Hy kom terug, maak die deur agter hom toe. “My vrou sal nou-nou bring,” sê hy en gaan sit.

      Sy weet nie hoe om weer te begin nie. “Het ek jou upset?”

      Hy talm voor hy antwoord, asof hy die woorde iewers moet gaan bymekaar maak. “Wat my ontstel, is ’n wêreld – ’n samelewing – wat toelaat dat iemand soos jy die pad kan byster raak.”

      “Ons raak almal soms die pad byster.”

      “Ons word nie almal sekswerkers nie,” beduie hy met ’n groot hand na haar, om alles in te sluit. “Waarom was dit nodig?”

      “Jy is die tweede een wat dit só vra.”

      “O?”

      “Die ander een was ’n speurder in die Kaap met deurmekaar hare.” Sy glimlag toe sy onthou. “Griessel. Hy het sagte oë, maar hulle kyk déúr jou.”

      “Het jy vir hom die waarheid vertel?”

      “Ek het amper.”

      “Was hy ’n … wat noem ’n mens dit?”

      “’n Kliënt?” Sy glimlag.

      “Ja.”

      “Nee. Net … hy was … ek weet nie … verlore?”

      “Ek sien,” sê die dominee.

      Daar is ’n sagte klop aan die deur en hy moet opstaan om die tee te gaan haal.

      5

      Speurder-inspekteur Bennie Griessel maak sy oë oop en sy vrou staan hier oor hom, met een hand wat sy skouer skud, haar stem ’n dringende fluister: “Bennie,” sê sy. “Bennie, asseblief.”

      Hy lê op die bank in die sitkamer, dit weet hy. Hy moes hier aan die slaap geraak het. Hy ruik koffie, sy kop dik en seer, een arm onder hom, sonder gevoel, die bloedsomloop afgesny deur die gewig van sy lyf.

      “Ons moet praat, Bennie.”

      Hy kreun, probeer regop sit.

      “Ek het vir jou koffie gebring.”

      Hy sien haar, die diep lyne op haar gesig. Sy staan steeds gebukkend oor hom.

      “Hoe laat is dit?” Sy woorde sukkel om sy stembande te vind.

      “Dit is vyfuur, Bennie.” Sy gaan sit hier langs hom op die rusbank. “Drink die koffie.”

      Hy moet dit met sy linkerhand vat. Die beker is warm teen sy palm.

      “Dis vroeg,” sê hy.

      “Ek wil met jou praat voor die kinders wakker word.”

      Die boodskap van haar stemtoon en woorde dring tot hom deur. Hy skuif regop en die koffie stort op sy klere – hy het nog gister s’n aan. “Wat het ek gedoen?”

      Sy wys met haar vinger oor die oopplanvertrek. Die bottel Jack Daniel’s staan op die eetkamertafel langs sy onaangeraakte bord gekookte kos. Die asbak loop oor en ’n glas lê stukkend langs die omgekeerde kroegstoele by die ontbyttoonbank.

      Hy sluk aan die koffie. Dit brand sy mond, maar dit neem die siek smaak van die nag weg. “Ek is jammer,” sê hy.

      “Jammer is nie meer goed genoeg nie,” sê sy.

      “Anna …”

      “Nee, Bennie, ek kan nie meer nie. Ek kan nie meer nie.” Haar stemtoon is sonder infleksie.

      “Here, Anna.” Hy steek sy hand na haar toe uit, sien hoe dit bewe, die dronkenskap nog nie uit sy lyf uit nie. Toe hy aan haar skouer wil vat, beweeg sy weg van sy aanraking en dan sien hy die klein swelsel aan haar mond, reeds besig om wynrooi te verkleur.

      “Dis klaar. Sewentien jaar. Dis genoeg. Dis meer as wat enigiemand kan vra.”

      “Anna, ek … dit was die drank, jy weet ek het dit nie bedoel nie. Asseblief, jy weet dis nie ék nie.”

      “Jou seun het jou gisteraand van daardie stoel af gehelp, Bennie. Kan jy dit onthou? Weet jy wat jy vir hom gesê het? Kan jy onthou hoe jy gevloek en geskel het, tot jou oë omgedop het? Nee, Bennie, jy kan nie – jy kan nooit onthou nie. Weet jy wat hy vir jou gesê het, jou seun? Toe jy daar lê met jou oop mond en jou stink asem? Weet jy?” Die huil lê vlak, maar sy onderdruk dit.

      “Wat het hy gesê?”

      “Hy het gesê hy haat jou.”

      Hy neem dit in. “En Carla?”

      “Carla het haarself in haar kamer toegesluit.”

      “Ek sal met hulle praat, Anna, ek sal regmaak. Hulle weet dit is die werk. Hulle weet ek is anders …”

      “Nee, Bennie.”

      Hy hoor die finaliteit en sy hart trek saam. “Anna, asseblief.”

      Sy kyk nie na hom nie. Haar vinger trek die swelsel teen haar mond na en sy praat weg van hom af. “Dis wat ek elke keer vir hulle sê: dis die werk. Hy’s ’n goeie pa, dis net sy werk, julle moet verstaan. Maar ek glo dit nie meer nie. Húlle glo dit nie meer nie … Want dit is jy, Bennie. Dit is jy. Daar’s ander polisiemanne wat elke dag deur dieselfde ding gaan, maar hulle suip nie. Hulle vloek nie en hulle skel nie en hulle breek nie goed nie en slaan nie vrouens nie. Nou is dit klaar. Nou is dit heeltemal klaar.”

      “Ek sal ophou, Anna, jy weet ek hét al. Ek kán. Jy weet ek kan.”

      “Vir ses weke? Dit is jou rekord. Ses weke. My kinders het meer as dit nodig. Hulle verdien meer as dit. Ék verdien beter as dit.”

      “Óns kinders …”

      “’n Dronk man kan nie ’n pa wees nie.”

      Die selfbejammering oorval hom. Die vrees. “Ek kan nie help nie, Anna. Ek kan dit nie help nie, ek is swak, ek het jou nodig. Asseblief, ek het julle nodig – ek kan nie sonder julle nie.”

      “Ons het jou nie meer nodig nie, Bennie.” Sy staan op en dan sien hy die twee tasse wat agter haar op die vloer staan.

      “Jy kan nie. Dis my huis hierdie.” Smekend.

      “Wil jy hê ons moet op straat gaan sit? Want dit is óf jy óf ons. Jy moet kies, want ons bly nie meer onder een dak saam nie. Jy het ses maande, Bennie – dis wat ons jou gee. Ses maande om te kies tussen ons en die drank. As jy kan droog bly, kan jy terugkom, maar dit is jou laaste kans. Jy kan Sondae die kinders sien, as jy wil. Jy sal kom klop by die deur en as jy na drank ruik, sluit ek dit in jou gesig. As jy dronk is, hoef jy nie eens terug te kom nie.”

      “Anna …” Hy voel hoe die


Скачать книгу