Infanta. Deon Meyer

Читать онлайн книгу.

Infanta - Deon Meyer


Скачать книгу
gedra het. Maar later het sy dit in ’n bob gesny. Sy het gesê dit is oor die hitte, maar ek dink dit was oor my pa.”

      Sy oë is op haar gesig, op haar mond. Luister hy, hoor hy regtig? Sien hy haar soos sy was? Sal hy later onthou, wanneer sy haar groot bedrog voor hom onthul? Sy bly ’n oomblik stil, bring die koppie na haar lippe, sluk, sê selfbewus: “Dit gaan lank neem om jou alles te vertel.”

      “Dit is een ding wat hier volop is,” sê hy rustig. “Daar is baie tyd.”

      Sy beduie deur se kant toe. “Jy het ’n gesin en ek …”

      “Hulle weet ek is hier en hulle weet dit is my werk.”

      “Miskien moet ek môre weer kom.”

      “Vertel jou storie, Christine,” sê hy sag. “Kry dit uit jou uit.”

      “Sure?”

      “Absoluut.”

      Sy kyk af na haar koppie. Dit is halfvol. Sy lig dit, sluk alles met een teug af, sit dit op die piering en plaas dit terug in die skinkbord op die lessenaar. Trek weer haar been onder haar in, vou haar arms voor haar. “Ek weet nie waar dinge verander het nie,” sê sy. “Ons was soos almal. Miskien nie heeltemal nie, want my pa was ’n soldaat en in die skool was ons die Weermag-kinders. As die Flossies uitvlieg, het die hele dorp daarvan geweet – ons pa’s gaan teen die Kommuniste veg. Dan was ons special. Ek het daarvan gehou. Maar die meeste van die tyd was ons soos al die ander. Ek en Gerhard het skool toe gegaan en in die middag was my ma daar en ons het huiswerk gedoen en gespeel. Naweke het ons gaan shop en gebraai en gekuier en kerk toe gegaan en elke Desember was ons Hartenbos toe en daar was niks snaaks aan ons nie. Niks waarvan ek geweet het toe ek ses of agt of tien was nie. My pa was my hero. Ek onthou hoe hy geruik het as hy in die middag huis toe kom en hy kom druk my. Hy het my ‘ounooi’ genoem. Sy uniform met die blink sterre op sy skouers. En my ma …”

      “Leef hulle nog?” vra die dominee skielik.

      “My pa is dood,” sê sy. Met finaliteit, asof sy nie daaroor wil uitwei nie.

      “En jou ma?”

      “Ek het haar lanklaas gesien.”

      “O?”

      “Sy bly op Mosselbaai.”

      Hy sê niks.

      “Sy weet nou. Watse werk ek gedoen het.”

      “Maar sy het dit nie altyd geweet nie?”

      “Nee.”

      “Hoe het sy uitgevind?”

      Sy sug. “Dit is deel van die storie.”

      “En jy dink sy sal jou verwerp? Omdat sy weet?”

      “Ja. Nee … Ek dink sy is op ’n guilt trip.”

      “Omdat jy ’n prostituut geword het?”

      “Ja.”

      “Is sy skuldig?”

      Sy kan nie meer sit nie. Sy staan op, haastig, en loop na die muur agter haar om afstand tussen hulle te kry. Dan stap sy na die rugkant van die stoel, hou dit vas.

      “Miskien.”

      “O?”

      Sy sak haar kop, laat haar hare toe om haar gesig te bedek. Sy bly só staan, stil.

      “Sy was mooi,” sê sy eindelik, kyk op en lig haar hande van die stoel se rugkant af. Sy beweeg regs, na die boekrak toe, haar oë op die boeke, maar sy sien dit nie.

      “Hulle was in Durban vir honeymoon. En die foto’s … Sy kon enige man gekry het. Sy het ’n figure gehad. Haar gesig … sy was so mooi, so fyn. En sy het gelag, op al die foto’s. Partykeer dink ek dit is die laaste keer dat sy gelag het.”

      Sy draai na die predikant, leun haar skouer teen die boekrak, een hand liggies teen die boeke, vertroetelend. “Dit was soms seker vir my ma moeilik gewees as my pa weg was. Sy het nooit gekla nie. Wanneer sy geweet het hy kom terug, het sy die huis aan die kant gemaak, van hoek tot kant. Spring cleaning, het sy dit genoem. Maar nooit vir haarself nie. Netjies, ja. Skoon, maar sy het al hoe minder make-up gedra. Haar klere het al hoe losser geraak, en valer. En haar hare korter. Jy weet hoe dit is as jy elke dag saam met iemand leef – jy sien nie geleidelike veranderinge nie.”

      Sy vou haar arms weer, ’n omhelsing van haarself.

      “Die ding met die kerk … dit is seker waar dit begin het. Hy het van die grens af gekom en gesê ons gaan nou na ’n ander kerk toe. Nie meer die NG kerk op die basis nie, ons gaan na ’n dorpskerk toe, een wat Sondagoggende in die laerskoolsaal bymekaar kom. Hande klap en floutes en bekerings … Ek en Gerhard sou dit geniet het as hy nie so ernstig daaroor was nie. En skielik het ons elke aand huiskerk gehou en hy het gebid, lang gebede oor die duiwels wat in ons is. Hy het begin praat van uit die Weermag gaan, want hy wil gaan sendingwerk doen, en hy het heeldag met die Bybel begin loop, nie die klein soldatebybeltjie nie, ’n grote. Dit was ’n vicious circle, want die Weermag was seker eers geduldig, maar later het hy begin bid dat die Here die duiwels uit die kolonel en die brigadier ook moet dryf en dat die Here vir hom moet deure oopmaak.”

      Sy skud haar kop. “Dit moes vir my ma moeilik gewees het, maar sy het niks gedoen nie.”

      Sy loop terug na haar stoel. “Nie eens toe hy met my begin het nie.”

      7

      Hy ry met die bakkie Kaap toe, want die motorfiets sal te opsigtelik wees. Sy tas is langs hom op die sitplek. Van Port Elizabeth na Knysna. Hy sien die berge en die woude en hy wonder, soos altyd, hoe dit gelyk het ’n duisend jaar gelede, toe hier nog net Khoi en San was en die olifante in die digte bos getrompetter het. Anderkant George sit die huise van die rykes soos bonkige bosluise teen die duine, in stille mededinging om vasbytplek vir ’n beter see-uitsig te kry. Groot huise, heeljaar deur leeg, om dalk in Desember gevul te word vir ’n maand. Hy dink aan mevrou Ramphele se sinkkaia op die verskroeide vlakte buite Umtata, vyf mense in twee vertrekke, en hy weet die verskille in dié land is te groot.

      Maar dit sal nooit groot genoeg wees om die dood van ’n kind te regverdig nie. Hy wonder of Khoza en Ramphele hier verby is, of hulle dié pad gery het.

      Mosselbaai, verby Swellendam en oor die Breede, Caledon en eindelik, laat in die middag, kom hy oor Sir Lowrys. Die Kaap lê uitgestrek daar ver onder en die son skyn in sy oë waar dit laag oor Tafelberg hang. Hy voel geen blydskap oor die terugkeer nie, want die herinneringe wat dié plek bring, lê nou ongemaklik in hom.

      Hy ry Parow toe. Daar is ’n hotelletjie in Voortrekkerweg wat hy kan onthou, die New President, waar almal bly wat anoniem wil wees, ongeag jou ras of kleur.

      Dit is waar hy sal begin.

      * * *

      Griessel staan voor die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid se gebou in Bishop Lavis en oorweeg die moontlikhede.

      Hy kan die tas uit die kattebak haal en dit verby Mavis by ontvangs sleep, om die hoek en in die gang af tot by een van die groot badkamers wat behoue gebly het toe die ou Polisiekollege die nuwe EGM-kantore geword het. Sodat hy kan gaan stort en sy tande borsel en die stoppelbaard in die gebleikte spieël gaan afkrap en skoon klere aantrek. Maar dan gaan elke fokken poliesman in die Skiereiland binne ’n halfuur weet Bennie Griessel is deur sy vrou uit die huis uit gegooi. Dit is hoe dit werk in die Mag.

      Of hy kan nét so, onwelriekend en verkreukel, instap na sy kantoor toe en sê hy het die hele nag deur gewerk, maar dit is ’n storie wat net tydelik die skyn sal bewaar.

      Daar is ’n bottel Jack in sy lessenaar se laai en drie pakkies Clorets – twee slukke vir die senuwees, twee Clorets vir die asem en hy’s reg soos ’n roer. Here, om die dik, bruin vloeistof oor sy keel te voel afgly, al die pad hemel toe. Hy stamp die kattebak toe. Fok die stort, hy weet wat hy nodig het.

      Hy stap haastig, skielik lighartig. Fok jou, Anna. Sy kan dit nie doen nie, hy sal ’n fokken


Скачать книгу