Judaskus. Rudie van Rensburg

Читать онлайн книгу.

Judaskus - Rudie van Rensburg


Скачать книгу

      Date: Thu, Feb 13, 2014 at 5.45 PM

      Subject: Bloem-operasie

      Hallo Katrina

      Die grou lug en ysreëntjie hier in Amsterdam duur steeds onverpoos voort. Die koue het in my beendere gaan sit. Selfs die kaggelvuur in die personeelsitkamer van die universiteit kry dit nie nou verdryf nie. Hoe smag ek nie vandag na ’n bietjie hitte van my geboorteland nie!

      Het ’n vermoeiende dag gehad. Die studente was ook kliphard gevries, traag om te dink – wat klasgee soms maar uitputtend maak. En ek het vanaand nog twee aandklasse wat wag!

      Maar my nuus is darem nie net somber nie. Die besending Bloemgoedere het veilig geland in Doebai. Stef is nou besig om die produkte te verwerk. Ons het reeds ’n bestelling vir die 38 pienkes gekry teen ’n baie goeie prys. Die ander goedere behoort ook goed te vaar. Die totale opbrengs van die Bloem-operasie behoort die R3,5 miljoen-kerf maklik te oorskry, volgens Stef, wat maar altyd konserwatief is in sy skattings.

      Enige rimpelinge oor die ongelukkige voorval met die ou man in Bloem? Ek hou die SA koerante daagliks op die internet dop, maar sien nie werklik groot branders daaroor nie. Maar dis seker veilig om eers laag te lê.

      Ons een bedryfsman bekommer my soms. Dis die tweede keer dat hy fladderinge veroorsaak met onbehoorlike optredes. Hoe het die Spaanse skaakmeester De Segura gesê: “God duld selfs die swakste speler. Maar nie vir lank nie.”

      Wat my by ’n ernstiger saak uitbring: Ek neem kennis van jou besware oor my besluit om ons huidige operasies in dié spesifieke bedryf ná die Kaapse ekskursie te los. Maar jy weet goed dit was nog altyd Orde-beleid om nie langer as drie jaar betrokke te wees in ’n bedryf nie. Die risiko’s neem jaarliks net toe. En kom ons wees eerlik met mekaar: Ons het die afgelope paar jaar noue ontkomings beleef.

      Vertrou my oordeel. Ek het ook nie regtig nodig om my besluit te motiveer nie!

      Tog net dit: My belangrikste oorweging vir die besluit is Vera. Die kind is hopeloos te nou betrokke by die operasionele sy van sake. Ek het my die afgelope drie jaar dood bekommer daaroor. Ek wil haar vorentoe nie weer daaraan blootstel nie.

      By die twee opsies wat ek tans ondersoek om in die toekoms by betrokke te raak, gaan ons haar talente beslis op ’n minder riskante manier inspan.

      Laat weet my hoe julle vorder met die beplanning van die Kaapse operasies.

      Iskariot

      From: [email protected]

      To: [email protected]

      Date: Thu, Feb 13, 2014, 6.31 PM

      Subject: Re: Bloem-operasie

      Hallo Iskariot

      Ek sal jou ruil vir ’n bietjie Hollandse ysreën. Hier sweet ons emmers vol!

      Ek neem kennis van jou besluit om die huidige bedryf te groet en dit is goed so. Soos gewoonlik is jy reg. Jammer dat ek jou bevraagteken het. Swys stem ook saam met jou. Trouens, hy het lankal gedink die risiko’s neem toe.

      En ja, ek bekommer my ook oor Vera. Maar ai, om haar in toom te hou bly ’n helse uitdaging.

      Met die beplanning van die Kaapse operasies gaan dit goed. Een risiko is minstens uitgeskakel: die sekuriteitsmense gaan ons nie pla nie, wat ’n groot bonus is. Joep is nogal senuweeagtig daaroor, maar hy stem saam dis die veiligste manier. Al gaan dit weer ’n paar kruisies agter sy firma se naam beteken! Maar ter wille van die groter saak sal hy daarmee kan saamleef.

      Ons beplan drie operasies: een in Rondebosch, een in Bellville en een op Stellenbosch. Al drie het vragte produkte. My vermoede is die opbrengs gaan nog groter wees as die Bloem-operasie s’n.

      Ons het nog nie spesifieke datums nie – soos jy weet, speel baie dinge ’n rol om die regte dae te kies. Maar ons sal die bedryfsmanne binnekort laat kom om hulle voor te berei.

      Wat my by die groot vraag uitbring: Wat doen ons met dié twee ná die laaste Kaapse operasie? Gaan daar plek wees vir hulle in die toekomstige aktiwiteite?

      Laat weet, asseblief – dit gaan my beplanning ook beïnvloed.

      Groete

      Katrina

      From: [email protected]

      To: [email protected]

      Subject: Re: Bloem-operasie

      Date: Thu, Feb 13, 2014, 11.16 PM

      Hallo Katrina

      Ek het nie tyd gehad om vroeër na jou terug te kom nie. ’n Lastige kollega het hom ongenooid by my aangesluit terwyl ek op my skootrekenaar besig was in die gemeenskaplike sitkamer.

      Daarna moes ek eers deur twee klasse swoeg. “De pers en de Amerikaanse vrijheidsoorlog” was nie vir my of die studente noodwendig ’n opwindende onderwerp nie, maar ek kon hulle aandag darem behou.

      My antwoord op jou vraag oor die bedryfsmanne is kort en kragtig: Neem op ’n geskikte manier afskeid van hulle. Hulle sal beslis nie vorentoe gehuisves kan word nie. Ons gaan mense met ander vaardighede nodig hê.

      En soos ons destyds met hulle keuringsproses al bepaal het: niemand gaan sommer weer navraag doen oor hulle nie.

      Iskariot

      15

      “Alwyn het talle kere genoem hy gaan eendag sy versameling nalaat aan jou. Hy’t altyd gesê jy’s die enigste een wat dit regtig sal waardeer. Wat gaan ek tog daarmee doen? Nie my dogter en haar man óf hulle twee kinders stel in seëls belang nie. So, moenie sleg voel daaroor nie. Dit staan tog baie duidelik so geskryf in Alwyn se testament: jy kry dit. En ek aanvaar dit so.”

      “Wel, mevrou, ek … ek is nog stomgeslaan daaroor. Ek weet … weet regtig nie hoe om my dankbaarheid …” stamel Kassie.

      “Basta met die baie gedankiesê,” knip Bettie Calitz hom kort. “Ek reël dat my skoonseun dit vir jou aanstuur. Ons sal die versekering ook van dié kant af reël.”

      Toe Kassie aflui, sak hy op sy bed neer. Sy bene is die ene jellie. Dít het hy nooit verwag nie. Alwyn Calitz was een van die grootste versamelaars van veral internasionale seëls in Suid-Afrika. Sy uitgebreide Amerikaanse seëlversameling is al by geleentheid in Washington uitgestal.

      Kassie skud sy kop. Hy sou eerder wou hê Alwyn moet nog lewe. Hy voel skuldig om so in ekstase te wees oor dié groot geskenk.

      Hy het Bettie Calitz vroegoggend gebel om sy simpatie oor te dra met haar verlies. Sy het eers die aaklige gebeure van daardie nag in die fynste besonderhede vertel. Hy het skoon ongemaklik gevoel – dit het geklink of sy ’n verklaring aflê aan die polisie. Hy was nie seker of sy onder die indruk verkeer dat hy uit die Kaap iets aan die saak kan doen nie. Volgens haar het die polisie in Bloemfontein nog met geen verdagtes of leidrade vorendag gekom nie.

      En toe vertel sy hom van die seëls. Hy sluk. Hy gaan vandag moeilik op sy werk konsentreer.

      Hy kom orent. Tyd om te stort en aan te trek. Voordat hy badkamer toe loop, beskou hy homself eers in die staanspieël in die slaapkamer. Hy sug. Sy maag kan ’n mens seker nie ’n bierpens noem nie, dalk ’n boepmagie. Maar dié is nog groter as toe hy ’n jaar gelede met sy maagspieroefeninge begin het. Hy sal moontlik meer as net tien opstote per dag moet oorweeg. Waar’s die dae toe hy van hamburgers en pizzas geleef het sonder om ’n enkele kilogram op te tel? Noudat hy merendeels gesond probeer eet, groei sy maag soos ’n swanger vrou s’n.

      Hy stel die klank van die hoëtroustel in die kombuis hard voordat hy die stortkrane oopdraai in die aangrensende badkamer. Hy hou daarvan om hom in te seep op maat van die “Soepvleespolka”.

      Ná hy gestort en geskeer het, trek hy vinnig aan, room en kam sy hare. Hy haal ’n vars pakkie sigarette uit die koskas.

      Net toe hy die voordeur wil oopmaak, vang sy oog die stapel seëlboeke wat hy op Hermanus gekoop het. Dit lê nog op die rusbank waar hy dit gisteraand neergesit


Скачать книгу