Judaskus. Rudie van Rensburg

Читать онлайн книгу.

Judaskus - Rudie van Rensburg


Скачать книгу

      “Uitgepass?”

      “Ja, asof hy onder verdowing was. Hy’t eers heelwat later bygekom. Hy’t beweer hy weet nie hoe hy daar gekom het nie, maar al die bewyse was daar: sy klere in ’n tassie, sy rewolwer onder die kopkussing – dit maar net terloops.”

      “Eienaardig … Wat het Vos daarvan gesê?”

      “Dat Broeksma maar net sy babelaas afgeslaap het … hoewel daar geen teken van drank in die kamer was nie.”

      “En Knobel se vrou? Het sy enige leidrade verskaf of vermoedens gehad?”

      “Nee, ek weet nie. Vos het met haar gaan praat. Maar dié donner was so oortuig hy’s reg dat niks wat sy gesê het ’n indruk op hom sou gemaak het nie. Dalk kan jy weer met haar gaan praat. Ek was destyds vinnig by haar aan om ’n foto van haar man te gaan haal. Sy kan heel moontlik nog lewe, was seker tien of meer jaar jonger as Knobel.”

      “Wonder of sy nog in Rondebosch bly?”

      “Dié weet ek nie.”

      “En Vos?”

      “Hy’t dieselfde tyd as ek padgegee by die polisie. Weet nie wat hy nou doen nie, maar ek dink hy bly iewers in die noordelike voorstede. Maar jy gaan net jou tyd mors. Soos ek daai poephol ken, sal hy nooit erken hy was verkeerd nie.”

      “Thanks vir die hulp, Snoek. As ek weer in die Paarl is, kom maak ek ’n draai by jou.”

      “Nee, maar dis reg. Ek hou vir jou ’n lekker vars snoek op die ys.”

      Toe Kassie die selfoon dooddruk, is Rooi op sy voete.

      “Bliksis, dis vir jou ’n ding!”

      Kassie knik. “En ons het gedink ons kan die dossier finaal sluit.” Hy staar voor hom uit. “Die saak ruik die ene bleddie muishond.”

      10

      TJ lê uitgestrek op sy bed. Hy kyk hoe die eerste sonstrale patrone op die gordyne maak. Die dae gaan te stadig verby. Hy’s gatvol vir hierdie vier mure én vir die bleddie fabrieksdorp. Hoe lank aaneen kan jy computer games speel of TV kyk?

      En hy en Daisy kan nooit iewers heen gaan nie. Negende gebod: “Julle mag nooit saam gesien word buite die huis nie.” Hy wil net soms saam met haar gaan uiteet of movies toe gaan, selfs net iewers gaan stap langs ’n dam en piekniek hou. Nie dat hy eintlik ’n ou is vir sulke romantiese shit nie, maar die hel alleen weet, hy wil net weer kan lewe sonder die Orde se gebooie.

      Hy hoor hoe Daisy die krane in die stort toedraai. Sy verskyn in die deur, waterdruppels wat blink op haar wit vel. Haar nat hare hang in slierte tot op haar skouers. Die tepels van haar klein borsies staan punt in die wind, heupbene uitdagend vorentoe gedruk, bene wyd uitmekaar. Dit lyk kompleet of sy pose vir ’n Playboy-fotosessie. Die drang vir haar begin in hom opwel.

      Dan is sy laggend bo-op hom. Sy stroop sy slaapbroek af. Hy wil haar nader trek sodat sy langs hom kan lê, maar sy ontwyk sy grypende hande. Sy is nou in volle beheer – soos sy daarvan hou. Die waterdruppels in haar hare maak ’n ligte sproei oor sy bolyf toe haar pas versnel. Sy oë gaan toe, sy liggaam ruk. Dan weergalm haar gille deur die kamer.

      Sy val langs hom neer, ’n rooi blos op haar wange. Hy wil sy arm om haar sit, maar sy druk dit weg en staan op.

      “Nou moet ek wéér gaan stort,” sê sy amper beskuldigend en stap vinnig badkamer toe.

      Hy weet daar’s geen sprake van verliefdheid aan haar kant nie. “Kom ons geniet net mekaar se lywe,” het sy gesê toe hy die onderwerp aanroer. Dis vir hom vreemd; hy’s nie gewoond aan sulke vroue nie.

      Maar Daisy is … wel, Daisy is anders. Geheimsinnig. Onvoorspelbaar.

      Hulle bedsports is maar net twee maande oud. Voorheen het sy haar nie veel aan hom gesteur nie. Hy’t vermoed dat sy ’n ander man sien, want sy het min by die huis geslaap.

      Hy’t in elk geval gedink hy’s te oud vir haar. Hy twyfel of sy al dertig is.

      Toe eendag terwyl hy besig was om in sy kamer met sy weights te oefen, het sy onverwags by die deur ingeloer, hom half verbaas aangekyk. “Nie ’n slegte lyf vir ’n outoppie nie, TJ.”

      “Ek’s ver van ’n outoppie af, my skat. Forty is die new thirty,” het hy gesê.

      Sy’t nader gestap en met haar vingers oor sy kaal bolyf gestreel. “Lekker stywe spiere …” Toe staan sy op haar tone en soen hom vol op die lippe, draai om en loop uit met ’n giggellaggie.

      Die paar weke daarna het haar roetine dieselfde gebly en sy het nooit weer na hulle oomblik in sy kamer verwys nie. Een aand het sy – tot sy en Snake se verbasing – aangebied om vir hulle kos te maak. Sy’t selfs saam met hulle ’n movie op TV gekyk.

      Kort ná middernag, hy het al geslaap, was sy in sy kamer. Hy’t gedink hy droom toe haar hande sy lyf begin betas. “Daisy!” het hy effe verskrik gesê, maar sy het net gelag, die bedlampie aangesit en hom bespring. Van toe af is sy elke aand in sy bed. Gedurende die dag, wanneer sy wel hier is, is sy afsydig, amper asof hy nie bestaan nie.

      Hy wil dit nie graag aan homself erken nie, maar sy gevoel vir haar begin groei. Hy’s fokken jaloers as sy bedags in die BMW klim en ry. Gaan sien sy nou die ander man? wonder hy altyd. Maar gewoonlik kom sy terug met vragte nuwe klere, dan voel hy beter.

      Toe sy weer uit die badkamer kom, kyk sy nie na hom nie. Sy trek ’n wit T-hemp en swart jeans aan, haar rug na hom.

      “Enige planne vir die dag?” waag hy om te vra.

      “Ek gaan in Joburg shop.”

      “Take me with you, Tierkat.”

      “Jy ken die gebooie,” sê sy oor haar skouer.

      “Ek sal op die agterseat lê. Niemand sal my sien nie. Of ek sal met my kar ry en jou daar kry. Dan gaan eet ons by ’n stil restaurant.”

      Sy swaai skielik om, ’n harde uitdrukking in haar oë, heeltemal anders as die speelsheid van vroeër. “Jy moenie onnodig vir moeilikheid soek nie, TJ. Moenie die Orde wil uitdaag nie. Só gaan jy jou gat sien.”

      Sy loop uit die kamer en klap die deur met ’n slag agter haar toe.

      Hy bly net op die bed lê en staar na die plafon. Die Orde beheer Daisy soos ’n puppet. Hy skud sy kop. Nee, niemand kan haar beheer nie. Kan sy dalk deel wees van die Orde se topstruktuur?

      • • •

      Victor skrop die laaste deel van die gangvloer skoon. In sy ma se slaapkamer maak hy die vensters wyd oop. Die mop gly oor die blokkiesvloer terwyl hy na die strelende klanke van ’n klassieke musiekstasie op die radio luister. Hy vee die ingeboude kaste met ’n lap skoon, olie die deure en die groot houtkopstuk van sy ma se bed.

      Hy kyk op sy horlosie. Dit het hom ’n uur geneem om die kamer weer leefbaar te kry.

      Hy gaan sit op sy ma se bed, neem die Bybeltjie op die bedkassie en blaai dit oop. Vergeelde foto’s – van hom, sy ma en pa, sy oupa en ouma en hul groot huis in Constantia – is geliasseer tussen die blaaie. Hy kyk na die foto’s en baai in die warm gloed van gelukkige herinneringe. Dan sit hy almal sorgvuldig terug in die Bybel.

      Hy loop deur die woonstel, beskou elke vertrek krities. Hy’t ’n goeie job gedoen.

      In sy kamer val hy op die bed neer. Nóú kan hy begin fokus. Dis tyd om die oefeningboek uit te haal.

      Maar hy’s nog bang vir sy reaksie as hy die storie klaar gelees het. Dit gaan ou emosies wakker maak, en hy kan nie bekostig om kop te verloor nie.

      11

      Hemingway’s Bookshop is in die hart van Hermanus se middedorp. Kassie onthou goed hoe professor Kotze, ook ’n groot seëlversamelaar, liries geraak het oor die plek.

      “Kassie, as jy ooit op Hermanus kom, móét jy daar ’n draai


Скачать книгу