Judaskus. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.in die army, toe in charge van ’n sekuriteitsfirma se patrollie-eenheid in Joburg, toe hoof van sekuriteit by ’n Randse juwelierskettinggroep. Hulle het ook goed geweet hy het omtrent fokkol verdien, fancy title ofte not.
Hy was reg vir ’n verandering. Lankal geskei van sy vrou, vervreem van sy kids, dik vir sy armgatbestaan – die Orde se timing was perfek. Op 37 was hy nog jonk genoeg vir ’n nuwe uitdaging, al is die risiko’s hoog. Hy moes aanmeld by ’n huis in Aucklandpark, en daar het hy Snake ontmoet, toe ook pas gewerf deur die Orde. Snake se claim to fame is dat hy by drie verskillende firmas gewerk het wat kluise vervaardig en installeer.
V en E het hulle ingewag by die huis. Gemasker. Tot vandag toe het TJ nog nooit hulle gesigte gesien nie, maar die twee gemaskerdes het bleddie intimiderend gelyk.
• • •
Die hoop dossiere op Kassie se lessenaar kantel vir die soveelste keer om. Hy vat ’n klomp van die lêers en sit dit langs sy stoel op die vloer neer. Hy’s nie so gelukkig soos Daniels om ’n vliegdekskip vir ’n lessenaar te hê nie.
Sy oë kyk al oorkruis vandat hy twee dae gelede inligting begin soek het oor die Snawelman, soos Daniels die slagoffer nou amptelik gedoop het. Tussen Kassie en Magrieta het hulle elkeen seker al deur ’n vyftigstuks dossiere geswoeg.
Die probleem is hulle weet nie regtig waarna hulle soek nie. ’n Vermiste, is Kassie se beste raaiskoot. Maar dis nie vanselfsprekend nie. Wat dinge verder bemoeilik, is dat die Snawelman ongeveer sewe jaar gelede dood is, wat beteken hulle moet deur alle onafgehandelde dossiere van tussen vyf en nege jaar gelede werk. Dis ’n móérse lot en nog ’n bietjie.
Kassie stoot sy stoel steunend terug. Tyd om ’n dampie te gaan slaan. Net toe hy wil opstaan, kom sersant Rooi Els met lang treë aangestap.
Rooi is uitasem, breë glimlag op sy blinkgeswete sproetgesig. “Bingo, Kassie, bingo!” sê hy en oorhandig twee groot koeverte.
“Wat’s dit?” vra Kassie.
“Ek’t ’n match vir Snawelman se tanne gekry!” sê Rooi ekstaties. Hy beduie na die venster bo Da Silva se lessenaar. “Net hier skuins agter die mall, by ’n klein praktyk. Van Tonder is die tandarts. Hy’t sewe en ’n half jaar terug nog ’n kroon vir Snawelman ingesit. Hy’t daai skets van Snawelman en die X-rays van sy tande net een kyk gegee, toe sê hy daai groot neus en bek vol stopsels herinner hom aan ’n man wat járre terug by hom was. En wragtig, daar strike ons goud.” Hy beduie na die twee koeverte. “Tjek maar self.”
Kassie bekyk die eerste koevert se dokumente. ’n Afskrif van die man se ellelange geskiedenis by die tandarts wys sy naam is Daniel Knobel, geboortedatum 3 Junie 1924, Rondebosch-adres. In ’n kort verklaring skryf dokter Van Tonder die X-strale stem honderd persent ooreen met die stel wat hy het en die tande behoort sonder twyfel aan Knobel. Die X-strale van die lab en die tandarts is in die ander koevert.
Kassie sit die twee stelle langs mekaar en bestudeer dit aandagtig. Dan kyk hy op na Rooi, wat angstig wag op sy reaksie. “Nice werk, Rooi, baie nice. Dis ons man. Gaan vertel vir die kolonel van jou deurbraak.”
Rooi se sproetgesig blom. “Thanks, Kassie. Ek gaan hom sommer nóú sê.”
Kassie kyk die jong sersant agterna terwyl hy na Daniels se kantoor drafstap. Die ouens hier spot agteraf met Rooi oor sy kort, dik lyfie, maar daai mannetjie gaan nog ’n verdomde goeie speurder word, dink hy. Rooi se geesdrif vir die job ken geen perke nie, en dis al wat ’n mens van ’n partner kan vra.
8
V en E het destyds in Aucklandpark lank met TJ en Snake gepraat. Amper te goed om waar te wees: ’n tax-free forty K ’n maand, gratis blyplek, motors, geen overheads behalwe eie kos nie. Petrol, wapens, tools wat hulle nodig het om die job te doen, word deur die Orde betaal of verskaf. In ruil daarvoor moet hulle nou en dan ’n job doen. Min of meer een keer ’n maand, soms twee keer. En hulle hoef nie voor die tyd te worry oor die fyner detail nie, die Orde doen die navorsing en die veldkornette die voetwerk.
Hulle het opleiding in die Kaap gekry, Melkbosstrand. Die Orde het buite seisoen ’n vakansiehuis vir twee maande gehuur, V en E het hulle deur die dril gevat. Dié twee Skimme, soos Snake hulle noem, ken hulle storie: opleiding in die fyner kunsies van inbreek, hoe om teenoor die slagoffers op te tree, hoe om nie leidrade te los nie en hoe die polisie en securityvinke se koppe werk. Die tien gebooie van die Orde is breedvoerig aan hulle verduidelik, ’n bleddie intensiewe kursus.
TJ was verras toe hy hoor hulle moet op Sasolburg bly, maar V wou hulle nie in ’n groot stad hê nie, die cops is te skerp daar. Hul drieslaapkamerhuis op Sasolburg is afgesonder, teenaan ’n park en omring met ’n hoë muur. TJ huur die plek in sy naam en die Orde vergoed hom maandeliks in kontant vir die huurgeld, water en elektrisiteit.
Die Orde maak seker niks kan na hulle getrace word nie. Al vang die cops hom en Snake, is die Orde veilig. Hulle weet nie wat hul werkgewers se regte name is nie, hoe hulle lyk of waar hulle presies in die Kaap woon nie. Shrewd bliksems. Maar solank hulle betaal, is TJ happy … hoewel hy soms onrustig raak oor sy toekoms by die Orde. Dit kan hy nie ontken nie, en dit begin ál meer aan hom vreet.
Iets wat oor en oor by hulle ingedril is, is die Orde se eerste gebod: Jy mag nie steel nie. Dit kom daarop neer dat hulle dit vir geen oomblik moet oorweeg om van die gesteelde juwele te wil pocket nie.
“Vind ons ooit uit een van julle het van die buit vir julleself gevat, hoe klein of gering in waarde ook al, sal dit nie net die einde van julle loopbane by die Orde wees nie, maar ook die einde van julle lewens. En dis ’n belofte,” het V tydens hul opleidingsessie gesê. En hoewel die versoeking soms groot is, weet hy en Snake al twee dit gaan nie die moeite werd wees om dié gebod te oortree nie.
Twee weke nadat TJ en Snake in die huis op Sasolburg ingetrek het, het Daisy haar aangemeld as derde spanlid. Sy bestuur die getaway-kar gedurende operasies. Sy’t van kleintyd af rondgejaag op motorfietse, glo maar altyd ’n wilde kat gewees.
Wat presies Daisy se verhouding met die Orde is, is steeds vir TJ onduidelik. Al deel hulle die afgelope twee maande ’n bed, praat sy nie daaroor nie. Hy vermoed sy doen al jare lank jobs vir die Orde.
Dat sy weet hoe om ’n kar te bestuur, het hy en Snake gou uitgevind. Hulle het amper hulle holle in Kimberley gesien. Hulle het ’n caterpillar gebruik om ’n gat in die buitemuur van ’n diamantstoor te stoot en toe ’n swaar kluis vol diamante op ’n vragmotor gelaai. In ’n afgeleë veld het Snake sy magic op die kluis gewerk, die ding oopgekry ná drie ure se sweet. Hulle was nog besig om die diamante oor te laai toe die cops in hulle hordes aangejaag kom met loeiende sirenes en blou ligte.
Daisy het gewag vir die cops om nader te kom. Dié het hulle in ’n formasie van vier voertuie probeer wegkeer van die grootpad. Sy het met ’n moerse spoed weggetrek, die BMW ’n paar keer in die rondte laat tol om soveel stof as moontlik op te skop en toe deur die nouste van gaps tussen twee bakkies geskiet. Toe hulle al op die grootpad was, het die cops eers besef die BMW het tussen die stofwolke verdwyn.
Gelukkig doen hulle nie meer sulke gevaarlike jobs nie. V het besluit dit maak te veel mediageraas, hulle sal vorentoe net op huise konsentreer.
TJ kyk op toe Snake se seningrige lyf in die deur verskyn. Sy wit hare hang in slierte langs sy gesig af, sy dun lippe getrek in ’n sieklike smile.
“En as jy h-h-hier so alleen l-lê?” Snake wys na die TV. “Nie geweet jy kyk rugby nie. Gedink jy en Daisy is in die k-k-kooi besig. Fokkit, julle k-k-kan darem lawaai in die nagte!”
Sy irriterende runniklaggie weergalm soos ’n sirene in TJ se kop en bloed stoot in sy gesig op. Hy sit regop.
“Sê nog een keer iets daaroor en ek bliksem jou!”
“Jy en w-w-wie?” vra Snake uitdagend. Runniklaggie, nikotiengevlekte tande.
TJ sak terug op die bank. Hy sal Snake maklik gelyk met die grond kan maak, maar hy moet hom inhou. Nie die moeite werd om hom te vervies vir dié aap nie. ’n Bakleiery kan net V se ore bereik en dan het hulle