Gabriella en die Hertog van Harte. Marga Jonker
Читать онлайн книгу.Vertel! Maar eers …” Lea het haar lang ligbruin hare agtertoe geskud, haar bene gekruis en haar hande gevryf. “Sit so in die jogaposisie en haal diep asem, dit sal jou kalm hou.” Sy wou juis haar nuwe jogategnieke en Dalai Lama-filosofieë met Gabi en Nali deel.
Nali het ’n geel blommetjieknippie in haar mieliestronkvlegsel ingedruk. “Jy klink nie beïndruk nie. Ek dog jy sê jou pa is droewig en eensaam? Kom, ek sal saam met jou die asemhalingsoefeninge doen. Lea is nogal reg oor die oefeninge, dit help mens ontspan.”
“Ek hét gedink my pa gaan dalk eensaam wees wanneer Klaus en Claudia trek, maar …” Gabi se stem het begin bewe.
“Raak nou eers kalm en haal diep en stadig asem. Asem in deur jou neus en blaas hard uit deur jou mond,” het Lea voorgestel.
“Jou pa gaan baie alleen wees op Big Sky as Klaus en sy vrou trek en jy hier by die skool is. Jy moet eintlik bly wees hy het iemand ontmoet, man,” het Nali haar probeer troos.
“Ja, maar ek wou darem nie gehad het ’n vroumens moes hom soos ’n tsoenami tref nie. Hoekom kon dit nie eerder iemand soos Claudia wees nie?”
“Asem in, asem uit. In deur jou neus, uit deur jou mond. Waarom dink jy sy is soos ’n tsoenami?” wou Lea weet.
“My pa is ’n stil mens en hierdie vrou praat verskriklik baie. Hy sou nooit in haar belanggestel het as sy nie eerste met hom begin gesels het nie. Hy was net daar soos ’n vakansieganger op ’n rustige strand en sy het soos ’n aardbewing onder die see uitgekom en soos ’n reusebrander oor hom gebars. En oor my.”
“Goed, kom ons haal weer asem. Herhaal dit ses keer. Asem in deur jou neus, uit deur jou mond,” het Lea oordrewe kalm gesê.
“Is sy ’n Barbiepop-mens?” het Nali gevra. “Voel jy dalk sy is nie opreg nie?”
“Haar hare staan donker en krullerig soos ’n swart donderstorm om haar kop. Sy is niks soos ’n Barbie of ’n pop nie, eerder soos ’n spinnekop! Sy wikkel en spin met haar stem en hande ’n web vir my pa. Sy is dodelik!”
Lea en Nali het geskok na haar gestaar.
“’n Reusebrander én ’n spinnekop. Dit klink baie erg.” Daar was ’n besorgde klank in Nali se stem.
“Ek dink jy moet die Dalai Lama se boek oor vrede en vredeliewendheid lees,” het Lea voorgestel.
Nali het bekommerd na Gabi gekyk. “Ek weet nou nie van die Dalai Lama se lewensfilosofieë nie, maar jy sal dalk ter wille van jou pa iets moet doen wat vir jóú meer vrede kan bring.”
“Genade, Nali, jy klink nou asof jy in Lea se snaakse boeke begin glo.” Gabi se stem was kwaai. “Ek sal julle sê wat ék dink ek moet doen. Ek moet liewer karate gaan neem dat ek ’n ninja kan word en haar met een hou kan optjop!”
Lea en Nali het na mekaar gekyk. Toe sê hulle gelyk: “Asem in deur jou neus en blaas uit deur jou mond.”
Dit was vier maande gelede. Daar was ’n klein blitstroue vroeg in Maart. Patricia en haar pa het in Londen gaan wittebrood hou. En ná die vakansie het haar pa se nuwe vrou met haar berge klere, hoëhakskoene en juwele in Big Sky se plaashuis ingetrek.
3
Die perdefluisteraar van graad 10A
Robert voel hoe sy asem begin jaag. Tikki hardloop verbasend vinnig vir ’n kort outjie met rubberstewels aan. Af in die pad omsoom met akkerbome, teen die lyndraad af, oor die bruggie, verby die onderhoof se huis, verby mnr. Smit se plaasbestuurderhuis tot by die stalle.
Robert wens sy pa was die onderhoof van Landbouskool. Hy sou darem lekker hier op die plaaswerf gebly het. Graadagts kry elke jaar byname by hulle graadtwaalf-“menere”. Elke graadtwaalfleerder het ’n graadagt om “op te pas”.
Die jaar toe Robert in graad 8 begin het, het sy “meneer” gou agtergekom dat Robert se lewe om perde draai. Daarom het hy hom na die cowboy-strokiesboekkarakter Lucky Luke vernoem.
Robert is heel gelukkig met sy bynaam. Hy is bly dis darem nie Bullseye of Jolly Jumper nie. Lucky Luke is ’n naam waarmee hy kan saamleef, veral noudat hy op hoërskool is. Toe hy nog ’n woedende laerskool-outjie was, was dit ’n ander saak.
Duke is ’n groot 17 hand-Oldenburger. Sy bloedlyn is skaars in Suid-Afrika. Die skool is gelukkig om ’n teelhings met so ’n kwaliteitstamboek te hê, maar ongelukkig het Duke ’n slegte reputasie. Oldenburgers is veronderstel om baie rustige perde te wees, maar iewers het Duke ’n paar koppige streke aangeleer.
Mnr. Smit, oftewel mnr. Wieletjies, meen Duke is te jonk van sy ma weggeneem. As ’n vul te vroeg van sy ma geskei word, leer hy nie die trop se dissipline aan nie. Sulke perde is soms moeilik omdat hulle nie gesag wil aanvaar nie.
Mnr. Wieletjies loop met ’n kierie met ’n wieletjie onderaan. Wanneer hy in die omgewing is, gedra Duke hom. As die perd egter sien dit is een van die skoolseuns wat iets vir hom doen, wil hy net byt of skop. Hy raak so kwaai soos ’n wilde hings wat sy trop teen gevaar probeer beskerm.
Tikki en Robert kom uitasem by die stalle aan. Party van die graadagts staan op ’n veilige afstand teen die stalmuur oorkant Duke se kamp; ander sit soos toeskouers op van die strooibale. Die proefstudent, mnr. Ignus, staan by hulle. Duiwi moet agter Duke se toegeklapte staldeur wees. Duke draf soos ’n kwaai hond op en af teen die kamp se houtheining, sy stert soos ’n vlag in die lug. Hy trek nou en dan sy ore plat en wys sy tande.
Mnr. Ignus beweeg nader aan die houtheining. Duke gee ’n hoë skree-runnik soos ’n kwaai kat. Hy trek sy ore plat en storm op mnr. Ignus af. Die jong onderwysstudent spring behendig weg.
“Hier’s Lucky Luke!” roep van die graadaggies toe hulle Robert sien.
“Nou sal ons sien of hy regtig ’n horse whisperer is,” brom Itec, die graadagt wat dié jaar geskiedenis gemaak het deur sy eie rekenaar, skootrekenaar en iPad skool toe te bring.
Robert kyk na die seuns teen die muur en op die strooibale. “Kan julle almal net vir my sit en stilbly? Niemand moet praat of hulle hande beweeg nie.”
Hy neem ’n los halter wat oor een van die staldeure hang. Die plaas raak stil, behalwe vir die voëls se getjirp, ’n koei wat iewers sag bulk en ’n skaap se geblêr. Robert voel hoe ’n kalmte om hom hang soos ’n winterkombers. Hy kyk na Duke. Die hings maak of hy Robert nie sien nie. Hy stap na sy staldeur en kap-kap daarteen met sy voorpoot.
Robert klim deur die houtheining en stap nader. Dan gaan staan hy botstil en swaai die halter liggies heen en weer in sy een hand. Hy draai sy rug skuins weg van Duke af en gee ’n tree weg. Die hings laat sak sy kop en blaas op die grond. Een van die graadagts trek sy asem in. Robert beweeg nie; hy staan rustig en kyk nie vir Duke nie.
Ná ’n paar minute, wat langer as gewoonlik voel omdat die hele klas hom dophou, tree Duke nader. Robert kan sien hy is nou rustig. Die perd se oë rol nie wit in sy kop nie en sy lyftaal is ontspanne. Dit is of Duke weet hy hoef nie meer alleen teen die gevaarlike skoolseuns te veg nie. Robert draai om, stap na die perd toe en trek die halter oor die groot hings se rooibruin kop. Duke druk sy neus teen sy bors.
Die graadaggies klap hande. Robert skud sy kop en maak hulle stil met sy vinger voor sy mond. “Mnr. Ignus, kan Meneer gou die staldeur vir Duiwi oopmaak, asseblief?” Robert staan met Duke aan die hand, die woede uit die hings se lyf. Die bruin perd met die swart maanhare lyk nou hondmak. Duiwi kom bleek uit die stal gesluip en skarrel na die ander kant van die heining. Robert se klasmaats klop hom op die skouer.
“Ja, het julle mannetjies nou gesien hoe moet ’n mens met ’n perd werk?” vra mnr. Ignus vir die graadagts. “Kon julle sien Robert het gemaak soos die afrigter in die Natural Horsemanship wat ons gister gekyk het?”
“Ja, Meneer.”
“Ja, ek weet nou presies hoe,” sê Itec.
“Goed, Itec, vertel vir ons hoe om met ’n moeilike perd