Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.saamstap, en haar arme man het soos ’n swaap agterna gery. En haar kontraksies is sterk en gereeld! Elke vier, vyf minute moes ons eers gaan staan dat sy deur die pyn asemhaal. Natuurlik moes die hele drama in spitsverkeer afspeel: ’n Paar nuuskierige agies het omtrent hul karre omgegooi! Drié Samaritane het stilgehou om te vra of hulle ons hospitaal toe kan neem, en elke keer moes ek verduidelik dat Sunet met alle geweld wóú loop.”
Mila kan nie help om te lag nie. Sy kan haar net indink hoe vreemd die optog vir verbygangers moes lyk. Selfs die kalm Lise-Marie se verontwaardigde gesigsuitdrukking is skreeusnaaks.
Ten spyte van haar ontsteltenis gee Lise-Marie ook ’n flou glimlaggie.
“Nou loop sy op en af in die kraamkamer soos ’n briesende leeu in ’n hok … Ek hoop sy is sterk genoeg hiervoor, Mila. Nie haar lyf nie, haar kop.”
“Het jy haar al in die bad laat klim? Dit sal haar dalk kalmeer?”
“Ag, Mila, sy wou nie eens twee minute in die water bly nie. Gesê dit maak haar claustrophobic en sy moet uit. Sy’t die stomme Marius se hand amper afgebyt ook tydens ’n besonder sterk kontraksie.Toe prop ons maar ’n waslap in haar mond. G’n wonder die arme man is so ’n jandooi nie. Hy ly seker aan chronic exhaustion met dáái vrou!”
Mila giggel. “Kan jy jou voorstel hoe dit in hulle huis gaan tydens volmaan? Hierdie geboorte is ’n hoofstuk vir jou memoires, Lisetjie, troos jou daaraan! Maar dink jy ons moet haar liewer kraamsaal toe vat? En miskien haar dokter laat kom? Dalk wil hy haar psigiater bel.”
“Kom kyk jy liewer eers self na haar, Mila.”
“Maar wat dink jy, Lise-Marie? Jy was nou heelmiddag by haar. Ek vertrou jou opinie.Wat sê jou gut?”
“Persoonlik dink ek sy gaan nog meer ingehok en benoud voel in die kraamsaal. Hier by ons kan sy darem nog rondloop. Anyway dink ek sy is al ver. Kom ondersoek haar maar en dan besluit ons. Sy wil só graag normaal geboorte gee, Mila. Sy wil regtig nie weer ’n keiser hê nie.”
Mila is verstom toe sy Sunet ondersoek en vind dat sy reeds amper vol ontsluit is. Dis moeilik om te glo dat die vrou so naby aan die geboorte self al die pad hospitaal toe gestap het! Maar dalk is dit juis hierdie aktiwiteit wat haar so vinnig laat vorder het. ’n Eerste kraam is gewoonlik ’n uitgerekte proses, en ’n VBAC is maar eintlik nes ’n eerste kraam.
Sunet besluit dat sy tog vir die geboorte self in die bad wil klim.
“Ek het gelees dat watergeboorte vir die baba ’n mooi rustige oorgang van die baarmoeder na die buitewêreld verseker,” rammel sy af. Nadat sy ’n rukkie in die bad gedruk het, laat Mila haar egter uitklim en op ’n kraamstoeltjie sit.
“Daar is party vroue vir wie die water net nie werk nie, Sunet. Lyk my jy is een van hulle.”
“Dis omdat julle die water kokend maak,” kla Sunet opgewerk.“Ek is papnat gesweet, al my energie is getap!”
“Ons moet die water so warm maak om jou baba se ontwil, Sunet. Dis die koue lug op haar vel wat ’n baba haar eerste asemteug laat neem. Om te verseker dat sy nie onder die water al inasem nie, moet ons die bad teen liggaamstemperatuur hou. Ek’s jammer dat ons jou moet laat uitklim. Maar ons wil nie hê jy moet te lank druk nie. As jy op die stoeltjie sit, is swaartekrag darem in jou guns.”
Die verandering van posisie help dadelik en ná net vier kontraksies kroon die koppie. Mila vra Sunet om eers net asem te haal. Die naelstring is styf om die baba se nekkie en Mila moet dit versigtig oor die kop haak. Sunet werk mooi saam en Mila slaak ’n sug van verligting toe sy die fris babadogtertjie vir haar ma aangee.
“Baie geluk, Sunet. Jy was ’n ster!” prys sy. “Leila is pragtig!”
Tot almal se stomme verbasing stoot Sunet die bondeltjie met mening weg.
“Ek kan haar nie nou vashou nie! Ek’s gedaan. Gee haar vir haar pa!”
Marius staan gretig nader, sy wange nat van aandoening.
“Sunet, ek kan haar nie nou vir Pa gee nie. Die koord is korterig en ons het dit nog nie geknip nie. Jy wou hê dit moet ophou klop voordat Marius dit sny. Só kry Leila ’n bietjie ekstra suurstof terwyl sy op haar eie leer asemhaal.” Mila hou haar stem so geduldig moontlik.
“Nee,” stry Sunet, haar oë skielik wild en glasig. “Vat haar! Ek soek haar nie nou nie. Knip die koord en gee haar vir haar pa.”
“Marius,” begin Mila, maar Sunet val haar in die rede. “Nie Marius nie! Jy! Knip dit net en kry hierdie kind van my lyf af.”
Mila loer verskonend na Marius, maar klamp en knip liewer self die polsende blou naelstring. Sy draai die baba toe in ’n warm handdoek wat Lise-Marie gereed hou en gee haar vir haar pa aan. Dan draai sy na Sunet.
“Nou goed, nou wag ons net vir die nageboorte.” Sunet se oë verstar. Sy gryp na die stukkie van die koord wat uithang en begin met mening daaraan trek.
“Sunet, néé!” keer Mila en Lise-Marie tegelyk.
“Dit moet nou dadelik uit,” prewel Sunet.“My vriendin het ’n helse probleem gehad oor die nageboorte vasgesit het. Dit gaan nie met my gebeur nie. Gaan hierdie ding nóú uitkry …”
“Maar Sunet, jy kan dit nie uittrek nie! Dit sit nog vas binne!”
Mila gryp Sunet se hand en beduie vir Lise-Marie om die ander een te kry. Dis duidelik dat hul pasiënt angsbevange is en alle rede verloor het. Mila wonder nog of sy nie maar sedasie moet spuit nie toe Lise-Marie praat.
“Klaar te laat, Mila,” sê sy saggies.
Met ’n skok besef Mila dat Sunet met haar geruk die naelstring morsaf gebreek het. Die plasenta sit nog binne aan haar baarmoederwand vas.
Onmiddellik skakel hulle na krisisbeheer oor. Met haar geoefende oog takseer Mila Sunet se bloeding. Sy besluit dat dit nog nie te veel is nie en dat hulle nog ’n bietjie tyd het. Saam beweeg hulle haar na die bed, waar Mila ’n inspuiting gereed kry terwyl Lise-Marie Sunet se baarmoeder ritmies begin masseer.
Toe Sunet die spuitnaald in Mila se hand sien, probeer sy keer.
“Nee, asseblief! Ek haat inspuitings! Ek het ’n naaldfobie! Jy’t belowe jy sal my nie spuit nie!”
“Nee, Sunet, ek het nie belowe nie,” stry Mila.“Ek het gesê geen naalde solank alles goed gaan nie. Alles gaan nou nie meer goed nie. Jy het jou naelstring afgeruk en jou plasenta sit binne jou lyf vas. As hierdie die enigste naald is wat jy vandag teëkom, is jy ’n gelukkige vrou. Jy moet nou saamwerk. Ek gaan alles in my vermoë doen om te keer dat jy in die operasieteater beland.”
Sonder ’n woord lê Marius die babatjie in die wiegie langs die dubbelbed neer. Hy gaan sit op die bed langs Sunet en druk haar regterarm met mening vas. Lise-Marie volg sy voorbeeld aan die linkerkant. Binne sekondes het Mila die inspuiting in Sunet se bobeen gedruk. Sy kan maar net hoop dat die medikasie sy werk doen en dat die nageboorte vanself sal uitkom. Die héle nageboorte.
’n Halfuur later, toe niks nog gebeur het nie, weet Mila dat dit tyd is om verdere aksie te neem. Teësinnig skakel sy Sunet se ginekoloog tuis en verduidelik die situasie so bondig as moontlik. Sy stilswye verklap dat hy stomgeslaan is; gewoonlik is hy ’n grapjas wat vir elke geleentheid ’n kwinkslag het. Vannag waardeer Mila sy professionaliteit. Sy het nie krag vir ’n geskertsery nie.
“Julle kan haar solank deurvat kraamsaal toe, suster Mouton. Ek sal haar daar kom sien voor die prosedure. Intussen reël ek so gou moontlik ’n teater en ’n narkotiseur. Ek sal sommer die psigiater ook bel. Ek dink dit sal wys wees as sy haar môreoggend kom sien.”
“Dankie, dokter, dis ’n goeie plan. Sien dokter nou-nou.”
Dokter Peet de Wit kry dit reg om binne ’n uur ’n mediese span en ’n teater gereed te kry en Mila slaak ’n sug van verligting toe haar pasiënt ingestoot word. Sunet het in die laaste uur ál meer begin bloei en haar geestestoestand het verder versleg. Die atmosfeer in die teater is