Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.verskil gemaak nie.”
“Dis nie nog hoesstroop nie. Dis ’n wonderlike brousel wat my ma altyd gemaak het. Ek dink jy gaan aangenaam verras wees!”
Nou eers merk Mila op dat Derek ’n beker vashou. Dit lyk omtrent kwartvol met ’n amberkleurige vloeistof.
“Lyk interessant.Wat is dit?”
“’n Boereraat,” antwoord hy. Hy steek sy hand uit en sit dit op Mila se skouer. Sy kyk half verbaas af daarna. Dit voel asof sy tere aanraking ’n gat dwarsdeur die materiaal van haar japon brand.
“Dis koud buite, Mila,” merk hy besorg op. “Jy moenie so in die buitelug staan nie. Maak toe die deur, dan vertel ek jou gou van die moetie.”
Mila tree woordeloos terug sodat hy kan binnekom. Hy volg haar na die gesellige kombuisie.
“Kersiehout?” vra hy en beduie na die kombuiskaste.
“Jip,” bevestig Mila met ’n tikkie trots. Dan verwens sy haarself dat sy die aantreklike blikskottel nie liewer sitkamer toe geneem het nie. Haar kombuisie is so klein dat hulle amper bo-op mekaar staan. Sy’s bang hy hoor hoe haar hart soos ’n wegholperd galop. Natuurlik die kafeïen in die hoesmengsel wat haar hartkloppings gee, besluit sy.
Derek hou die beker na haar toe uit. Sy loer skepties daarna en hy lag.
“Mens sou sweer jy’s bang ek gaan jou vergiftig, Mila,” terg hy.
“Wie sê jy wil nie dalk nie? Dit moet vrek irriterend wees om heelnag wakker te lê van jou buurvrou se gehoes.”
“Ek sou aangebied het om ’n slukkie daarvan te neem om jou gerus te stel, maar ongelukkig smaak dit so sleg dat ek dit net in noodgevalle drink.”
Die tergende glimlag speel steeds om sy mondhoeke. Mila wonder of sy al ooit sulke sensuele lippe gesien het. Sy bolip is byna net so vol soos sy onderlip, ’n perfek gevormde kupidoboog. Mila voel vreemd lus om die kontoere met haar vingerpunte na te trek. Sy wonder hoe dit sou voel om die kontras tussen sy blink swart hare en sy growwe stoppelbaard met haar hande te verken …
“Is jy dapper genoeg om dit te drink?” vra Derek met ’n uitdrukking wat Mila laat voel asof hy elke verbode gedagte kon lees.
“Sê eers wat daarin is.”
“Heuning, suurlemoensap, gemmer en ’n vrygewige skeut brandewyn. O, en my geheime bestanddeel! ’n Verbetering op my ma se resep. As jy mooi vra, sal ek dalk die geheim met jou deel.”
“Kom ons kyk of ek kan proe wat dit is,” glimlag Mila.
“Aa, ’n bok vir sports! Ek moet jou net waarsku dat dit skop het.”
“Meer skop as die brandewyn?”
Hy lag. “Kom ons noem dit ’n ander soort skop.”
Mila trek haar asem diep in en neem ’n versigtige teugie van die vloeistof. Derek se oë verlaat haar gesig nie ’n oomblik nie.
“Sjoe, dit brand!” protesteer sy ná die eerste slukkie. “Ek voel of ek vuur sal kan blaas! Is jou geheime bestanddeel dalk Tabasco?”
“Ek’s beïndruk,” glimlag Derek, maar keer met sy hand toe hy Mila se triomfantelike gesigsuitdrukking sien. “Amper maar nog nie stamper nie, Mila! Wil jy nog ’n raaiskoot hê?”
“Ag, sê my maar, toe,” vra Mila.
“Doodseker jy wil nie weer probeer nie?”
“Doodseker!” Mila sluk vinnig, dapper, die res van die drankie weg. Die suurlemoensap laat haar kiewe saamtrek en die kombinasie van die brandewyn en Derek se geheime bestanddeel brand soos vloeibare vlamme.
“Rooipeper. As jy mooi kyk, sal jy die rooi spikkeltjies sien.”
Mila trek haar oë op skrefies. Sowaar, onderin die beker is piepklein deeltjies peper in die effense heuningdroesem vasgevang. Sy weet nie of sy haar verbeel nie, maar dit voel sowaar asof haar keel reeds minder rou en krapperig is. Derek hou haar takserend dop.
“Klaar beter, nè?” vra hy tevrede.
“Nog te vroeg om te sê,” stry Mila. “Ek sal jou later laat weet.”
“En ek sal môre vir jou nog ’n beker vol bring. Ek waarborg jou keel en bors sal teen Maandag stukke beter wees.”
“Dankie, Derek, dis nie nodig nie. Ek het al die bestanddele, ek sal die moetie sommer self aanmaak.”
Verbeel sy haar of lyk hy teleurgesteld? “As jy dit so verkies, Mila.”
“Is daar enige spesifieke verhouding waarin ek dit moet maak?”
“Nee wat. Ek gooi sommer so ’n bietjie van alles bymekaar, meng dit goed en sprinkel dan so ’n titseltjie rooipeper by. Jy moet dit vinnig drink, anders gaan lê al die heuning onderin die koppie.”
“Ek maak so. Nogmaals dankie. Hoop jy kry nou geslaap,” sê sy, skielik skaam. Sy gaan maak die voordeur vir hom oop.
“O, maar dit was my plesier. Beter word, hoor!”
Dit gebeur so vinnig dat Mila ná die tyd wonder of sy gedroom het. In die verbystap huiwer Derek ’n oomblik voor haar. Hy skulp albei hande om haar gesig en plant die sagste, teerste soen op haar voorkop. Voordat sy tot verhaal kan kom, is hy reeds by die deur uit. Mila hoor hoe sy voordeurslot toeklik in die nagstilte. Soos in ’n droom sweef sy slaapkamer toe. Sy gaan lê op die koel bed en raak versigtig aan haar voorkop. Die plekkie waar Derek se lippe haar vel geraak het, brand warmer as sy verkouedoepa. Sy lê lank so in die donker voordat ’n salige slaap haar oorval. Toe die sonlig agter haar wit gordyne haar wek, besef sy dat sy nie ’n enkele keer deur die nag gehoes het nie.
4
Teen Maandagmôre voel Mila piekfyn, nes Derek belowe het. Sy neem Melissa kleuterskool toe en bring die res van die oggend tuis deur. Maandae maak sy geen afsprake by die kliniek nie. Tensy ’n pasiënt in kraam is, doen sy administratiewe werk op haar skootrekenaar. Toe Mila haar Aktiewe Geboorte-eenheid geopen het, het sy besluit om by ’n gevestigde kraamhospitaal aan te sluit. Sy was nog nooit spyt daaroor nie. Dis vir haar en haar pasiënte gerusstellend dat die operasieteaters en die neonatale intensiewesorg-eenheid op dieselfde perseel is. Só kry vroue werklik die beste van beide wêrelde. Hulle kan hul babas verwelkom in ’n knus kraamkamer wat soos ’n luukse gastehuis eerder as ’n hospitaal lyk, met die beste mediese sorg wat geld kan koop in die gebou reg langsaan.
Tog het haar verbintenis met die hospitaal ook nadele. Mila moet haar streng by die hospitaal se regulasies hou – onbuigsame bepalings wat skrei teen die informele benadering wat sy doelbewus in haar eenheid volg. Boonop gooi die kraamhospitaal haar toe onder papierwerk. Natuurlik verstaan Mila dat sy gedetailleerde rekords van elke pasiënt moet hou. Die wet vereis dat sy dit by tuisgeboortes ook doen. Maar wat haar lam maak, is al die ander papierwerk wat die hospitaal vereis: vorms vir linne, inventarisse van elke wattebolletjie en spuitnaald, opname- en ontslagvorms …
Dis met hierdie lastige papierwerk wat Mila besig is toe haar selfoon om elfuur skril. Soos gewoonlik wip sy soos sy skrik. Lise-Marie karring gedurig aan haar om ontslae te raak van dié luitoon. Aanvanklik klink dit soos ’n blikkerige baba wat mistroostig huil, dan verander die gehuil geleidelik in ’n elektroniese wysie.
“Ag nee, Mila, man, kry vir jou ’n rustige ringtone! Ek skrik my elke keer vrek as daai baby begin skreeu. Ek’s seker dit irriteer die pasiënte ook.” Maar Mila het voet by stuk gehou: Dis die perfekte luitoon vir ’n vroedvrou en dit gaan so bly. Elke keer as die foon haar so laat skrik, wonder sy egter of sy nie maar moet skiet gee nie.
“Sunet,” kondig die selfoon blikkerig aan. Mila is nie mal oor die foon se manier om die oproep-identiteit uit te basuin nie, maar dis nuttig wanneer sy bestuur. Dit help haar besluit of sy in die ry moet antwoord en of sy later kan terugbel – afhangend van hoe naby die beller aan haar verwagte kraamdatum is!
Sunet Malan