Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.kan ’n mens wees? Selfs met ’n moord? En hy wil net help, dis al, haar bietjie skraag en troetel.
Dinge lol.
8
Sy sit agteroor. Die rug van Clara Heyns se stoel gee lekker mee as jy bietjie wil terugleun om diep te dink, soos nou, sonder die gedreun van stemme iewers uit ’n vertrek.
Sy sit ineens weer regop. Dis wat skielik so drukkend is: die groot stilte.
Sy staan op en slenter die moordhuis in, sit weer ligte aan, bevind haarself terug in die woonkamer. Nou, so sonder mense, lyk dit of ’n ligte storm die plek getref het. Grys vingerafdrukpoeier aan alles, meubels uit die pad geskuif, boeke en foto’s omgekeer. Deurmekaar, maar tog ook vreemd leeg. Die koerant en pantoffels en sandale is weg. En die swaar glasbak en duimspykers, ook die laken en vlerke. Selfs die voetstoel. En Clara se liggaam. Alles weg. Net ’n enkele blou lateks-handskoen vergete langs ’n leunstoel.
Jimmy-hulle het weer die swaar gordyne toegetrek. Hy het gesê hulle het alles gesluit en buitedeure met polisielint verseël, maar sy kan haarself nie keer nie en gaan voel self of die skuifdeur wel toe is, en gesluit.
Nog veels te vroeg vir idees en ’n rekonstruksie, maar sy breek haar kop oor hoe die aanvaller by die erf ingekom het. Daar is geen manier om oor die hoë muur met sy elektriese drade te kom nie. As hy nie gevlieg het nie (soos die kolonel suggereer), moes hy by die voorhek ingestap het. Al logiese verklaring is dus dat Clara hom ingelaat het. En sy sou nie die deur sommer vir enigeen oopmaak nie, veral nie so laat en klaar in haar slaapklere nie. Sy moes hom geken het, góéd geken het. Maar hoekom hom agter by die skuifdeur laat inkom? Of is hy by die voordeur in en by die agterdeur uit?
Sy staan na die rusbank en kyk. Clara moes gister vroegaand hier kom ontspan het. Nog in haar dagklere. Sy het haar sandale uitgetrek en die leerbelt om haar heupe afgehaal en die serp om haar nek, en toe die koerant sit en lees, tussendeur dalk TV gekyk en gesprekke op haar selfoon gevoer met Tom en met Babs Eloff. In ’n stadium het sy die staanlig aangesit en die gordyne voor die skuifdeure gaan toetrek. Miskien het sy ook toe, steeds kaalvoet, iets gaan maak om te eet. Weer die kombuis opgeruim en kamer toe gegaan. Daar het sy haar juweliersware afgehaal, haar klere uitgetrek, die naellak van haar tone en vingers verwyder, en in die bad gaan lê. En haar beenhare geskeer.
Sy het klere vir slaap aangetrek en is in ’n kamerjas en pantoffels terug kantoor toe. Vir ’n verwagte kuiergas sou sy tog steeds in dagdrag gewees het. Wie wag laataand in slaapklere vir ’n besoeker? Tensy jy en die besoeker spesifieke planne het.
Sy en Tom was nog tot 21:38 oor hulle selfone aan’t koer – hoe laat het haar gas, verwag of onverwag, die voorhekklokkie gedruk en homself oor die interkom aangemeld?
Sy herken sy stem en laat hom by die erf in, hou hom miskien selfs deur haar kantoorvenster se blindings dop terwyl hy instap voordeur toe. Twee, drie ure later, in elk geval ná middernag, verlaat hy die huis agter by die skuifdeur, waarskynlik toe taamlik haastig, want hy trek dit nie behoorlik toe nie. Dis buitendien ’n knip wat nie van buite soos ’n Yale-slot sonder sleutel kan sluit nie. Hy loop agterom die motorhuis in die steeg langs die grensmuur, stap by die voorhek uit, trek dit agter hom op knip, en verdwyn die nag in.
Waaroor het Clara en haar besoeker alles gesels, en wat het hulle gedoen voor sake ’n moorddadige wending begin inslaan het?
En wat is die rol van die groot vlerke? Die besluit om dit aan te trek moes vrywillig gewees het. ’n Aanvaller sou haar kwalik teen haar wil in daardie harnas ingekry het. Dalk as sy duiselig of bewusteloos of reeds dood was. Maar haar hande is vasgebind terwyl sy nog geleef het en nadat die vlerke reeds op haar rug was.
Ella stap verby die eettafel waar die vlerke gelê het. Ook in die kombuis kleef die taai vingerafdrukpoeier aan alles. Sy betrag die yskas met haar voël, die ander vlekvryestaaltoebehore, langs die broodblik die bottel rooiwyn, halfleeg, die prop teruggedruk. Maar geen teken van glase in die opwasbak nie, geen ander teekoppies of koffiebekers nie, geen borde vir laatnagpeuselkos nie.
Sy merk die skottelgoedwasser se liggie en maak die deur oop. Net ’n paar stukkies, klaar gewas en droog: ’n groot bord, klein bord, mikrogolfbak, mes en vurk … Aha, selfs die besittersklas eet soms eensaam en alleen opgewarmde oorskiet uit die yskas. Net een bord, maar twee wynglase – die laataandse gas het saamgedrink, nie saamgeëet nie.
En hoekom sit Clara die masjien aan vir so min skottelgoed, amper oorhaastig om alles skoon te kry, wag selfs nie eens vir haar teekoppie nie?
Die res van die kombuis is ordelik, alles opgeruim en weggepak. Ella sug. Nie soos haar eie nie, moet maar openlik erken: ’n goeie huisvrou is sy nié. Sy laat skottelgoed opgaar en wanneer sy uiteindelik die oorvol masjien aansit, gebruik sy borde en bekers en glase sommer uit die wasser uit soos benodig. Maar sy woon alleen, en sy kook nie groot etes nie. Kook nie eens klein etes nie. Kan nie juis kook nie, tot haar ma se groot onthutsing. Tog, sy’s besig met ’n groot kopskuif voor die stoof, met dié dat Lou ’n gereelde besoeker is. Wil nie dink wat die bra-branders dáárvan sal sê nie.
In die groot stilte is daar ineens ’n sagte gegorrel.
Sy loer yskas toe. Kry die stywe mynah nuwe lewe?
Nog ’n rammeling.
Nee, dié een is nader, dié een voel sy. Borborigmus. Dié bekvol leer sy ook by Dok – die peristaltiese beweging van vloeistowwe en gasse in die dermkanaal kom ook by kadawers voor.
Haar maag sê hy’s weer honger en die kombuishorlosie sê dis tien voor elf.
Is dit te laat vir Chinees en ’n skouermassering? Hy sit seker voor die TV en wag met sy kat op die skoot en sy selfoon byderhand. Wel, hy kan maar wag. Ten minste het hy ’n kat.
Sy begin weer ligte afsit om nou ook die pad te vat, om moeg en alleen in die nag uit te ry na haar eensame donker huisie, met niemand wat vir haar wag nie. Sal wel ook iets in haar ou yskassie ontdek, so tussen al die beet en sampioene.
II
Leidrade en bewysstukke
I think perhaps all of us go a little crazy at times.
– Norman Bates [Robert Bloch: Psycho]
1
Ná oggendgim is sy skaars onder die stort uit, toe lui haar sel. Sy bekyk die naam en druk Decline. Vat ’n sluk koffie, vryf haar hare droog, skud die kort kapsel uit nes ’n nat hond, en begin aantrek, haar gewone werksuniform: langbroek, bloes, sagte skoene vir baie stap. In die kombuis kerf sy ’n piesang in haar muesli en jogurt, gaan sit by haar ou oregontafel en vat ’n hap. Sy kou tydsaam en staar na die sel langs haar bord.
Voor die tweede hap gryp sy die foon en bel Lou terug. “Soek jy my?”
“Ja, ek soek jou, ek soek jou áltyd.”
“Hoekom?”
Momentele stilte, so twee, drie hartkloppe. Komaan, Lou, hier’s weer ’n kans, hoeveel kanse wil jy hê?
“Hoekom? Oor ek jou mis, dis hoekom.”
“En?”
“Uh …”
Nóg ’n stilte, dié slag langer. Die man is skoon konfoes. En die antwoord is so maklik: Ella, my hart se punt, wou jou nog sê … sal nooit raai wie daag toe Vrydagaand skielik by my op nie – my langverlore sus, die een met die rooi hare.
Dog jy’t net ’n langverlore broer.
Het ek gesê sus? Ek bedoel die sexy niggie aan my ma se kant.
Dog jou ma was ’n weeskind. Praat ons van dieselfde ma, jou hippie-ma, die een wat destyds ge-OD het?
Tsk-tsk, waar’s my gedagtes? Bedoel aan my pa se kant, die rooikoppe is aan sý kant.
Dog jy sê jy’t dertig jaar laas kontak gehad met énige lid van jou familie. En die laaste was jou ouma, die een wat jou summier koshuis toe gepos het ná jou pa ook oor die