Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.toe Adam Jonker agterdogtig begin raak het oor die oop skuifdeur, en ’n rooikop haar arms om Lou Pepler se dêm nek gesit het.)
10:16: Van ene Babs: “Gaan ons nog kwekery toe?” (Min of meer die tyd toe sy op die stoep met Adam Jonker gesels het.)
Op die landlyn is drie boodskappe, almal vanoggend gelos:
Die eerste is weer ’n seunstem, maar ouer as Alwyn s’n: “Mamma, antwoord jou sel! Ons kuier nog lekker. Ouma stuur groete. Baai. Alwyn het ook al gebel. Baai. Dis ek, Tommy.”
Die tweede is ’n vrou: “Haai, weer ek. Gisteraand vergeet om te vra: gaan ons vandag nog kwekery toe? Laat weet.”
Die derde en laaste is die stem van ’n man: “Die konferensie begin nou. Ek probeer later weer jou sel.”
Dus, gisteraand omstreeks halftien het Clara Heyns nog geleef, en sy het waarskynlik hier by haar lessenaar gesit en werk, haar sel byderhand om ’n laaste Mis jou met soentjies aan haar man te stuur. Later is sy uit, sonder om haar sel, rekenaar of staanlig af te skakel. Miskien om gou na iets op TV te gaan kyk, sommer ook vlugtig deur die koerant te blaai, dalk om die ketel te gaan aansit vir nog tee, ’n laataand-snoepie te gaan soek.
Was sy toe al klaar gebad?
Wat sy ook al gaan doen het, die enigste afleiding is dat sy van plan was om na haar kantoor terug te kom.
Maar sy het nie, en omstreeks middernag was sy dood.
Wat hét alles in daardie verskriklike twee ure tussen tien en twaalf gebeur? Belangriker: Wié het dit aan haar gedoen? En hoekom?
Sy raak nou verdiep in die e-posse, maar dié lyk almal werkverwant, meestal reëlings vir vergaderings en afsprake wat bevestig word – Clara Heyns had ’n bedrywige lewe.
Later kyk sy op toe Jimmy in die deur verskyn. Sy merk dis al halfdrie.
“Iets gekry?” vra hy.
“Nee, en julle – dalk die naam van haar moordenaar, met haar vinger in haar eie bloed geskryf terwyl sy haar laaste asem uitblaas?”
Hy grinnik. “Jy kyk te veel TV.”
“Kyk nie moord en doodslag nie.” Eintlik kyk sy net na ligte goed, romanties en lig, romkoms, sy wil hardop giggel terwyl sy kyk. Partykeer kan daar maar ’n traan ook val. Niks fout met ’n traan wat af en toe oor ’n wang biggel nie. Solank dit ’n gelukkige einde het; ’n gelukkige einde is ononderhandelbaar.
“Ons is klaar met die woonkamer en eetkamer,” sê Jimmy. “Daar’s tekens dat die vlerke op die eettafel gelê het. Ons is nou in die kombuis en formele sitkamer besig, môre en Maandag is dit die slaapkamers.”
“Lyk nie toevallig nie, nè? Sy’t hom geken en ingelaat. Toe loop dinge skeef. Die aanvaller sou tog nie sy eie laken saamgebring het nie. Ook nie die vlerke nie.”
“In die slaapkamers lyk alles normaal. Die doel was beslis nie roof nie – daar lê juweliersware op haar spieëlkas. Al wat ek uit plek kon sien, was by die linnekas. Die deur is nie op knip nie.”
“Dis waar hy die laken gaan soek het. Maar hoekom haar so mooi bedek?”
Teorieë is logies onvermydelik, maar Ella probeer dit so vroeg in ’n ondersoek eers vermy, wil haar eerder deur leidrade en bewyse laat lei. En die vroeë leidrade begin ’n spoor wys, hopelik nie ’n dwaalspoor nie.
Dan tref dit haar: Forensies is in die kombuis.
“Jimmy, die voël in die yskas, dis myne.”
“Die mynah? Vir wat?”
Sy trek ’n skouer op. “Ek weet nie, sommer net.”
Hy grinnik. “Ella Neser se berugte intuïsie. Jy weet ’n sesde sintuig is onwetenskaplik, nè?”
“Miskien is ek paranormaal, selfs heldersiende – maak ’n afspraak as jy wil hê ek moet iets vir jou voorspel.”
Jimmy sê met sy oë op die venster: “Hier kom Stallie nou. Sien jou later.”
Sy beskou Stallie in die deur, vandag terug in sy sersant-figurasie, prim en proper gestroop van laas nag se gejelde hare, ring in die oor, stywe boudjies in stywe blink broekie, belle of the ball.
Sy lig haar wenkbroue. “Ten minste kon jy jou roes lê en afslaap. Enigiets oor ’n nagtelike besoeker?”
“Sover het niemand iets gesien nie en niemand is besonder hegte vriende met hulle nie.”
“Dis oukei, ek dink ek het die naam van ’n vriendin gekry.” Dit hinder haar dat Tom Heyns nog nie in kennis gestel is nie. Die arme man het vanoggend al twee keer vergeefs gebel, min wetend van die tragedie wat sy gesin getref het. “Het jy vir Fred gesien, of is hy steeds –”
“Hy’s klaar met die veearts, ek het hom in die straat raakgeloop, besig met die ongelyke nommers.”
Sy’s skielik honger, nog g’n nat of droog oor die lippe sedert haar jogurtbrekfis nie. “Wat van iets te ete, Stallie?”
“Wat soek jy?”
“Slaptjips. En moenie skaam wees met die sout en asyn nie.”
Sy bel vir Babs, wat saam met Clara Heyns kwekery toe wou gaan.
6
Sy ken al die reaksies. Dis altyd dieselfde. Die konsternasie en onbegrip, die skok en trane, die verslae stiltes terwyl die verskriklike nuus insink, dan al die vrae. Die opstandigheid kom eers later, en die wrewel. Dit tap haar ook, hierdie intense emosies, maar dis haar lot as draer van onsalige tydings, en dit laat haar ook nie ongedeerd nie, al is háár gevoelens niemand se dêm besigheid nie.
Sy’s geduldig, gee Babs Eloff kans om te huil, te snuif, die neus te blaas, stamelend tot verhaal te kom.
“Nee wag,” keer Babs dan, “laat Jan hom bel, hulle is ou vriende, jare al. Jan sal weet. Kan mos nie dat ’n vreemde mens Tom met so iets bel nie. En sommer so uit die bloute. Nee, Jan sal mooi met hom praat.”
“Goed, maar meneer Heyns sal wil weet wat gebeur het ná jou man met hom gepraat het. Gee my nommer vir hom, hy kan my bel. Wat doen hy daar in Sun City?”
“Een of ander konferensie.” Snuif-snuif. “Shame, dis so vreeslik. Arme, arme Clara.”
“Mevrou Eloff, ek lui nou eers af sodat julle met hom kan praat.”
Meneer Heyns bel vyftien minute later. Klink of hy sy emosies goed onder beheer het, al kan ’n stem oor ’n foon baie misleidend wees. En hy wil, nes sy verwag het, summier elke besonderheid weet. Sy gee hom die agtergrond van hoe Adam Jonker op Clara se liggaam afgekom het en sê veel meer het hulle nog nie, sy kan nie eens vir hom sê presies hoe sy dood is nie omdat die patoloog nog eers die oorsaak van dood moet bepaal. Sulke bevindinge mag sy nie vooruitloop nie.
En nee, ons het ook nog geen vermoede oor ’n verdagte óf leidrade na een nie.
Oukei, as jy nou terugry, ek wag hier by jou huis, ons sal nog lank hier besig wees. Ons gesels dan verder wanneer jy terug is. Terloops, wat’s jou beroep, meneer Heyns? En as ek mag vra, met die kinders op die plaas, hond en al, hoekom is jou vrou nie vir die naweek saam Sun City toe nie?
Sy stap agter op die stoep uit, vul haar longe met die vars lug, verras om die kolonel steeds daar te sien, met sy blou verfsmeersels.
“Ek’s trots op jou, kolonel. Of rook jy nou skelm?”
’n Onhoorbare gebrom, dan duideliker: “Wat kry jy uitgerig?”
“Haar man is op pad, glo ’n jagter. Wat verf julle?”
“Voordeur.”
“Blou voordeur?”
“Dis g’n blou nie, dis periwinkle, dis wat dit is. Wat sê die man?”
“Was op ’n beraad oor die bestuur van wild. Is dit wat ’n