Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.nuuskieriges sal begin saamdrom wanneer die geel polisiebaniere gespan word – CRIME SCENE … KEEP OUT … En wanneer die manne in die wit Tyvek-oorpakke begin arriveer. Veral wanneer die chaperons van die dood aankom in hulle onheilspellend toegeboude bakkie met die suigwaaier op die dak en PATOLOGIESE DIENSTE teen die kante.
Die voorhekkie word bewaak deur konstabel Masilo, aldus die naam op sy bors. Jonk en skraal. Sy wys haar SVC-ID, sê sy is ’n speurder van Serious & Violent Crime, net om die gewig van haar status te bevestig.
’n Vriendelike glimlag. “Thank you, ma’am.”
In die muur langs die posgleuf lees sy ’n naamplaat soos dié teen Lou se muur: CLARA HEYNS, MED (PSYCH), CLINICAL PSYCHOLOGIST/KLINIESE SIELKUNDIGE.
Langsaan is die groot dubbele motorhek van soliede swart plaatmetaal, sodat van die huis agter die hoë muur net rooierige dakteëls tussen takke en boomkrone sigbaar is.
Sy stap by die voetgangerhek in en steek by ’n bromponie vas. Sy het ’n Vespa op universiteit gehad, in haar tweede jaar toe sy vir ’n jong dosent se buitemuurse attensies en vatterige hande – en erger – geval het. Hierdie een is ’n scooter-op-steroïed, ’n 125 cc-Gomoto Nippi, valhelm op die voetspasie.
Oor haar skouer vra sy: “How did you get in, was the gate open?”
“The witness opened it, it’s his scooter.”
“Witness of what?”
“The body, ma’am … the victim’s body. They are waiting at the back, on the stoep. Constable Sello and the witness. The victim is inside.”
Sy buk en voel-voel. Die uitlaatpyp is koud.
“You should move the scooter out of the way, there’s going to be a heavy traffic jam here soon,” sê sy en mik na die voordeur.
“Door’s locked, ma’am. You have to go there, round the side.” Konstabel Masilo beduie motorhuis toe, geselsradio voor sy mond om haar aankoms vir sy stoepkollega aan te kondig.
Uit die steeg tussen die motorhuis en grensheining betree sy die groot, boomryke agtertuin met swembad, visdam, netjiese grasperk tussen bome en struike en blombeddings. Op sonstoele tussen twee gevoude staansambrele lê paddavoete en duikbrille en groen en blou plastieksnorkels en ’n kleurryke lugmatras, slap afgeblaas.
Op die onderdakstoep lê konstabel Sello plomp uitgespan op ’n patiostoel, sy polisieradio op die glasblad van die groen potystertafel. Vir dié SVC-speurdertjie, net ’n adjudantoffisier en boonop ’n vrou, verwerdig hy hom klaarblyklik nie om met ’n opspring respekte te wys nie.
Sy kyk na die oopgetrekte skuifdeur in die glasmuur tussen stoep en huis, na die bokskedel teen die muur, die twee vet potte, in een ’n jukka, in die ander ’n welige fuchsia in volle blom. Staan dan vir ’n oomblik verras na die dooie voël en staar. Het hy hom misgis, teen die groot ruit vasgevlieg en sy nek gebreek? Dis nie hoe sy sluwe en astrante mynahs ken nie.
Sy verskuif haar blik terug na konstabel Sello en betrag sy vet klein ore en sy vingers soos vet klein koeksisters op sy boep ineengestrengel.
“Have you been inside?”
Hy reageer nie en sy wonder of hy oopoog aan die slaap geraak het, of dalk stil-stil ter siele is.
“Konstabel!”
Roer steeds nie, behalwe vir lippe wat kripties mompel: “We looked inside. To make sure.”
“To make sure of what?”
“About the body that was reported.”
“Did you see a body?”
“Uh-huh.”
“Did you open the sliding door and curtains?”
“Found it like that.”
“Did you touch anything?”
“Huh-uh.”
“You didn’t put the light on?”
“We didn’t touch anything!” ’n Ergerlikheid kruip by die stemtoon in.
Sy leun met haar bolyf by die deur in. In die skemering binne is dit of haar oë parte met haar speel, asof hulle sukkel om op iets gefokus te kry. Sy tuur na die wit gedaante tussen die rusbank en TV-rak. Gedaante. Dis al hoe sy dit van hier af kan beskryf. Gedaante in wit, wat lyk of dit vooroor leun. Sy kan nie die liggaamsvorm uitmaak onder die bedekking nie, dalk ’n wit laken of ’n soort kleed, en wil nie ingaan en die toneel kontamineer voor Forensies dit ondersoek het nie.
Sy draai terug na die patiotafel. “Where’s the witness?”
Konstabel Sello lyk te moeg om verder te praat, knik net skaars merkbaar, en sy sien die skraal figuur doer van die hoek van die tuin af aankom; agter hom, half verberg deur twee piesangbome, ’n houthut, vermoedelik bergplek vir swembadtoerusting.
Sy hou die aankomende figuur dop – slenterend, kop omlaag, rugsak oor ’n skouer, diep betrokke by die selfoon in sy hand. Hy kom die trappies op en kom staan voor haar op die bokvelmat. Sy is nie kort nie, maar moet opkyk na sy oë diep in die skadu’s van die pet se rand. En haar eerste gedagte noudat sy hom so van naby beskou: Iets is fout, hy’s siek. Of is dit van skok?
Sy vel is onnatuurlik bleek, asof hy aan ’n armoede van bloed of velpigmente ly, maar sonder albinisme se rosige tint en sproete en huidvlekke en sonsere. Sý vel is melkwit en glad en vlekkeloos soos dié van ’n baba; vir só ’n vel sal baie vroue ’n onbetroubare minnaar opoffer. Sy gesig is selfs sonder teken van tienerpuisies. Hy lyk so sewentien, agtien, lyk nie of hy al ernstig skeer nie, en aan die donse van die bolip en bakkebaard klou fyn druppels sweet.
Hy staan met sy linkerhand in die sak van ’n driekwartbroek, blou tekkies sonder sokkies, sy donker oë amper uitdagend op haar. Sy T-hemp sê: TREKVOËL.
“Ek’s adjudantoffisier Neser,” sê sy en steek haar hand uit. “Van die eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad.” Eintlik sommer moord-en-roof, maar generaal Pitso is tog so gesteld op politieke korrektheid, die ou gatlekker. “Wie’s jy?”
Hy sit sy sel en rugsak op die tafel en vat haar hand, sy ander hand steeds in die broeksak.
“Poolboy,” sê hy met ’n sagte greep van lang, skraal vingers soos dié van ’n pianis, of sakkeroller. “Dis ek wat gebel het.” Hy gee ’n kopknik skuifdeur toe. “Oor haar. Kan ek waai?”
“Netnou. Sit eers.”
Sy trek vir haar ’n stoel uit en haal haar notaboek uit haar sak.
Hy gaan sit oorkant haar. Konstabel Sello moet die wenk gekry het, want dié stoot sy gemeste lyf met ’n steun uit die stoel op en sleep sy voete oor bokvel en leiklip om nou daar teen die braaiplek te gaan hang soos ’n oorvrete afvlerkkraai.
Sy los die konstabel en kyk terug na die seun. “Wat’s jou naam?”
“Adam,” sê hy. “Adam Jonker.”
“Die haar, praat jy van mevrou Heyns? Hoe weet jy dis sy? Die liggaam is bedek, het jy gaan kyk, haar gesig gesien?”
“Ek weet net.”
“Het jy ingegaan?”
Hy knik. “Hoe anders sou ek geweet het om 10111 te bel?”
“Hoe laat was jy hier?”
“Halfnege.”
“En jy bel eers halftien?”
“Besig by die swembad, het eers later die deur gesien. Op ’n skrefie oop.”
“Hoekom was ’n oop deur vir jou snaaks, veral op ’n Saterdag, veral op so ’n heerlike somersoggend?”
“Oor dit so stil was. Sy’t nie uitgekom nie. Sy kom gewoonlik uit. Kom sê hallo, bring koeldrank.” Hy aarsel, sê dan: “En sy’s alleen, sal mos nie die deur oop los as sy alleen is nie.”