Vir die voëls. François Bloemhof
Читать онлайн книгу.slaan byna neer.
“Donner! Hoeveel keer moet ek vir haar sê!”
Hy het haar aan die arm, pluk haar regop. Trek haar agter hom aan. Hy is so dronk én so kwaad dat hy vergeet om nie te hink nie.
“Ivan!” roep haar ma.
“Ivan!” roep Ouma.
Maar hulle kom nie saam sitkamer toe nie. Na die bank toe nie. Waar hy nog ’n keer byna struikel, dié slag toe hy die leë bottel raaktrap. Hy kry sy sit, trek haar oor sy knieë.
“Jy dink jy’s so groot, jy’s nog nie te groot om ’n ordentlike loesing te kry nie!”
Sy wil skree, maar sy sal nie. Sal ook nie huil nie.
Hy lig haar rok opsy sodat hy haar stêre net deur die broekie kan slaan.
“Wie.”
En die klapgeluid soos ’n skoot. Sy sal nie huil nie!
“Nie.”
Sy moet dit vat, want sy’s in sy huis.
“Wil.”
Sy byt op haar onderlip. Die geluide eggo deur die sitkamer en sy voel hier kom die trane tog. Dis só seer, maar dit sal netnou ophou, dit hou altyd op.
“Hoor.”
Dis hoe dit is, mans is baas by die huis.
“Nie.”
Sy’s net ’n meisiekind.
“Moet.”
En as jy eendag man vat, is dít wat jy kry.
“Voel.”
6
Seunwees beteken daar is sekere dinge wat jy moet doen en ander om soos die pes te vermy.
Jy praat soos wat jou pa praat, jy pie soos jou pa, jy herhaal dinge wat jy jou pa hoor sê het en maak of jy self daaraan gedink het. Jy kan kettie skiet en vloek en ghôp dat dit doer trek.
Ek hou van ’n man wat sy man kan staan.
Jy staan altyd jou man soos in die gedig – hy ken nie die res daarvan nie, maar dit sê soort van dieselfde ding oor en oor.
Jy verkies honde bo katte, jy hou van speelgoedpistole en nie poppe nie, en ook net tot in ’n sekere stadium, dan moet dit regte skietgoed raak, jy burp as jy wil burp, en daar’s nog baie, maar die belangrikste is, jy speel rugby.
Sampie de Klerk sou sê die grootste geluk wat hom nog getref het, is dat hy so ’n aanleg daarvoor het. Toe hy die eerste keer aan een raak, was dit asof die rugbybal dadelik weet hier is iemand wat hom reg sal gebruik. Nes dit rég gevoel het toe hy sy eerste paar toks oor sy voete trek.
En nes dit goed voel om te hoor hoe die mense juig as hy ’n drie druk. Of die bal deur die pale jaag. Verskillende posisies in die span, dit maak nie saak nie, meneer Myburgh het hom nou al oral probeer en alles werk.
Dit gaan nie oor die mense langs die veld nie, behalwe sy pa en ma. En Marieda. As hy hulle stemme bokant die ander hoor, hoe hulle cheer. En dalk ook Philip en Louis, wat sy beste buddies is. En seker ook meneer Myburgh, want hy raak net so opgewonde wanneer …
Goed. Dit gáán seker ’n bietjie oor die mense. Hy speel tog nie net vir homself nie!
“Dink julle ons gaan weer wiskunde-huiswerk kry?” vra hy toe hulle in tweede pouse verby die klaskamer loop waar hulle oor ’n paar minute sal sit.
“Nee,” sê Philip op dieselfde tyd as wat Louis “Ja” sê. Toe is die twee weer aan die stry. Gedurig aan die verskil, withaar-Louis met sy boepie en donkerkop-Philip wat hakkel as hy kwaad word.
Dit pla Sampie soms dat hulle nooit van hóm verskil nie. Vra hy ’n vraag, dan het hulle ’n mening, maar sê hy iets, dan stem hulle saam of bly stil. Dis nie wat hy in vriende soek nie. Hulle moet mos –
Maar hy’s nou net moeilik.
Hulle is mekaar steeds aan die opstry, Philip wat volhou dat ou Vis nie Vrydag én Maandag sal huiswerk gee nie, en Louis wat volhou o ja, hy sal, en hier het hy wat Sampie is lankal belangstelling verloor.
As hulle kry, sal hy tog net een van die ander twee se huiswerk afskryf!
Eers het hy gevra, maar nou bied hulle aan, partykeer al sodra ou Vis of een van die ander onnies daai nare ding doen en so ’n streng gesig kry en na die swartbord toe draai en kryt optel.
“Jy kan myne afskryf, Sampie.”
Of: “Ek is beter met Engels, Sampie, ek kan vanmiddag na jou toe kom en dan skryf jy gou myne af.”
As hy ’n vrot rugbyspeler was, sou hulle dan nog so vinnig gewees het om te help? Dit sou dalk goed wees as ’n ander ou skielik net so goed soos hy begin speel, sodat hy kompetisie het en meer moet uithaal om al die smiles te verdien …
“Daar is daai girl weer,” merk Louis op.
Sampie hoef nie te kyk nie, hy weet wie dit is. Snaaks, hy dink elke nou en dan aan haar.
Nie seker hy hou van die gedagte nie. Van die ouens in standerd vier en vyf begin al ernstig met meisies uitgaan – net omdat dit grootmensrig is om dit te doen, hy kan aan g’n ander rede dink nie. Dan sien hulle pelle omtrent niks meer van hulle nie.
Hy praat hard, sodat sy kan hoor: “Ja, sy hang maar hier rond. Het nie maats nie. Is julle verbaas daaroor?”
Sy skud haar rooi kop asof sy van iets wil ontslae raak. “As jy moet weet, ek wag vir Marieda.”
Nie goeie nuus dat sy besig is om dik tjommas met sy sussie te raak nie. Die laaste ding wat hy nodig het, is dat sy smiddae begin oorkom.
“Waar is sy dan?”
Die meisiekind beduie agter haar. “Hokkies toe.”
Sampie lag. “Nonsens, man, sy’t weggeloop vir jou.”
Links van hom lag Louis ook, en regs van hom Philip, in stereo, soos wanneer hy tussen sy pa se platespeler se speakers staan.
“Is julle die Three Stooges?” wil sy weet.
“Die wát?”
“Weet nie eens wie die Three Stooges was nie.” Sy sug.
Sy gaan hom wragtag nie weer stil praat soos laas week nie. Sy is swak en pateties, sy’s ’n meisiekind, maar anders as die res het sy ’n vinnige tong en hy kan nie toelaat dat sy dit gebruik nes sy wil nie. As hulle sou baklei, sou sy aftjop, nou probeer sy opmaak daarvoor met haar gladde bek.
“Ek is so sumpel, want ek’s Irma Humpel,” sing-praat hy en dadelik val Louis en Philip laggend in stereo in: “Ek is so sumpel, want ek’s Irma Humpel. Ek is so …”
Hy weet nie waar dit vandaan kom nie. Die aanval. So vinnig. Donner!
In ’n oomblik loop sy hom storm, loop sy hom só dat hy agteroor val. Die val is seer, want hy keer met sy elmboog, en hy’s van balans af en sy’s bo-op hom, sit op sy maag terwyl sy met haar vuiste op sy bors slaan.
Kan nie wees nie.
Hy is so verstom dat sy dit doen, só iets wat ’n meisiekind mos nie sal nie, en aanhou om dit te doen, dat hy nóú eers daaraan dink om sy hande te lig om te keer.
Haar regtervuis tref syne, in die oop palm, en pyn skiet in sy gewrig op.
“Eina, moer!”
“Wie nie wil hoor nie, moet voel.”
Hy skrik. Sy het byna soos ’n grootmens geklink.
Dis asof sy ook daarvoor geskrik het, want sy begin regop kom. Sy leun egter eers oor om iets in sy gesig te sê.
Dán kom sy orent, draai om en begin wegloop. Na waar Marieda met ’n oop mond staan en kyk.
Voor sy suster! Voor Louis