Vir die voëls. François Bloemhof

Читать онлайн книгу.

Vir die voëls - François Bloemhof


Скачать книгу
bied aan: “Hier, laat ek jou optrek.”

      “Los my!” Hy voel die skaamte in hom styg soos wanneer hy wil opgooi. Hy stof homself so goed af as wat hy kan.

      “Sy’t my surprise.”

      “Dis ’n malletjie daai,” voeg Louis vinnig by.

      En Philip: “Sal maar wegbly van haar af.”

      Sampie snork. “Ek skrik nie vir haar nie. Is julle mal?”

      “Nee, ek meen maar net …”

      “Ek baklei nie met meisiekinders nie. Sy’t dit geweet. ’n Ou baklei nie met ’n vroumens nie. Toe vat sy advantage.”

      Hulle begin wegloop. Die klok gaan in elk geval nou-nou lui.

      Hy weet hy sál wegbly van haar af. Sy’s moeilikheid.

      En dan is daar ook die skaamte. Nie net omdat hy geval en sy hom bygedam het nie. Dit gaan meer oor daardie woord wat sy vir hom gesê het net voor sy orent gekom en weggedraai het.

      “Moordenaar.”

      7

      Dat haar pa is soos hy is, is nie die ergste nie. Dis dat hy party dae anders is.

      Dan is hy die pa wat sy lank gelede gedink het sy ken. Hy het toe nie so dikwels na brandewyn geruik nie, of sy het dit nie opgelet nie, of sy onthou nie meer so goed nie.

      Nou sien sy daardie pa nie veel meer dikwels as Vader Krismis nie.

      Hy kan haar nog verras en dan word sy amper kwaad vir hom, want dit beteken sy gaan weer slegter voel die volgende keer as hy dronk is.

      Soos ’n paar weke nadat hulle hier op Queenstown aangekom het:

      Laatmiddag en sy lê op die stoep Jasper die Speurder en lees wat sy by die biblioteek uitgeneem het, toe sy die hekkie hoor skwiek. Hier anderkant haar sit haar ma, besig om ’n paar skoene van haar pa blink-blink te polish.

      Irma sit die boek neer, hoor die voetstappe op die kolletjie gruis, dan verskyn daar meer van haar pa se donker, slap hare soos hy die trappies klim. Daar is ’n eienaardige trek op sy gesig, en dit word ’n glimlag.

      “Dis mos nou die gesig wat ek aan die einde van ’n lang dag wil sien.”

      Sy besef sy glimlag ook.

      Hy buk en soen Ma Alta. Wat skaam lyk. Hy kyk na Irma en hy staan ongemaklik asof hy iets agter sy rug wegsteek.

      “Kom hier, juffroutjie.”

      Het sy iets verkeerd gedoen? Maak hy net of hy vriendelik is? Is dit ’n slaanding wat hy vashou?

      Sy gaan nader en hy druk iets in haar hand. Sy trek haar asem in toe sy sien wat dit is.

      “Vir die voëls,” sê hy.

      Irma gryp die verkyker voor hy dit dalk kan terugvat. Sy weet nie waar hy daaraan gekom het, of hy dit gekoop het of wat nie, dis net, dis net so …

      Sy gooi haarself in sy arms. Hoor hom bo haar kop lag.

      Dit moet net ’n paar sekondes wees, maar die vashou voel soos ure. Die beste ure in hóé lank.

      Sy begin afsit na die hekkie toe.

      “Moenie te ver gaan nie,” roep haar ma agter haar aan.

      “Ag, Alta – laat haar verken.”

      Het sy rêrig haar pa dit hoor sê? Moet wees, want toe sy terugkyk, neem hy haar ma se hand.

      En dan is daar die keer dat sy iets sien wat sy nie bedoel was om te sien nie. Nie behoort te sien nie, want kinders moenie sulke goed van hulle pa’s en ma’s weet nie.

      Sy staan op om te gaan pie. Weet nie hoe lank sy geslaap het nie. Dink aan die mossie wat sy die middag minute lank met die verkyker dopgehou het voor dit tjirpend weggevlieg het om die dag iewers anders te gaan beter maak.

      Sy loop saggies toilet toe, want sy wil hulle nie wakker maak nie.

      Maar haar pa en ma ís wakker, sy hoor stemme by die deur wat op ’n skrefie oop staan. Daar brand ’n dowwe lig.

      Daar kom ’n sagte geluid en dis wat maak dat Irma vassteek. Huil hy? Kan nie wees nie! Sy het hom nog nooit sien huil nie.

      Sy loer.

      Op die kassie brand die lampie met die swart kappie. Op die bed sit haar pa. Hy het nie ’n hemp aan nie en lyk maerder as wat sy hom onthou, dalk is dit die swak lig. Hy lyk … Sy dink aan die regte woord.

      Verslae.

      Voor hom kniel haar ma, in haar nagrok. Die geluid van water. ’n Lap wat deur water gevee word. Daar is ’n skottel langs haar en sy lig sy voete daarin om dit te was.

      Sy ken bewe, Irma kan dit van hier af sien.

      “Jy’s te goed vir ’n vrot man soos ek.”

      Haar ma sit haar vinger op sy mond, skud haar kop. Hy vat haar hand en soen dit.

      Irma sluip weg, bang dat sy ’n geluid sal maak. Hierdie mense wat lyk soos sy hulle nog nooit gesien het nie, is haar ouers. Dis ’n angswekkende gedagte. Sy ken hulle eenvoudig nie.

      Dan kom daar ’n keer dat sy dinge weer ánders sien. Soos wanneer sy en haar ma in die hoofstraat loop.

      ’n Ou en ’n meisie kom van voor af aan. Elkeen se hand verdwyn agter die ander se lyf.

      “Sies,” hoor Irma haar ma onderlangs sê toe hulle by die twee verby is. “Moenie kyk nie.”

      Natuurlik kyk sy. Die ou en die meisie het hulle hande in mekaar se jeans se gatsakke. Dit beteken hulle is besig om aan mekaar se stêre te vat!

      Sy wonder hoe dit sal voel as …

      “Liefde is vir die voëls, Irma,” kom die stem van bo, soos ’n groot boodskap.

      Vir die voëls. Sy wonder vir ’n oomblik of haar ma met haar spot.

      Nee. Daarvoor het sy te veel hartseer in haar stem.

      1968

      8

      Dit was tyd vir een jaar om te gaan en ’n ander om te kom. In sommige opsigte verskil die nuwe nie veel van sy voorganger nie, soos die lappies wat Irma party dae by Ouma Martie gaan hekel – hulle mag van voriges verskil wat kleur betref, maar dis ook maar wol en hulle dien dieselfde doel, moet deel raak van dieselfde kombers.

      Op 10 Januarie raak Jacobus Johannes Fouché die land se derde staatspresident. Op dieselfde dag voltooi Irma Humpel die derde gehekelde lappie vir die vierde ry.

      “Ditsem, Irma. Dit gaan lieflik lyk as dit klaar is.”

      Die dogtertjie glimlag ingenome. Sulke oomblikke in haar ouma se huis is oases van vrede. Hier gaan niemand kwaai ingestrompel kom nie. Sy het nie gedink sy gaan van die hekelry hou nie, maar dis lekker om so ordelik aan te hou wikkel met haar vingers, en iets moois groei daaruit.

      Amerika moet hulle bekke van ons afhou, hoor sy ’n oom sê, hulle sit met oorlog, kyk die ding met Viëtnam.

      Februarie die 2de, en Richard Nixon verklaar sy presidensiële kandidaatskap.

      Partykeer kom Marieda saam en sit sy met haar pop – die een wie se been sy weer aangewerk het – en hou hulle dop. Sy wil nie saam hekel nie: “Dis julle kombers.”

      20 April, en ’n Suid-Afrikaanse Boeing 707 stort neer net nadat dit van Windhoek op pad na Londen opgestyg het. Van die 129 mense aan boord sterf 122.

      En dit neem soms dae se stukkie-stukkie werk vir lappies om voltooi te word, neem weke vir die kombers om opmerklik te groei.

      Daar is sprake dat die


Скачать книгу