Eindspel. Wilna Adriaanse
Читать онлайн книгу.“Gaan jy Woensdagaand kom werk?”
Sy vou haar hare onder die helm in. “Ek sal jou bel.”
“Moenie dat ek die dag berou wat ek jou leer ry het nie!” roep hy agter haar aan toe sy teen die trappies af draf. “Ry versigtig.”
Ellie stap agter die huis langs tot by die buitekamer waar die motorfiets gehou word. Oomblikke later ry sy by die agterhek uit en waai vir Wynand waar hy al fronsend op die stoep staan. Sy kies koers deur die veld. Dit was ’n droë somer en die grond is hard gebak. Die eerste herfsreën het nog nie geval nie. Die son brand haar vel en die lug wat sy inasem, is warm – maar hoe verder sy ry, hoe meer bedaar die knop op haar maag, tot sy voel hoe sy gemakliker sit en haar lyf die motorfiets se ritme naboots. Haar rok het tussen haar bene losgekom en wapper nou hoog teen haar dye. Die dag toe Wynand haar leer motorfiets ry het, was dit asof sy ’n liefde ontdek waarvan sy nooit geweet het nie. Sy het hom al gesoebat om dit aan haar te verkoop, maar hy wil nog nie. Sy vermoed net om die motorfiets te sien, gee hom steeds ’n gevoel van vryheid.
“Dis nie dat ek nie meer kan of wil ry nie. Ek is net nie meer lus om ’n week lank in stilstuipe te leef nie. Gerda sê op my ouderdom is dit verspot en sy gaan nie vir my in die hospitaal kom kuier of my versorg as ek iets breek nie,” het hy eendag vertel toe sy hom gevra het waarom hy nie eintlik meer ry nie.
Sy hou agter die turksvybos stil en stap tot by die eerste rots, van waar sy ’n onbelemmerde uitsig het. Die werf is verlate. Net die swaai onder die jakaranda roer liggies. Die leidam se water verlei haar byna, maar dis nie die moeite werd nie. Sy vee die sweet in haar nek af, maar voel hoe ’n straaltjie ontsnap en teen haar bors afloop. Sy draai terug en stap tot by die ou murasie. In die hoek van die voorste kamer lig sy die boonste sinkplaat op en tel die plastieksak uit met die rugsak daarbinne. Die sinkplaat is warm en sy laat val dit vinnig terug. Die plastieksak is vol stof en spinnerakke. Sy skud die ergste af en haal dan die rugsak uit. Sy trek haastig die rok oor haar kop, haal ’n denim, T-hemp en kort leerbaadjie uit en trek dit aan. Daarna verruil sy haar sandale vir ’n paar wolsokkies en leerstewels. Haar hare word hoog bo-op haar kop vasgemaak voordat sy weer die helm opsit. Sy stuur vir Marius ’n boodskap.
Jammer dat ek so vinnig weg is. Sal ongelukkig nie vanmiddag kan saam eet nie. Iets dringends het voorgeval. Praat later.
Sy skakel haar selfoon af en huiwer voor sy dit terug in haar handsak sit. Die handsak, rok en sandale word in die rugsak gedruk. Sy gespe die rugsak agter op die motorfiets vas en klim op. Sy laat dit ’n entjie teen die koppie afloop voordat sy die enjin aanskakel. Hier aan die agterkant van die koppie is die helling steil en sy moet konsentreer om haar balans te hou. Tien minute later is sy egter op die teer en sy haal een keer diep asem voordat sy die petrol ooptrek en voel hoe die motorfiets onder haar versnel.
Sy het die sak klere ’n week of wat na haar aankoms daar onder die sinkplate gaan wegsteek. Nie seker waarom nie, maar dit was tog asof ’n ongemaklike krieweling in haar daarna bedaar het.
Sy kan die pad toe-oë ry, en sy voel hoe haar lyf die draaie in die pas antisipeer. Sy dink dit is die kloof wat haar daardie eerste aand laat stop het. Toe sy dit agterlaat en die dorpie voor haar sien, was dit asof sy vir die eerste keer in ’n lang tyd gemaklik kon asemhaal. Soos ’n baba wat deur die geboortekanaal is en sy eerste asemteug gee. Die wêreld hierdie kant van die kloof het anders gelyk as waar sy vandaan kom. ’n Nuwe wêreld met ’n stadiger ritme. Dit was asof sy selfs die kleure om haar duideliker kon sien. As ’n mens mooi luister, kan jy nog enkele geluide hoor. ’n Tarentaal, ’n motor wat êrens wegtrek, twee honde wat om die beurt blaf. ’n Hadeda wat oor ’n huis se dak opstyg. Alles hier het nog nie in ’n kakofonie ontaard waar jy niks kan onderskei nie.
Sy bly bewus van elke motor op die pad en haar oë hou die truspieëltjie dop. Anderkant Worcester stop sy by ’n vulstasie, laat die tenk volmaak en koop ’n toebroodjie en vrugtesap. Sy trek die motorfiets onder die skadunette en eet die toebroodjie sommer so staan-staan terwyl sy die voertuie wat indraai dophou. Die meeste lyk soos gesinne op ’n Sondaguitstappie. Gaan kuier hulle vir iemand of ry hulle net rond om nie by die huis te wees nie? wonder sy.
By die uitdraai in die Du Toitskloof-pas kies sy die pad oor die berg. Dis beter om nie vandag deur die tolhek en verby die kameras te ry nie. Toe sy oor die nek gaan, lê die Skiereiland dynserig onder haar. Dit moet êrens brand.
Sy kon nou onder die boom in die leidam geswem het, dink sy vies.
Sy is bly toe sy uit die pas is en weer kan versnel. Toe sy ’n driekwartier later die Goodwood-afrit sien, huiwer sy ’n oomblik lank, maar ry dan verby. Sy sal anderdag kom. ’n Dag wanneer sy nie oor haar skouer hoef te kyk nie.
Die backpackers-plek in Seepunt het gelukkig parkering vir die motorfiets agter ’n sekuriteitshek. Die jong man agter die toonbank lyk vaak en staan stadig van sy stoel af op. Op die klein televisiestel agter hom is ’n realiteitsspeletjie aan die gang.
Hy gee vir haar ’n kamersleutel en gaan sit weer. Op dae soos hierdie pas sommige mense se inherente luiheid en onoplettendheid haar.
Die kamer is soos in die paar backpackers-plekke waar sy al vantevore geslaap het. Twee enkelbeddens. Die beddegoed lyk skoon, maar het al beter dae gesien. Die gaste wat hier oorbly, is nie op soek na ’n luukse ervaring nie. Hulle glo op hierdie manier sien hulle die ware Suid-Afrika. Soos mense wat in die voorste ry by die sirkus wil sit sodat die narre en olifante hulle kan natspoeg.
Ellie sluit haar rugsak in die kas toe, trek die kamerdeur op knip en stap in die gang af. Die houtvloer kraak onder haar.
Daar is ’n geriefswinkel op die hoek en sy is bly om te sien hulle het nog eksemplare van al die Sondagkoerante. Met die koerante en ’n botteltjie water in die hand loop sy terug. In haar kamer trek sy die baadjie en stewels uit en gaan lê op die bed, maar na ’n paar minute trek sy die denim ook uit. Dan maak sy die venster oop en trek die gordyne toe. Sy kan die see ruik, maar vandag is dit nie ’n vars reuk nie – ou bamboes wat te lank in die son gelê het, en vis. En die kamer ruik na mens.
Sy fynkam die berigte in die koerante. Niks ongewoons trek egter haar aandag nie. Dis die gewone geweld, politiek, skandale. Die wêreld oor. Die skadu teen die oorkantste muur is weg, wat beteken die son het al oor die see gesak. Toe sy op haar horlosie kyk, sien sy dis byna sesuur. Sy strek haarself uit en trek weer haar denim en stewels aan. Uit die rugsak haal sy ’n pet en sit dit op haar kop. Die jong man is nie meer agter die toonbank nie en in sy plek is ’n meisie met ’n Duitse aksent. Sy groet vriendelik. Die hitte slaan steeds van die sypaadjie af op toe Ellie buite kom en oral drentel mense nog rond. Baie eet roomys. Die buitelanders loop almal met botteltjies water.
Die restaurantjie sit volgepak, maar sy kry nog ’n tafeltjie op die sypaadjie en bestel ’n Hunter’s Dry en ’n bord pasta. Sy het net haar eerste hap geneem toe motorbande baie naby haar skreeu en ’n kwaai stem opklink. Voor sy haar kan bedink, gaan haar hand onder haar arm in. Dan onthou sy haar rewolwer is by die huis. Sy sien deur die venster hoe ’n bestuurder en voetganger op mekaar skreeu en sy neem ’n sluk van die Hunter’s en eet verder.
Terwyl sy eet, speel daar verskillende scenario’s in haar kop af. Wie soek haar en waarom? Haar eerste instink was dat dit Reggie is wat hulle gestuur het. Dat hy na vyf maande besluit het sy is tog ’n swaard oor sy kop en dat hy iets daaraan moet doen. Sy dink nie hy het ooit verwag sy sal die aanval oorleef nie. Die ondersoekeenheid kon destyds nie genoeg getuienis kry om hom te vervolg vir die aanval op haar nie. Die feit dat sy so lank bewusteloos was en omtrent eers twee weke na die aanval kon getuig het, het nie haar saak gehelp nie. Veral nie toe sy sekere fyner detail nie kon onthou nie. ’n Psigiater het op die ou end getuig die moontlikheid bestaan dat sy Reggie as haar aanvaller onthou omdat sy hom die laaste gesien het. Daar was ’n motor vol mense wat getuig het hulle het haar net afgelaai en toe dadelik weer gery. Dat hy dit nie kon doen nie. Op die ou end het hulle dit reggekry om haar oor haar eie getuienis te laat twyfel, en dit is fataal vir jou saak. As die beeld voor jou geestesoog eers een keer ’n moontlike ander gesig gekry het, kan jy daardie alternatief nooit weer miskyk nie. Wat sy tot vandag nie weet nie, is wat Albert se getuienis omtrent die aand se gebeure was. Daar was nie tyd om daaroor