Eindspel. Wilna Adriaanse
Читать онлайн книгу.agter hom toetrek, praat sy agter hom. Hy draai om. Sy staan kaal. Haar lyf herinner hom aan Gabriella s’n. Skraal, maar met kurwes. Groot, ferm borste.
“Dis swak maniere om oproepe van ander vroue te beantwoord terwyl jy by my is.” Sy glimlag.
“Jammer. Dit was regtig werk.”
“Dié tyd van die aand?”
Hy het haar vertel hy werk in die sekuriteitsbedryf.
“Ongelukkig, ja. En ek sal moet gaan.”
“You must be joking.”
“Ongelukkig nie.”
“Ek is seker wat dit ook al is, kan wag.”
Nick sit sy hand op haar heup. Haar vel is warm. Hy kan haar ruik. Dalk effens te blommerig na sy smaak, maar dis gelukkig subtiel.
Sy tree nader en maak die laaste knoop van sy hemp los. Hy soen haar kaal skouer en besluit dit sál swak maniere wees om nou te loop. Hy trek haar nader.
Toe Nick later sy woonsteldeur oopsluit, kyk hy op sy horlosie. Hy wonder of Allegretti al die nuus gekry het. Die kanse is goed hy is teen hierdie tyd nie meer in ’n toestand om enigiets te registreer nie. Clara is die enigste mens wat dit nog ooit kon regkry om soms sin in sy kop te praat en hom te stop as hy heeltemal beheer verloor.
Nick stroop sy klere af, stort vinnig en raap dan sy bakkie se sleutels op en drafstap by die trap af. Hy hoop regtig nie die nuus het al by Allegretti uitgekom nie. Hy is kapabel en ry na Williams toe.
Op pad Bantrybaai toe tref ’n ander gedagte hom – wat as Allegretti vir Clara ontvoer het? Vir hulle almal se onthalwe hoop hy dis nie die geval nie. Die gevolge gaan bloedig wees.
Die huis lyk stil en donker toe Nick daar parkeer. Die huis is deesdae dikwels stil. Allegretti nooi nou en dan nog mense oor, maar dit gebeur gereeld dat hy hulle na ’n uur aansê om te gaan. Hy het nie meer lus vir hulle nie.
Die sekuriteitswagte verseker hom Allegretti was die hele dag by die huis. Nick kan nie besluit of dit goeie of slegte nuus is nie.
Hy sluit die voordeur oop en draf teen die trap op. Die ruim leefkamer is donker, maar op die trap boontoe brand ’n lig. Hy hoor stemme in die televisiekamer en steek vas. Die wagte sou seker gesê het as daar gaste was. Toe hy bo kom, sien hy dis die televisie wat hy gehoor het. Op die koffietafel staan ’n halfvol bottel tequila en ’n leë bottel Bollinger. Daar lê ook spore van wit poeier.
Nick roep en toe hy nie antwoord kry nie, gaan kyk hy in die hoofslaapkamer. Die bed is omgekrap, maar daar is geen teken van Allegretti nie. Die badkamer en aantrekkamer lewer ook niks op nie. Nick draf weer ondertoe, gaan kyk eers in die gym aan die agterkant van die huis. Nie dat hy dink Allegretti het skielik lus gekry vir oefening nie. Toe hy hom ook nie daar kry nie, stap hy deur die res van die vertrekke en die woonstel onder die huis.
Daarna gaan klop hy aan Patrice se deur. Die deur staan effens oop en toe daar nie antwoord kom nie, stoot Nick dit wyer oop. Dit lyk of ’n orkaan die plek getref het. Van die meubels lê onderstebo. Net binne die deur is ’n groterige donker kol op die mat. ’n Rooibruin streep loop daarvandaan deur die slaapkamer badkamer toe.
Nick vind Patrice op die badkamervloer. Hy lê in ’n plas bloed. Sy oë is oop en hy haal hortend asem.
Nick haal sy selfoon uit terwyl hy by Patrice buk.
“Ek het dringend ’n ambulans nodig,” sê hy toe iemand antwoord. Hy gee die adres. “Iemand is geskiet.”
Hy raak aan Patrice. “I’m here and the ambulance is on its way. Just keep still.” Hy haal die handdoek weg waarmee Patrice vermoedelik die wond wou toedruk en sien sy vermoede was reg. Dis ’n skietwond in sy buik. Hy haal ’n skoon handdoek van die reling af en druk dit teen die wond. Hy wil kyk vir ’n uitskietwond, maar die risiko is te groot om hom nou te verskuif.
“What happened?” Hy is nie op die oomblik so vreeslik gepla met wat gebeur het nie, maar hy wil nie hê Patrice moet sy bewussyn verloor nie. “What happened? Where is Enzio?”
Patrice probeer sy kop skud. “Sorry.”
“Who shot you?” Hy kry nie ’n antwoord nie, gaan sit en bel die waghuisie onder by die hek.
“Ek verwag ’n ambulans. Maak solank die hek oop en dan moet een van julle hulle so vinnig moontlik na Patrice se woonstel toe bring.”
Nick wag nie vir ’n antwoord nie, sy aandag is reeds weer by Patrice. “Open your eyes and talk to me. Who shot you?”
Patrice se oë val egter toe en hy antwoord nie verder op enige vrae nie.
Hy is bereid om die gevolge te dra vir sy keuses en besluite, maar wanneer iemand anders begin betaal vir jou besluite, raak dit moeilik. Hy het Patrice gewerf, en al het hy seker gemaak die man verstaan die moontlike implikasies, voel hy steeds verantwoordelik. En magteloos. Hy haat dit om só te voel.
Na wat soos ’n ewigheid voel, hoor Nick stemme. Twee paramedici kom die badkamer binne.
“Hy is geskiet en het baie bloed verloor,” sê hy vir die een wat eerste by Patrice buk. Dan staan hy op sodat hulle kan oorneem.
Tien minute later is Patrice agter in die ambulans. In sy arm is ’n naald en bo sy kop hang ’n sakkie vloeistof. Nick sê hy sal agterna met sy bakkie ry.
“Niemand gaan in die huis in nie,” gee hy bevele by die hek. “Selfs nie julle nie, en bel my as enigiemand hier opdaag.”
Dis amper eenuur toe hulle by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in die stad stop. Die noodeenheid is nog ’n miernes, maar Patrice word dadelik gestoot deur ’n deur waarop Triage staan. Die suster maak die deur agter die trollie toe.
“Kan u vir ons in die wagkamer wag, asseblief?” sê sy deur ’n skrefie.
Nick stap terug na waar hy die wagkamer gesien het. Dit sit volgepak. Hy was nog nooit goed met wag nie en hy haat hospitale en veral wagkamers. Hy was nog ’n kind toe sy pa dood is, maar kan steeds die reuk onthou. En die harde stoele. Hy en sy broer was soms so moeg dat hulle sommer op die mat geslaap het terwyl sy ma uur na uur op ’n regop stoel gesit het. Hoopvol dat iemand ’n bietjie goeie nuus sal bring.
Jare later was dit weer hy en sy broer wat op die stoele gewag het vir nuus oor hulle ma. Elke keer het hulle die nuus in ’n wagkamer gekry. Hy staan dus nou eerder in die gang.
Monica antwoord met die derde lui. Hy vertel haar van Patrice wat geskiet is en Allegretti wat weg is.
“Waar is jy?”
“By die hospitaal.”
“Het jy die polisie in kennis gestel?”
“Nee, daar was nie tyd nie.”
“Jy gaan hulle ook nie in kennis stel nie, gaan jy?”
“Nee.”
“Dink jy dis slim om so iets te probeer wegsteek?”
“Ek gaan dit nie wegsteek nie. Ek wil net self kies wie en wat ek naby die saak gaan toelaat. As ek nou die deure oopgooi, is die hele saak teen sonsopkoms gefok.”
“Het jy iemand in gedagte?”
“Ek dink nog.”
“Nick, ek is jammer oor Patrice. Ek weet jy het hom gewerf en jy voel verantwoordelik vir hom, maar jy het hom nie geskiet nie.”
“Ek moet eers gaan. Ons kan later praat.”
“Ek ken daardie toon in jou stem en dit voorspel niks goeds nie.”
“Watter toon?”
“Daai een wat sê jy gaan nie meer na raad luister nie.”
“Dit hang af van wie die raad kom.” Hy groet voor sy kan antwoord.
Nick versit homself waar hy teen die muur in die gang staan, en kyk na die mense wat by hom verbyloop. Die