Die goudbaronne. Lerina Erasmus

Читать онлайн книгу.

Die goudbaronne - Lerina Erasmus


Скачать книгу
haar grusame ervarings nog rou in haar gemoed, het sy van toe af al haar verbittering op Malloy toegespits.”

      Freud teug ingedagte aan sy wyn, skud dan sy kop ongelowig. “Ek is steeds verbaas dat sy bereid was om die leuens te aanvaar, Karl. Sy is volgens jou hoogs intelligent.”

      “Jy onderskat beslis my talent as akteur, Sigmund. Ek het jou al gesê dat ek op my oortuigendste is wanneer ek lieg – want jy sien, ek glo gewoonlik my eie leuens, en so word dit deel van my. Maar dit was nie al nie. Ek het uit ’n onverwagse oord ’n vennoot gekry: een van die kampkinders wat Deborah in ons huis ingeneem het.”

      “Jy het my nog nooit daarvan vertel nie. Julle het dus oorlogswese ingeneem?”

      “Deborah het,” antwoord Karl nors. “Sedertdien het ek begin reis, onthou? In 1903 het ons mekaar die eerste maal ontmoet.”

      Freud knik sy kop en beduie dat Karl moet voortgaan.

      “Die eerste was Bess. Bess Visser, ’n bot, ongemanierde skepsel wat Deborah uit jammerte daar aangesleep het. Sy het haar probeer opvoed, haar selfs later laat studeer. Onverwags – glo my, ek het nie daarvoor gesoek nie – het Bess haarself aan my begin opdring, tydig en ontydig. Ek het agtergekom dat sy ’n diepgewortelde jaloesie teenoor Deborah gekoester het, oor haar voorkoms, haar persoonlikheid, selfs haar besittings. Ek het my kans gesien, dit uitgebuit, Bess se sogenaamde trots – soos sy dit genoem het – uitgebuit, welwetende dat dit in werklikheid bloot gruwelike naywerigheid was.”

      “Jy het ’n verhouding gehad met ’n kind?” vra Freud stil, sy oë nou onleesbaar agter sy bril.

      “Sy was ryp en so uitgehonger soos ’n straatbrak vir enige toenadering, begryp jy nie? Sy sou dit seker ook by die personeel gaan soek het, maar ek, Deborah se man, was die eerste prys. Sy wou Deborah daarmee bykom. Ek het haar gegee wat sy gevra het. In ruil daarvoor het sy Deborah met groot oortuiging vertel dat sy Kit, die man op die wit perd wat Deborah uit die kamp kom haal het, keer op keer weer in die kamp gesien het. Ook dat die nuwe aankomelinge veel te sê gehad het oor hom, dat dit altyd dieselfde was met die man: Eers het hy die vroue se vertroue gewen, en dan, kort daarna, het die Engelse toegeslaan. En Malloy was, volgens haar, voortdurend daar, om toe te sien hoe die Boeregesinne se kosbaarhede op sy wa gelaai word, as betaling vir sy verraad.” Karl laat sak sy kop en sit lank in stilte.

      Uiteindelik sê hy gesmoord: “Bess se fantasie – of moet ek liewer sê, myne – het Deborah finaal teen Malloy laat draai.” Hy lag bitter. “Jy sien, my vrou het ’n swart-wit uitkyk. Vir haar is daar net reg of verkeerd. Dat ’n kind soos Bess so ’n gedugte leuenaar kon wees, sou nooit by haar opgekom het nie.”

      Leeg en moeg leun hy terug. “Dit is dan al, Sigmund. Mea culpa, mea maxima culpa! Skenk my vergifnis, vader, want ek het gesondig en ek vrees die lewe, maar ook die dood … ja, die dood vrees ek ewe veel.”

      “Waarom hierdie obsessie met die dood, Karl? Nie een van die baie dokters by wie jy was, het ’n terminale siekte gediagnoseer nie, dit het jy self vir my gesê.” Freud leun na vore en raak aan Karl se hand. “Laat my toe om vir jou ’n afspraak by die universiteit te reël. Asseblief, my vriend, ons leef in die twintigste eeu! Met die Röntgen-apparaat kan mens sonder twyfel –”

      “Nee! Nee, nie dit nie!” roep Karl ontsteld uit. “Ek sal dit nie kan verduur as hulle wel ’n gewas vind nie,” verduidelik hy verleë. “Hoe noem julle sielkundige kwakke dit – psigosomaties? Dit is wat my probleme is. As ek met sekerheid weet, sal ek van my kop af raak.”

      “Maar dit is juis jou onsekerheid wat jou so treiter,” sê Freud sag. “Al hierdie doodsgedagtes, hulle is waarskynlik totaal onnodig. Met sekerheid kan jy iets positiefs daaraan doen.”

      “Wat? Wat kan enigiemand doen?” lag Karl. “Julle is nog nie so ver gevorder dat julle malheid uit ’n man se brein kan sny nie, of kan julle al?” Hy leun vorentoe en kyk die sielkundige vierkant in die oë. “Ek wil nie soos my ma word nie, verstaan jy? My God, Sigmund, dan kies ek liewer die dood! En as dit vir my lyk asof ek daarop afstuur, is selfmoord my enigste uitweg. Maar hierdie keer sal ek sorg dat ek nie misluk nie.”

      “Selfmoord?”

      Karl antwoord hom nie, maar leun stadig terug in sy stoel en staar in bot stilte na die vlamme wat in die porseleinstoof gloei. Toe maak hy sy keel skoon en kom traag orent. “Ek is moeg, my vriend,” sug hy. “Lewensmoeg. Weereens dankie vir jou gewillige oor.”

      “Môre sal ons verder daaroor praat. Ná ’n goeie nagrus sal jy beter voel,” sê Freud.

      Karl knik. Hy hoef hom mos nie nou te sê dat hy môre vroeg die trein gaan haal nie. Terug na Heinrich, na Parys. Daarna die lang bootvaart terug na Suid-Afrika … waar sý is. Sal hy die moed hê om dit wat hy aan Freud gebieg het, ook aan haar te bely? Sal dit enigiets ongedaan maak?

      Hoofstuk 3

      Die Januarie-son bak bitsig op die krieketveld neer. Meedoënloos trek dit sweet uit die witgeklede krieketspelers wat al ure lank in ’n verbete stryd gewikkel is. Jutta’s Rand se span, wat as een van Johannesburg se beste mynspanne beskou word, begin hul aanhangers stadigaan teleurstel. Hier teen die laatmiddag wil hul spel maar net nie op dreef kom nie. Boonop is twee van hul beste kêrels tydens die voorlaaste boulbeurt uitgevang. Roy Scott, die een wat nou die veld verlaat, is die span se topkolwer. Hy is hopeloos onkant gevang deur ’n goëlbal van die opposisie. Vir die aanhangers van Jutta’s Rand, Deborah inkluis, lyk dit of ’n oorwinning nou heeltemal buite hul bereik is. Hulle benodig ses lopies van die laaste vyf balle voor die einde van die spel. Die Jutta’s Rand-aanhangers wat om Deborah geskaar sit, is nou besonder stil, veral in teenstelling met die uitbundige toejuiging wat opklink uit die geledere van Gold Fields se manne.

      Langs haar skud Rheed sy kop. “Net ’n wonderwerk kan ons nou nog red,” mompel hy. “Al ons beste manne is uit!”

      Deborah knik, maar die blote gedagte dat Gold Fields aan die einde van die wedstryd gaan wegloop met die Mannheim-trofee, wat Deborah ter nagedagtenis aan haar skoonpa geskenk het, laat haar inderdaad vurig wens vir ’n wonderwerk. Sy bestudeer die program met hernude aandag. Nou hang alles van kolwer nommer elf af. Beleefde applous klink op toe die speler sy verskyning maak, ’n lenige blonde kêrel, met krieketkolf in die hand. Loslittig begin hy oor die veld draf. Deborah sug en leun verslae terug, want nou is sy nóg meer gekwel.

      Kurt het haar gesê dat hy die span se reserwe is. Sy het toe nie veel aandag daaraan gegee nie, maar dat hy nou as Jutta’s se laaste hoop opdraf, is ’n groot fout. Hy is nie opgewasse vir so ’n taak nie. Sy weet wel dat haar kind ’n goeie atleet is, maar sy weet nie eens of hy ooit vantevore krieket gespeel het nie. Hoe op aarde sal hy sy man kan staan teen die gesoute Goldfielders wat nog altyd hul sterkste kompetisie was? Daarby vermoed sy dat Kurt op die oomblik bra onfiks is. Sy het hom die laaste tyd min kans gegee om aan sport deel te neem, want hulle was van die oggend tot die aand aan die gang met mynskaginspeksies.

      Spanning begin opbou en die toeskouers om haar verstil. Alle oë is vol afwagting op jong Mannheim gevestig. Hy neem sy plek voor die paaltjies in. Selfs uit Gold Fields se geledere hoor mens nou geen geluid meer nie.

      Kurt meet die afstand na die bouler, sy oë skrefies. Hy sal wraggies vandag sy storie moet ken. Sy ma sal hom dit nooit vergewe as die beker deur sy toedoen in die opposisie se kamp beland nie. In afwagting verstewig hy sy greep om sy krieketkolf, sy blik gespanne gevestig op die bouler. Hy het gehoor dat hierdie mannetjie, Henry Jones, Gold Fields se gevaarlikste speler is.

      Jones gaan oor tot aksie. Met ’n atletiese beweging van onderlyf en bolyf swaai hy sy arm omhoog. Die bal skiet snel en sekuur uit sy hand en pyl blitsig op die jong kolwer af.

      In ’n breukdeel van ’n sekonde besluit Kurt dat hy daardie bal nie gaan probeer kolf nie. Hy koes net betyds weg en die bal trek oor sy kop verby.

      Van die paviljoen af weerklink ’n gekreun op onder Jutta’s se manne. Almal hou van jong Mannheim, hulle beskou hom amper as een van hulle, want hy’t voor hulle oë grootgeword en homself nog nooit aangestel omdat hy ’n Mannheim is nie. Maar dis


Скачать книгу