Die goudbaronne. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.vir sy tweede aflewering. Weer die kenmerkende kontorsies, toe skiet die bal los en trek oor die veld. Dié keer tref Mannheim dit darem so skuinserig. Gold Fields se veldwerkers maak korte mette daarmee en Kurt kry nie kans om eens ’n enkele lopie aan te teken nie.
Dis verby, dink Deborah gelate, teleurgesteld in haar span, ja, maar veral teleurgesteld in haar seun. Kurt behoort beter te geweet het as om hom te laat ompraat om as reserwe vir die span op te tree. Met ’n sinkende gevoel kyk sy hoe hy hom nou vir die derde aflewering gereed maak. Weer kom die bouler in posisie en stuur die bal netjies paaltjies toe. ’n Paar oomblikke lank lyk dit of hulle uitmekaar gaan spat, maar die bal tref Kurt se beenskut. Die Jutta’s Rand-aanhangers sit versteen – dis die einde, wat hulle betref.
Protes klink luidkeels en triomfantlik uit Gold Fields se kamp op. Appelleer! Appelleer! Dit is ’n geval van been voor paaltjie! Alle oë draai afwagtend na die skeidsregter, maar die man gee geen aanduiding dat hy gesien het dat die beenskut in die pad was nie. Hy beduie met die hand dat die spel moet voortgaan. Om hulle mor Goldfields se manne, maar nie ’n geluid is hoorbaar om Deborah en Rheed nie, dis duidelik dat hulle hoop opgegee het.
Weereens neem die twee manne stelling in teenoor mekaar. Kurt lyk verbasend ontspanne, dink Deborah onthuts. Hy behoort immers te weet dat hy hulle laaste kans nou feitlik vir goed bederf het.
Kurt, wat die bouler se tegniek teen dié tyd goed opgesom het, weet dat Jones met die volgende bal alles gaan uithaal, maar dié keer is hy gereed vir enige aanslag.
Die bal skiet los uit die bouler se hand en Jutta’s Rand se ondersteuners se moed sak verder. Daardie bal wat so sekuur op die paaltjies afstuur, is ’n doodhou vir so ’n jong mannetjie. Maar toe gebeur dit: Kurt Mannheim se kolf maak met ’n harde klapgeluid kontak met die bal! Die bal word ’n verskietende ster wat hoog en ver oor die veld seil.
Die Jutta’s Rand-aanhangers spring orent in hul opgewondenheid, hul oë vasgenael op jong Mannheim. Dié het begin hardloop. Hy storm oor die kolfbaan en teken ’n enkele lopie aan voordat hy vassteek, want nou is daar geen lopies meer nodig nie. Die bal het ver buite die veld beland, ’n ses. Deborah se knaap het wragtig ’n volbloedses aangeteken! Dit maak Jutta’s die onbetwiste oorwinnaars van die dag. Juigend kom hulle op die been: Die beker kom terug na Jutta’s waar dit hoort. Jutta’s het gewen!
Die dalende son laat die krieketspelers se skadu’s lank uitrek waar hulle ná afloop van die wedstryd nog in hul euforie op die veld ronddwaal.
Deborah se deftige swart motor ry stadig deur die hekke van Wanderers, nog steeds omring deur ’n jubelende skare entoesiaste wat ’n laaste maal die held van die dag wil vereer.
Kurt grinnik verleë, waai en draai dan die motorvenster hoër op. Ter wille van sy ma het hy die manne se uitnodiging om die oorwinning met ’n paar biere te gaan vier, van die hand gewys. Hy wens opreg dat Heinrich al terug was! Selfs sy pa, Karl, se teenwoordigheid sou gehelp het om hom tydens die vakansie so ’n bietjie van ’n blaaskans te gun, om nie gedurig te voel dat hy aan sy ma moet dink nie.
Sedert sy aankoms uit Stellenbosch gaan dit so, en dis slegs wanneer hy tussen die myners is dat hy kans kry om onder haar oë uit te kom – en dan ook nie altyd nie. Hy behoort hom seker te skaam, dink hy. Sy ma is uitgehonger vir geselskap. Volgende jaar, ná hy sy graad ontvang het, sal hy deel word van die Mannheims se myne en sakebelange. Dinge behoort dan beter te gaan, meer normaal te word … so hoop hy, altans.
“Vanmiddag het ek regtig gewens dat jou oupa Kurt jou kon gesien het,” onderbreek Deborah sy gedagtegang. Sy neem haar seun se hand in hare. “Jy het die myners groot eer aangedoen, my seun!”
Kurt glimlag ongemaklik. Deborah prys mens nie ligtelik nie. Van meet af aan het Deborah dit aan hom en Heinrich duidelik gemaak dat sy net die beste van hulle verwag. Dit was eenvoudig die standaard wat sy vir haarself gestel het. Hy maak sy hand sagkens uit hare los en grinnik verleë.
“Hokaai, Ma. So waffers was dit nou ook nie. Mens is partymaal maar net gelukkig.”
“Bog!” roep sy skerp uit. “Geluk begunstig net dié wat hul kanse en hul verstand gebruik.”
Kurt haal sy skouers op. Dit is nog ’n cliché wat vir haar ’n lewensbeskouing geword het. Hy hoor dit al vandat hy kan onthou.
Deborah voel dadelik Kurt se irritasie aan. Sy besluit om die onderwerp te verander.
“Jou pa,” sê sy byna lighartig, “was lank gelede ’n uithaler-polospeler, weet jy. Karl sou internasionaal kon deelgeneem het as hy hom daarop toegespits het. Het jy nog nooit trek gehad daarvoor nie?”
Hy lag. “Dis vir die niksdoeners, Ma, en dis te elitisties vir ons stomme studente. Dit kos te baie.”
“Dis nie ’n probleem nie. As jy sou wou, dan –”
“Nee, Ma. Nee!”
“Ons kan lesse –”
“Dankie, maar ek … ek kan tog nie op my eie ’n span wees nie. En ek ken die spel, Ma. Een keer, lank terug – ek was nog klein – toe het iemand my touwys gemaak. Ek was toe nogal dol daaroor …” Hy haal sy skouers op, maar praat nie verder nie. Hy sal sy ma die besonderhede van daardie polosessies spaar, want Kit Malloy se naam is jare lank al vir hom en Heinrich verbode.
Eienaardig hoe helder die herinnering aan daardie sondeurdrenkte dae hom nou nog bybly. Dit was die vakansietye toe hy en Heinrich by die Malloys gebly het. Hulle drie – hy, Heinrich en Vickey – was ’n onafskeidbare driemanskap. Drie strandlopertjies, wat elke dag nuwe avonture en wondere ontdek het. Kit Malloy was sy en Heinrich se held. Daarby was hy die eienaar van ’n stal vol perde wat altyd tot hulle beskikking was. Dit was Kit wat hom en Heinrich geleer het hoe om polo te speel, en hulle het saam eindelose ure van pret gehad op sy strandplaas naby Houtbaai.
Dit was so lank terug, nog voor die oorlog … Sou die Malloys nog in Johannesburg woon? Kit Malloy het ’n wêreldburger geword. Mens lees gereeld oor hom in koerante. Hy is fabelagtig ryk, ’n gesogte vrygesel wat glo eksotiese plekke besoek en bergpieke oorwin. Hy het Kilimandjaro geklim, hy het glo ook die Amasonerivier bevaar, of so berig die koerante. Tog word daar nooit enige melding van sy dogter gemaak nie. Waar sou Vickey wees? Sy was ’n dapper, onverskrokke maat, maar ná die oorlog het sy ma alle kontak tussen die twee families verbied.
“Jy is diep ingedagte.” Sy ma kyk hom onderlangs aan met ’n tergende uitdrukking. “Moontlike muisneste?” probeer sy uitvis.
Kurt lag hard. “Muisneste! Vir wie en wat? Ma gee my dan geen tyd daarvoor nie! Sedert my aankoms in November kry ek skaars tyd vir ’n potjie tennis, so waar sal ek ’n muisnes optel?”
Deborah knik boetvaardig. “Was ek so ’n tiran? Dan vra ek om verskoning. Ek het jou te veel laat inspan.”
Haar seun sit sy arm om haar skouer en lag goedig. “Toemaar, Ma, ek was selde meer in my element. Ma behoort dit te weet.”
Deborah glimlag. “Ek is bly om dit te hoor. Want dit sal ’n ideaal verwesenlik, een wat ek al so baie jare koester, om jou aan my sy te hê wanneer jy klaar gestudeer het. Maar eers gaan jy kennis maak met die oorsese vertakkings en daarna gaan ons Mannheim Enterprises uitbou. Met jou kennis en jeugdige energie staan daar niks in ons pad nie. Wenners, dit is wat ek en jy gaan wees!”
“Wanneer laas het Mamma tyding gehad van Pa?” verander Kurt die gesprek.
Deborah frons en antwoord dan ontwykend. “Niks sedert sy vertrek nie. Nie dat dit my juis verbaas nie, hy het ’n swak korrespondent geword. Hy’s op die oomblik in Parys saam met Heinrich. Hy sal seker laat dié maand of vroeg Februarie tuis wees, betyds vir sy verjaardag. Dis soos hy maar altyd maak.” Sy ma se stemtoon is afsydig wanneer sy oor sy pa praat.
Maar dis verstaanbaar, dink hy. Ook vir hom het Karl oor die jare nog altyd ietwat van ’n vreemdeling gebly. Daar was nooit juis ’n band tussen hulle nie, miskien omdat sy pa voortdurend op reis was. As kind het dit hom soms gepla, maar nou skeel dit hom min.
“Daar het wel vandag vir jou pos gekom,” onderbreek sy ma se stem weer sy gedagtegang.