Koms van die motman. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Koms van die motman - Chris Karsten


Скачать книгу
na ’n tissue te soek. Maar Ella se oë wyk nie van die skieter nie en sy sien hoe sy kop vir ’n oomblik hang. Dis reg, voel skuldig, helsem, dis jou verdiende loon! Eintlik moet jy kom kyk wat jy aan my pa gedoen het. Jy sal –

      Dan draai hy meteens sy gesig na haar, asof hy die hele tyd bewus was van haar blik op hom, asof hy haar telepaties met hom kon hoor praat.

      Hulle oë bots.

      Maar nou, noudat sy hom reguit in die gesig kyk, lyk hy so normaal: skoongeskeer, maerderig, ouerig, effe outyds in sy tweedbaadjie en paisleydas, goueraambril met die ronde lense, vaal haartjies steil agteroor geborsel. Hy lyk nie soos ’n Mad Max of Rambo of Terminator, of selfs ’n malletjie soos Hannibal Lecter nie. Hy lyk onskadelik, soos ’n ouer weergawe van meneer Snyders van fisika.

      Met sy leë gesig.

      Maar dan vertrek sy dun lippe, amper soos in ’n gryns, of soos iemand wat skielik ’n kort, intense steekpyn ervaar. Hy draai sy gesig weg en kyk weer voor hom.

      Hoe het hy geweet waar sy sit? Hoe weet hy wie sy is?

      TONEEL VAN DIE MISDAAD

      Maandagaand 13 Februarie 2017

      20:16

      Haar smoel is vir g’n enkele oomblik toe nie. Die man met die snorbaard en kaalgeskeerde kop sit die Five Roses-teesakkie in sy koppie. Bla-bla-bla. Uit ’n Lipton-blik meet hy groentee in hare. Bla-bla-bla.

      ’n Gesnater van woorde, die toon stroperig, die kyk in haar oë inkruiperig; haar hele houding dié van ’n flaarsie, nie ’n vrou van vyftig of ouer nie. Hy hou hom in en kyk haar agterna, moet glo die sieke gaan versorg, hoe mens só iemand ook al versorg.

      Hy skink die kookwater in die twee koppies, Ceylon vir hom, groen vir haar. En uit sy sak haal hy die houertjie met ’n voorskrifpil vir slaaploosheid. Hy maak die prop oop en snuif. Ja, dis reukloos, maar wetgewers sit druk op farmaseute om sulke middels meer herkenbaar te maak sodat dit nie so maklik vir kwade bedoelings gebruik kan word nie. Hierdie een het nou ’n groenerige kleursel in en iets is bygevoeg om dit glo ook ’n bitter smaak te gee. Maar daarmee het die wetgewers en farmaseute iets soos vodka in gedagte gehad, nie bitterige, suikerlose groentee nie.

      Hy dra die twee koppies sitkamer toe waar hulle ’n halfuur tevore met borde op hulle skote voor die TV gesit en eet het.

      Toe sy terugkom, sê hy: “Jou vriendin se man, wat’s die sin van só ’n lewe? Nee, nie lewe nie, so ’n bestaan, so breindood, jy sê elf jaar al?”

      Sy blaas eers oor haar tee. “Dis juis die ding, sy glo sy brein absorbeer nog. Dis hoekom sy vir hom lees, sy glo hy hoor haar en weet wat om hom aangaan.”

      “Hy kan hoor – al lê hy net daar, sê niks, sien niks, voel niks? Glo jý dit, as ’n nurse, dat sy brein registreer wat om hom aangaan? Dat hy hoor wat sy vrou of dogter vir hom sê of lees?”

      “Dis nie of ék glo nie. Dis of daar vir hom hoop is. En daar is wetenskaplike bewyse: MRI scans het al in sekere gevalle ’n toename in neural activity gewys terwyl geliefdes met só ’n pasiënt gesels.”

      “Hoe lank moet geliefdes bly hoop? Cross my heart, as ék ooit eendag in so ’n toestand is, promise my jy switch alles af.”

      “Vir wat wil jy nou terugry, slaap oor, slaap hier op die bank, hier’s ekstra beddegoed.”

      “Sy sal nie omgee nie?”

      “Nee. Buitendien, hoe sal sy weet?”

      Weer daai gegiggel wat hom so oorstuur dat hy handgemeen wil raak. Maar wag, daar’s die eerste gaap nou. “Hou op, jy laat my ook gaap. Miskien moet ek my sak gaan haal, jy gaan dit nie lank maak nie.”

      “Die hek se remote is daar in die bak. Ek gaan soek solank vir jou ’n kussing en kombers.”

      Hy staan op. Vyftien, twintig minute en sy’s uit soos ’n kers, word eers môreoggend wakker, weet van niks.

      20:29

      Hy sit sy keps op, trek die tuit laag oor sy oë en stap in die nag uit. Sy kar is buite voor die kompleks geparkeer. Dis ’n lang pad tussen die tuinhuise deur, heen en terug. Maar almal is stil en donker, geen gordyn wat weggetrek word vir ’n nuuskierige uitloer na nagtelike skimme nie. Hier en daar deur ’n dun behangsel die mistige blou blerts van ’n TV-skerm.

      Hy trek stywe gholfhandskoene aan en kom met sy sak terug. Hy druk weer die voordeur agter hom toe, sluit dit en sit die sak op die eetkamertafel.

      Die sitkamer is leeg. Haar teekoppie is leeg.

      Die spaarkamer se deur is oop. Hy gaan loer in.

      Daar lê sy.

      Sy het die bed gehaal, net-net, op haar maag met al haar klere nog aan. Hy skud haar aan die skouer. “Hei, kan jy my hoor?”

      Haar asemhaling is diep en reëlmatig, ’n sagte gefluit deur haar neus met elke uitaseming.

      Hy bekyk haar vir laas, klik met sy tong en stap uit, trek die deur agter hom op knip.

      In die sitkamer vat hy die teekoppies en gaan sit dit by die borde en eetgerei in die skottelgoedwasser. Hy soek die wasblokkies onder die wasbak, druk een in die gleuf en skakel die wasser aan.

      Hy beskou nou die kombuis. Hy stap terug na die eetkamertafel en beskou ook die woonvertrek. In sy gedagtes probeer hy sy roetes volg. Hy was bedag om nie spore agter te laat nie. Spore impliseer ook onsigbare spoorelemente, nie net vingerafdrukke en hare nie. Sy hantering van borde en eetgerei en teekoppies kon nie verhelp word nie, maar die skottelgoedwasser sal daarvoor sorg.

      Sy speurtog was maklik. Twee, drie dae en hy het alles gehad: adres hier op Bela-Bela én die naam van die boesemvriendin. Almal weet van die man in die lang koma, almal ken Doreen Neser en Maggie Strydom.

      Daarna die “toevallige” ontmoeting met die nurse met die loopmond. Dit was ook maklik.

      In die nurse se huis was hy nog net enkele kere, nommer agt, net af in die straatjie. Sy het toe ook vir hulle tee gemaak – Five Roses Superior Ceylon Blend vir hom en Lipton Green Tea vir haar. Dis die Lipton wat hom die idee gegee het.

      En Vrydag, wyl hy nog wonder presies hoe hy in die Neser-huis gaan inkom, beland dit in sy skoot: “Doreen moet Maandag ingaan vir ’n klein prosedure. Ek moet haar man gaan oppas, hy’s … hy’s siek. Wat doen jy Maandagaand, lus om my geselskap te kom hou?”

      Hy kon sy plan finaliseer.

      Hy is seker dat hy niks in haar huis agtergelaat het nie, beslis geen vingerafdrukke nie. Miskien ’n haar of twee, maar hopelik vacuum sy gereeld. Hy hou nie van hopelik nie, maar kon dit nie verhelp nie; soms is enigeen aan die genade uitgelewer, al tref jy watse voorsorg, of nasorg.

      Hy haal ’n klein draagbare stofsuier en ’n mikroveselstoflap uit sy sak en begin die sitkamer en kombuis skoonmaak, spesifiek die stoel waarop hy gesit het en ook die sitkamermat voor sy stoel, die roete kombuis toe en plekke in die kombuis waar hy gehelp het met die skottelgoed en tee.

      Dit vat nie lank nie. Terug in die sitkamer pak hy alles in die sak terug, ook die stofsuier met sy stofhouer, en rits dit toe. Sy oog vang weer die geraamde foto’s op ’n buffet. Hy gaan lig een op. Dis van ’n jong vrou, eintlik nog ’n meisie, met lang donker hare in ’n middelpaadjie. Hy kyk na die foto van die egpaar. Die man, dit moet hy wees. Hy sit die foto van die meisie op sy plek terug en staan tru, leun weer vorentoe en verskuif dit ’n millimeter.

      Hy betrag die res. Die freesias in die glaspot op die eetkamertafel, die sitkamergedeelte met die TV en tydskrifte, ’n stillewe van ’n koningsprotea teen ’n muur, op die kombuistoonbank die bakkie met sleutels en goed waarin hy die remote teruggesit het, nou afgevee en gereinig van sy afdrukke en velselle. ’n Bak met perskes, ’n paar pruime en twee piesangs. ’n Vet glashouer met beskuit. Sy oë huiwer op die beskuit.

      21:08

      Hy stap by die siekekamer in, druk die deur toe en skakel die lig aan;


Скачать книгу