Koms van die motman. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Koms van die motman - Chris Karsten


Скачать книгу
kom iemand wat jou sal verjaag, jou hoer van Nineve! Bewaak jou vestings, hou dop die pad, maak jou gereed vir die stryd, monster al jou kragte!

      Want Ek sal al jou klere uittrek, Ek sal volke jou kaal liggaam laat sien, koninkryke die skande van jou naaktheid. Ek sal mis op jou gooi, en van jou so ’n spektakel maak dat elkeen wat jou sien, van jou af sal padgee.

      Jy sal nie herstel nie, jou wond is dodelik.

      En in 612 v.C. word die profesie bewaarheid:

      Swepe klap, wiele dreun, ruiters galop, swaarde blink, spiese blits.

      Die wagte op die klipmure vlieg in die son weg soos treksprinkane.

      Nineve word geplunder, verdelg, afgebrand.

      In Bo-Mesopotamië, aan die oosoewer van die Tigris … kyk, dáár lê die Assiriese hoer nou, kaal, verniel, gekasty, beskaam, en haar dinas – haar Sin-shar-ishkun, wat beteken: “Die een wat vertroos” – is gestroop van sy goud en sy mag en sy lewe.

      Maar wag! Die geskiedenis word herskryf. Die Nineviete herrys.

      In Zoeloeland, by Mazizini aan die voetheuwels van die Drakensberge waar die Thukela van sy fonteinbron daar hoog bo oor die valle en uit die ravyne en deur die tande van die drake kom, word in 1867, in die clan amaZizi, ’n nuwe Ninevitiese koning gebore: Mzuzephi, wat beteken: “Waar het julle my gekry?”

      Maar gesalf as nuwe dinas of koningskind is hy nie – sy opgang van veewagter tot vors begin meer beskeie, dit begin by ’n perd.

      ARTHUR

      Klipfontein Maximum Security Correctional Centre

      Tembisa, Gauteng

      Vrydag 2 Maart 2007

      Dis ’n droom, en in die droom is hy ’n Laputaanse neerkyker op die verrigtinge doer onder en op die arme skepsels. En danksy sy intense beloering val sekere gelaatstrekke hom bywyle op: hier ’n neus en lip, daar ’n oog en oor, en van hulle begin bekend lyk, begin lyk na syne – sý neus, lip, oor, oog, wenkbrou, moesie, moedervlek aan die skouer. Wag! Nee, daai merk aan die skouer, dis nie ’n moedervlek nie, dis die litteken van ’n koeëlwond.

      Beurtelings mesmeriseer en walg die spektakel hom, hierdie prosessering, assessering, klassifisering, hierdie fantasmagoriese monteerbaan waarop ook sý stomme geskandmerkte liggaam afgebreek, gedip, gedoseer, gefumigeer en gevisenteer word, die inhoud van sy mond en anus met rubbervingers gerek en gepriem, voor al sy parte in ’n nuwe vorm herskik en naamloos herverpak en met ’n agtnommer-staafkode getjap word.

      Maar nou, te midde van hierdie helse geharwar, verdwyn die nuutgemuteerde hy momenteel uit sig. Panies soek sy skeeloë, een binnetoe, een buitetoe.

      Dáár! Daar staan hy. Saam in die linie van die nuwe opname. Kaal in hulle boksers van growwe doek – jonk, oud, vet, maer, kort, lank, harig, poens, pan, bles, bleek, wit, swart, bruin, taan, groen, en enige ander vorm, voorkoms, bou, skakering.

      Ja, dit ís hy: Gevangene 6660022W, toegewys aan Eenheid C, Seksie 3, Groep C.

      ’n Betitelde spreker word gepresenteer en assistentdirekteur Panji tree na vore, vernaam beboep, besnor, getint en gedelegeerd; tronkbaas Ndabandaba is onbeskikbaar.

      Panji deklameer oor ’n lewe in die tronk. Dun purper lippe kap sy sinne verbete en kort af. Inkerkering is g’n piekniek nie. Daar’s reëls, regulasies, orders. Daar’s roetine. Daar’s voorregte vir goeie gedrag en nadele vir swak gedrag. En erge gevolge vir pogings om te ontsnap. Vir smokkelary. Vir geweldpleging teen staf en medegevangenes. Vir die beskadiging van staatseiendom. Vir die besit van wapens, dwelms en ander kontrabande. Hy waarsku teen die lewensgevare van bendebedrywighede. Teen die gesondheidsgevare van masturbasie en sodomie. Teen tatoeërings, daggarokery, TB, MIV/Vigs en ander seksueel oordraagbare siektes.

      Die linie bekyk hom skepties toe hy praat oor die land se grondwet as sou dit konsuis ook die basiese menseregte van gevangenes beskerm, as sou korrektiewe amptenare spesiaal opgelei word om in hulle daaglikse interaksie met gevangenes uiting te gee aan hierdie konstitusionele bepalings van: gelykheid (Artikel 9), menswaardigheid (Artikel 10), die sekuriteit van die aangehoudene (Artikel 12), die reg op mediese dienste (Artikel 27), reg op onderrig (Artikel 29), vryheid van geloof (Artikel 31), op menslike behandeling en omgang met geliefdes (Artikel 35). Ensovoort en dies meer.

      In die valse wasem van die stem bemerk 6660022W ’n histrioniese toon wanneer Panji se vinger oor die skelm strepie hare op sy lang bolip streel en groot gewag maak van departementele visie, missie en doel, maar in elf tale verswyg dat agter tronkmure ánder reëls, regulasies, orders en wette geld.

      Vir persoonlike higiëne kry 6660022W ’n korrektiewe kam, skeermes, tandeborsel, pasta, rol toiletpapier en twee koekies seep vir lyf én klere. Vir slaap twee komberse, kussing en viltmat, dun soos karton. Die oranje drag, versier met die woord Corrections in herhalende klein swart sirkeltjies, bestaan uit een growwe linnebaadjie, een trui, twee langbroeke, twee hemde, twee T-hemde, twee kortbroeke, ook vier bokser-onderbroeke, twee pare sokkies en een paar skoeisel gesny uit die harde huid van een of ander groot en wilde hoefdier, ingesout en ongebrei en ongelooi en ru gestik, sodat 6660022W se sagte, bleek en bloubeaarde voete binne twee dae rou geskuur is met bloeiende blase.

      As lid van Groep C word hy in ’n kommunale sardiensblik ’n slaapgat op die sementvloer aangewys, net groot genoeg vir sy viltmat. In die sel bedoel vir veertig gevangenes is ingeprop – in weerwil van Panji se pasuitgesproke versekerings van menswaardige behandeling en persoonlike privaatheid en veiligheid en ruimte – tagtig stinkende, rasende, swetsende, dreigende moordenaars, rowers, verkragters, messtekers, aanranders en alle ander soorte geweldenaars.

      In sy vorige lewe het 6660022W – eens bekend as Arthur Wilfred Wilky, vrygesel – vir omtrent vyf dekades buiten babatyd nooit ’n slaap- en badkamer met enigiemand gedeel nie. Nou lê hy slapeloos op sy vloermat, omgeef deur vreemde liggame wat suur asems en sweet en hitte uitskei en dreig om sy kloustrofobiese nagruimte ook met ledemate in te dring.

      Stokstyf lê hy daar in die halfskemering van die nag, sy oë en ore oop. Waaksaam, onseker, beangs. Om hom die nagtelike snorke en sugte en hoeste en gesmoorde krete van tagtig gedoemde siele. Hy adem die reuke van vrees aan ongewaste voete, pisters en oksels, van vrot gasse wat uit die diepste en dikste en kromste derms uitgepoep word. En angsvallig oor sy vel is die krieweling van ’n miljoen skarrelende pootjies van weeluise, bosluise, kopmyte, tampans, vlooie, spinnekoppe, kakkerlakke, kokkerotte, stinkkewers, malmiere, balbyters – asof al hierdie goggas, bekend en onbekend, net lê en wag het vir die sluier van die nag om uit te kruip uit hulle neste en broeiplekke sodat hulle in hulle legioene op sy vars vleis kan kom teer en hom tot waansin teister.

      En dis maar net die eerste van baie, baie sulke nagte.

      Toe die onrustige slaap uiteindelik sy ooglede toetrek, is dit met ’n nuwe treitering: die oë van daai Neser-dogter wat soos twee prieme agter in sy skedel inboor, deur been en breinvog tot in sy harsings in.

      In die nag vlieg sy oë oop van ’n hand wat om sy mond toeklap.

      Nee, nee, in godsnaam nee, nie ek nie!

      Hy word tussen sy komberse uit orent gepluk deur twee silhoeëtte teen die dowwe tralielig uit die gang.

      Hy stoei en spartel en proes en kwyl agter die hand wat sy lippe kneus. Hoekom ek? Gaan soek die jongetjies, ek het hulle gesien, daar in die opnamelinie, met hulle gladde velle en ronde wange, hulle vet dye en boude in die boksers, vat hulle, ek’s oud, los my!

      Hulle sleep hom skoppend en proesend oor slapendes wat nie meer slaap nie, nie meer snork en sug en hoes en poep of in drome uitroep nie, wat asems kollektief inhou, en in die donker is net die aritmiese gejaag van vele vervaarde harte hoorbaar en ’n sagte ruising van vele skietgebede, opgestuur om’t ewe uit die siele van gelowers en ongelowers, van goddeloses, godversakers en godloënaars, nou almal verenig in vrees en dank dat dit die ou man is en nie hulle nie.

      Hulle sleep hom uit die kommunale slaapsel na die kommunale badkamer toe. Hy spartel en proes nie meer nie, sy kop


Скачать книгу