Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.sien ook twee groot motorfietse.
“Wie ry daardie goed?” vra sy.
Giulio lag. “Dit lyk gevaarlik, nè? Ek en Luigi is motorfietsliefhebbers, maar ons ma wil die stuipe kry. Sy dink ’n mens terg die dood as jy jou aan sulke spoed blootstel. Nie dat ons stadig ry met motors nie. Luigi is ’n regte jaagduiwel. Hy het al by die onderste draai na Cortona van die pad af gejaag, in ’n sloot in. Dit was in die nag en ons het die slag gehoor. Ons moes hom gaan soek. Gelukkig is hy net lig beseer, maar die motor is omtrent afgeskryf.”
“Ek het nog nooit motorfiets gery nie.”
“Dalk moet ek jou eendag saam met my vat, mits jy nie bang is nie.”
Rafaella skud haar kop. “Nee dankie. Ek moes al te veel slagoffers van padongelukke behandel. Ek ry liefs met die motor.”
“Dan sal ek jou maar met my motor moet uitneem.” Hy lag weer. “Van motors gepraat, jy moet sien waarmee ry Maria Vallerta.”
“Waarmee?”
“Kyk maar self wanneer sy hier aankom.” Hy grinnik ondeund. “Nou het ek genoeg geskinder. Verskoon my, ek moet gaan werk. Ek sien jou vanaand. Geniet jou dag, Rafaella.”
Net voor middagete sit en gesels Rafaella, haar ouers en Louisa op die terras.
“Maria Vallerta kan nou enige tyd aankom,” sê Louisa.
“Waar is Luigi?” vra Rafaella. “Hy wil haar tog seker ontvang?”
Louisa skud haar kop. “O nee, hy sê hy vorm nie deel van die verwelkomingskomitee nie. Hy sal later eers te voorskyn kom.”
Hy wil Maria Vallerta nie graag sien nie, of hy dink hy is te belangrik, dink Rafaella.
“Wel, praat van die duiwel en jy trap op sy stert,” sug Louisa, staan op en beduie na die kronkelpad, vanwaar ’n sagte dreuning kom. “Hier kom sy, of eerder, hier kom hulle.”
Nuuskierig staan Rafaella op en ’n uitroep van verbasing ontsnap haar. Daar onder, tussen sipresse, ry ’n lang wit limousine. So dít is waarvan Giulio gepraat het.
“Sy kom in styl aan,” merk sy op en hoop sy klink nie sarkasties nie.
“Sy kom met baie bagasie,” sê Louisa. “Haar limousine is te groot vir ons motorhuis, maar die chauffeur en agent bly net oornag en ry dan weer. Die sekretaresse bly, want sy help Maria met alles. Maria kan nie sonder haar regkom nie.”
Jacopo staan gefassineer nader toe die motor om die laaste draai kom en voor die huis tot stilstand kom. Rachel bly sit.
Die bestuurder se deur gaan oop en ’n chauffeur in uniform klim uit. Hy maak die agterdeur oop. ’n Jongerige, mollige vrou in ’n streng formele grys pakkie klim uit.
“Dit kan nie sý wees nie,” sê Rafaella.
“O nee,” sê Louisa. “Dis haar sekretaresse en lyfbediende, Mimi. Háár lewe is nie maklik nie, arme vrou.”
Die vrou buk by die deur en tel iets in haar arms. ’n Harde gekef laat Louisa frons. “Ag nee, sy het weer daardie poedel saamgebring. Luigi kan die diertjie nie verdra nie.”
’n Kort, maer mannetjie in ’n pak, met gejelde hare, klim uit, draai en hou sy hand vir die volgende passasier uit.
“Daar is Riccardo, die agent, wat ons ster uit die motor help,” sê Louisa.
Die vrou wat uitklim, is wulps en donker, geklee in ’n konfeksie van ’n pienk valletjiesrok en stiletto’s.
“Sy is nog mooier as op haar foto’s,” prewel Jacopo, en sug.
“As ’n mens van oorryp hou,” glip by Rafaella se mond uit. Sy sit haar hand voor haar mond. Haar ma lag. Gelukkig is Louisa al aan die wegstap om die gaste te ontvang.
Die gebabbel van die operaster laat haar vroualleen soos ’n oproerige skare klink, dink Rafaella geamuseer. Sy gesels blitsig in Italiaans, beduie met haar hande vir Louisa. Agter haar loop die jong vrou met die wriemelende hondjie, en agter háár kom die kort mannetjie, met ’n groot aktetas wat sy lyf skuins trek in die hand.
“Laat ek julle voorstel aan Maria Vallerta,” sê Louisa. “Die Continari’s van Suid-Afrika is groot bewonderaars van jou, Maria.”
Maria moet elkeen se hand skud en groete wissel. Sy kyk Rafaella met ’n glimlag aan, maar dit bereik nie haar oë nie. Die byna swart, swaar gegrimeerde oë is hard en agterdogtig. Sy is omgewe van die geur van ’n sterk, soet en duur parfuum.
“O, julle kom uit Suid-Áfrika,” sê sy in ’n stem wat geen aanduiding gee dat dit in so ’n goddelike sopraan kan omsit wanneer sy sing nie. “Dis seker dié dat julle Italiaans met vreemde aksente praat.”
Sy laat dit klink asof ons uit die boendoes kom, dink Rafaella, en wissel ’n betekenisvolle blik met haar ma. Die sekretaresse, wat vaal en skamerig is, glimlag vriendelik, skud hand, maar hou die hond – ’n wit poedel met rooi strikkies op die kop en swart kraalogies – in een arm vas. Die agent groet haar ouers uit die hoogte, maar hy kyk Rafaella vrypostig takserend aan. Sy besluit sy hou nie juis van hom nie, tensy hy kan bewys dat eerste indrukke misleidend kan wees.
Onverwags kom Luigi by die deur uit. “Hallo, Maria, Mimi, Riccardo. O, en Verdi is ook hier, sien ek.”
Rafaella probeer peil in watter gees hy groet. Sy mondhoeke trek sinies af as hy vir Maria glimlag, asof hy te kenne wil gee: jy is net hier om mý onthalwe.
Maria gaan val hom egter om die hals en soen hom hartstogtelik op die mond. “O, dis lekker om jou weer te sien, mio caro. Hoe gaan dit? Jy lyk goed. Het jy al lekker gerus?”
“Wel, ek probeer, maar my hart rus nie.”
Wat bedoel hy? dink Rafaella gesteurd. Hy kyk na háár asof dit haar skuld is dat sy hart kastig nie rus kry nie. Maria Vallerta se blik draai ook agterdogtig na haar. O genade tog! Wil hy nou die vrou aspris jaloers maak? Dis só gemeen. Kinderagtig, eintlik.
“Kom, laat ons julle tuis maak, Maria,” sê Louisa. “Jou suite is gereed. Ons eet oor ’n halfuur middagete.”
Die besoekers verdwyn by die huis in saam met Louisa, Natalia en Alda, wat gedienstig in die deur staan en wag het. Maria se parfuum talm swaar in die lug.
Luigi kom sit by die Continari’s. “Sy het wragtig daardie hond saamgebring. Waarom mense sulke skoothondjies aanhou, enige honde aanhou, sou ek nie weet nie. Laas keer het die ding so rondgehol dat hy een keer weggeraak het. Almal moes hom soek. Almal behalwe ek. Ek hol nie agter ’n brak aan nie.”
Boonop nie juis lief vir diere nie, dink Rafaella suur.
Louisa kom weer buitentoe. “Hulle maak hulle tuis. Die bediendes het haar bagasie agter ingebring en dis ’n oorvloed, soos ek voorspel het.”
Drankies word uitgebring en hulle wag. En wag.
“Laat, sóós gewoonlik,” merk Luigi ergerlik op. “Ek is honger. Kom ons gaan in en eet.”
Louisa skud haar kop. “Ons kan nie sommer sonder haar gaan eet nie. Ons moet wag.”
“Mamma, kan jy onthou dat ons een keer ’n uur lank vir haar gewag het? Sy maak net ons kombuispersoneel kwaad en vir my nog kwater.”
Louisa haal haar skouers op en teug aan haar aperitief.
Dit is naderhand halftwee. “Goed, kom ons gaan in,” sê Louisa. “Ons ander gaste moet ook in aanmerking geneem word.” Sy lei hulle in na die eetkamer.
Luigi val langs Rafaella in. “So, wat dink jy van onse Maria?”
“Sy is baie mooi.”
Hy gee die blaflaggie waaraan Rafaella nou gewoond begin raak. “Jy wil maar net gaaf wees. Jy sal jou tyd mors as jy met haar probeer vriendelik wees. Sy hou nie van ander vroumense nie, veral nie mooies soos jy nie. Sy gaan vir jou die koue skouer gee, of anders gaan sy katterige aanmerkings