Sondes van die vaders. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.die grootste versigtigheid.
Gabriël glimlag. “Die eerste keer toe ek dit vashou, was ek ook skrikkerig vir die ding wat so knetter. Maar húlle moet bang wees. Dit is jou wapen. Druk die knoppie. Jy kan niks oorkom nie.” Marx gehoorsaam en skrik hierdie keer effe minder vir die blou-wit flits van die stroom en die knetterende geraas.
Gabriël staan terug. “So, wat bespreek jy en Anton Vermeer alles?”
“Soos jy weet, is hy ’n vurige ondersteuner van BEE en enige regstellende aksie. Hy mag wit wees, maar hy hou niks van sy mense nie.” Marx lag droogweg. “Nogal ’n verandering ná sy oupa en die ou Nasionalistiese denkwyse.”
“Dit skeld hom nog nie vry van sy oupa se dade nie. Deur hom is meer as duisend mense galg toe gestuur. Hy was die beplanner van daardie galgkamers. Hulle kon só meer mense per dag hang. ’n Baie effektiewe ontwerp.”
“Ek weet dit alles, pastoor. Glo my, ek is gereed hiervoor. Anton vertrou my – hy het al twee keer verwys na hoe sleg hy voel oor sy oupa se dade. Op ’n manier … ja, op ’n manier is ons minnaars. So op ’n afstand. Hy wíl boete doen, maar hy dink hy kan dit op so ’n maklike manier doen.” Hy sien die manier waarop Gabriël na hom kyk. “Nee, pastoor, ek is nie gay nie. Maar vir geld doen mens baie dinge. Ek hét al. Ek gee nie om om dit te erken nie. Pastoor weet ek is net ’n mens. Ek was al wat jy ’n rent boy kan noem. Nou koop ek daardie sonde af. Nou kan ek, met hierdie man, inspan wat ek deur daardie sonde geleer het. Anton het al in daardie rigting gepraat. Skimpe gegooi wat nie so subtiel was soos wat hy dalk dink nie. As hy sê hy hou van swart mans met sterk persoonlikhede, weet ek presies wat hy bedoel … Hy het ook ewe terloops gevra of hy ’n foto van my kan sien.”
“Het jy een gestuur? Dis gevaarlik.”
Marx lig sy wenkbrou. “Weet pastoor dan nie wit mense sê ons lyk almal eenders nie? Ek het iemand anders se foto van Facebook afgetrek, en hy lyk wel baie soos ek. Maar nie só dat die polisie my dalk later sal kan opspoor nie. Wanneer ek hom inwag op die lughawe, sal ek vir hom waai en hy sal my sien en dink hy het maar net swak na die foto gekyk, of ek is nou effens ouer, of so iets.”
“Ek moet sê, jou inisiatief beïndruk my, Marx. Een van die dae moet ek by jóú leer!”
Marx lyk skielik skaam. “Ek wil pastoor nie teleurstel nie … Die stadsraad reël vir hom ’n groot middagete. Ek is vanselfsprekend nie ingesluit nie, want ek is die geheim in die kas, al erken hy dit nog nie teenoor my nie – maar daarna is hy myne.”
“Hoe het jy gedink om dit te doen?”
“Om tyd saam met hom deur te bring, waarskynlik in sy hotelsuite. Dit is nodig. Ek sal dit noodgedwonge moet doen – sy rent boy wees. Ek sweer hy is van plan om vir my geld te gee. Maar dan, wanneer ek sy volle vertroue het en dit donker is, neem ek hom na ’n plek met nuwe … opwinding.” Hy gee ’n blaflaggie. “Sekere ouens vind so ’n plek opwindend.”
“Waarvan praat jy?”
“Laat ek dit vir jou vir ’n verrassing hou, pastoor. Ek het reeds die boom uitgesoek.”
Gabriël frons. “Raak dit vir jou ’n speletjie, Marx? Dit kan die einde van alles beteken, vir ons albei. Ons moet dit op openbare plekke doen, ja, hulle moet gesien word, maar …”
“Dit is slegs gevaarlik as mens nie voldoende beplan nie, pastoor. Jy sal sien, ek sal jou nie faal nie. Gee my nou die regte tou, pastoor. Ek wil vroeg gaan slaap.” Nog ’n blaflaggie. “Sê maar dis my beauty sleep voor my groot date.”
Hoofstuk 13
Desember 2014, Maseru
Die oggendster sit nog hoog toe Danny, vergesel deur die hoofman, uitkom op die veranda. ’n Opgeskote seun staan voor die huis met vier perde. Twee is opgesaal en die ander twee is klaarblyklik pakperde. Danny kyk na Teboho Mapha, wat lag en met die kop beduie na waar haar motor onder ’n boom staan.
“Daai kar sal nie kan kom waar ons moet gaan nie. Ek hoop jy kan perdry?”
Danny was net een maal as kind vlugtig op ’n perd se rug. Sy bely dit egter nie, want dit kan seker nie te moeilik wees om in die saal te bly nie. Sy sal net gou moet leer.
Die ouer man help haar op en maak seker dat die perd se buikgord vas is.
“Wat is die perd se naam?” vra Danny heserig. Die grond voel baie ver.
“Diamond.”
Danny gaan ’n woordelose ooreenkoms met die perd aan: Diamond, as jy my mooi dra en nie afgooi nie, sal ek vir jou ’n hele bos wortels en ses appels koop.
Die perd draai sy kop. Is dit haar verbeelding of lees sy minagting in sy blik? Dié ruiter het g’n outoriteit nie. Hy moet dit weet van die oomblik dat sy opgeklim het.
“Hie-ha!” roep Teboho Mapha uit en albei perde kom in beweging. Die ou man kan sien dat hy nie met ’n gesoute ruiter te make het nie. Hy sal haar fyn moet dophou as hy nie wil hê sy moet met ’n gebreekte arm of been sit nie.
“Gebruik die leisels om Diamond te stuur in die rigting waarheen jy wil hê hy moet gaan.” Hy demonstreer deur sy perd links te dryf. “Ons eerste crossing is die groot rivier. As ons oor is en die mense daar uitgevra het, kan ons rus en iets eet. Oukei! Ons sal moet vinniger beweeg as ons nog vandag daar wil kom.” Hy klap met die leisels bokant sy perd se kop. Die dier gaan oor tot ’n stywe galop, met Diamond agterna.
“Stadiger, man. Stadig!” beveel Danny, maar haar perd steur hom min aan die vrou op sy rug. Sy klou vas, maar word soos ’n sak mielies rondgeskud. Hoe op aarde gaan sy heelhuids deur dié tog kom?
Teen elfuur sien Danny die rivier met groot dankbaarheid, want dit beteken hulle sal weer op vaste aarde wees. Sy vermoed haar agterstewe is blikners gery.
“Anderkant die rivier kan ons die perde laat rus en sommer iets eet.”
Teboho stuur sy perd teen die skuinste van die wal af, die water binne. Danny volg so goed as wat sy kan. Toe albei perde in die water is, gee Diamond ’n triomfantlike runnik, voor hy afsak en baldadig op sy sy rol om te swem. Danny spring net betyds van sy rug af in die water. Sy is nat van kop tot tone en Teboho Mapha kan nie help om te lag nie. Niemand anders mag hiervan uitvind nie, besluit sy toe sy bedremmeld orent steier in die sterk vloeiende stroom.
“Moet ons eerder terugdraai, kaptein?” stel die hoofman voor toe hy die perd orent dwing.
“Nee,” antwoord Danny beslis. “Ons gaan voort. Ek moet die man kry, Teboho, hy is ’n baie gevaarlike man.”
Op die oorkantse oewer haal Danny haar deurdrenkte veldhoed af en wring die ergste water uit. Die son is skroeiend en sy kan nie bekostig om haar gesig lank sonder bedekking te laat nie, daarom plak sy dit terug op haar kop.
Teboho haal die padkos uit een van die pakperde se saalsak en hulle gaan sit in die skadu van digte struike.
“Die rivier se water is skoon,” merk hy op. “Kaptein kan maar daarvan drink.” Hy gee vir haar ’n netjies toegedraaide pakkie aan. “Pap en marog maak mens sterk.”
“Dankie.” Danny sal nou enigiets eet. Die berglug het daardie effek.
“Kaptein, wag jy hier en eet, net hier anderkant is mense. Miskien sal hulle weet of die man wat jy soek ook hier deur die rivier is.”
Toe hy weg is, sien Danny uit die hoek van haar oog hoe haar perd na haar staan en kyk. Is dit haar verbeelding dat die groot dier geamuseer is?
“Diamond, dis die eerste en die laaste triek wat jy met my regkry,” mompel sy so deur die happe kos. “Jy verdien nie een appel of wortel nie!”
Die perd proes en begin weer wei.
Vyf minute later is die hoofman terug met nuus.
“Die bruin SUV, dié is hier deur, kaptein. Ons moet met die berg op gaan. Dis hoe die SUV gery het.”
Sy steier orent en gaan spoel haar