Vloek. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.in Suid-Afrika skuldig gemaak het, daarom dat hulle bewegings hierheen gemonitor word.”
Hoe hy so ’n ingewikkelde saak saam met ’n spul rookies gaan oplos, weet net die donner alleen.
19
Maandag 10 Januarie 2005 – DRK
Imani kyk tevrede om hom rond. Die aangesig van die myn het dramaties verander.
Daar is nou op elke hoogte soldate wat met verkykers die bosse bespied, outomatiese masjiengewere oor die skouers. Dis hulle uitsluitlike taak om die myn teen die Rwandan Patriotic Army te beveilig.
Van die plaaslike vroue werk ook nou vir die eerste keer, en kinders van so jonk as vyf word as arbeiders toegelaat. Die werkmag het van honderd na driehonderd-en-tagtig opgeskiet. Verskeie spanne van vyftig, met die regte balans tussen mans, vroue en kinders, werk saam in toegewysde areas. Ligte is aangelê om nagskofte moontlik te maak. Nuwe en moderne siftoerusting is geïnstalleer. Die berg se rykdom word nou ten volle ontgin.
Dis alles dinge wat Imani se goedkeuring wegdra. Sedert hy ’n maand gelede as die myn se produksiehoof aangestel is, rus die verantwoordelikheid swaar op sy skouers om die maksimum wins te verseker.
Die ouer wit man was aanvanklik aan die stuur van die myn. Imani weet steeds nie wat sy regte naam is nie. Richter verwys net na hom as “die baas” en noem hom nooit op sy naam nie. Die enkele offisier praat ook net van die baas.
Dis die baas wat die vroue en klein kinders tot die werkmag toegelaat het, nagskofte ingestel en die werkspanne georden het. Én hy was hoogs beïndruk met Imani se vermoë om die rykste riwwe te identifiseer.
“Sorg dat jy my skaduwee word en ek sal jou leer om die myn te bestuur,” het hy gesê.
’n Tentedorp is vir die soldate opgerig. En ’n administratiewe gebou is hoog teen ’n heuwel gebou, waarin Imani se kantoor nou is en wat hom ’n goeie uitsig oor die hele myn gee.
Met sy aanstelling as produksiehoof het die baas gesê: “Ek betaal jou driehonderd dollar ’n maand, maar as die winsteiken oorskry word, kry jy dubbel jou salaris.”
Imani kon sy ore nie glo nie. Skielik is hy skatryk. Sy ma hoef nie meer by die mark krale te verkoop nie, hy kan aan die huis laat aanbou, ’n kar aanskaf, nuwe klere en skoene vir hulle albei koop, ’n klomp hoenders aanhou …
Hy moet homself gereeld knyp om seker te maak hy droom nie.
Die baas en Richter is drie weke gelede hier weg.
“Jy sal ons nie gou weer sien nie,” het die baas gesê. “Ons het verpligtinge op ander plekke. ’n Man met die naam Prince Kazadi sal jou van tyd tot tyd besoek. Jy sal van nou af aan hom rapporteer. As jy enige probleme by die myn het, moet jy hom kontak. Hy sal ook aan my verslag doen of jy jou teikens haal en of jy die myn goed bestuur.”
Hy het Imani ’n handdruk gegee, sy oë koud en uitdrukkingloos soos gewoonlik. “Werk hard en jy sal beloon word. Stel my teleur en jy sal bitter spyt wees.”
Maar Imani skrik nie vir uitdagings nie. Hy is vasbeslote om ’n sukses van sy werk te maak.
Hy tuur nog ’n rukkie deur die venster, stap dan na sy lessenaar om vir die soveelste keer na die produksiesyfers op die rekenaarskerm te kyk. Die man aan die hoof van die siftingsproses werk dit uurliks vanuit ’n tent daar by.
Imani streel met sy vingers oor die skerm. Dié ding is steeds vir hom ’n wonderwerk. Drie maande gelede het hulle ’n hoë toring hier kom oprig. “Dis vir internetontvangs,” het die baas gesê.
Imani het nie geweet wat dit beteken nie, maar die baas het hom gerusgestel: “Sodra die netwerk gereed is, sal ek jou alles van rekenaars leer.”
En hy was beïndruk met hoe vinnig Imani geleer het. Selfs Richter, wat nes die baas selde emosie wys, was verstom. “Jy’s ’n natural,” het hy met ’n grynslag gesê.
Die lewe kan nie beter nie, dink Imani terwyl hy in sy stoel agteroor leun.
En dit net deur sy eie toedoen. As hy nie vir Akva en Baako geskiet het nie, sou hy nooit in hierdie posisie gewees het nie.
Toe hy daardie oggend weier om vir Baako te skiet en die rewolwer aan Richter teruggee, het die baas gepraat. Nie hard nie, maar met ’n ysige fluisterstem wat Imani se nekhare laat rys het.
“Ek het gesê jy moet hom skiet. Ek gee nie om of hy die myn ken nie, en nog minder of hy ’n goeie hart het.”
Hy het ’n tree nader aan Imani gestaan. “En as ék iemand ’n opdrag gee, dan voer hy dit uit. Of hy dra die gevolge vir sy dom besluit.”
Onder ander omstandighede sou Imani se trots gemaak het dat hy steeds weier. Sy ma het hom geleer om nooit op sy woord terug te gaan nie. “Dis die eerste gebod van ’n trotse Hutu-kryger,” sê sy altyd.
Maar die baas se stemtoon het al die sirenes in Imani se kop laat loei. As hy dit nié doen nie, het hy geweet, gaan hy saam met Baako en die luitenante teen die berghang ingespit word.
Hy het die rewolwer by Richter gevat, voor ’n pleitende Baako gaan staan en twee skote in sy gesig afgevuur.
Agterna het die baas hom liggies op die skouer getik en met ’n fyn glimlag na Richter gekyk. “Ons kan dié een vir ons grootmaak,” het hy gefluister.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.