Vloek. Rudie van Rensburg

Читать онлайн книгу.

Vloek - Rudie van Rensburg


Скачать книгу
daar iets oor dié spesifieke man wat hom hinder. Maar dit help nie hy noem dit môre vir die baas nie, want hy verpes dit om met sulke soort probleme gekonfronteer te word. Hy sal verwag dat Richter klaar ’n oplossing het. “Dis waarvoor ek jou betaal,” sê hy altyd.

      Dié man is die enigste van die ses sektorhoofde wat ’n standvastige verhouding met ’n vrou het. Volgens sy lêer is hy al twintig jaar met haar getroud en het hulle twee kinders van onderskeidelik sestien en veertien jaar oud. Die ander sektorhoofde is of was geskei en hulle verhoudings met vroue was nooit ernstig nie. Die baas keur juis sy personeel op grond daarvan, en gesinsmense is allermins geskik. Maar in dié geval het hy ’n uitsondering gemaak, want die man se profiel was destyds pasklaar vir die onderneming se behoeftes.

      En hoewel die baas sy streng voorskrif van algehele geheimhouding indril by almal wat vir hom werk, wonder Richter of hierdie sektorhoof nie dalk die goue reël verontagsaam het nie. Dis tog onmoontlik om vir twintig jaar met iemand getroud te wees sonder om iets te laat val oor jou werkgewer en die aard van jou werk. Trouens, dit sou heel onnatuurlik wees. En die baas het geen waarborg dat die vrou sal stilbly as die nuus oor haar man se moord bekend raak nie.

      Hy stap peinsend met die wit hemp in sy hand na die sitkamer. Die kaggelvuur brand reeds hoog. Hy gooi die hemp in die vlamme en druk dit met ’n braaitang dieper in.

      By die drankkabinet gooi hy vir hom ’n tweevingerdop en gaan sit in die gemakstoel voor die vuur. Hy neem ’n slukkie, rol eers die brandewyn in sy mond rond voor hy dit afsluk.

      Daar is net één uitweg, besluit hy. Die tweede in bevel sal moet help.

      Hy haal sy selfoon uit sy sak en bel.

      Die tweede in bevel antwoord amper dadelik.

      “Goed om van jou te hoor,” sê hy op Frans. “Wanneer kom kuier jy weer?”

      Richter oorweeg dit vir ’n oomblik om Engels te praat, maar besluit dan op Frans. Sy verroeste Frans is beter as die tweede in bevel se Engels.

      “Ek het nie kans vir kuier nie, die baas hou my besig. Maar ek bel om ’n guns te vra.”

      “Vir jou doen ek enigiets.”

      “Jy doen dit nie vir my nie, maar vir die baas.”

      “So dis eintlik ’n opdrag?”

      “Sien dit in daardie lig, ja.”

      “Nou laat ek hoor?”

      “Ek wil hê jy moet oor ’n paar dae Angola toe gaan. Kilamba.”

      “Gaan dit oor die man wat na julle toe kom?”

      “Ja. Hy’t ’n vrou en twee kinders in Kilamba.”

      “En hulle moet … ophou asemhaal?”

      “Korrek. Ek sal jou bel wanneer jy dit moet doen. Wees net gereed. En tref al die voorsorgmaatreëls soos ek jou geleer het.”

      14

      Donderdag 28 Junie 2018 – Kaapstad

      Wim O’Reilly het aansienlik ouer geword sedert Carl hom as Benade leer ken het. Sy gesig is sakkerig, die ruie wenkbroue grys, yl hare sorgvuldig gekam om sy bles te verberg, bolwange wat sy klein mondjie afkamp in ’n effe droewige formasie, nekhamme wat onder sy ken dril, en boonop ’n reusemaag wat die knope van sy blinkgrys hemp tot die uiterste beproef. Hy moet nou in sy vroeë sestigs wees, skat Carl.

      Len du Randt het hom gisteraand laat weet dat hy vanoggend eers elfuur by die kantoor moet aanmeld. “Wim het ’n ontbyt saam met ’n groepie Amerikaanse diplomate en daarna ’n vergadering by die ambassade. Hy wil by die werk wees as jy daar aankom.”

      Carl was effens verras oor Mercurius se beskeie kantoor. In sy kop het hy ’n hipermoderne omgewing met glas en ontwerpersmeubels verwag. Maar dié plek se dekor dateer uit die vorige eeu. Die plafonne is geel gevlek en die outydse houtpanele teen die mure trek plek-plek weg van mekaar.

      Nou, terwyl O’Reilly steunend oorkant Carl by die groot eikehoutlessenaar in sy kantoor gaan sit, voel dit asof hy met ’n vreemdeling te doen het. Die Benade wat hy destyds in die polisie leer ken het, was stuurs, ernstig en pynlik formeel. Hy het nooit dié gulhartige sy van die man gesien nie. Toe hulle ’n minuut gelede handskud, sou ’n mens sweer O’Reilly verwelkom sy verlore bloedbroer. Sowat van omhelsings en klappe op die blad het Carl lanklaas beleef.

      O’Reilly leun terug in sy stoel en staar na Carl asof hy hom vir die eerste keer sien. “Hoe de hel kry jy dit reg om nie oud te word nie? Jy lyk dan nog presies dieselfde!”

      Carl glimlag. “My blonde hare kamoefleer net die gryses. En glo my, daar’s baie.”

      “Wel, troos jou daaraan, jy lýk nie sewe-en-veertig nie.” O’Reilly lag. “In teenstelling met my, wat elkeen van my sestig jaarringe ten toon stel.” Hy vroetel in een van die lessenaarlaaie en oorhandig ’n dun lêer aan Carl. “Sommer agtergrondinligting oor Mercurius. Ek vertrou Len het jou kortliks ingelig oor ons doen en late?”

      Carl knik.

      “Die lêer gee breedvoerige inligting oor die inner workings van Mercurius. Dis eintlik ’n handleiding vir ons werknemers, met onder meer riglyne oor hoe om ons na ’n menseregteorganisasie te laat lyk. Mercurius reik gereeld nuusverklarings uit oor menseregtevergrype om ons skynbeeld te handhaaf en natuurlik om ons ware werksaamhede te verdoesel. Glo my, soms vereis dit nogal ’n fyn balanseertoertjie. Ons is die enigste private intelligensie-agentskap wat onder ’n vals identiteit opereer – anders as byvoorbeeld Kroll, Pinkerton National Detective Agency en Booz Allen Hamilton in Amerika, AEGIS en Hakluyt & Company in Brittanje en Black Cube in Israel.”

       O’Reilly beduie na die lêer. “Jy kan dit later op jou tyd deurgaan. Die belangrikste om te weet is dat ons die ondergrondse been van verskeie Westersgesinde intelligensiedienste is.”

      “Suid-Afrika s’n ook?”

      O’Reilly sug. “Ongelukkig nie. Ons Staatsveiligheidsagentskap is veels te hand op die blaas met die Russe en die Chinese, wat die land outomaties diskwalifiseer.”

      Hy leun terug in sy stoel. “Raait, laat ons by jou opdrag uitkom. Eerstens wil ek beklemtoon hoe verheug ek is dat jy ingestem het om ons te help.”

      “Ék is die een wat dankbaar moet wees,” sê Carl, “want ek het my identiteit terug. Jy het my ’n enorme groot guns bewys. Ek hoop net ek stel julle nie teleur nie.”

      “Jy sál nie. Dit weet ek uit ondervinding.”

      Die oortuiging waarmee die ouer man praat, laat Carl ongemaklik voel. Die druk gaan sonder twyfel op hom wees.

      “Wees gerus, Carl. Jy’s nie op jou eie nie. Len is voltyds tot jou beskikking, en ons ander twee personeellede sal as jou inligting- en navorsingsentrum dien. En ek’s ook heeltyd hier om jou te ondersteun. Ons span vergader later vandag om jou vollediger inligting oor die betrokkenes in die saak te gee.”

      O’Reilly haal ’n tweede lêer uit. “Maar dalk is dit goed dat ek jou eers net in die prentjie bring. Drie maande gelede het ’n senior amptenaar van die Switserse inkomstediens dokumente oor geheime bankrekenings aan die CIA gelek. Dis gegewens van letterlik duisende mense se bankrekenings, wat saam bykans honderd miljard dollar bedra. Die nuus oor die lekkasie is nie heeltemal dig gehou nie en nuushonde wêreldwyd het daaroor begin navraag doen. Intussen is die Switserse fluitjieblaser in ’n tref-en-trap-ongeluk dood, wat die CIA vas glo die werk van ’n soort derde mag was. Gelukkig het die media nooit die name van die rekeninghouers in die hande gekry nie en het die CIA ontken dat hulle bedragspesifieke besonderhede van die Switser ontvang het. Daar is onder meer ’n paar vooraanstaande Amerikaanse politici tussen die duisende oortreders, wat ’n helse verleentheid vir Amerika sou wees as dit moes uitkom. Van groter belang is die lys name van die tophonderd met die meeste geld in hul geheime rekenings. Dit lees soos die who’s who van die misdaadonderwêreld – bekende Suid-Amerikaanse dwelmbase, wapenhandelaars, geldkoeriers vir diktators in die Derde Wêreld en ander internasionale misdadigers.”


Скачать книгу