Vloek. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.Dinsdag 8 April 2003 – DRK
Imani het nie vergeet nie. En ook nie vergewe nie.
Dis nou bietjie meer as ’n jaar gelede dat Rishi hom verraai het.
Maar vandag is die dag van afrekening, wanneer Wittand die hiëna se skedel gaan verbrysel.
Imani het sorgvuldig daaraan beplan. Eers moes hy Rishi se vertroue wen, hom daarvan oortuig dat hy hom nie van verraad verdink nie. Dit was ’n lang en moeisame proses.
Imani weet hy het ’n spesiale talent om met die blote oog die rykste ertsriwwe te identifiseer – die spatseltjies geelbruin klip tussen die kalksteen en lae grys graniet is ’n seker teken daarvan. En dis iets wat die ander werkers en selfs die luitenante nie weet nie.
Hy het ’n paar keer in Rishi se oor gaan fluister waar die rykste riwwe geleë is, ’n guns wat net die grootste vriende vir mekaar sal doen in hierdie plek waar elkeen slegs na homself omsien. Só het hy gehelp dat Rishi sy sakke vinniger as die ander kon vul, sodat dié hom nou “my broertjie” noem en ná werk sy Primus-bier met hom deel om sy dankbaarheid te betoon.
Vir ses maande al hou Imani die hiëna in die holte van sy hand. Maar hy kon nog nie sy wraakplan uitvoer nie. Daar was elke keer te veel ander werkers en luitenante in die omgewing.
Hy het twee dae gelede ná werk deur die rotsskeure aan die oostelike kant van die berghang geklouter op soek na ryk riwwe, soos hy maar gereeld doen. Dit maak die volgende dag se werk net soveel ligter. Toe het hy onverwags afgekom op die ideale plek vir sy wraakplan: ’n ou mynskag waar werkers jare gelede erts ontgin het. Hy het ’n entjie by die bek van die skag ingeloop en die hope rotse gesien, duidelik die gevolg van stutpale wat ingegee het. Hy vermoed daar lê baie geraamtes onder daardie rotse.
Die ou skag is afgesonder en heeltemal onsigbaar vir die ander werkers, wat hoofsaaklik aan die ander kant van die hang werk. Hy het die omgewing vinnig bespied en ’n entjie daarvandaan op riwwe afgekom wat lyk of dit ryk aan erts kan wees.
Gister het hy vir Rishi van sy ontdekking vertel. Hy het voorgestel hulle moet vanoggend voor die ander werkers uithardloop en ongesiens deur die rotsskeur klim sodat niemand weet waar hulle werk nie. Eers as hulle elkeen tien sakke gevul het, kan hulle dit ondertoe begin dra. Die ander sal dan agterkom waar hulle vonds is, maar dan het hulle darem al ’n voorsprong opgebou.
Rishi het gedink dis ’n uitstekende plan.
Imani staan uit die bed op en strek sy arms bo sy kop uit. Hy voel vanoggend uitgerus, want hy het vroeg gaan slaap. Gisteraand vir sy ma gesê hy voel nie lekker nie en sal nie op haar lesse kan konsentreer nie.
Sy was nie baie ingenome daarmee nie. “Jy weet ons werk streng volgens ’n rooster waarby ons móét hou, Imani.”
Hy glimlag. Frans, rekenkunde en aardrykskunde. Elke aand gee sy ma vir hom daarin les.
“Ons sal nooit genoeg geld hê om jou skool toe te stuur nie, maar ék sal vir jou boekgeleerdheid gee,” preek sy gereeld vir hom. “Eendag sal jy dankbaar wees daaroor, want enige gesiene man moet ordentlik Frans kan praat en lees. En hy moet met syfers kan werk en sy omgewing en sy land ken.”
Hy beskou homself in die gekraakte spieël teen die kamermuur. Vryf liggies oor die soepel spiere van sy maag. Sy ma sê hy’t die afgelope jaar amper ’n voet gegroei. “Jy’s net sestien, maar al klaar ’n man.”
Hy trek aan, voel hoe sy klere veels te styf aan hom sit.
By die deur staan sy ma gereed met sy kosblik. Hy gee haar ’n piksoen op die wang en vat die stofpad teen die berg af.
Voor Baako se tent kry hy sy graaf, pik en sakke en gaan val in die agterste ry langs Rishi in. Hulle het afgespreek om op die verste punt van die ry te staan sodat hulle ná die registerseremonie eerste kan wegkom.
Hulle plan werk goed. Die ander is traer as gewoonlik, want die skemeroggend is reeds versmorend warm.
Lank voor die ander is hulle teen die berghang uit. Hulle klouter haastig tussen die rotsskeure deur.
Rishi steek by die verlate skag vas. “Ons het in die ou dae hier gewerk. Toe stort die hele spul in. Ses mense dood. Niemand kom deesdae meer hier nie, want hulle sê dit spook.”
Imani lag. “Net die gryses glo nog aan spoke.”
Hy wys vir Rishi die riwwe wat hy ontdek het. “Hierdie goed is ryk aan erts.”
“Hoe weet jy altyd waar die ryk riwwe is?” vra Rishi, seker vir die honderdste keer vandat hulle saamwerk.
“Ek voel dit in my lyf,” lieg Imani soos gewoonlik.
Hulle begin met die pikke kap.
Ná ’n ruk skud Rishi sy kop in ongeloof. “Wel, jou lyf was wéér reg.”
“Ek sê mos.”
Hulle werk in stilte verder.
Toe hulle eerste sakke halfpad vol is, besluit Imani die tyd het aangebreek.
Hy wag tot Rishi gebukkend met sy rug na hom toe staan, besig om die stukke kalksteen met sy hande op te breek. Hy is doodkalm toe hy die graaf hoog bo sy kop oplig en dit met elke greintjie krag in sy liggaam swaai.
Die skerp kant vang Rishi teen die agterkop. Dit kloof sy skedel met ’n harde kraakgeluid oop. Hy val met ’n diep kreun vooroor.
Imani kap soos ’n besetene met die graaf. Weer en weer en weer. Hy hou eers op toe Rishi se kop ’n bloederige pappery is.
Hy verspil geen tyd nie. Sleep die dooie man aan sy voete tot diep in die skag se bek en begin van die rotse op hom pak.
Ná ’n kwartier is hy tevrede dat die lyk heeltemal toegepak is. Niemand sal hom ooit hier kry of na hom kom soek nie, weet Imani.
Hy maak eers Rishi se halwe sak leeg en tel dan die res van sy sakke op, saam met sy graaf, pik en kosblik. Op die rand van die krans wikkel hy alles in die sakke toe en gooi dit een-een in die dig beboste kloof af. Dan stap hy terug, skep met sy eie graaf die bloederige grond op en skiet dit tussen die bosse in.
Tevrede dat hy alles opgeruim het, gooi hy Rishi se opbrengs in sy eie sak en vat al sy goed. Hy gaan nie terugkom hierheen nie, want netnou lok dit van die ander werkers.
Op sy terugpad loer hy versigtig deur die rotsskeur en wag sy kans af om ongesiens agter die ander in te val.
Ná twintig minute stap hy ondertoe om sy vol sak af te lewer. Toe hy binne hoorafstand van Baako is, vra hy of enigiemand vir Rishi gesien het.
“Is julle dan nie vanoggend saam bergop nie?” wil Baako met ’n frons weet.
“Ons is, maar Rishi het toe sy eie pad gevat. Hy’t gesê hy wil vandag hoër op teen die hang werk.”
Baako trek sy skouers op. “Hy’t nog nie ’n sak kom aflewer nie.”
Imani onderdruk ’n glimlag. “Hy sal ook nie,” prewel hy saggies.
12
Woensdag 27 Junie 2018 – Kaapstad
Hulle eet vanaand op hul skote voor die TV. Sarah was te moeg om kosmaak te oorweeg en het sommer op pad woonstel toe by McDonald’s wegneemetes gekry.
Sy en Dewald eet in stilte en kyk na ’n aktualiteitsprogram oor grondhervorming in die land.
“Suid-Afrika se grond behoort aan swart mense!” sê ’n radikale politieke leier vurig. “Die wittes het geen grond saam met hulle uit Nederland, Frankryk of Engeland gebring nie. Hulle is niks anders as parasiete nie!”
Dewald skud sy kop. “Scary, nè? En as mens mooi daaroor nadink, is hy nog bleddiewil reg ook.”
“Nee, hy’s verkeerd!” sê Sarah. “Swart mense het ook nie grond uit Oos- en Sentraal-Afrika saamgebring nie. Volgens daai redenasie het net die Khoi-San aanspraak op grond in hierdie land. Die probleem