Anderman se vrou. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Anderman se vrou - Chris Karsten


Скачать книгу
Hoekom skoenlappers?”

      “Hoekom só ’n stokperdjie?”

      “Ja,” sê Sarah Young. “Hoekom nie sê nou maar … posseëls nie?”

      “Posseëls?” Kan posseëls metamorfoseer? Kan posseëls hulleself bevry? Kan posseëls lééf?

      Ek moet erg perpleks gelyk het, want daar is ’n plukkie aan Doucette se mondhoeke, mens sou sweer hy is in staat om te glimlag, en Sarah Young lig haar ongeplukte wenkbroue in ’n sein wat por: Goed, vertel. En begin nies, tissue byderhand, sodat ek eers moet wag.

      “Daai ou Hollander van wie ek vroeër gepraat het. Vrome Cramer. Hy’t gesê onder alle soorte tydverdrywe om die mens se gees te laat ontspan én tegelyk te verkwik, is die genietinge wat die natuur bied die onskuldigste en die suiwerste. Genietinge wat onlosmaaklik aan die lewe self verknog is, en wat ons lei en help om ook insig te kry in God se wysheid, almag, goedheid en genade. En dis presies wat skoenlappers bied. Is posseëls aan die lewe verknog? Nee. Bied posseëls insae tot God se genade? Nee.”

      “Dalk tog indirek,” sê Doucette. “Eens afkomstig van lewende bome.”

      Ek kyk verras na die groot Mountie. “Is dit jou stokperdjie, sersant – versamel jý seëls?”

      Hy grinnik. “Nee, my stokperdjie is om skelms te vang.”

      Ek merk hoe Sarah Young ’n dataskyf by die laptop indruk.

      Doucette vra: “Sedert jy weg is van die patologielaboratorium waar jy saam met doktor Pope gewerk het … het hy jou ooit kom besoek, daar by jou skoenlapperboerdery?”

      “Nee. Ek sê mos ons was nie goeie vriende nie, beslis nie huisvriende nie.”

      Sarah Young draai die laptop sodat ek na die skerm kan kyk. “Herken jy van hierdie foto’s?”

      Sy klik en die eerste kiekie verskyn. Dit is ’n panoramiese skoot van my skoenlapper-atriums, afgeneem daar van die nek af, af na die plato waar die plasie in die Goeroegabvallei lê. ’n Krieweling in my maag. “Ja, dis my plek. Waar kry julle die foto?”

      Sy klik die volgende een. Dié een is van my plaashuis. En nog een van die werf. Dan ’n paar wyehoekskote van plante en skoenlappers in die atriums. Dit is nie kiekies wat ek of Portis geneem het nie, daarvan is ek baie seker. Hoekom sal ons sulke kiekies neem? Ons neem nabyfoto’s van individuele skoenlappers sodat ons hulle kleure en die kenmerkende vorms en patrone en gestreeptheid van hulle vlerke kan uitken.

      Doucette sê: “Dit maak my erg nuuskierig. As hy nog nooit daar by jou was nie, en julle is nie huisvriende nie, hoekom sou doktor Pope foto’s van jou skoenlapperplasie hê?”

      Kan net Jack gewees het. Hy moet kom spioeneer het ná Simon se opdrag, hy het die plek kom verken en die kiekies geneem vir hulle finale planne vir Jack se besoek aan my en Portis met die dolk. En die polisie moet dit in Jack se blyplek gekry het.

      “Was jy ’n teiken, meneer Kellerman?” vra Doucette.

      So, dit ís die SAPD, en die Mounties weet van Jack se besoek, daarom dat hulle suspisieuse breine oortyd werk om allerlei onbehoorlike motiewe aan my Kanadese reis toe te dig. Sal ek hulle ook vertel van sondaars en boetelinge, en van ontwykende crostolas daar by Canossa waar die pous vir koning Hendrik drie dae in die sneeu laat staan het om hom oor sý sondes te laat besin?

      Portis, die een om wie alles gedraai het, moes eintlik saamgekom het Kanada toe. Maar hy was ook nie vroeër die jaar saam toe ek uiteindelik die crostolas-papies by Canossa gaan haal het nie. Veral dáár wou ek met iemand gesels oor sondes en oor die belydenis van sondes. En wie kan met groter gesag daaroor praat as die gemartelde self? En wáár is die paslikste plek? ’n Beskeie huisie in Bonteheuwel sal doen. Maar nie só nie … nie só ’n patetiese spektakel nie – van daai bedompige eksminister wat op sy benerige ou knieë die voete was van die ma’s en sibbe wat steeds treur oor hulle jong geliefdes wat in daai verskriklike jare weggeraap is.

      Almal onthou daai prentjies van hom eens, parmantige fisantveer in die band van sy fedora, terwyl hy sy moordlinies inspekteer en bebloede hande skud en medaljes aan daai borskaste vasspeld van almal wat so dapper was om kinders te gaan ontvoer en te martel en dood te maak. Maar soos Simson ontneem van hare en krag, so is daai ou minister sonder sy swart fedora uiteindelik ook ontneem van al sy kragdadigheid.

      Nee, nie só ’n skynheilige bieg nie. Portis moes saam met my gewees het, dáár, daar by Matilda se kasteel … die bouval bewaar as universele simbool van bieg en berou. Peccavi! Ek het gesondig. Vergeef my.

      Maar daardie lang pad Canossa toe was net té swaar vir Portis. Dalk geestelik ook swaar, maar veral fisiek te steil en moeisaam vir iemand sonder voete, selfs vir sy nuwe LuxFoot-voete met hulle volmaakte ambulansie in die enkelgewrigte.

      Ook Molly het tuisgebly. En dit is net so jammer. Stil-stil, reg onder my neus, het sy by ander belange betrokke geraak. Ja, Italië saam met Molly sou lekker gewees het. Was dit nie vir daai ontwikkelaar nie. Glo van Gauteng, wil glo die vleie by Wildernis omskep in ’n soort Sun City. Gholfbane, polovelde, vliegveld, vyfsterhotel, luukse mansions agter hoë mure om die rykes apart te hou van die plebs. Liewe aarde!

      * * *

      In die Goeroegabvallei is ons broeikamer, steriele huisvesting van honderde delikate ova, ’n plek van wondere. Dit is hier waar ek, ná al die jare, steeds met verwondering die transformasie gadeslaan van larwes wat ontwikkel tot papies, toegevou in hulle kokon, net om later moeisaam uit daai doppe uit te sukkel as vlinders wat bevry hulle vlerkies oopvou en toets en op die lug wegsweef.

      “Die crostolas ís die holy grail,” sê Portis verwonderd.

      Ten minste van blou skoenlappers. “En noudat ons hulle gekry het, kan ons rustig na die ander ook gaan soek,” sê ek.

      “Jý gaan soek, ek pas die huis op,” sê Portis. “Jy weet mos ek laaik nie van vlieg nie. What’s next … die Karner Blue?”

      “Jip,” sê ek. In Amerika en Kanada word die Karner Blues ernstig bedreig. Maar ons sal ’n plan maak, ons maak altyd ’n plan as ons ’n spesifieke spesie soek.

      “Totdat jy in die tronk beland as wildlife smuggler,” lees Portis my gedagtes. Dit is die ding van twee mense wat so lank so nou saamleef: hulle word telepate van mekaar.

      Ons staan by die kas met die sewe crostolas-papies wat ek onder die drie dosyn ander algemene spesies uit Italië saamgebring het, om hopelik uit hierdie sewe ’n nuwe eie klein kolonie te vestig.

      “En jy sê jy’t niks van dokter Onkers gehoor nie?” vra ek.

      “Nope.”

      “Sy’t jou nie eens gebel om te hoor hoe dit met my gaan daar in Italië nie?”

      “Nope.”

      “Of om te hoor presies wanneer ek terugkom nie?”

      “Nope. Kyk hier, is daar iets aan die gang waarvan ek nie weet nie?”

      “Sy’t ’n ou geldgat gekry,” sê ek vies en draai om na die binnedeur die huis in.

      Die aand oorweeg ek dit om vir Molly ook te bel. Maar ek los haar eers en bel vir Mira. Ook nie danig nuuskierig oor my Italiaanse besoek nie. Stel niemand dan meer in my welstand belang nie? Of lê die fout by mý? Loop ek dan só toe-oog deur die wêreld? Of is ek bloot net te gevrek, kom te laat agter hoe al die kanse deur my lompe vingers glip?

      “O, jy’s terug?” is al wat Mira te sê het, so ewe how-d’ye-do.

      “Al drie dae terug, dankie dat jy vra.” Sagte musiek oor die foon, klink na Beethoven se Negende. Self is ek ’n Handel-man, selfs soms soos Timotheus geneig tot gedagtes van wraak.

      “Hoe was dit?”

      “Luigi stuur groete.”

      “Ja, hy’t vir my ’n e-pos gestuur om te vertel hoe lekker julle twee kuier. Hy sê jy’t toe jou skoenlappers gekry.”

      “Luister,


Скачать книгу