Anderman se vrou. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.Die vreemde kar in sý inrit. ’n Subaru. Het sy ’n ander kar gekry, waar kry sy geld, waar’s die Dodge? Stof sy hemp met sy vingers af. Steek die pante by sy broek in. Die hemp gekreukel en uitgerafel aan die kraag en moue, vuil kolle, vlekke van whiskey en sop. Die broek nie veel beter nie. Lek sy vingerpunte, vee sy haartjies plat. Voel hoe die wind dit weer skep. Vryf oor sy stoppelwange. Snuif na sy oksels. Vee met sy tong oor sy tande, het dit darem geborsel, maar die goed breek af, in ’n kies ’n diep pyn. Bestyg die drie trappe tot op die dek, klop.
En wag. En wonder of dit ’n goeie idee is. Begin omdraai.
Die deur gaan oop. Die vreemde man beskou hom op en af. “Ja?”
Is hy by ’n vreemde huis, is sy brein dan so omgeklits dat hy nie meer sy eie adres onthou nie? Nee, kan nie wees nie, daar’s die maple tog, en die rododendrons wat hy nog self geplant het, die voordek wat hy self laat bou het, die grasperkie wat hy in die somer elke Saterdag self gesny het, ken elke hoek en ronding, weet waar die eerste dandelions begin uitkom het, kyk hoe geel staan hulle doer in die hoek.
Hy vryf oor sy oë. “Uh …”
“Ek het niks vir jou nie, ek dink jy moet maar gaan.”
“Is Doris tuis … mevrou Noble?”
Die man se oë vernou. “Wie’s jy? Wat soek jy?”
Hy kug agter sy hand, merk hoe lank en vuil sy naels is. “Ek … ek’s haar man.”
Die man begluur hom.
Bernie leun effe terug teen die wind in sy blaaie, voel die wind in sy hare, toiingrig, soos die droë baard van ’n mielie daar op die winderige prairies van Saskatchewan waar hy vandaan kom. Lank, lank gelede, in ’n ander tyd, ’n beter tyd.
“Fok!” sê die man, bekyk hom opnuut, en tree tru die huis in. “Wag net hier, moenie loop nie.”
Weer klap die voordeur in Bernie se gesig toe. Hy wag. Hy gaan leun teen die dekreling. Vir ’n ewigheid. Voel die ruk en pluk van die wind aan sy hemp en hare.
Die deur gaan oop. Doris kom uit. Druk dit agter haar toe, staan met gevoude arms na hom en kyk. Doris lyk goed. Bietjie ronder van bors en heup, maar goed. Naels is rooi, grimering, hare korter. Sy oog vang die gevoude papier tussen een hand se vingers.
Hy kom van die reling orent, effe onseker. Moet die wind wees. Vryf weer oor sy hare. “Môre, Doris …”
“Jy lyk sleg, Bernie,” sê sy, ’n trekking aan haar neusvleuels asof ’n ligte reukie van sy kant af deur die wind na haar aangedra word, miskien die reuk van sonde.
Hy haal ’n skouer op. Wat moet hy sê? Hy weet presies hoe hy lyk. “Wat jy gedoen het … dis nie reg nie, Doris. Ek verlang na die kinders, na Jenny en Henry.” Net ingeval sy dink sy geheue skeel. “Kan ek hulle sien, net ’n paar minute, bietjie gesels? Dan loop ek weer.”
“Dis nie reg wat ék gedoen het nie!” Die dun lippe strak. “Wat van wat jý gedoen het? Was dit reg, Bernie? Die voorbeeld wat jy as pa aan Jenny en Henry gestel het? Wat jy …” Die wind waai die res van haar sin weg, asof sy nie krag en woorde kan vind vir al sy sondes nie. Hervat dan bloot: “Hulle is nie hier nie, hulle is op ’n skoolkamp, dis ’n langnaweek, weet jy?”
“Ek weet, dis hoekom ek gekom het. Om hulle in die langnaweek te kom sien.”
“Wel, jy kan hulle nie sien nie.” Sy hou die stuk papier na hom uit. “Die balju kon jou weer nie opspoor nie.” Sy gee ook ’n pen aan. “Teken.”
“Wat’s dit?” Hy vou dit oop. Nie ’n nuwe beskermingsbevel nie. Dagvaarding vir egskeiding. “Doris …”
“Moenie my kom staan en Doris nie, Bernie. Dis ses maande wat jy laas hier was, was jy intussen by ’n rehab? Soos ek voorgestel het? Nee, jy was nie. Kyk hoe lyk jy, Bernie! ’n Boemelaar. Stink na drank, negeuur op ’n Saterdagoggend. Is jy nou besig met dwelms ook?”
“Is dit hy, die Subaru-man? Hý’s nou in jou lewe?”
“My private lewe het met jou niks uit te waai nie, teken en los ons uit.”
“Wat van Jenny en Henry? Ek’s hulle pa …”
“Die dag as hulle mondig word, kan hulle self besluit of hulle jou in hulle lewe wil terughê … as jy dan nog asemhaal en by jou sinne is. Tot dan, as minderjariges, is ek hulle enigste ouer en voog. Dis wat die hof sê. Teken.”
“Waar sal hulle my kry … wanneer hulle mondig word?”
“Waar? O, ek weet nie, Bernie. Het jy self ’n idee waar jy die volgende paar jaar gaan wees? Het jy ’n vaste adres waarheen hulle kan skryf? ’n Telefoon waarheen hulle kan bel?”
“Werk jy nog by die hospitaal?” Hy bedoel by die Hôpital de Verdun waar sy as verpleegster gewerk het toe hy haar die eerste keer ontmoet het ná sy aankoms in Montreal byna twintig jaar gelede.
“Jy kom val my nie by die hospitaal lastig nie, ek sweer, Bernie … ek sweer as jy daar aankom … ek laat sluit jou toe! Dan het jy nóg iets op jou bedenklike resumé as pa: tronkstraf. Hoor jy my, Bernie?”
“Maar as Jenny verjaar … mondig word, kan ek bel sodat jy vir haar kan sê waar sy my kan kry? As sy my dan nog as pa wil hê.”
Ten minste lyk dit of Doris die pleidooi oorweeg. Sy knik. “Oukei. Jy kan my dan bel, op Jenny se verjaarsdag. Maar jy kom nie daar aan nie, ek wil jou nie daar sien nie, ook nie weer hier by die huis nie. Verstaan ons mekaar?”
“Oukei,” sê hy, stryk die papier op die stoeptafel plat, teken vir ontvangs van die dagvaarding, gee dit vir haar terug. “Tot siens, Doris.”
“Tot siens, Bernie.”
Die deur klap toe nog voor hy by die trappies af is.
Dit was 1991, en die pad daarná was net afdraand.
RACHEL
April 2007
Montreal
My liewe Sus
Dit was maar ’n klein en sad funeral, want dis waar dat ou mense min vriende oor het, die dominee het darem mooi gepreek. Dis net jammer dat jy en Pa nie hier kon wees nie. Sy ekskuus is dat hy nie op so kort notice ’n vlug uit Australië kon kry nie.
Mira Kellerman het ook ’n kaartjie van sympathy gestuur. Ek het by haar pastry shop gaan tee drink en haar van Ma se dood vertel en ’n paar dae later kom haar kaartjie hier by TipTop aan. Sy’s tog altyd so considerate. Dit kom seker maar van daardie tyd toe julle mans saamgewerk en julle almal saam gesocialise het. Sy’t my daar in Bertolini’s ook aan Pippa Eyselen voorgestel. Pippa onthou jou baie goed, so upstairs sonder ’n plooitjie aan haar gesig!
Dis al gossip wat ek vandag het, wou jou eintlik net van die funeral vertel het.
Ek wou nie eintlik iets daaroor sê nie, maar laat ek dit van my hart af kry, ek was nogal bietjie geskok oor my prim and proper suster wat lovers gehad het! En ek kan dink dat jy seker skaam was om só ’n dirty little secret met enige een te deel, maar ek neem jou nie kwalik nie, Sus. Eintlik wil ek sê: Good for you! En ek wens met my hele hart dat jy iemand gaan ontmoet wat jou waardeer en liefhet, jy verdien ’n goeie man wat vir jou omgee en jou cherish and love, nie iemand wat so emotionally absent is nie.
Sorry, daar meng ek weer by jou hartsake in, maar dis net omdat ek die beste vir jou wil hê.
Jou verlangende suster
L
Rachel sit met ’n glimlag. Sy dink aan haar ma as ’n flikkerende ster en aan Pippa Eyselen as ’n wit graf. Maar namate haar herinneringe linies begin vorm om die Eyselens, begin die glimlag om die hoeke van haar mond kwyn. Want as jy alles terugvoer en mooi van die begin af ontleed, is dit eintlik by hóm waar alles begin het. By Sieg Eyselen. Uitverkorene van Alfons Jonker en die res van daardie kragdadige ou spul. Dit was Sieg wat die Bon Accord-navorsers met die hand uitgesoek en