Anderman se vrou. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.julle planne nou? Moet seblief nie ophou skryf nie, ek sal mos vir niemand iets sê om jou verder in die moeilikheid te bring nie, nie eens vir Peet nie.
En ek’s baie bly dat jy bietjie oor jou hartsake uitpak. Dis al hoe jy die stres kan verlig, as jy ’n soundboard het, en ek sal graag wil help al is ek so ver. Ek kan nie eintlik raad gee nie, maar ek wens ek was daar om jou bietjie vas te druk, ek mis jou! Dis ook nie nou die regte tyd en plek vir jou om in die doldrums te verval nie, nie daar in die vreemde nie.
Dalk moet jy en S weer ’n slag gaan sit en alles uitpraat, soos daardie keer toe jy hom die nag ingewag het. Ek’s seker julle is steeds al twee lief vir mekaar, maar hy’s net so ’n vreemde man. Soos daardie stupid heresy waaraan hy glo, dit sal my mal maak, dat liefde oukei is, maar nie liefdemaak nie, dat seks van die duiwel is en jou brein befomfaai! En dis mos hoekom hy nie wil kinders hê nie, het jy een keer vir my gesê,
want procreation verleng net die mens se lyding op aarde. Dis regtig baie weird, Rachel. Maar ek kan nie aan jou voorskryf oor S nie, dis ’n saak vir jou eie hart.
Moenie worry oor ons geheim nie, daar sal nie ’n spoor van jou op my laptop wees nie!
Pas jouself mooi op en skryf gou terug.
Liefde
L
SERGE
Augustus 2006
Petit-Cap, Quebec, Kanada
Vrydagoggend haal Serge Baribeau die #71-bus na die Le Vieux-winkelsentrum. Hier laat skeer hy eers sy kop poens en daarna sy baard, en staar na die spieël, haarloos vreemd vir homself ná al die harige jare. By Le Lenutier laat toets hy sy oë, besluit op ’n bril met klein raamlose lense, reken dit gee aan hom, met sy kaal kop en skoon gesig (tatoes bedek deur die moue van die nuwe windjekker), ’n intellektuele voorkoms. By die selfoonwinkel kry hy sonder probleme ’n Nokia en by Miss Bella eet hy ’n groot stuk bloederige steak met gebakte aartappels. Hierna sluit hy aan by die ÉconoFitness-gim en haal die bus terug na sy woonstel.
Hy is opgewonde oor sy reis. Die Vrydag daarna, op 1 September, moet hy hom vir werk gaan aanmeld. ’n Totaal nuwe ervaring. Wanneer laas het hy hom vir ’n werk aangemeld – ná skool toe hy drie kreefseisoene op een van ou Pat Dufresne se skuite gewerk het? Nou voëls beskerm, teen $12 per uur. Fokken hel!
Serge gaan stort, vryf daarna sy kaal kop met lyfroom in en betrag dit opnuut in die spieël. Sal hy ook ’n tatoe vir sy kopvel kry, om sy metamorfose te vier? Nee. Hy vryf ook room aan sy gespierde lyf, bet sy wange met naskeer, bespuit sy oksels, trek van sy nuwe klere aan en voel inderdaad weergebore. Hy hou van Serge Baribeau, Serge voel en lyk skoon en vars. Aimé Simard is besmet, onheelbaar, en dit is goed dat dié verdwyn het, asof in die lug opgeraap.
Stiptelik agtuur bel hy Monsieur Bastien. Sy pokgesig-hanteerder het ’n paar roetinevrae:
Gedra jy jou soos ’n wetsgehoorsame burger?
Ja.
Is dit moeilik?
Is wat moeilik?
Om jou soos ’n wetsgehoorsame burger te gedra.
Nee.
Het jy sedert jou vrylating alkohol of dwelms gebruik?
Nee.
Nie eens een bier nie?
Nee.
Nie eens een joint nie?
Nee.
Kan ek ’n paramedikus stuur om jou bloed en urine te toets?
Ja.
Het jy al begin werk?
Nee, op my papiere, dié wat jy vir my gegee het, begin ek eers op 1 September.
Moenie laat wees nie.
Is dit ’n vraag?
Het jy al die dokumente gelees?
Ja.
Ook Serge Baribeau se biografiese agtergrond en familiegeskiedenis?
Ja.
Het jy vrae?
Ja. Hoekom Thetford Mines?
Ry en gaan kyk, sodat jy dit kan beskryf as jy oor jou geboorteplek uitgevra word.
Maar hoekom daardie plek … asbeshoofstad van die wêreld?
Dis waar Serge Baribeau gebore is.
Ja, dit het hy gelees – dit is waar Serge se oupa en sy pa in die oopgroef-asbesmyne gewerk het, waar ook Serge in die laaste oorblywende asbesmyn gewerk het, tot hy 2004 by die myn weg is. Besluit het dáár is geen toekoms nie, die enigste toekoms in asbes is mesotelioom, en ’n kankerdood soos sy oupa en sy pa soek hy nie. Kry werk by Wildlife Canada, in die Frontenac-park, vars lug in sy longe pleks van asbesvesel. Dit is hoekom Serge die oorplasing na Couvée-eiland se voëls gekry het, hy wou stad toe kom, ’n slag tussen mense leef, moeg vir die platteland, vir myners en bome.
Hy sluit die gesprek af sonder om Monsieur Bastien in te lig dat hy ’n reis gaan onderneem.
Ná die oproep haal hy weer ’n bus, nou in ’n westelike rigting met die Jacques Cartier-brug oor die Sint Lawrence na Montreal, verruil die bus vir ’n kort rit in die Metro tot by Beaudry-stasie, en stap ’n blok tot by die Saloon in die hart van Le Village, beter bekend as Gay Village. Hy is ’n sterk man, fiks met ’n groot eetlus, benodig baie proteïen. Ná sy ete drink hy tydsaam koffie. Kwart voor elf die aand betaal hy kontant, los ’n stewige fooitjie vir Paul, die mooi kelner met die stywe boudjies wat hom so vriendelik bedien het, en stap in Ste-Catherine na die nagklub Mado Cabaret Spectacles, betyds vir die nag se hoogtepunt, Mado Lamotte se drag queen show.
* * *
Saterdagmiddag, met ’n duffelsak oor die skouer, gaan kry Serge by Eazy Rentals die Toyota Corolla wat hy vir ses dae bespreek het. Hy sal dit in die loop van Donderdag 31 Augustus terugbesorg, betyds vir sy eerste dag by die werk en betyds vir die Vrydagaand se oproep na pokgesig-Bastien.
Hy ry met die Transkanadahoofweg van Montreal na Quebec City. Daarvandaan die lang skof van agt ure al langs die suidelike oewer van die Sint Lawrence.
Petit-Cap, geboorteplek van Aimé Simard. Aimé en sy pa en oupa en al die voorsate van wie hy uit vertellings te hore gekom het. Hier het hulle almal op die see groot- en oud geword, nie in asbesmyne soos die Baribeaus nie. Wanneer die ouer een afsterf, het die jonger een die skuit en kreeflisensie geërf. Dit is die gebruik, nog steeds. Maar toe die fratsgolf sy pa daardie onstuimige winternag in Desember 1978 van die skuit afpluk en die diepte invat, het Aimé besluit hy wil nie sy pa se skuit en lisensie erf nie. Hy sal op ou Pat se skuit gaan werk om sy ma en sibbes aan die lewe te hou, en buite kreefseisoen in die visfabriek in Gaspé. Maar die oomblik as ’n ander werk of kans hom voordoen, maak hy gat skoon.
Naweke, om al die gate te help toestop, kry hy werk as algemene pispaal in die Boni-Soir Dépanneur op Roete 132 net buite Gaspé. Maar in Julie ’81 vang hulle hom oor die driehonderd dollar wat hy uit die dep se geldlaai geleen het. Sy ma was siek en daar was nie geld vir al die medisynes nie. Wat moes hy doen – met gevoude hande kyk hoe sy ma krepeer en doodgaan?
Hulle vat hom hof toe vir diefstal. Die boete kan hy nie betaal nie en hy gaan sit vir ’n maand, deel ’n sel met ’n skinhead wat ’n immigrant uit Haiti ’n paar snotklappe gegee het. Aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die skinhead moet vir ses maande sit om af te koel en te besin oor sy rassistiese lewensuitkyk. Hy vertel hy’s ’n biker en hy vertel hoe baie geld hulle maak. Hy beduie ook waar hulle klubhuis is, sou Aimé ooit besluit om by ’n biker club aan te sluit. Aimé word ontslaan, besluit fok julle almal, vat die pad Montreal toe, en gaan maak ’n oorlas van homself by die klubhuis van die Schwarze Schar bikers in Pointe-aux-Trembles. Spul wit nieu-Nazi-rassiste. Maar Biff Hamel leer hom die fynere punte om vinnig geld te maak. Hy begin klein met die koop en verkoop van marijuana, nogtans ’n winsgewender aktiwiteit as om gekleurde immigrante rond te klap.